“Ek het God se teenwoordigheid ervaar.”
“Die Heilige Gees het my gelei.”
“Ek het gevoel dit is die wil van die Here.”
Sulke uitsprake vertel iets van hoe intens mense se godsdienstige
ervaringe kan wees.
Hulle voel iets heel spesiaals met hulle gebeur. Vir hulle voel dit asof
die ervaring van buite tot hulle kom en iets spesiaals aan hulle lewe doen.
Sulke uitsprake kan ‘n mens nie eintlik kritiseer nie, want die mense wat
dit maak is vas oortuig van hulle saak.
Maar in Spiritualiteit word beklemtoon dat ‘n mens sulke uitsprake nie
ligtelik moet maak nie. Wanneer ‘n mens ervaar dat iets spesiaals gebeur het en
dit aan God wil toeskryf, is dit belangrik om steeds weer ‘n sterk kritiese
houding in te neem.
Skrywers in Spiritualiteit wil hê dat ‘n mens dieselfde kritiese gees wys
wat ‘n mens in Bybelse tekste raaklees.
Een van die beroemdste uitsprake is juis wat Paulus in 1 Thessalonisense
5:2 skryf: “Ondersoek alle dinge” of beproef alles, of toets alles. En dan,
wanneer ‘n mens ‘n versigtige oordeel uitspreek oor wat met jou gebeur, bly die
goeie oor.
Vir Bybelskrywers kan ‘n mens nie maar net enige ervaring aan God toeskryf
nie. Altyd weer wil hulle versigtig kyk na godsdienstige ervarings en dit
noukeuring bedink.
Die tegniese begrip is “onderskeiding.”
Onderskei die geeste.
Die punt is duidelik: nie alle godsdienstige ervarings is die werk van die
Heilige Gees nie.
Jesus se dissipels het hulle idee gehad oor die taak wat God vir Jesus
gegee het. Die opponente van Jesus het juis vir Hom gekritiseer dat hy laster
teen die Heilige Gees. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het ook in hulle lewens
ervaar dat God aan hulle sekere ervaringe gegee het. Selfs die apostels was vas
oortuig dat God net onder Joods Christene aan die werk was. Hulle wou nie glo
dat Paulus se ervaring van ‘n goddelike roeping tot sendingwerk na nie-Jode
werklik van God af gekom het nie.
Wat hulle as Godgegewe ervarings gesien het, was toe nie so nie.
Gedurig, in die boek Handelinge, sien ‘n mens hoe die kerk worstel om God
se wil te ervaar.
Die ergste van alles: hierdie mense – die Jode, die dissipels, die
Christene – was almal goeie mense wat in ‘n verhouding met God gestaan het.
Maar wat hulle omtrent God ervaar het, was toe nie altyd van God afkomstig
nie.
‘n Mens se verhouding met God beteken nie dat ‘n mens netjies weet wat om
daarmee te doen nie.
Trouens, dit is ‘n teken van die geestelike lewe dat ‘n mens juis nie weet
waarheen die verhouding met God jou lei nie.
‘n Gelowige ontdek God se wil deur nadenke, gebed, ondersoek, kritiese
vrae, gesprekke met ander en vele ander maniere.
Maar steeds weer is dit ‘n proses van nadink.
Geloof is nooit oor maklike antwoorde nie.