Sunday, February 09, 2014

Van vrede tot skrale troos?


Ek onthou goed hoe dikwels hierdie Halleluja-lied (261) gesing is.
  
Hier is 'n gewilde opname daarvan deur Chris Rice. Ek hou van die ryk klavierklanke:






Die storie van die lied is erg bekend. Dit is deur ‘n bekende Amerikaanse besigheidsman en regsgeleerde (Spafford) geskryf na die tragiese dood van sy kinders. Sy enigste seun is eers in 1870 aan skarlakenkoors dood. Toe het sy vier dogters in ‘n bootramp in 1873 omgekom toe hulle op pad was om dienste van die bekende evangelis Moody in Engeland by te woon. Hy het die lied geskryf nadat hy van sy vrou die verskriklike boodskap ontvang het.
Spafford was ‘n groot vriend van Moody. Hy was aanvanklik ‘n Presbiteriaan, maar mettertyd het hy sterker by die piëtisme aanklank gevind. Uiteindelik het hy ‘n eie godsdienstige groep begin en later na Jerusalem verhuis waar hy ook dood is.

Ek lees vanaand weer, na baie jare, die Afrikaanse vertaling en vergelyk dit met die Engelse oorspronklike. Hier is die woorde soos dit in die Halleluja voorkom:

1. AS VREDE MY PAD DEUR DIE WêRELD VERLIG,
   AS SMARTE MY DREIG TE VERNIEL,
   DAN ANTWOORD EK VRY, WATTER LOT MY OOK TREF:
   DIT IS WEL, DIT IS WEL MET MY SIEL!

KOOR:
DIT IS WEL, DIT IS WEL
MET MY SIEL
MET MY SIEL
DIT IS WEL,
DIT IS WEL
MET MY SIEL!

2. HOE FEL DIE BESOEKING, HOE SATAN OOK TRAG
   OM MY TE VERTRAP MET SY HIEL,
   STEEDS GRYP EK WEER MOED, WANT MY HEILAND IS DAAR,
   EN HY STORT NUWE KRAG IN MY SIEL.

3. VOORHEEN HET DIE SONDE GEDURIG GEKWEL,
   EN DIKWELS MY VREUGDE VERTEER;
   NOU'S ALLES VERGEEF EN GEHEG AAN SY KRUIS:
   O MY SIEL, LOOF DIE HEER, LOOF DIE HEER!

4. VOORTAAN IS DIT CHRISTUS, JA, CHRISTUS ALLEEN,
   SELFS WAAR EK IN DROEFHEID MOET KNIEL;
   GEEN STRYD IS TE SWAAR NIE, IN LEWE EN DOOD
   BLY MY HEILAND DIE TROOS VAN MY SIEL.

5. JA HEER DIS OP U OP U KOMS DAT EK WAG;
   DIE HOOP SAL MY ALTYD BESIEL;
   DAN KLINK OP DIE WOLKE DIE STEM VAN DIE HEER -
   O HOE SALIG DIE UUR VIR MY SIEL!

Hier is die Engels:

When peace, like a river, attendeth my way,
When sorrows like sea billows roll;
Whatever my lot, Thou hast taught me to say,
It is well, it is well with my soul.

(Refrain:) It is well (it is well),
with my soul (with my soul),
It is well, it is well with my soul.

Though Satan should buffet, though trials should come,
Let this blest assurance control,
That Christ hath regarded my helpless estate,
And hath shed His own blood for my soul.
(Refrain)

My sin, oh the bliss of this glorious thought!
My sin, not in part but the whole,
Is nailed to His cross, and I bear it no more,
Praise the Lord, praise the Lord, O my soul!
(Refrain)

For me, be it Christ, be it Christ hence to live:
If Jordan above me shall roll,
No pain shall be mine, for in death as in life
Thou wilt whisper Thy peace to my soul.
(Refrain)

And Lord haste the day, when my faith shall be sight,
The clouds be rolled back as a scroll;
The trump shall resound, and the Lord shall descend,
Even so, it is well with my soul.
(Refrain)


Dit val my op hoe die Engels ‘n bepaalde moment het wat in die Afrikaanse vertaling ontbreek. In die Engels is die aksent op die Here wat die digter geleer het om uit te roep dat dit wel is met sy siel. Die ryk motief van vrede loop as 'n goue draad deur die lied. 

Ook in tyd van erge verlies, kan 'n mens aan vrede vashou.  Dit is wat God aan 'n mens gee. Dit is wat God vir 'n mens "leer." God en digter is in die donker tye van teenspoed in 'n nabye verhouding wat vrede skenk.

In die Afrikaanse weergawe het die U-ek verhouding verdwyn. Nou word die eerste reël 'n onpersoonlike: "As vrede my pad deur die wêreld verlig..."

Maar nog opvallender is dat die “Thou wilt whisper Thy peace to my soul” in Afrikaans vaal vertaal word as “Bly my Heiland die troos van my siel.” 

In tyd van verlies, kan 'n mens nog 'n fluisterstem bo al die geraas hoor. God wat vrede in 'n mens se innerlike influister.  ‘n Gebed, poëties en gelaai met intieme nabyheid in die Engels word in Afrikaans ‘n verklaring, ‘n subjektiewe uitdrukking van die gemoed van die digter. Die digter praat afstandelik van "my" Heiland wat die troos van sy siel bly. 

Daar is min oor van God wat naby aan die mens leef wanneer die pad steil, donker en onhelder is.

God se vrede, die hart van alle dinge, verskraal tot troos?





 


Blog Archive