Friday, February 28, 2014

Hulle bid voor elke groot, nasionale sportwedstryd.


In vandag se NYT is daar ‘n berig oor een van 141 grootste sportspanne in die V.S.A. wat hulle byeenkomste met gebed laat begin.
(Dink: Stormers of die Haaie laat voor hul groot wedstryde ‘n geestelike 'n gebed doen.)
Geestelikes uit verskillende tradisies kry 30 sekondes van stilte terwyl die ligte in die stadium verdof word, waartydens hulle kan bid.
Geen ander span in die hele Amerika volg die gebruik nie.
Dan, vir wie die storie van Amerikaanse sportbyeenkomste ken, begin die girls in stywe, mini-rokkies so groot soos ‘n oogklap, hoog skop, die oordonderende entertainment trek los en die skare raak mal. 
Die gebed word deel van sport, soos oor die hele wêreld – in al sy heftigheid, omstredenheid, opwinding en aanhitsing.
In Amerika, waar kerk en staat uitmekaar gehou word, is die gebruik duidelik, volgens die koerant, ‘n berig werd. Veral omdat dit nie "normaal" is nie.
Hoe dink 'n mens hieroor? 
Ek lees die berig met belangstelling, want die normale giftigheid oor enige vermening van godsdiens en die sekulêre lewe, ontbreek daarin. Trouens, die berig is versigtig, byna neutraal en sonder aanhitsing. 
En, nog interessanter, daar is net vyf lesersreaksies. Soms kan berigte in dieselfde koerant honderde reaksies uitlok.
Lesers voel blykbaar nie sterk hieroor nie. 
Die artikel vertel meer oor die opvallende impak wat die gebruik het – ook net wat toeskouergetalle betref. 
Dit ontstel mense of groepe nie eintlik nie. Trouens, niemand in die deel van die land gee eintlik om nie, want verreweg die meeste is aktief in en ondersteunend van godsdiens.
Die impak op gelowige mense is blykbaar sterk. Die geestelike wat die gebed doen, laat gewoonlik heel opgewonde sy of haar groep. Dit is vir hom/haar 'n groot eer. Om by so ‘n groot wedstryd te kan optree, is sensasioneel. Mense sien jou op televisie, en ‘n reuse-skare luister in stilte na jou.
Horde’s mense uit die geestelike se kerk, gemeente of geweste koop dan kaartjies. Hulle wil die optrede voor ‘n beroemde span en by ‘n groot wedstryd self gaan kyk. Hulle wil hul pastor steun. 
En, opvallend, hulle gaan in die toekoms weer terug.
Dit maak dus sin vir die span om deur sulke gebede ‘n stroompie ondersteuners te werf. Bywoning vir die wedstryd en vir toekomstige wedstryde baat sekerlik daarby…
Die gebed word met mooi woorde regverdig. Die organiseerders noem die 30 sekondes “n tyd van nadenke.” Hulle dink godsdiens is belangrik vir hul ondersteuners en reken dat mense wat beswaar maak, verreweg in die minderheid is.
Maar sulke gebede, blyk uit die berig, gebeur ook nie sommer nie. Die teks van die gebed word voor die tyd opgetjek. Die biddende geestelike se gebed word versigtig nagegaan.
Die artikel gee 'n paar boeiende gebede weer. Sommige is mooi en netjies, teologies aanvaarbaar en gebalanseerd: ‘n Rooms-Katolieke priester bid dat God met die skare sal wees, die spelers sal bystaan om goed te speel met die nodige sportiewe gesindheid en tot vervulling van hul spesiale gawes. God word hier nie tot handlanger van die tuisspan gemaak wat die span moet laat wen nie.
Ander, meer opswepende gebede bly nie vergete nie: een van die bidders het, oorweldig deur die grootheid van die oomblik, triomfantelik gebid: “Satan, hou jou hande van hierdie span af. Dit is ‘n beroemde span.”
In nog ‘n gebed het organiseerders die bidder gevra om ‘n beampte wat aan kanker dood is, te onthou. Dit het tot die volgende gebed aanleiding gegee:
"God, saam met alle onderteuners dink ons aan Greg wat Maandag gesterf het. Ons bid dat sy vrou, familie en vriende U teenwoordigheid sal ervaar in die tyd van rou wat hulle beleef. Seën elkeen van ons op U manier. Mag ons geïnspireer word deur die mens se potensiaal om te presteeer, deur die gawes van sportmense en deur die gees van samehorigheid wat ons beleef onder die spelers, die beamptes en op die paviljoene.”
Duidelik geraak deur die gebed, het die hele skare soos een mens Amen gesê.
Iemand anders onthou ‘n gebed: “Help ons as bewonderaars om die spelers te waardeer en te ondersteun. Wees vanmiddag met ons almal. Hou ons veilig. Hou ons altyd in die palm van U hand.”
Ek het nie veel gedagtes hieroor nie. Ek wonder hoe sou Stormer-ondersteuners of Blou-Bulle manne daaroor voel.
Sulke gebede kan soms presies die teenoorgestelde bereik as wat dit beoog. Ek onthou hoe ek met teensin na vroom gebede geluister het wat ‘n busmaatskappy alle passasiers aan die begin van die reis laat saambid het. Net om die hele reis te ly onder ‘n nagmerrie-rit van swak diens. Skaam-skaam, ook, omdat godsdiens bygesleep is.
Ek kan ook dink dat daar mense is wat afgesit sal wees deur vroom gebede by ‘n geleentheid waar uiterste kompetisie, belediging van opponente en skeidsregters, vloekende, dronk toeskouers, vulgêre vermaak en gierige winsmakery aan die orde is.
Hoe dan? 
Die vraag is nie óf nie. Vir my is die vraag eerder: hóé dit gedoen word. Veel sal afhang van die gemeenskap, die span, die omgewing, die kultuur van die geleentheid en, veral van die wysheid van die bidder.

Blog Archive