In vandag se Financial Times is daar ‘n artikel oor
jong Muslims wat stilletjies op ‘n dag by hul ouerhuise verdwyn en die volgende
oomblik in Sirië opduik. Hulle neem deel aan die opstand teen die huidige
regime in die land.
Dit is ordentlike, goeie kinders van om en by twintig
jaar oud wat skielik in keiharde terroriste verander.
Hulle ouers weet dikwels nie wat van hulle geword het
nie. Een ma het gedink haar kind het in Turkye by ‘n universiteit gaan studeer.
In een dorpie, Portsmouth, waar daar geen radikale
prediker in die moskee is nie en waar die Muslim-gemeenskap ‘n rustige bestaan
voer, het vyf jongmans so verdwyn.
Die gemeenskap kom gereeld bymekaar in hul
moskee waar daar ‘n prominente aanhaling op die gebou aangebring is: “Vrede is
beter.” Hulle voer 'n normale, ordentlike bestaan.
Die moskee-leierskap weet nie hoe dit gebeur het dat
hulle kinders so geradikaliseer is nie. Hulle is geskok en ontsteld.
Hulle het nou die jongmense verbied om sonder
toestemming op hul eie te vergader.
Hoe gebeur dit dan?
Die artikel skryf dit toe aan die groot invloed van die
sosiale media.
In vele tweets wat deur duisende mense gevolg word,
vertel die jongmans van hul ervaringe. Hulle skryf dikwels met passie oor die
paradys en oor hulle vriende wat as martelare nou daar is nadat hulle in die
vryheidstryd gedood is. Hulle voeg selfs aaklige foto’s van hulle vriende se
lyke by.
Maar hulle voeg ook foto’s by van hul vyande se erg
verminkte lyke.
Dit is hoe hulle oor die paradys dink.
Sommige navorsers het vasgestel dat meer as 2 000
jongmans uit Europa in Sirië veg. Hulle beplan nie om weer huis toe te gaan
nie. Hulle is bereid om as martelaars te sterf of hulle dink dat hulle na die
oorwinning as helde met vele vroue daar sal kan woon.
Maar kan dit regtig die sosiale media wees? Is Twitter nie maar net die instrument om 'n boodskap vol haat en selfsugtigheid te versprei nie? Is die groot aantrekkingskrag nie eerder die manlike obsessie met heldedom, met rykdom en met vroue nie?
Nog skrikwekkender is dat hierdie stryd nie tussen Islam en Christendom is nie. Dit is 'n oorlog tussen twee groepe in Islam wat mekaar nie kan verdra nie. En dit terwyl Islam God vereer as die Groot Ontfermer...
Weer eens besef ek hoe gevaarlik godsdiens kan wees, en, weer eens, hoe oorlog werk.
Hier is ‘n skakel na die boeiende artikel: