Monday, March 03, 2014

'n Goeie rede om nie te kerm of te kla nie.


Ek het ook vandag 'n hele tyd na die direkte uitsending van Oscar Pistorius se hofsaak gekyk.

Dit bly vir my onvoorstelbaar dat 'n hofsaak sulke afmetings aanneem.

Dit moet al traumaties genoeg wees om in so 'n saak betrokke te wees. Vir leke kom die hele atmosfeer sleg voor: die ingewikkelde hofprotokol, die intimiderende teenwoordigheid van 'n regter, die intense interaksie van die advokate, die waagmoedige uitspreek van getuienisse, die teenwoordigheid familie en vriende wat alles moet aanhoor en dikwels nog opnuut oor die gebeure getraumatiseer word.

Dan is daar te midde van al die ervaringe nog die wete van hoeveel hier op die spel is. Iemand se lewensloop kan beslissend deur hierdie een hofsaak bepaal word.

Wat die saak van Pistorius sleg maak, is die sirkus-agtige omvang wat dit aangeneem het. Die media-dekking is massief en histeries.  Bladsye van teorieë en tonne inligting oor die beskuldgde word as sensasie aangebied. 'n Mens kan nie meer onderskei tussen waarheid en verdigsel nie. In kommentare op die sosiale media, is mense se oordele wreed, hard en kru. Skare's verdring die hof en die beskuldigde. Die wêreld-media is alomteenwoordig.

In die lig hiervan is die rol van die hof belangriker as ooit tevore. Iewers moet in hierdie siedende see van wanorde en sensasie 'n sober en nugter woord gespreek word.

Dit, vra my sin van geregtigheid, is dringend nodig.

Daarom was dit vir my 'n ervaring om vandag na die verhoor te kyk.

Ek is beïndruk deur die gang van sake. Die netjiese funksionering van die hof met die beperkte opname's, die rustige hantering deur die regter, die gerusstellende teenwoordigheid van assessore, die sterk, maar indringende vrae en opmerkings van die advokate, dit alles laat 'n mens met 'n gevoel van vertroue.

Ek besef: Vir my was die Suid-Afrikaanse regsisteem die wenner van die dag.  

En dit, besef ek weer, is in ons tyd nogal 'n gawe ding om te ervaar.

Want, in ons tyd, is mense pessimisties, negatief, depressief. En hulle kla en kerm oor alles.

In die proses kyk hulle belangrike steunpilare van ons gemeenskap mis. Hulle tel ook nie hul seëninge nie.

'n Samelewing met 'n ontwikkelde, gesonde en sterk regsisteem is op die regte koers. Dit is iets waaroor 'n mens nie dankbaar genoeg kan wees nie.

In 'n geestelike konteks is dit ook inspirerend, want 'n regstaat deel een van die groot tema's in Bybelse tekste. In hulle speel 'n sin vir geregtigheid op bladsy na bladsy 'n rol.

Die lewe is ryk wanneer mense en samelewings geregtigheid jaag en dit boonop met goed gevestigde strukture kan doen. So 'n ryk lewe is 'n seën wat 'n mens daagliks moet kan waardeer.

Wat ek vanoggend gesien het, het my weer laat besef hoe dankbaar ons kan wees.

Niemand kan genoeg positief wees oor 'n goed funksionerende regsisteem. Dit is, veral vir gelowiges, 'n gawe wat van Bo kom en wat eindeloos gewaardeer moet word.





Blog Archive