Friday, February 21, 2014

Met die lelike engel op weg na die Ondeurdringbare




Hierdie is waarskynllik een van die beroemdste skilderye van Paul Klee, ontdek ek verras. Die filosoof Theodor Adorno het dit besit, voordat hy dit aan die ewe bekende skrywer oor mistieke tekste, Gershom Scholem gegee het. Dit hang vandag in ‘n museum in Jerusalem.

Die “nuwe engel” heet die skildery. Die engel, met 'n groot kop, en met twee vlerke wat in die lug deur helder lig opgehou word, staan oopmond. Hy is 'n engel, 'n ongewone figuur. Die kyker kom voor die anderse, die onpeilbare te staan. En die oneindige praat met die kyk vanuit 'n helder lig. 

Paul Klee het steeds weer skilderye van voorwerpe gemaak wat heenwys na diepere, groter betekenis wat ‘n mens nie regtig kan peil nie.

Die engel in hierdie skildery word byvoorbeeld berekend uitgebeeld deur Klee met ‘n groot kop as simbool van wat die engel weet wat niemand anders ken nie. Mense het nie hierdie toegang tot die oneindige wat die engel het nie.

Dit was 'n onderwerp wat hom dikwels besig gehou het. Klee, skryf Logister in ‘n boeiende artikel (Speling 2012/2013), het 52 weergawe’s van ‘n engel geteken – meestal kort voor sy dood. 

Hy teken engele wat nie "mooi" is nie. Sy engele is nie romantiese, sentimentele uitbeeldings van 'n naïewe geloof nie. 

Sy engele is mistiek. Hulle wil die kyker van sy werke aanspoor om kontemplerend, nadenkend, verby al die gewone, alledaagse dinge te kyk en na te dink oor diepere dinge wat vir 'n mens verborge is.

Hy sluit daarmee aan by 'n diepe behoefte wat mense het.

Mense, het hy geskryf, kan nie soos engele vlieg nie – maar hulle probeer desperaat al breek hulle in al die pogings hulle arms en bene. Hulle wil ten alle koste die engele namaak soos hulle die onmoontlike regkry. Mense het nie die verborge insigte wat die engele in hulle reuse-koppe het nie. 

Klee teken byvoorbeeld twee keer ‘n huilende engel. Die engel treur omdat hulle vir die mens die oneindige, ewige, metafisiese kommunikeer, maar mense wil dit nie hê nie. 

Hy wil die engele met hul insig en verstaan kontrasteer met mense wat gedurig aan die beweeg is. Hulle kan nie, anders as die engele, ‘n vaste punt bereik nie. Dit is omdat mense dikwels deur dwaasheid en onvermoë aangedryf. 

Dit is moeilik vir mense om ‘n balans te kry, skryf Logister in sy bespreking van Klee, tussen die banale en die verhewene, tussen tragiek en humor. Tog is daar in mense iets van ‘n ewigheidswaarde is. Daarom teken hy mense met net een vlerk, terwyl sy engele twee vlerke het. Daar is wel iets van 'n engelagtigheid in mense ook.

Mense soek na sin, hulle dink hulle kan alles netjies verklaar. Hulle glo die wêreld en mense om hulle kan helder volgens sommige vaste insigte verduidelik word. 

Tog is dit nie waar nie. Daar is dinge wat verstand te bowe gaan. Die wêreld en ruimte is gedurig aan die beweeg en ontwikkel en ‘n mens kan nie altyd die gebeure peil nie. Elke keer as 'n mens iets wil vasvats, ontglip dit die mens se greep.

Kyk byvoorbeeld na wat om ‘n mens aan die gang is: So ‘n eenvoudige voorwerp soos ‘n voël of ‘n blom kan ‘n mens sien, maar bekyk ‘n mens dit deeglik genoeg? Wanneer ‘n mens dit wel indringend bekyk, sal ‘n mens in verwondering agterkom wat ‘n mens nie regtig in woorde kan beskryf nie. Die dinge is deurtrek met die Verborgene wat ‘n mens maar net kan bewonder. Steeds weer moet ‘n mens ingestel wees om verby die oppervlakkige te kyk na die innerlike wat ‘n mens nie kan peil nie en wat gedurig nuwe dinge oplewer.

In ‘n sekere sin roep hy saam met die Psalmis uit: wat is die mens? Hoe kan ‘n mens dit peil dat God ‘n verhouding met die mens aangaan en in die lewe van die mens teenwoordig is.

Dit is, voorts, vir Klee ‘n hele proses van verinnerliking wat ‘n mens moet deurgaan: alles in die verlede is katastrofies, is sy apokaliptiese siening. ‘n Engel wys na die verlede en die rampsaligheid daarvan. Die engel word in Klee se werk deur die toekoms oorweldig: dit is wat saak maak. Die toekoms is oop, neem ‘n mens vorentoe, weg van die rampsalige, na die ondeurdringbare, onverklaarbare en diepere Verborgene.

Eg mistiek. 

Lees hierdie boeiende artikel oor die verskillende resepsies van Klee se werke, maar ook oor sy bande met bekende filosowe en skrywers oor die mistiek
http://www.haaretz.com/weekend/magazine/walter-benjamin-s-berlin-120-years-on-1.450773. Dit is nuttige materiaal om Logister se artikel aan te vul.

Blog Archive