Sunday, February 02, 2014

Die tien beste geestelike liedere van 2013.

Ons het net een televisie-program wat ons nie graag mis nie.

Sondagaande kyk ons Nederland Zingt op kanaal 431.

Die sang van kore met orkes en orrelbegeleiding in pragtige katedrale roer 'n mens.

Vele van die liedere is by ons ook bekend. Dit is spesiaal om die woorde van ou Afrikaanse geestelike liedere in Nederlands op die skerm te volg.

Keer en keer betrap ek my dat ek dink hoe spesiaal en hoe ryk ons musikale geestelike erfenis is. En dan word dit op so 'n smaakvolle en musikale manier in wonderlike plekke gesing.

Vanaand, terwyl ek luister na die program waarin die tien beste en gewildste liedere vir 2013 uitgesaai word en terwyl ek kyk na die spontane, eerlike meelewing van die gehoor, is daar in my innerlike 'n dankbaarheid vir die kerk.

Ek is dankbaar dat mense in die kerk is wat werklik daar wil wees. En dat hulle deur hul samesang, hul teenwoordigheid en hul deelname wys wat vir hulle belangrik is. Maar ek ervaar die rykheid van die kerklike tradisie: mense wat oor eeue heen hul diepste geestelike ervaringe met ander in die liturgiese ruimte van bymekaar-wees by God kan deel.

Vanaand se uitsending was spesiaal: die tien gewildste liedere word gespeel.

Dit is die moeite werd om elkeen van die tien liedere wat in die program uitgekies is, mooi te beluister. 'n Mens kry 'n indruk van die geestelike behoeftes van 'n moderne gelowige in sekulêre Nederland.

Wat my opval is die diepe verlange na God wat in die woorde en musiek na vore kom. En daarmee saam, die boeiende vertroue, so onmiddellik, kinderlik, in die troostende, opbeurende en bemagtigende teenwoordigheid van God.

Hier is die besondere video:

 http://gemi.st/EO_101209672

Blog Archive