Kunstenaars uit Oekraïene het in die verlede nie skilderye oor een van die
grootste volksrampe uit hulle geskiedenis, die Holodomor, gemaak nie.
Kunstenaars
is immers deur die Sowjet-Unie in daardie tyd voorgeskryf oor wat hulle moes
skilder. En dit was ondenkbaar dat hulle die volksramp en -slagting in hul eie land sou durf waag uitbeeld.
Die kunstenaars wat hulle nie daaraan gesteur het nie en die staat geïgnoreer, het dikwels met
hulle lewens geboet.
Tot onlangs. Toe die Holodomor al hoe meer onder die aandag van die wêreld gekom het, het ook kunstenaars daaroor nagedink en daaroor geskilder.
Hier is ‘n skildery van Lydia Bodnar-Balahutrak uit 1991. Tans van Houston, was sy na Oekraïene om die land te ervaar toe sy die projek aangepak het.
Haar skildery se titel is
“Satan al om ons.” Dit wys ‘n rou uitbeelding van ‘n donker Satansfiguur bo-op
‘n hoop uitgeteerde mense-liggame. Die kunstenares gebuik Christelike motiewe
om die verskrikking van menslike lyding uit te beeld.
En sy skilder ook ‘n aangrypende, ikoon-agtige kruisiging, waarop die
figuur van Christus vervang is met die foto van ‘n ma en sterwende kind.
Sy noem dit “’n Ander kruisiging.”
Tagtig jaar gelede, in 1932-1933 het tussen 7 tot 10 miljoen Oekraïeners
in ‘n hongersnood gesterf. Die land was nog deel van Rusland.
Die Verenigde Volke het ‘n gesamentlike verklaring uitgereik dat hierdie
ramp (die Holodomor), vir geslagte lank diep wonde op die kollektiewe bewussyn
van latere geslagte sou laat. Holodomor is ‘n Oekraïeniese woord wat beteken om
van honger dood te gaan.
Hoewel sommige mense dit wil ontken, is daar groot ooreenstemming dat die
Holodomor ‘n volkere-slagting was wat met die Jode-slagtig in Duitsland
vergelyk kan word. Die Europese Parlement het die Holodomor in 2008 as ‘n
misdaad teen die mensdom verklaar. Oor die wêreld heen is daar monumente wat
hierdie verskriklike geskiedenis herdenk.
Dit was wel vredestyd en slegte weerstoestande het die oeste benadeel,
maar dit was klein faktore in vergelyking met die skuld van die Sowjet-Unie se
beleid om privaatbesit te verbied en alles aan die staat oor te dra. Die staat
het aan boere voorgeskryf wat om te plant.
Hulle kon uit onkunde nie die nuwe
produkte suksesvol oes nie. Toe kos min begin raak het, is rantsoene vir
gesinne ingestel. Die rantsoene het al hoe minder geword.
Die hongersnood het
veral sleg geword toe Stalin en die Russiese staatsowerheid die
voedsel-voorrade van families in Oekraïene in beslag geneem het.
Om alles te kroon is 1.8 ton koring wat in in die tyd van die Oekraïeners
in beslag geneem is, uitgevoer. Mense is verbied om die graan wat hulle op hul
eie plase verbou het, te eet. Mense wat selfs net ‘n handvol koring van die
veld gevat het, is tot vyf jaar in die tronk gegooi. Hulle het koepons gekry
vir kos wat aan dorpe uitgedeel is. Families wat wou vlug, is verbied om te
reis.
Soldate het huise deursoek vir voedsel. Wat die soldate nie kon saamneem nie,
het hulle verbrand. Hulle het ook die stede afgeskerm om mense daar in te hok.
Die
staat het nie ‘n vinger opgetel om hulp van buite in te roep nie. Soms het die
staat selfs beweer dat mense self skuldig is aan die hongersnood omdat hulle
diewe en luiaards was.
Die hongersnood was naderhand so erg dat tot 10 000 mense per dag gesterf
het. ‘n Derde was kinders onder tien jaar oud. So sleg het dit gegaan dat mense
naderhand dooie diere, honde, katte wat aan honger dood is, en selfs hul eie
kinders begin eet het. Sommige het selfs dooies wat begrawe is, opgegraaf en
geëet. Baie is aan kannibalisme skuldig bevind.
Die Holodomor het gevolg op die verskriklike aanslag van die Sowjet-Unie
op die Oekraïeners in 1929. Dit het alles begin toe die staat plase in beslag
wou neem om kollektiewe boerdery te vestig. Eienaarskap van plase moes die
staat toeval. Boere wat groot plase gehad het, akademici en kerkleiers is toe
uit die land gedeporteer. Die boere wou nie deel van die staat se kollektiewe
boerderye geword het nie. Hulle het geredeneer dit sou hulle weer tot slawe
degradeer en hulle wou nie die lot van hul voorouers wat knegte van groot
landsbesitters was, weer oorhê nie.
Hulle is op ‘n dag opgepak en in vragtreine na Siberië geneem waar hulle
eenvoudig in barre omstandighede sonder enige skuiling of voorrade afgelaai is.
En in al hierdie tyd het Stalin plegtig verklaar dat daar geen hongersnood
in die land was nie. Touens, in later jare is mense wat beweer het dat daar ‘n
Holodomor was, swaar gestraf.
En in die Weste het regerings nie veel protes aangeteken nie. Hulle was
terdeë bewus van die hongersnood, maar wou handelsbetrekkinge met die
Sowjet-Unie wat in die jare op dreef gekom het, nie benadeel nie.
Een van die mense wat die hongersnood meegemaak het, vertel: My pa het
altyd die Bybel vir ons voorgelees. Wanneer hy gelees het van die bloed-lose
oorlog, het ons hom gevra wat dit beteken. Hy kon dit nie vir ons verduidelik
nie. Toe hy in 1933 sterwende van honger was, het hy ons na sy sterfbed geroep
en gesê: “Dit is wat ‘n bloed-lose oorlog is.”
Ek lees al hierdie dinge. Ek dink onvermydelik in hierdie tyd van menseregtedag aan ons eie verlede. Vars bly by my, weens my onlangse navorsing, die konsentrasiekampe uit die Boere-oorlog.