Ek ontvang vandag ‘n epos met ‘n gebed van Efraim, die Siriër, die
kerkvader uit die vierde eeu. Hy word algemeen beskou as die belangrikste
Siriese skrywer in die vroeë Christendom.
Vir eeue na sy dood het mense hulle nog verlustig in sy werke.
Ek verwonder my aan die gebed, en veral die boeiende struktuur daarvan.
Aan
die een kant is dit ‘n tipiese naby-Oosterse teks, met subtiele verwysings na
daardie konteks en ook na die kerklike wortels van Efraim.
Aan die ander kant
is dit ‘n besondere teks wat die diepsinningheid van Efraim en sy geestelike
volwassenheid uitwys.
Die gebed begin met ‘n persoonlike deel, waarin die bidder God vra om sy
lewe te reinig. Hy gebruik "my"-taal, maar dit is ook intieme taal wat praat van
die verlange om naby aan God te kan wees. Dan word dit gevolg deur ‘n
gemeenskaplike deel waarin die bidder om God se leiding vra en vir nog steeds
meer geestelike groei.
Wat my opval in die gebed is die totale vertroue op en toewyding aan God,
maar ook die afhanklikheid van God. Uiteindelik is alles wat ‘n mens aan die
goeie het, iets wat ‘n mens van God moet ontvang.
Die gebed vertel dus van ‘n intieme verhouding met God, waarin die bidder
in vele dinge uitsien dat God alles sal gee wat die bidder nodig het vir die
geestelike reis. Daar is in die proses dus ‘n proses van nietiging, van
verwagting dat die lewe van God sal kom, van buite ‘n mensself. Die fokus val
op die behoefte dat God al hoe meer sal ingryp, meer sal doen, krag sal gee.
Nie dat dit die vernietiging van die mens beteken nie. Want hoe meer ‘n
mens nietig en niks word, hoe meer ruimte is daar om soos God te word en te
lyk. Sonder om God te word, want God alleen kan gee wat ‘n mens moet hê, word
die mens steeds meer beeld van God en lyk die mens na wat God van die mens wil
maak.
Hier is die gebed:
Ek bid dat U my, asof u oogappel, sal bewaar, o Here God.
Hou my en laat my skuil onder u vlerk, laat u vlerk my beskerm teen versoekings.
Wees U tog die hoeder oor die oog, dat dit nie met die blik van ‘n dief kyk
nie.
Wees U tog die hoeder van die oor, dat dit nie valsheid sal aanhoor nie.
Wees die hoeder van die lippe, sodat hulle nie laster, veroordeel,
kritiseer en ydele woorde kwytraak nie.
Wees die hoeder van die hart, dat dit nie neig tot kwaad en nie onreg
bedink nie.
Gee ons, o Here, insig in wat ons behoort te doen en hoe om dit te doen.
Gee, o Here, dat ons vir U geuriger as reukwater of parfuum sal wees.
Gee, o Here, dat ons U sal liefhê en nie die wêreld van donker nie.
Gee, o Here, dat ons sal soek om U te verkry eerder as verganklike
besittings.
Gee aan ons, o onse Here, dat ons aan U drie uitsoek-gawes sal bring.
Gee aan ons, o onse Here, om drie geurige wierook-offers voor U te brand.
Gee aan ons, o onse Here, om vir U drie helder brandende lampe aan te
steek: die gees, die siel en die liggaam – die drie gawes van die Een
Drie-eenheid.
Laat ons die gees aan die Vader opdra, die siel aan die Seun en die ligaam
aan die Heilige Gees, die Gees wat dit weer uit stof sal laat oprys.
O Vader, wy ons gees aan uself! O Seun, wy ons siel aan uself. O Heilige
Gees, wy aan uself ons liggaam wat met sere besmet is.
Gee aan ons, o onse Here, om vreugde in u te hê en mag u in ons vreugde op
die laaste dag hê.
Aan U kom toe die lof, van die gees, siel en liggaam.
En aan ons kom toe U ontferming.