Wednesday, February 26, 2014

Weet jy wat jy vra? Om te verlang na 'n hart wat luister.


“Gee my ‘n luisterende hart,” bid Salomo volgens 1 Konings 3:9.

Dit is vir die jong koning die belangrikste ding wat ‘n mens sou wou hê. Hy het nie behoeftes en begeertes om baie met God te praat nie. Hy vra van God die “hart” om te kan “luister.”

Dit is opvallend vir mense wat so reg staan om gedurig met God te wil praat.

Godsdiens misvorm mense tot praters wat nie kan ophou om vir God te vertel wat hulle alles wil hê nie.

Godsdiens mismaak mense ook om gedurig dinge na hulle sin te wil hê en te verstaan. Gee vir my, sou Salomo kon sê, tog al die antwoord op my vrae en leer my alles wat ek graag moet weet.

Die begeerte na ‘n luisterende hart het te doen met veel meer as om te verstaan. Die brein is hier nie op die spel nie.

Die mens vra dus ‘n sekere soort “hart” – ‘n ervaring wat te doen het met die belangrikste deel van die menslike bestaan. Dit is ‘n begeerte wat uit die dieptes van jou binnekant opkom. Hier, waar niemand kan kom nie, waar jy verskriklik alleen is, in die plek waar jy alleen sien, hoor en bestaan – op die stil, kernplek, wil jy iemand wees wat kan “luister.”

Die versoek van Salomo word gedryf deur ‘n innerlike self-kennis.

Die versoek  is om te kan luister na God. Hierdie innerlike kreet roep dat God daar sal woon waar die mens op sy alleenste en eerlikste is.

Want die mens wat sy of haar innerlike ken, weet dat dit ‘n oop, leë ruimte is waar baie klanke eindeloos kan bly eggo.

Laat ek, wanneer ek in al my naaktheid, voor die volle waarheid van my bestaan verkeer, laat my dan iemand wees wie se hart aan God verpand is. Ek vra om nie aan myself uitgelewer te wees nie. Of op myself ingestel te wees nie. Nie te verdrink in die klanke en klanke nie.

Laat my tog vir U hê om te hoor.  Dit is ‘n begeerte wat van diep in ‘n mens opkom na ‘n uitreiking van God.

Die mens wil nie alleen wees nie, selfs nie in die paradys nie.

Daar moenie eers ‘n pouse wees nie, nie ‘n stilte nie. Klanke van God se stem moet bly vloei en ‘n mens vul, ryk en vol maak, van binne uit .

Salomo, ironies, het sekerlik om elke hoek en draai met God se dinge te doen gehad. Priesters en profete was daar in oormaat in sy tyd. Die woorde in 1 Konings 3:9 veronderstel dit ook: mense is godsdienstig. Hulle hoor God se stem dikwels.

Maar dit is nog lank nie om na God te luister nie.

‘n Mens wil luister om te hoor hoe word jy geroer in die leegte van jou bestaan deur die rykheid van wat God wil gee. Dit is nie net om oor God te kan hoor nie. Dit is om God met jou te hoor praat.

Dit is ‘n opvallende gebed wat die verlange na ander weerspieël: Salomo weet ‘n mens kan nie op jou eie bestaan nie. Wat jou lewe vul, is die Stem van die ander, die stem wat van buite tot jou kom. ‘n Mens se lewe is sinvol wanneer dit opgeneem is in ‘n verhouding, wanneer ‘n mens Iemand naby jou het wat jou erken, herken, verken en beken.

Dit boeiende is dat ‘n mens iewers weet hoe God se stem lewe skep. God het gepraat en daar was lewe. God roep en mense word nuut.

Maar dit is nie altyd so maklik om in daardie rykdom in te leef nie. Geraas, eie gepraat, self-besigwees, verdring daardie subtiele stem van die lewe.

‘n Mens moet leer om te kan luister. Jy moet vra daarvoor. ‘n Mens moet daarom bid.

Eers dan word die wonder van die stem hoorbaar, groei dit, gryp dit jou lewe in besit, wil jy meer hê.

‘n Luisterende hart is ‘n enorme gawe wat alles kan verander.

Blog Archive