Thursday, March 06, 2014

Die geestelike reis neem oor...


Iemand wat oor spiritualiteit lees of dit toe-eien, doen dit nie sommer nie. Hulle het 'n goeie rede waarom hulle uitvra daaroor.

Hulle word deur 'n innerlike behoefte gedryf na méér, of na ánders. Vir hulle gaan dit om 'n verdieping in hul lewe.

In hul lewens is hulle dus onderweg. Iewers heen. Hulle bestaan is gerig op 'n punt iewers in die toekoms.

Hulle voel dit bring sin in hul lewens.

Uit hierdie verlange kom daar dan beweging. Mense begin dinge doen wat hul geestelike reis aanhelp.

Hulle soek geestelike oefeninge as deel van die proses van omvorming.

'n Mens wat veel oor spiritualiteit lees as deel van hulle geestelike reis, is met veel meer besig as met blote intellektuele kennis te verwerf. Dit is nie maar net 'n kwessie van meer inligting oor interessanthede nie.

Hulle wil in hul geestelike reis iewers ligte langs die pad raaksien wat hulle sal help om in die regte rigting te beweeg.

Mens kan die geestelike reis nie alleen in die donker aflê nie. Jy het lig nodig wat deur die lewens van ander mense aangesteek word.

Maar meer gebeur:

Wanneer 'n mens lig in jou geestelike reis raaksien, bekyk jy dit goed want jy wil seker maak hoe dit jou lei en rig. En die kennismaking betrek die mens eksistensieel.

Dit werk vir jou. Maar alles wat 'n mens doen, laat iets met jou gebeur. Dit transendeer jou eie betrokkenheid. Jy word deel van 'n stroom wat jou meesleur.

Deur gebed vas te hou, byvoorbeeld, leer 'n mens wat 'n mens se lewe verryk en laat groei. Maar deur meer te leer oor gebed, bid 'n mens ook sinvoller.

Spiritualiteit het te doen met die dieper dinge wat die lewe ryker maak. Dit kan op allerhande maniere gebeur. Gebed, afsondering, skilder, rustyd, rituele, kerkgang, bybellees en baie ander praktyke word ligpunte. En steeds weer word gebed op nuwe maniere gedoen, word 'n mens se afsonderingstye ryker, kan 'n mens op die doek ander, ongewone gedagtes met die kwas uitdruk. Wat jy doen laat jou beter word...

Deur geestelik besig te wees, word 'n mens geesteliker. Die reis, sou 'n mens dit anders stel, is avontuur, word die doel...

Blog Archive