Dit bly ‘n ironie dat gelowige mense soveel in onvrede
vasgevang bly.
Die Bybel loop immers oor van gedeeltes wat aan gelowiges
vrede toewens. Baie bekend by elke kerkganger is tog die openingsgroet wat elke
diens begin: “Genade, barmhartigheid en vrede bly by julle.”
Hierdie gedeelte kom uit sulke belangrike gedeeltes soos Galasiërs
1:3, 1 Timoteus 1:2. Romeine 1:7 en 1 Kor.1:3.
Wat so opmerklik is, is dat hierdie vredesgroet aan die begin
van elke brief staan. Dit skep die regte toon vir die briewe. Só wil Paulus
verhoudinge met die gemeente aanknoop: altyd met die wens dat hulle vrede sal
ervaar.
Boonop staan die vrede in die laaste plek as die fokus van
die groet. Alles in die geestelike reis loop uiteindelik uit op die vrede. Is
die plek van vrede, die paradys, dan nie die kring wat in Genesis 1 en
Openbaring 22 om die Bybel getrek word nie?
Die kerk het dit aan die begin van die erediens ingebou: ook
wanneer ‘n gemeente op ‘n Sondag bymekaar is, is dit in die eerste plek ‘n
byeenkoms wat in die teken van God se vrede staan.
Paulus sluit met sy vredesgroete aan by Jesus, wat in die
boeiende Johannes 14:27 sê: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die
soort wat die wêreld gee nie.”
Jesus se erflating aan sy dissipels is vrede.
Dít is dan God se wil vir gelowige mense: hulle moenie
onvrede ervaar nie. Hulle harte moet rustig wees, geborge in die goedheid van
God wat innerlike kalmte en vertroue skenk.
Hoe is dit dan dat lewens so uit pas is met wat God wil? En
dat lewens so buk onder die las van bekommernisse?
Dit vra van mens uitsonderlike vertroue om ‘n mens se sorge
aan God oor te gee.
En tog, dit bly die moeite werd om ‘n mens in te oefen in
vertroue op God: God is die Een wat die las van onvrede dra. God is die Een wat
verlang dat die mensdom in vrede leef.