Sunday, March 02, 2014

Die stil, goeie lewe: "Ek soek my ma so veel as moontlik op."

Daar is weer in die media vandag ‘n lang bespreking van Lance Armstrong se opkikker-skandaal.
Die nuwe berigte vertel van Armstrong se finansiële problem: hy het onlangs daaroor uit sy super-luukse huis in Texas getrek. Hy is onder druk.
Volgens die berig is Armstrong ‘n ongelukkige mens wat nog steeds probeer om homself te regverdig: Armstrong wys min tekens van berou en self-kritiek. Hy is eerder ontsteld omdat sy borge hom gelos het terwyl hulle hulself ongekend verryk het toe hy sy besondere prestasies behaal het.
Meer nog: dit lyk asof hy sy optrede regverdig met die uitspraak dat al die ander jaers opkikkers gebruik het. Almal was in dieselfde bootjie, en hy was onder hulle almal die beste een. Waarom nou op hom pik? En waarom nou sy prestasies so totaal afbreek?
Daar is baie mense wat met kommentaar op die berig gereageer het. Die kommentaar het ‘n duidelike strekking: mense het min simpatie met Armstrong. Hulle verlekker hulle in ‘n sekere sin in sy ondergang.
Die meeste van hulle dink hy is nog steeds die arrogante mens wat ander mense sleg behander het en eenvoudig oor hulle geloop het.
Hulle mis by hom tekens van berou.
En daarmee verloor hy vir hulle alle aanspraak op simpatie.
Ek besef, by die lees hiervan, dat mense die wêreld oor ‘n intuïtiewe aanvoeling vir reg en verkeerd het. Ek dink in die verband aan soortgelyke gevalle hier by ons: die twee jong ouens van Pretoria wat met groot brawade uit die tronk gekom het. En die verontwaardiging en frustrasie by lesers dat die aaklige moord waaraan hulle skuldig bevind is, blykbaar nie te swaar op hulle gewete lê nie.
Ek lees dus met belangstelling die klomp kommentaar op Armstrong se verhaal.
Onder vele lesers se opmerking, val een my op: Was daar ooit in die tyd ‘n fietsryer wat nie opkikkers geneem het nie?
Dit is ‘n boeiende vraag. Is daar onder almal een regverdige wat nie die pad van oneerlikheid geloop het nie?
‘n Oplettende leser weet die antwoord. Hy noem ‘n skakel na berigte oor twee fietsryers wat inderdaad bloot uit beginsel nie opkikkers wou neem nie.
Een van hulle is Andy Bishop. Hy het ‘n uitstekende reputasie as iemand wat sukses in die Tour de France behaal het. Hy is net een van 29 Amerikaners ooit wat die wedren suksesvol voltooi het. Hy het in die wêreld se voorste fietsryspanne meegeding.
Bishop ken Lance Armstrong goed. Trouens, in 1992 het Armstrong se span iemand gesoek om hom in toom te hou toe hy begin het om aan professionele fiestry deel te neem. Hulle het toe vir Bishop gevra of hy nie vir Armstrong onder sy vleuels sou neem nie. Hy het dit probeer doen, vir hom so bietjie gehelp, maar uiteindelik nie groot sukses behaal het om Armstrong te help nie.
Onder al die renjaers, is Bishop vertrou as iemand met integriteit wat ‘n sterk genoeg karakter gehad het.
Dit is interessant.
Mense het dus toe al na hom, ‘n jong outjie, opgesien en hom gerespekteer.
Bishop het nie veel sukses gehad nie. Hy is uitgesproke eerlik oor Armstrong se onbeskoftheid en oor sy swak persoonlikheid. Hy vertel byvoorbeeld hoe woedend Armstrong was toe ‘n Italiaanse fietsryer Armstrong met Bishop verwar het. Armstrong het die Italiaan uitgevloek en vir hom geskree dat hy nie Bishop is nie. En dit omdat die Taljaner hom nie as Armstrong herken het nie…
Bishop het die fietsry-spulletjie goed uitgekyk. Uiteindelik het hy ‘n punt bereik waar hy genoeg gehad het. Hy kon nie meer saamgaan met wat hy voor hom sien gebeur het nie. Die hele storie het hom nie meer aangestaan nie. Roem en eer was dit nie werd nie.
In 2000 het hy dus besluit dat hy gaan ophou fietsry omdat hy meer tyd met sy familie wou deurbring. Hy wou nie vir sy gesin so baie laat reis nie. Belangriker as die wen van ‘n wedstryd, was die mense vir wie hy lief was.
Die belangrikste egter was dat hy nie opkikkers wou gebruik nie en toe besef het dat hy nie met die ander kan kompeteer nie. Hy wou nie die dwelms gebruik nie omdat hy dit as oneties beskou het.
Uit ander dinge lei ‘n mens af wat se persoon hy was. Mense het besondere respek vir Bishop gehad. Iemand praat van hom as ‘n hoogs intelligente persoon. Hy het o.a. Russies geleer, maar sommige noem veral vir hom ‘n gebalanseerde, eerlike persoon.
Daar is ook ‘n lewensvreugde in sy doen en late. In berigte word vertel hoe hy na sy aftrede ten minste twee keer per week fietsry bloot net vir die genot daarvan.
Hy is ‘n afrigter, maar hy gaan uit sy pad om kinders aan te raai om nie hul sport te oordryf nie en na goeie balans te soek. Hy dink ook kinders moet aan soveel moontlik sportsoorte deelneem. Wat tel, is dat ‘n mens gesond is. En ‘n gesonde mense is iemand wat intelligent leef. Kinders moet dus op ‘n verantwoordelike manier met hul sport omgaan.
En, verder, vertel hy aan ‘n koerant dat hy iemand is wat graag sy ma so veel as moontlik gaan besoek.
Bishop is egter nie ‘n goeddoen-tantetjie met ‘n hart wat stukkend bloei vir ander nie. Trouens, hy kom in sommige uitsprake kwaai oor. Hy is baie krities teenoor atlete wat oneerlik is: hulle is, soos Armstrong, niks anders as kriminele wat hulleself wegsteek agter ‘n web van leuens. Hulle behoort opgesluit te word. Eers dan sal minder mense hulle voorbeeld volg en sal die rensport van sy slegte reputasie gesuiwer kan word.
Ek lees al hierdie dinge met verwondering.
Soms is die kwaad so diep ingegrein in ons kultuur van doen. Maar op ‘n stil, eenvoudige manier is daar mense wat nie meedoen nie. Hulle loop ‘n geestelike weg wat moeiliker en donkerder is.

Maar hoe indrukwekkend eenvoudig is hulle lewe: hulle weet wat goed is en hulle leef goed. So eenvoudig is dit.

Blog Archive