Thursday, February 13, 2014

Al die glans ten spyt...

Vanaand wys hulle op die Nederlandse sportuitsending die wedloop van Stefan Groothuis by die Olimpiese Spele in Sotchi. Hy wen die goue medalje en bevestig opnuut sy meesterskap in die 1000 meter afstand.

Hy is 'n skrale 32 jaar, maar het die afgelope jare die een oorwinning na die ander ingeryg.

Boonop is hy gelukkig getroud en nou die pa van twee kinders.




Maar, ontdek ek vanaand, hy het in 2011 so erg aan depressie gely dat hy dit oorweeg het om selfmoord te pleeg.

In 'n aangrypende, maar sober onderhoud op die KRO vertel hy dapper en openhartig hoe hy vir maande lank snags op sy bed gelê en huil het van depressie - en dit terwyl hy spogvertonings gelewer het.

Aan die einde van die onderhoud antwoord hy op 'n vraag en sê dat vele top sportmense met hom hulle donker gedagtes gedeel het.

Wat 'n mens aan die dink sit: 'n lewe lyk soms vol glans en roem. Die werklikheid lyk dikwels anders. 

En tog, daar is soveel krag in sy onderhoud. Uit sy donker dae het hy besef dat uiteindelik moet hy self verantwoordelikheid neem om genesing te soek. Niemand of enige middel kan vir hom die oorwinning gee nie. Juis daarom het hy vir hom voorgeneem om nooit weer te vergeet hoe donker sy tyd was nie, sodat hy in die toekoms sal kan vashou daaraan dat hy in staat was om daaruit te kon wegkom.


Hier is die skakel na die onderhoud.

http://www.uitzendinggemist.nl/afleveringen/1360964

Blog Archive