Wednesday, February 19, 2014

Toe Jesus van skrik sy sandaal verloor het... Oor die lewenskuns.

‘n Artikel van Thomas Quartier in Speling van 2012/2013 oor kuns wat besiel, bring my op die spoor van die ikoon-tradisie wat bekend is onder die naam: “Moeder van God van die Passie.”

Alle ikone wat op die tema fokus, teken Maria met die kind Jesus in haar arms.



Maar hierdie spesifieke weergawe is veral bekend omdat dit die kind Jesus teken sonder ‘n sandaal. Die skoen val van Jesus se voet af.

Die vallende sandaal simboliseer die skok wat Jesus beleef.

Hy kyk verskrik oor sy skouer na die aartsengel wat aan die regterkant van die ikoon geteken is.

Aan die oorkantse linkerkant is die aartsengel Migael wat met ‘n lans en staf van hisop in sy hande staan. Aan die regterkant is die aartsengel Gabriël wat die kruis in sy hand na Jesus wys.

Jesus skrik vir die kruis. Die twee engele bokant Maria en die kind is duidelike simbole vir lyding, dood en alles wat tydelik is. Die kruis is die konkrete lydensweg van Jesus.

Dit is die merkwaardige: Gabriël wat die blye boodskap van Jesus se geboorte aangekondig het, is nou die een wat die boodskap van die kruis bring.

Die kyker sien dus Jesus wat bevryding bring, maar ook Jesus wat ‘n hoë prys vir daardie liefdesdaad betaal. Die boodskap van Jesus is beide vreugdevol en angsaanjaend.

Vreugde is nooit sonder lyding nie. En lyding kan nie sonder vreugde begryp word nie.

Die ikoon, aldus Quarier, nooi ‘n mens in ‘n bepaalde lewensruimte in waar vreugde en lyding konstant vermengd is. In die idioom moet ‘n mens lewe. Nooit triomfantelik, asof alles net voorspoed en vreugde nie. Nooit depressief, asof lyding die laaste woord spreek nie.

Dit word dan spiritualiteit: ‘n mens word ingebring in ‘n lewenskuns wat rekening hou met die harde, maar ook met die goeie. Die ikoon vertel die verhaal van Jesus, die ou ou tyding van verlossing deur lyding heen. Maar terselfdertyd inspireer die ikoon die kyker om só te leef dat lyding nie die laaste woord spreek of dat vreugde nie wêreldvreemd is nie.

Jesus, geskok deur die lyding wat aan hom voorgehou word, sit op die skoot van sy moeder. Sy sandaal val van sy voet af. Sy moeder kyk rustig na die kyker.

Die ikoon teken die weg van Jesus as ‘n eenheid tussen vreugde en lyding. Die geboorte van Jesus en die vreugde daarvan, tot by die kruis van Jesus as lydenspad, vorm die twee groot elemente van die geestelike lewensweg. Deur die ikoon word ‘n mens ingenooi in daardie lewensweg: dit is ‘n uitnodiging tot ‘n bepaalde lewenskuns. Tot in ewigheid sal ‘n mens so lewe.

Hierdie ikoon met sy skilderkuns, volgens Quartier, vertel van die lewenskuns. Dit raak jou eie lewe konkreet aan:  vandag nog leef mense van vlees en bloed in die konkrete situasie van “vlees” en “bloed.” Moet dus nie toelaat, vertel die ikoon, dat ‘n mens deur beperkinge, deur lyding, passie, terugslae, konkrete omstandighede ingeperk en vernietig word nie. Hou vas aan die nuwe, die wedergeboorte, die vreugde, die ewigheid. Sien te midde van die konkrete dinge, die ewige raak.

Quartier skryf dat ‘n mens soos die onbekende ikoon-skilder wat in ‘n bepaalde omgewing stilweg leef en die ou verhaal van bevryding in sy ikoon getrou uitbeeld, juis ook weer die ewigheid teken:  hy en sy gemeenskap sal verbygaan. Maar sy ikoon bly as die ewige Geheim wat nooit vernietig word nie.

Die ikoon is bekend onder die bynaam van “ewigdurende bystand.”

Op ‘n dag het iemand iewers gaan sit om so ‘n ikoon te skilder. Die skilder teken ‘n prent van die lewe. Maar hy doen dit om sy werk met ander te deel. Iewers gaan die ikoon opgehang word, gaan ander daarna kyk en geïnspireer word om ook die lewenskuns te wil bemeester. Hulle sal uit die kettings van hul oppervlakkigheid of hul smartlikheid bevry word deur die kyk wat die ikoon hulle op die ewigheid gee. Hulle lewe sal getransformeer word.

Die kunstenaar het sy hand aan die doek gesit en iets tot stand gebring wat sy eie lewe sou transformeer. Hy word die boodskapper wat die ewigheid ervaar, om dit dan met ander te deel sodat hulle ook daraan kan deel.

In hierdie wonderlike lewensiklus ontdek die moderne mense ‘n Geheim: ‘n mens hoef nie die slagoffer te wees nie. Iewers is daar maniere om in die gang van jou lewe die werking van die Ewige te ervaar en met ander te deel.





Blog Archive