Vroeg in my loopbaan het ek agtergekom hoe nou die teologie en
regte aan mekaar verwant is deur hulle gemeenskaplike belangstelling in
die wetenskap van uitlegkunde of hermeneutiek.
Beide werk met ‘n teks: Teoloë met die Bybel en regslui met geskrewe
wette. Hulle moet hierdie tekste verantwoordelik volgens reëls van
interpretasie uitlê.
‘n Mens sien dit veral in die Oscar Pretorius-saak weer raak.
Vanoggend het die deskundige met insig getuig hoe hy die selfoon-rekords
van Pretorius ontleed het: Hy het eers die tekste opgestel. In uitlegkunde moet
jy weet watter teks jy voor jou het. Vier selfone se rekords is bymekaar
gemaak, voorberei, gelees en dan met mekaar vergelyk. Toe kon hy ‘n patroon
opstel. Een patroon was die tydlyn. Waar, wanneer en deur wie is teksboodskappe
geskryf en, dan, in ‘n verdere stap, wat staan in die teksboodskappe.
Dit is hoe Bybeluitleggers ook met die teks werk. ‘n Mens besluit op die
teksgedeelte wat jy wil ontleed. Jy berei die teks voor, kyk na die tyd van ontstaan en
waar dit geskryf is. Die skrywer van so 'n teks is ook is van
groot belang. Dan kyk jy hoe die teks geskryf is, wat die skrywer wou bereik en uiteindelik wat die inhoud van sy teks is.
Dit is byvoorbeeld veelseggend dat Pistorius vir sy meisie ‘n liefdevolle
boodskap op die vooraand van die tragedie stuur. Of dat sy meisie kort voor die
insident haar sorge oor hul verhouding uitspreek. Waar hulle boodskappe vandaan kom en wanneer dit geskryf is kan die hofsaak in 'n sekere rigting stuur.
Tydens die ondervraging van die kundige, het die verdediging gevra na die
vier voorvalle wat hy uitgelig het waarin die vriendin haar vrees vir Pistorius
uitgespreek het.
Die eerste vraag van die advokaat was tipiese hermeneutiek: hoe weeg ‘n mens
inligting? Hoe dink ‘n mens daaroor dat uit meer as 1 700 boodskappe net vier op
‘n onenigheid wys?
En daarna het die verdediging hierdie vraag inhoudelik opgevolg: tientalle boodskappe wys op ‘n liefdevolle korrespondensie met
mekaar. Nie net die getal van die boodskappe nie, maar ook hul inhoud
relativeer in hul oë dus die belangrikheid van vier briewe oor onenigheid.
Ook in Bybelse tekste moet ‘n mens so te werk gaan. Tel en weeg is ‘n
belangrike hermeneutiese beginsel.
Maar wat my veral bybly is toe die verdediging vir die kenner vra na sy
hermeneutiek. Hoe het jy die vier boodskappe uitgekies?
Die vraag is kritiek belangrik: almal wat na sy aanvanklike getuienis
geluister het, sou kon dink dat die vier boodskappe bewys dat die verhouding van die paartjie deurtrek
is met rusie en vrese.
Eers toe die verdediging die groot prentjie geskets het, het mense tweede
gedagtes begin kry en besef dat ‘n mens nie te gou moet oordeel nie.
Die antwoord van die getuie was dat hy gekyk het na boodskappe wat “uitstaan.”
Dit is net daar waar die advokaat vir die verdediging hom kortvat: Ons kan baie draaie hieroor gooi, sê hy. Maar dit is duidelik dat die getuie
die boodskappe gekies het omdat dit ingepas het by wat hy gesoek het. Hy wou kyk
waar kry hy bewyse dat die paartjie gestry het. Sy instelling het sy keuse
bepaal.
Ek besef weer toe ek dit beluister hoe ons hele lewe deur ons instelling
bepaal word. Wie na sleg soek, sal sleg kry. En al is daar hoe baie goeie,
positiewe dinge, gaan ‘n mens net die slegte uithaal as jy na die slegte soek.
Dit gebeur veral met die Bybel.
Ek lees in die dae 'n boek waarin die skrywer opmerk dat baie van die godsdiensloosheid van onlangse tye is omdat mense nie godsdienstig wil wees nie.
Vooringenomendheid kan ons grootste vyand wees.