Toe ons tydens ons konferensie in Rome ook 'n geleentheid van die pous bygewoon het, het 'n paar kollega's vertel dat die pous nie juis veel aan die kerk sal kan verander nie.
Die kommentaar het my bygebly.
Ek lees dus met belangstelling in
die NYT 'n berig waarin 'n skrywer praat oor die misplaaste ophemeling van die
huidige pous asof hy 'n groot hervormer is - en dit terwyl hy eintlik niks aan
die ou strukture en oortuiginge van die Roomse kerk gaan verander nie.
Maar, sê die skrywer van die berig in
reaksie hierop, met hul kommentaar vergeet sulke mense hoe belangrik die styl is
waarmee 'n mens na buite leef, veral teenoor hulle wat met jou verskil.
Dit geld veral vir die kerk met sy
troebel verlede.
Die styl van die pous maak die
groot verskil uit tussen hom en sy voorgangers. Sy styl laat 'n mens dink aan
mense wat op kritieke oomblike bly glimlag en 'n skouer ophaal wanneer hulle te
doen het met ander wat nie met hulle saamstem nie. Dit beteken hulle neem nie
'n dreigende, intimiderende houding in nie of probeer nie om die afwykende
opponent te verpes nie.
Soos toe die pous in die openbaar byna
nederig gevra het: wie is ek om te oordeel?
En dan
is daar die pous se tydige kritiek op gierigheid in die besigheidwêreld en op
mense wat teer op die staat. Die kerk was nog altyd krities hieroor, maar die
pous het op die regte oomblikke in die openbaar hieroor stelling ingeneem. En
boonop het hy self in 'n eenvoudige woonstel eerder as die pouslike weelde-verblyf
gaan bly, asook 'n gewone Ford in plaas van die pouslike koets gery.
Sy lewensstyl is anders as wat
voorheen gebruiklik was.
Hy leef anders sy voorgangers.
Maar,
voeg die skrywer by, Franciskus baat ook by die honger wat by vele mense leef dat
daar nog heiliges sal wees. Terwyl mense sku is vir sulke swaar begrippe soos
sonde en skande, soek hulle na voorbeelde van goedheid en genade. Hulle reageer
graag toegeneë teenoor mense wat nie veroordeel en verwerp nie. Hier verwys die
skrywer na Gandhi en Mandela wat geestelike leiers was wat nie ander beleer en
voorskryf nie. Daar is nie baie sulke figure nie.
Die pous
het op 'n stadium gesê hy glo nie in 'n Roomse God nie. En hy het ook nie
neerhalend oor ateïste gepraat nie. En al is hy nog heel Rooms in sy
oortuigings, is hy nie die boelie en diktator wat ander in gelid wil laat tree
nie.
Die styl
is ekumenieser.
Wat my
laat dink aan die spirituele dinamiek wat hier ter sprake is: wat tel, bo alle
strydpunte heen, is om steeds weer die menslikheid van die ander, maar ook die
verhouding met hulle hoog te ag.
Dit sal
transformatief werk.