Die bekende Franse kunstenaar, Garouste, skilder in hierdie
skildery wat in 1995-1996 gemaak is, ‘n man wat op reis is sonder skoene en met
‘n sak onder sy arm, terwyl hy met sy regterhand beduie. Veral opvallend is die
duifnes op sy kop met duiwe wat daarop vlieg. Daar is ook ‘n tweede persoon op
die skildery. Hy het ‘n stok in die hand. Op die agtergrond val iemand uit ‘n
boom toe hy probeer het om ‘n nes daaruit te haal.
‘n Mens moet die skilder en sy lewe ken, om die volle impak
van die skildery te waardeer. Garouste was godsdienstig en is byvoorbeeld gevra
om ook werke vir kerke te maak, maar hy was ook iemand wat die kunsgeskiedenis
goed geken het en wat bewondering vir sy uitstekende tegnieke geniet het.
Mense wat kuns ken en hierdie skildery sien, sal byvoorbeeld dink
aan die skildery wat die beroemdste Franse realis (19e eeus), Gustave Courbet
in 1854 geskilder het, waarin hy self gegroet word deur twee bekendes.
Hy staan
met ‘n stok in die hand en ‘n rugsak met sy skilder-instrumente regs op die
skildery en sy twee kennisse staan links. Die man in die groen is Courbet se
beskermheer, wat met die duur koets uit die stad en ‘n bediende agterna, vir
Courbet groet terwyl hy op pad is om in die platteland te gaan skilder.
Courbet, weet ons vandag, was besonder krities oor die rykes van die stad wat
deur die Industriële Revolusie op die rug van baie armes skatte vergader het en
‘n misrabele lewe gehad het. Hy wil nie met die lewensstyl geassosieer word
nie. Die platteland, waar hy werk, ken nie daardie soort van vulgariteit nie.
En hy, die skilder, is deel van daardie ruimte. Hy staan op gelyke voet met sy
beskermheer, die ryk stadsmens. Sy hele houding, sy agteroorgebuigde, trotse
kop bevestig dit. Hy is deel van ‘n ruimte wat nie gekontamineer is deur die
korrupsie van die stadswêreld nie. Die skildery het dus met ‘n etiese,
sensitiewe en politieke tema te doen.
Garouste het hierdie
beroemde skildery van Courbet oorgeteken met indrukwekkende tegniek en vorm. Sy
skildery is meer gelaaid as Courbet s’n. Op die agtergrond is ‘n man wat ‘n nes
uit die boom haal in ‘n wrede daad en wat daarvoor betaal deurdat hy uit die
boom val.
Die ongewone duif op die man in die voorgrond se kop in
Garouste se skildery is duidelik sterk simbolies. Daar is ‘n teenstelling wat
met hom gebeur en wat op die agtergrond aan die gang is. Die twee tonele word
teenoor mekaar gestel om ‘n besondere boodskap uit te druk: by die man op die
voorgrond word duiwe-neste nie beroof en vernietig nie. Op sy kop is duiwe
besig met ‘n voedingproses en word lewe gegee. In sy omgewing word lewe
gekoester en gevoed.
Die skildery is geïnspireer deur Deuteronomium 22:6: As jy op pad ’n voëlnes kry in een of ander boom of op die grond, met
klein voëltjies of eiers, terwyl die moeder op die klein voëltjies of op die
eiers sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegneem nie. Die man
op die agtergrond ignoreer dit en word daarvoor gestraf.
In ‘n artikel in Speling skryf Daan van Speybroeck hoedat die
skildery hom geïnspireer het. Hy noem dat Garouste in sy outobiografie vertel
van die psigotiese aanvalle wat hy sedert sy 28e jaar gekry het en wat hom laat
dink het dat die nes op sy kop ‘n soort doringkroon is. In die nes op sy kop is
duifies wat van hulle ma kos kry. Hier kry ‘n mens dan ‘n kombinasie van twee
tema’s: daar is ‘n doringkroon, maar daar is ook ‘n duif. Daar word vernietig
(in die agtergrond) en gevoed (in die nes). Daar is lyding, maar daar is ook
verlossing. Dit, weer, laat ‘n mens aan die die dood en opstanding van Jesus
dink, wat veral deur die duif as Heilige Gees-simbool gesuggereeer word.
Maar daar is meer in die skildery, skryf Speybroeck: Die man
met die rugsak maak ‘n vriendelike gebaar met sy een hand, maar klou met die
ander hand aan die sak vas. Die sak vertel dat hy ‘n wandelaar is. Hy is sonder
skoene, maar hy is ook iemand wat deur
die simbool van die nes as doringkroon swaar kry en ly. In ‘n sekere sin is hy
soos Jesus: ‘n Christus-figuur wat ‘n rondswerwende prediker was.
Speybroeck dink die skildery worstel met die verskil tussen
Ou en Nuwe Testament, tussen die Jodedom en die Christendom. Dit vertel iets
van ‘n persoonlike worsteling van die kunstenaar. Garouste se pa het homself
verryk deur in die oorlog Franse Jode se besittings wat in beslag geneem is, te
verkoop. En tog was sy pa ook met ‘n Joodse vrou getroud. Dit het by Garouste
‘n innerlike spanning veroorsaak, wat in hierdie skildery ook na vore kom. Want
die wandelaar het hom laat dink aan die rondreisende figure in die Ou Testament
wat in barre omstandighede getrek het en dan in die aande moes kamp opslaan.
Dan het hulle gewyde verhale vertel. Kaalvoet, moeg, maar getrou het hulle dus
in die aande oor God bly praat. In die latere geskiedenis het Christene
smalende aanmerkings oor hierdie Joodse figure gemaak. Maar, dink Garouste: Anders
as Jesus wat darem ‘n oorblyplek gehad het, het die Jode van die ou bedeling
bitter swaar gehad in hulle godsdienstige ervaring. Hulle was meer direk, meer
intens bewus van God se teenwoordigheid. Dit lyk asof Garouste met die skildery
‘n nuwe, ander, meer simpatieke houding teenoor die Jodedom wou inneem.
Tog is daar ook meer as wat Speybroeck skryf. In ‘n ander
bespreking word vertel dat Garouste gesê het die wandelaar het self nie nes
gemaak nie. Hy is op pad. Hy, so is vertel, reis na ‘n nes in die see en na ‘n
nes in die hemel. Hy verwag ‘n opstanding. Hy het ‘n nessie met ‘n duif daarop,
wat hom gelukkig maak – soos Deuteronomium 22:6 belowe. Hy wys die pad aan:
luister na wat God vra. Die wandelaar laat die duifies toe om op sy kop in hul
nessie te bly. Maar dan gebeur die uitsonderlike: die ma-duif kom aangevlieg om
haar duifies te voed. En dit laat ‘n mens weer dink aan die duif wat met ‘n
groen blaar na Noag se ark terugkeer om te bewys dat die vloed verby is. Of,
ook, opvallend, aan die Heilige Gees wat as ‘n duif neerdaal om die aankoms van
verlossing te simboliseer….