Tuesday, February 25, 2014

Slag daardie hart wat dink hy luister! Oor die verarming van 'n ryk teks.


Wat is mooier as die gebed: “Gee my ‘n luisterende hart”!

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel het 1 Konings 3:9 in 1953 só vertaal:

Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?

Maar in 1983 het ‘n nuwe vertaler dit anders aangebied en het die luisterende hart onder die logika van die moderne tyd in die slag gebly:

Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

Ook “Die Bybel vir almal” gee die oorsponklike vertaling so weer:

U moet my help om gehoorsaam te wees aan U sodat ek reg kan regeer oor u volk en sodat ek kan weet wat reg is en wat verkeerd is. Niemand kan oor hierdie belangrike volk van U regeer as U hom nie help nie.”


Die gebed om ‘n luisterende hart is deel van ‘n pragtige storie. Dit vertel hoe die Here in ‘n nag aan Salomo verskyn het en vir hom ‘n blanko tjek gegee het: “Jy mag vir My enige iets vra, en Ek sal dit vir jou gee.”

Wonderlike belofte. Die leser hou hul asem op.

Wat gaan Salomo vra?

Die ou vertalng vertel dat Salomo gebid het vir ‘n “opmerksame” hart. Die ander twee vertalings het dit verander na ‘n versoek om gehoorsaam te wees.

Salomo is besig om met God te gesels. Hy onderwerp hom aan God, veral omdat hy baie bewus is van die groot taak wat op hom wag. Hy is, sê hy in vers 7: “baie jonk.”

Salomo maak God bly. In vers 8 kom dit na vore. God sê hy het nie ‘n lang lewe of rykdom of wraak teen sy vyande gevra nie.

So bly is God dat God (volgens vers 11) Salomo se gebed oorvloedig beantwoord: Hy sal wysheid en verstand ontvang soos niemand voor en na hom nie.

Salomo vra ‘n lusiterende hart en ontvang uitermate wysheid.

In die Bybel, skryf Cachia, kry ons die gebed om ‘n luisterende hart veral in die wysheidsboeke. Iemand wat na God luister, is ‘n wyse mens. Dit is iemand wat op die Here wag, wat na die Here luister, wat by die plek van die Here wag om te hoor wat God te sê het (Spreuke 8:34, 23:19; 22:17).

Mense wat nie na God luister nie, is hardkoppig, self-gesentreerd en vol van hulleself.

Wie na God luister, word regverdig (Jes. 51:7; Eseg. 44:5). Wie soek om met die hart die wil van die Here te leer ken, sal gou agterkom wanneer hulle lewe afwyk van God se wil.

Om ‘n luisterende hart te hê is om doelgerig en bewustelik oop te wees vir God vanuit die sentrum van ‘n mens se bestaan. So ‘n mens soek dat God hom of haar sal vorm in die diepste kante van sy of haar bestaan. Dit is nie maar net kennis en verstaan nie. Dit raak alle aspekte van die mens se lewe. Dit gaan om God ten volle lief te hê, met siel, hart, verstand en wil.

Dit is wat Salomo van God vra. En as hy dit kry, weet hy, sal hy ‘n goeie koning wees wat regverdig oor sy onderdane regeer. ‘n Luisterende hart is ‘n hart wat ook omgee vir ander.

Hoe, tog, verdwerg hierdie geestelike insig die 1983 se flou poging om dit weer te gee as “maak my gehoorsaam.”  

Blog Archive