Tuesday, March 11, 2014

Die generaal wat sjampanje drink toe 60 000 van sy manskappe op een dag afgemaai word...


Vandag net die rye grafstene, die groen-groen gras, 'n kruis en die stil, somber skemer.
 
In Junie 1916 met die eerste wêreldoorlog, het die Engelse besluit om ‘n grootskaalse aanval op die Duitse leer te loods. Hulle wou deur ‘n massiewe aanslag vir eens en vir altyd die oorlog tot ‘n einde bring.

Hulle het mans uit hele dorpe oor die lengte en breedte van die land opgekommandeer. Net uit een dorp alleen het hulle 720 jongmans laat kom. Dit was byna al die mans.

Vir ‘n week lank het die Britte ‘n massiewe aanval geloods. ‘n Getal van 500 000 mans het op die grens van België ‘n linie gevorm en die Duitsers op en onder die grond aangeval. Hulle het byvoorbeeld met tonnels onder die Duitse loopgrawe ingegraaf totdat hulle met ‘n stetoskoop kon vasstel waar die Duitsers was. Dan het hulle op daardie plek ‘n reuse klomp bomme geplant. 

Een so ‘n bom het ontplof sodat die geluid tot in Engeland gehoor kon word. Op ‘n foto kan ‘n mens die reusewolk in die lug sien. Dit lyk byna soos die atoombomme wat in Japan ontplof het.




Op 1 Julie 1916 het hulle ‘n finale aanval op die Duitsers begin. Dit was die berugte stryd van Somme.

Die Engelse het toe gedink dat dit vinnig sou gaan.

Tot hulle skok ontdek hulle op daardie rampspoedige dag dat die Duitsers die aanvalle goed oorleef het en paraat was om terug te veg.

Die Duitsers het die Engelse van ‘n kant af afgemaai. Die verliese aan menselewens was onvoorstelbaar. 

Toe van die Engelse aanvoerders begin paniekerig word het, het hulle hulle generaals gevra wat om te doen. Die bevel het teruggekom dat hulle eenvoudig direk moes aanval.

Daardie besluit het veroorsaak dat net op 1 Julie 1916 sestigduisend manskappe verloor is: twintigduisend manne het gesterf en veertigduisend is gewond. 




Uit daardie een dorpie waaruit 720 jongmans opgekommandeer is, het 600 gesterf.

Dit was die bloedigste slag van die oorlog. Na die oorlog is daardie generaals wat die aanval so koelbloedig laat doen het, gedemoveer.

Maar niks kon die verskriklike bitterheid wegneem nie.

Dit was ‘n bitterheid omdat onskuldige jongmense se lewens hulle ontneem is. Dit word nog onthou hoe generaal Haig sjampanje in sy hoofkwartiere gedrink het terwyl sy manne modderwater in hul loopgrawe moes drink. Hy was, soos generaals in die tyd, meer bekommerd oor die nederlaag as oor die duisende mans wat as kanonvoer aan die vyand uitgelewer is. 





Die eerste wêreld-oorlog word as die bloedigste oorlog ooit beskou.

In die stryd van Somme, op 1 Julie 1916, het meer soldate hul lewe verloor as wat Amerika in die hele Viëtnam -oorlog verloor het. 



Blog Archive