Daar
is twee bekende houdings onder lesers teenoor die Bybelse teks. Die een groep
aanvaar blindelings dat die Bybel ‘n boek is waaraan hulle letterlik gehoorsaam
moet wees. As daar iewers in die Bybel ‘n vers is wat sê dat ‘n mens kinders
nie die lat moet spaar nie, is dit vir hulle ‘n opdrag.
Die
ander groep is geneig om die Bybel se boodskap “vas te stel,” te “ontleed” en
die betekenis daarvan uit te spel. Hulle beheers en heers dan oor die teks.
Hulle vertel met groot vertroue wat Bybelskrywers eintlik gedink het.
In
‘n geestelike lees van die teks word die Bybelse boodskap eerder in ‘n dialoog
toegeïen. Dit gebeur wanneer die Bybelse teks so gelees word dat die implikasie
van die oorspronklike teks in die bestaan van latere lesers inwerk.
Hierdie
dialoog aanvaar dat die oorsponklike teks ‘n ander horison het as die horison
van die latere lesers. Dit eerbiedig die “andersheid” van daardie tekste en
soek om hulle in hul andersheid te lees.
Terselfdertyd
wil later lesers nie maar net kennis neem van die Bybelse tekste nie. Terwyl
hulle eers die teks uit hulle eie tyd en wêreld uitskuif en inpas in hul
oorspronklik konteks, wil hulle tog ook weer die teks op ‘n nuwe manier hulle
eie maak. Hulle onteien die teks, maar wil dit ook weer toeëien.
Die
Bybel wys ‘n mens na sy eie betekenis. Dit is asof ‘n mens in die bybel ‘n pyl
sien wat in ‘n bepaalde rigting gaan beweeg en ‘n mens moet jou in die
verlengde van daardie rigting inpas.
Moderne
lesers loop dus in die rigting wat in Bybelse tekste uitgewys word.
Die
pyl trek uit die boog van Bybelse tekste. Geslagte en geslagte volg die pyl.
Elke keer weer sien hulle nuwe dinge, nuwe moontlikhede.
Al
hierdie opmerkings wys daarop dat latere lesers die Bybel “interpreteer” as ‘n
boek met besonder krag. Die moderne leser ontdek dat ‘n teks in latere tye
betekenis behou.
In
die interpretasie van die Bybel ontmoet twee wêrelde mekaar. Die wêreld van die
teks en die wêreld van die lesers. Twee horisonne versmelt.
Hier
moet ‘n mens onderskei: die horison van die Bybel is nie die horison van die
leser nie. Net so word die horison van die leser nie die ruimte waarin die
Bybel ingedwing word nie.
Elkeen
van die twee horisonne bly behoue en is in ‘n dinamiese interaksie met mekaar.
In die hele proses bly die invloed van die Bybel op latere tye behoue.
Hiermee word steeds veronderstel dat die Bybel 'n geestelike krag uitoefen. Dit is 'n boek wat sy teenwoordigheid laat geld.
Dit vorm die grondslag van Bybelse spiritualiteit.