Spiritualiteit, sê mense, raak al hoe gewilder. Een so ‘n
gewilde vorm van spiritualiteit is afsondering in stilte.
Mense is moeg vir geraas. Hulle wil nie geraas van ‘n
gejaagde lewe, van ‘n begeerte na uiterlike, verganklike dinge, van die drang
na prestasie en erkenning meer hê nie.
Eenvoud, stilte, vrede, kalmte en tevredenheid word nou
geestelike waardes waarna ‘n mens eerder strewe.
‘n Mens het nie meer die goedkeuring van ander nodig nie. Al
wat ‘n mens soek is om in God se teenwoordigheid te wees.
Dit is inderdaad ‘n spesiale gawe wanneer ‘n mens geleer het
om so ‘n lewe van toewyding op te soek.
Groot heiliges in die verlede het met spesiale inspanning ‘n
lewe van afsondering opgesoek.
Maar hierdie geestelike gawes is nie maklik nie. ‘n Mens kan
nie sulke gawe’s najaag met die idee dat dit jou ‘n goeie, vervulde lewe sal
gee nie. Asof ‘n mens se lewe uit kalmte, eenvoud, vrede en stilte moet
bestaan.
Afsondering is nie die ideaal nie. Dit is ‘n middel.
‘n Mens soek die stilte op omdat dit ‘n mens van ‘n spesiale
roeping bewus maak. Dit gaan juis nie in afsondering daarom dat ‘n mens
innerlike vrede en liefde geniet nie.
Wanneer ‘n mens afsondering só sien, word dit op ‘n
selfsugtige manier tot voordeel van die mens gebruik.
Afsondering moet ‘n mens daartoe bring om vrede te soek, te
skenk en met ander te deel. Deur stilte word ‘n mens daartoe gedring om liefde
in ander se lewens in te dra. ‘n Lewe van eenvoud beteken dat ‘n mens ander
sonder meer en eenvoudig aanvaar vir wie hulle is.
Dit is nie maklik nie. Die stilte, die afsondering is
uitdagend juis omdat dit ‘n nietigingsproses inlei. Al ‘n mens se eie
begeertes, behoeftes en ideale word van jou gestroop.
Geestelike mense word gedryf deur ‘n passie om liefde te
deel. Moeder Teresa is ‘n voorbeeld. Franciskus van Assissi het juis verlang na
‘n lewe waardeur hy ander, selfs die diere van die veld, die sentrum van sy
bestaan maak.
Kom hierheen en volg my. In ‘n lewe weg van
self-gesentreerdheid en oppervlakkige kalmte.
Daarom sal die geestelike mens nie probeer heilig wees nie.
En ook nie die gebedslewe spoggerig uitstal nie. Of vertel van eie vroomheid
nie.
Nietiging. Wanneer alles was om ‘n mens self draai eenvoudig
onbelangrik word. Nietig. En tot niet gaan.
Dit is egte mistiek. Die eie ek, die behoefte aan erkenning,
aan liefde, aan intimiteit, aan self-gelding, verering, die gevoel van eie
waarde, is weg.
Gedurigdeur bring stilte ‘n mens om die volle lewe – met sy
liefdeslig, maar ook met sy donker dreiginge te omhels. En om dan met
inspanning te weet dat die lig en die donker vra dat ‘n mens gedurig liefde sal
gee, vrede sal skenk, vergifnis sal uitdeel en skuld sal kwytskeld.
In stilte besef ‘n mens, dit is beter om te gee as om te
ontvang – al is dit nie maklik nie.
Spiritualiteit kan ‘n struikelblok word wanneer ‘n mens nie
bereid is tot nietiging nie. Want dan het spiritualiteit self-gesentreerd
geword. En dit het die goue woord agtergelaat: Hy moet meer word...