Friday, March 14, 2014

Waarom die Bybel 'n kanonieke teks is...

Dit is nie om dowe neute dat die Bybel in vertalings beskryf word as ‘n “kanonieke” teks. 

Daarmee word die gesag van die Bybel onderstreekp. Dit het ‘n spesiale status vir die kerk. Dit dien as "kanon" - as 'n maatstaf waarop 'n mens jou lewe meet. Dit is 'n boek wat gesag het.

Gelowige mense onderskei hulle omdat hulle só oor die Bybel dink. Die Bybel het immers nie vir almal gesag nie. 

Selfs binne die Christendom is daar verskille tussen mense oor die gesag van die Bybel.

Tog is daar sekere basiese uitgangspunte: ‘n Boek wat gesag het, skep verwagtinge by mense. Hulle sien op daarna, soek leiding daaruit en wil hulle lewens daarvolgens inrig.

Die Bybel word vanuit hierdie oortuiging gelees as ‘n boek wat vir mense se lewens betekenis het.

Dit beteken op sy beurt nog lank nie dat die boek bloot net vir mense spesiale inligting bied nie. Wanneer mense Bybelstudie doen, lees hulle inligting oor die teks omdat hulle weet dat dit sal help dat hulle die betekenis van die teks beter kan peil. Dit maak 'n groot verskil of die Bybel vir mens interessant het en of dit vir 'n mens lewensveranderend betekenis het. 

Die betekenis het dus te doen met hoe die Bybel hulle lewens raak.

Nie dat die begeerte om goed ingelig te wees oor Bybelse tye nie belangrik is nie. Deesdae raak die soeke na inligting oor Bybeltekste en Bybeltye al hoe belangriker vir mense omdat hulle weet hoe maklik mense die Bybel kan misbruik.

‘n Mens kan baie vroom wees, maar daardie vroomheid kan groot skade aandoen wanneer dit op slegte interpretasies steun.

Goed ingeligte Bybelstudie kan ‘n mens help om egte vroomheid te ontdek. Dan lees ‘n mens jou eie gedagtes in die Bybel in. Jy laat die Bybel buikspreek.

Goeie inligting oor die Bybel kan dus van groot waarde wees.

Die voorwaarde is egter dat die inligting direk met ‘n mens se lewe te doen het.

Wanneer ‘n mens die Bybel lees uit blote nuuskierigheid om meer te weet oor wat destyds gebeur het en wie die boeke geskryf het, verander dit nie noodwendig iets aan ‘n mens se lewe nie.

Dus: om die Bybel ‘n kanonieke teks te noem, beteken eintlik dat ‘n mens praat van ‘n boek wat bedoel is om mense se lewens aan te raak en te verander.

Dít is dan die egte bedoeling van Bybellees: ‘n mens lees die teks met die verlange om dit deel van ‘n mens se lewe te maak en om daardeur verander te word.

Blog Archive