Wednesday, February 05, 2014

Die liefde verander God.


Die liefde begin by God. Dit is keer op keer ‘n sentrale motief in die Bybel. God is liefde en gee liefde.

Die klassieke teks wat in Spiritualiteitstekste dikwels gebruik word, is 1 Johannes 4:19: “God het ons eerste liefgehad.”

Hieruit kan ‘n mens nogal ‘n skewe gevolgtrekking maak. Asof God aktief liefde uitdeel en die mens dit maar net ontvang. Die mens is dan passief, die blote ontvanger van liefde.

Tog maak die liefde van God die mens aktief op twee maniere.

Wie God lief het, word deur die liefdesdade van God aangevuur om ander lief te hê. Daarom is dit in die geaardheid van gelowige mense om mekaar lief te hê. 1 Johannes 3:16: “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.” (Vgl. 1 Johannes 4:7).  Hierin neem mense die geaardheid van God oor. In Bybelse taal word daarom van die beeld van God gepraat.

‘n Mens reageer dus op God se liefde deur aktief ander lief te hê.

Tog is dit nie ‘n “reaksie” op God se liefde nie. Dit is eerder ‘n nuwe liefdesgeaardheid wat in mense gegee word wanneer hulle deur God se liefde aangeraak word. Die liefde van God transformeer mense tot liefdesgenote.

Maar dit is net een van die twee dimensies oor menslike liefde. Die mens se liefde doen ook iets aan God.

Hierdie tweede belangrike dimensie van die liefde is dat ‘n mens se liefde teenoor mekaar en teenoor God, ook vir God raak en transformeer. Elke keer weer word die mens op ‘n spesifieke manier aangevuur om nuut in God se liefde teenoor ander mense te leef. Die mens woon in God se liefde, wat tot nuwe vorme van die liefde aanstig. En die nuwe vorme van liefde onthul nuwe dimensies van God se bestaan. God word nou vir mense wat God voorheen nie was nie.

Daarom is spiritualiteit ‘n proses. God word deur die mens se liefde op nuwe maniere bekend in die wêreld. Mense se liefde laat God anders lyk.

In Jesus vind ‘n mens dit by uitstek geïllustreer. Jesus se liefde vir hulle wat liefde ontbeer, laat Jesus die wet transformeer. In Jesus laat die kerk die besnydenis vaar. Mense wat nie besny is nie, hoef nie uitgesluit te voel van God se liefde nie. Met groot gesag kan Jesus die wet aanpas en nuut lees. In Jesus laat die kerk vroue vry word. Vroue is nie meer besittings, onder die beheer van die man nie. God se liefde transendeer nou grense wat vroom mense deur gender op mekaar afgedwing het (Gal. 3:27). God se liefde verander. Steeds voller en voller word God se liefde in die wêreld volbring.

Dit maak die liefde so radikaal. Wie in die liefde leef, in God se liefde, moet weet hulle is in vir ‘n avontuur. God skep steeds nuut, steeds anders. Die liefde neem jou waar jy nie verwag het om te beland nie. En in die proses is God saam op reis. Ook God word deur die liefde tot nuwe hoogtes aangevuur.

Wanneer God die mens in liefde aanraak, maak die liefde iets in die mens se lewe los wat alles uiteindelik verander. Dan word die mens soos God, deurdat die mens hulleself gee soos God Godself gegee het. En dan kring die liefde uit na ander soos God dit uitgedeel het.

Die eindelose energie van die mens se liefde is nie maar bloot nabootsend nie. Dit verander God. God kan terugstaan wanneer die liefde by God terugkom en God dan afsien van straf en oordeel. Die Siro-Fenisiese vrou het soos die hondjie tog haar stukkie brood by die tafel gekon kry omdat sy smekend by Jesus daarom vra. Die tollenaar se hou teen die bors het God se hart ook aangeraak om genade onvoorwaardelik uit te deel. Aldus ook die moordernaar aan die kruis: sy liefdeswoord dat Jesus vir hom moet omgee, aan hom moet dink, het vir hom die pad na die paradys oopgemaak. ‘n Moordenaar laat die Vaderhart omkeer.

Maar net weereens: dit is nie maar net dat mense se liefde nuwe dimensies van goddelike liefde ontsluit en bekendmaak nie. Dit is veel meer radikaal: die liefde, die goddelike Minne, teer op en werk intenser deur die menslike liefde. Die verhouding tussen God en mens is immers wederkerig: as God se liefde mense transformeer, sal menseliefde God ook transformeer – nie net tot vergifnis nie, maar tot nuwe vorme van liefde. Dit maak die liefde mistiek. Maar dit is waarom die Nuwe Testament gaan, die nuwe verbond. Die bloed van die geliefde Seun het gevloei, gegiet as gevolg van sy brandende liefde, sy biddende verlange na die Vader. En God het besluit: van toe af kom daar ‘n Nuwe Verbond. In wederkerigheid aan mekaar verbind, besef God en mens: dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Die ou dinge is verby. Van nou af werk God nuut, anders en in intenser vorme van die liefde.

Immers, bly daar nog steeds en altyd daardie mistieke woord van Jesus in Johannes 14:12:

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.

Die liefde van die mens teenoor God verander God ook.



Blog Archive