Saturday, February 08, 2014

Onherroeplik kwetsend


Vanoggend, in die boekwinkel loop ek 'n nuwe boekie van Scannell met spreuke van Langenhoven raak. 

(Hoekom het ons Langenhoven vergeet?

Skerp brein, tong en woordmeester. Maar ook die man van Oudtshoorn, daardie plek waarvandaan oom Bun Booyens, maar ook my ma, kom - almal mense met matelose gevatheid. Asof humor aan inwoners met die lug, lig en water ingegee word.)

Ek lees daarna, met my tuiskoms, op die internet van Langenhoven se spreuke raak.

Hier is een van sy spreuke waarmee ek onmiddellik resoneer:

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

En hier 'n guitige een:

Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se familie.

Maar dit is die volgende woorde wat my bybly en wat my my pen laat opneem. 

As jy regtig wil seermaak, soek iemand wat jou liefhet. 

Dit is 'n boeiende verwerking en omkering van die gedagte dat eie honde byt die seerste. 

Lank nadat daar rowe in 'n mens se hart gevorm het waar woorde van ander jou verwond het, bly sit die rou skaafplekke van die woorde wat kom van mense naaste aan jou. 

Hulle kan jou deur hulle woede en frustrasie seermaak, ja. 

Maar in hierdie diepsinnige woord is iets anders ter sprake. 

Hierdie woord het te doen met die seer wat 'n mens ander, en veral hulle naby aan jou, aandoen. En hoe dit hom op jou wreek. Dit is skaafplekke wat veroorsaak is wanneer jou eie woorde en jou eie dade vir jou geliefdes verniel. 

As jy regtig wil seermaak, soek iemand wat jou liefhet. Die las van 'n skuldige wete oor eie liefdeloosheid teenoor hulle naby aan jou, ken nie 'n meerdere nie. Dit leef saam met jou soos 'n geboortemerk.

Blog Archive