Monday, March 10, 2014

Hoe vas klou 'n mens aan al jou waarhede... oor geloof en geloofswaarhede


Hoe belangrik is al die dogma's en geloofswaarhede waaraan mense vashou?
Groot doop of kinderdoop. Die opstanding. Evolusie. Aborsie. Geboortebeperking. Spreek in tale.  Onderhouding van die sabbat. Vrouens in die amp. Die maagdelike geboorte. Proefbuis-bevrugting.
Ons glo ons het die waarheid oor die sake in pag. En ons klou daaraan.
Al hierdie "waarhede", sê mense, is vir hulle geloof belangrik. 
En tog: Sommige glo en daarom is die opstanding vir hulle letterlik waar. Hulle glo, sê ander weer, maar vir hulle is die opstanding van groot geestelike eerder as letterlike waarde.  
Een geloofsgroep vra van sy geestelikes dat hulle ongetroud moet wees en selibaat moet leef. In die volgende kerk beroep 'n gemeente nie maklik 'n ongetroude predikant nie. Hulle kan vir hierdie praktiese sake 'n klomp waarhede aanbied.
Maar albei groepe maak daarop aanspraak dat hulle "gelowig" optree.
In sommige kerke word wetties aan die oorgelewerde tradisies vasgehou. Ander kerke, weer, besef dat die kerk met die tye moet aanbeweeg en dat tradisies nie onaantasbaar is nie. Hulle kan in ander situasies die tradisies opgee en nuwe besluite neem.
Op die manier kan 'n mens aan allerhande geloofswaarhede vashou én aanpas.  Tradisies word dus by sommige versigtig geleer en bewaar. By ander loop dit nie altyd so star nie.
Maar ook in die mees konserwatiewe groep, word tradisies ook verander en selfs laat gaan.
Dan, en dit is die belangrike, is daar nog naas en veral onderliggend aan die tradisies die geloof. In die tradisies kom geloof na vore. Geloof bepaal of mense aan tradisies vashou of daarvan afskeid neem.
Op 'n diepe vlak broei en leef geloof dus. In geloof is energie, lewensdrif, vertroue. Geloof vertel hoe die mens aangeraak is, omvorm word en steeds weer op die geloofsreis dieper in die verhouding met God en ander dieper geanker word.
Hierdie geloof is dus dinamies, oop, eksperimenterend. 'n Mens weet nooit waarheen geloof jou neem nie. Dit is geloof wat jou lewe kan ondermyn, wat 'n mens in 'n rigting neem wat jy nie voorsien het nie.
Geloof kan nie netjies in sekere waarhede opgesluit word nie. Dogma's is 'n tydelike uiting van geloof. Maar dit is geloof wat dikwels nuwe weë oopbeur.
Daar is op die mees basiese vlak 'n lewenservaring wat mense in beslag neem en altyd vashou. Uit hierdie lewenservaring kom pogings om daaroor te praat, om dit in verstaan na vore te bring.
Dit is 'n bevrydende insig: geloof en geloofswaarhede is twee dinge.

Blog Archive