Monday, August 12, 2013

'n Bloeiende hart in die aangesig van lyding.








Rene Rosmolen het hierdie moderne uitbeelding van die tradisionele stasies van die kruis gemaak. Die boonste een is 'n uitbeelding van Jesus ter dood veroordeel. Die tweede een is 'n piëta, met Christus in die hande van sy ma na die afhaal van die kruis.

Rosmolen se kuns is nie net 'n paar intuïtiewe hale van 'n kwas nie. Hy vertel dat hy inspirasie put uit werke van ander moderne kunstenaar soos G. Baselitz, M. Lüpertz, J. Elburg, E. Weichman, S. Bramly en B. Rheims. 

Maar hy put ook veel dieper in die geskiedenis, soos byvoorbeeld deur te leer van die bekende en aangrypende Isenheimer-altaar van Matthias Grünewald.

Selfs die manier waarop hy die skilderye maak, vertel 'n boodskap. Hy gebruik 'n kollage-tegniek, waardeur hy die skildery uit fragmente en stukke opbou. Daarmee wou hy beklemtoon dat lyding van  'n verskeurde werklikheid vertel. 

Lyding hoort nie by die lewe nie. Dit was op stukkendheid en verskeurdheid.

Wanneer 'n mens na die kruis kyk, het 'n mens dus veral met lyding te doen: en in 'n mens se eie lewe kom lyding byvoorbeeld oor jou wanneer 'n mens iemand of iets kosbaars verloor - soos 'n geliefde, of jou werk of jou gesondheid. 

Rosmolen stel dan 'n baie interessante vraag: hoe dra 'n mens jou verlies sonder om jou selfrespek te verloor? En dan die tweede vraag: Hoe kan 'n mens jou pad vind tussen onmag en wilskrag?

Maar eers net iets oor hoe Rosmolen sy skilderye maak. In die stasies van die kruis wil hy nie te veel karakters afbeeld nie. Hy probeer nie al die historiese detail invul nie, skryf hy.  Daarom sou hy byvoorbeeld die kruistoneel sonder soldate teken.

Dit beteken dat die persoon wat na die skilderye kyk Christus voluit in die gesig kyk. Deur die konfrontasie word die kyker uitgenooi om haar of sy eie lyding te bedink of om ook te kan identifiseer met die lyding in die wêreld. Op die manier neem mens al 'n stap in die rigting van behoud van self-respek: jou lyding bekyk 'n mens in die lig van Christus s'n.

Maar hier hou dit nie op nie. Rosmolen is bewus van die verborge boodskap van die kruisweg. Die lyding van Christus, sluit hy af, maak mense bewus van die misterie van God se teenwoordigheid in die lyding.

Hoe dan, dink ek, help dit alles 'n mens om jou eie lyding met waardigheid te dra sonder self-respek te verloor?

Steeds weer, onthou 'n mens, dat lyding gedeel is. Dit is eintlik nie deel van die lewe nie. Dit kom oor jou, ongevraagd. En in daardie lyding is jy nie alleen nie. Selfs God sê lyding die stryd aan...

Die gesigsuitdrukkings op beide skilderye, maar veral die kleure boei. En dan, in die onderste weergawe, boeiend, die bloeiende hart wanneer  die vrou in die donker, vuurrooi verborgenheid van lyding instaar - met in haar hande, die nabyheid van die wit, lewelose liggaam van die Seun, van lyding wat hare geword het.

 

Sunday, August 11, 2013

Wanneer God weggaan... Oor die verloop van die geestelike reis


In spiritualiteit word dikwels gepraat van daardie eerste fase van geestelike verrukking en opwinding. Dit is 'n tyd van entoesiasme, blydskap en opwinding. Mense beleef met verwondering al die seëninge wat in die fase so veelvuldig oor hulle pad kom. Dit is 'n goeie tyd waarin hulle verstom staan oor al die vrugte van geloof.

Hulle voel naby aan God te oor al die sukses-stories wat hulle beleef en die vreugde wat hul lewens goed en mooi maak.  God voel hulle, oorlaai hulle met seëninge, beantwoord hulle gebede en is oral te ervaar.

Onvermydelik gebeur dit dan op 'n dag dat dinge verkeerd loop. Die glans is af wanneer dinge nie meer so goed en mooi loop nie. Dit beïnvloed hulle geloofslewe. Mense voel hullle bid "teen die plafon vas."  Die entoesiasme word minder. Hulle kan nie meer bid nie.

Wie nie dan wegval nie, ontdek een of ander tyd dat daar sin is in die onverwagte teenspoed. Dit gebeur, ontdek hulle dikwels, om van hulle beter mense te maak. Die nuwe fase in hul geestelike lewe vorm hulle en maak hulle tot beter mense.

Hulle ontdek nou dat hulle in die nuwe fase dat die geestelike reis 'n proses is waarin 'n mens gedurig nuut gevorm word. En dit kan ook deur teleurstelling en pyn gebeur. Daarom word dit 'n fase om nie aan dinge vas te hou nie en om te besef dat seëninge van gebedsverhoring 'n las kan word: 'n mens stel naderhand net belang in wat jy uit jou verhouding met God kan kry. Wanneer dit opdroog, daar dor tye kom, is dit 'n manier waarop God 'n mens wil lei om verder te groei en geestelik sterker te word. Dit kom dus deur verby alles te kyk wat nie om God self gaan nie, maar wat 'n mens eerder verlei om op God se gawes konsentreer. 

Maar dan kom die derde fase in hierdie groot patroon wanneer dinge nie net verkeerd loop nie, maar mense verder begin voel asof God nie meer in hul lewens teenwoordig is nie. Hul blik op God word verduister. Dit is die tyd van God se weggaan.

Hier ook ontdek die soekende mens dat sy geestelike reis op 'n nuwe manier ontwikkel. Al hoe meer bring die nuwe fase 'n groter volwassenheid deurdat 'n mens besef die aandag val lank nie meer op die eie behoeftes nie. Dit word nie meer 'n kwessie van wat 'n mens self ervaar nie of watter opwinding in jou eie lewe is nie. Langsamerhand weet hulle dat God inderdaad op 'n ander manier in hul lewens teenwoordig is.

Gebed neem 'n nuwe vorm aan: 'n mens bid, so vertel die wyses, om te kan vry word, om die ego prys te gee. En dit bring 'n nuwe vryheid met 'n dieper, deurleefde vreugde: wat saak maak, is om deel te wees van die groter skepping en familie van God en al die sin wat dit aan die lewe gee.  'n Mens leer om God op 'n ander manier en in 'n nuwe verhouding te ontdek.

Saturday, August 10, 2013

Tuiskoms in vrede: vry van valse alternatiewe


Ek dink vandag na oor 'n opvallende opmerking van Meister Eckhart wat 'n mens om elke hoek en draai as 'n gewilde aanhaling raaklees:  "God is tuis, dit is ons wat weggedwaal het." 

Dit is 'n kriptiese aanhaling.

Die woorde is 'n toepassing van die boodskap van die Gelykenis van die Verlore Seun:

Mense gee pad van die plek waar hulle hoort. Hulle loop weg van hul tuiste.

En 'n universele ervaring is dat hulle uiteindelik ontdek hoe leeg hulle reis na "beter" plekke eindig. Alles wat al die jare opwindend klink, bring 'n mens eintlik op die ou end by die varkhok uit.

Die soektog na die opwindende lewe is 'n wilde gejaag, met 'n leë einde.

En al die tyd het hulle nooit besef waar hulle egte tuiste te vind is nie - die tuiste wat hulle agtergelaat het om beter te soek.

Die aanhaling vertel die universele boodskap van die menslike onvermoë om die verborge skat te herken. Die plek wat 'n mens eintlik vervulling gee, is te vanselfsprekend om te waardeer. Mense is so gewoond daaraan, dat hulle dit onderskat, minag en maklik prysgee. 

Dit is juis op hierdie punt dat geestelike oefeninge belangrik word: elke oomblik van die menslike bestaan kan sy verborge skat opgee. Dit word 'n kwessie van oefening om dit te kan vind en te ontgin. Die mense se tuiste is nie buite hom- of haarself nie, maar in sy diepste innerlike waar God woon.

As 'n mens maar net innerlik kan tuiskom. 

Ek lees vanmiddag van 'n gemeente waar die predikant as geestelike oefening vir mense leer om vyf tellings te wag voordat hulle op iets reageer.

Eers dink ek: dalk is dit 'n poging om mense te help dat hulle nie hul woede op ander uithaal nie. 

Maar miskien is daar iets dieper: die vyf tellings kan dalk 'n ruimte skep waarin 'n mens jouself afvra watter goddelike geleentheid is daar om op die oomblik te reageer. Hoe sien en hoor 'n mens God raak in dit wat 'n mens ervaar. En hoe reageer 'n mens op so 'n manier dat 'n mens na God se wil optree?

Dit hoef nie te gebeur net waar mens jou 'n moeilike vraag vra nie. Dit kan 'n geestelike oefening in vele plekke wees - in gesprekke met mense, familie, vriende en met mede-werkers. Elke keer weer die berekende instelling, vyf tellings lank, om die oomblik ten volle te kan waardeer en benut met die oog op innerlike vervulling. 

Terugkom huis toe is belangrik. Om te ontdek waar 'n mens tuishoort is al 'n eerste stap. Maar as 'n mens daar is, moet 'n mens nog uitvind hoe om as God se gesin te leef. En nie maar net weer weg te loop of as ouer broer nors en onvervuld in die donker te leef nie. Dit vra oefening. Maar dit bring 'n tuiskoms in innerlike vrede.

Friday, August 09, 2013

Die Goue Dak met die Vrou





Ons konferensie op die kampus van Notre Dame sluit 'n kampustoer in. Ons word heel eerste na die hoofgebou geneem. Dit het 'n goue koepel, wat vandag die uitstaande kenmerk van die Universiteit is. Almal op kampus en in die land praat van die "Golden Dome" en weet dadelik waarom dit gaan,

Sommige mense dink dit is die beroemdste kenteken van enige universiteit in Amerika. Die beroemde Amerikaanse voetbalspan van Notre Dame dra goue helms as simbool van die koepel. Studente van die universiteit staan as "domers" bekend.

Die gebou is in 1882 na 'n brand herbou. Die koepel is in 2005 vir die tiende keer weer met bladgoud van 23 karaat goud gerenoveer teen 'n koste van R3 miljoen. Vir die vergulding word 'n handvol goud gebruik wat so dun en sag uitgerol word dat werkers dit net kan opplak wanneer die winde nie waai nie.

Bo-op die koepel is 'n 6 meter standbeeld van Maria wat 1800 kilogram weeg.

In 1879 het die standbeeld se voetstuk van hout begin brand en toe deur die dak geval sodat die hele gebou afgebrand het. Die stigter van die universiteit het belowe dat dit nie weer sal gebeur nie. Hy het die standbeeld op 'n vaste struktuur en hoog genoeg laat opbou sodat almal kan sien waarom die universiteit so suksesvol is.

Maria is "Onse Vrou", of "Notre Dame," is die Universiteit se naam.

Oor die wêreld is die universiteit bekend as die Universiteit van Notre Dame. En almal weet van die Universiteit se katolieke identiteit. 'n Klomp personeel is ook nog priesters.

Maar die universiteit is deesdae by uitstek bekend vir sy dak. Die goue dak.


Thursday, August 08, 2013

'n Seun val van 'n balkon af en 'n 12jarige prostituut/dwelmslaaf. Oor 'n sterk God.

Hoe verwerk 'n mens die onherstelbare trauma wanneer jy 'n seun verloor? En hoe kom 'n mens uit 'n dodelike kringloop van dwelms en armoede? 

Kolombië was tot onlangs 'n berugte nes van dwelmbendes wat 'n ystergreep op die land en sy mense gehad het. Dit is ook 'n plek met kroniese armoede. 'n Ryk vrou, in Amerika opgelei met 'n groot besigheid moes op 'n dag in die jaar 2000 die verskriklike nuus hoor dat haar seun van 17 jaar hom van 'n agt verdieping  hoë balkon doodgeval het. Sy het gesteier onder die rou wat haar hele lewe oorheers het.

Kort voor haar seun se dood het sy in 'n hospitaal vrywilligerswerk gedoen. Daar het sy gehoor dat 'n jong ma haar baba verloor het omdat sy nie R300 vir die medisyne gehad het nie. En dit terwyl die ryk vrou die bedrag as kleingeld in haar beursie gehad het.

Toe kom sy agter dit gebeur feitlik daagliks in die arm wyke van haar stad. Sy het haar rou verwerk deur 'n Stigting te begin wat die siklus van armoede in die buurt te deurbreek. Haar werk was om jong ma's te help met 'n opvoeding om te kan werk en vir hul familie's te sorg. Sy wou die vroue bemagtig om selfstandig te word en uit die greep van armoede te kom.

Een van die vroue was sewe jaar oud toe 'n familielid haar vir twee jaar lank verkrag het totdat sy hom een dag by die polisie gaan aangee het. Die familielid is tronk toe vir die verkragting. Toe sy 'n ruk later R4000 nodig het vir mediese behandeling om haar lewe te red, is sy uit die skool.

Sy was maar 12 jaar oud toe sy 'n prostituut geword het. En toe het sy teen R 3000 vir elke reis, begin om dwelms te smokkel. Toe sy en 'n vriendin 'n sak dwelms weggegooi het om nie deur die polisie daarmee gevang te word nie, is haar vriendin summier deur die dwelmbase doodgeskiet en sy is met vuurrooi ysterstawe permanent vermink.

Dit is toe dat sy hulp by die ryk vrou se Stigting ontvang het en terug is skool toe. Daar het sy ook terapie gekry en gesondheidsorg geleer.

Sy is opgelei om kelnerin in 'n goeie restaurant te wees, waar sy vandag werk.

Twee dinge werk hier: die ryk vrou se stigting wat soek om mense holisties te ondersteun en haar eie vasberadenheid om uit haar ellende te kom.

Nou kan 'n mens sê: uit die tragedie van die seun se dood is hierdie wonderlike werk gebore. En dit is sekerlik waar dat mense soms genadiglik hulle eie trauma kan hanteer - deur vir ander om te gee. Dit sal nie altyd so wees  nie. Trauma is onvoorstelbaar en kan vele vorme aanneem.

Maar wat 'n mens kan onthou is dat hierdie ryk vrou reeds voor haar seun se verskriklike dood vrywiligheidswerk in 'n hospitaal gedoen het. Dit was dus nie net haar seun se dood wat haar lewe verander het nie. Daar was iets diepers aan die werk in haar lewe. Lank voordat trauma oor haar pad gekom het, was sy op ander mense ingestel en het sy vir mense wat swaarkry omgegee.

Dit is soos God werk, dink ek: bietjie-bietjie, soms, word ons aan lyding blootgestel, sodat wanneer dit oor ons pad kom en vatplek kry aan eie vlees en bloed, ons sterker word om nog meer met ons lewens teen lyding te baklei.

Dit is daarom dat God so sterk is.

Sien Kristoff se Engelse artikel hieroor in http://www.nytimes.com/2013/08/08/opinion/kristof-life-lessons-from-a-most-unlikely-duo.html?nl=todaysheadlines&emc=edit_th_20130808


  Colombia has turned around as well. There are many reasons for that, including the leadership of the former president, Álvaro Uribe, and one may be that the country’s elites realized that they couldn’t fully insulate themselves from poverty. Columbia’s wealthy shouldered a security tax to pay for improved policing, and foundations are sprouting to address social problems (although some of that is drug money being laundered).

So bravo to Escobar for turning a tragedy into inspiration, and also for reminding us that rich and poor alike ultimately share the same boat — and the same obligation to help each other.

Wednesday, August 07, 2013

Besieling aan die werk: oor spiritualiteit in die werkplek


Benefiel vertel in haar boek oor spiritualiteit in die werkplek hoedat ‘n vrou wat lid was van ‘n godsdienstige orde in Ierland op ‘n dag bewus geword het van die woningnood onder daklose mense in haar omgewing in die groot stad Dublin. Sy het gehoor dat daar onder hierdie daklose mense persone was wat selfs uit geslagte van dakloses gekom het.

Haar innerlike behoefte om iets te doen het haar gedryf om met dakloses self te praat en om hulle aktief by die proses van omvorming te betrek. Sy was bewus daarvan dat hulle nie net ‘n dak oor hulle kop nodig gehad het nie. Hulle moes op ‘n holistiese manier op vele vlakke bygestaan en bemagtig word. 

Daarom het sy met mense wat ervaring oor woningbou gesprekke gevoer. Sy het ook ‘n ondersteuningsgroep aan die gang gesit wat nie soseer met dakloses gewerk het nie, maar waarin daklose mense ‘n aktiewe rol gespeel het.

Op ‘n omvattende manier het hulle mense gehelp met aansoekvorms, met voorbereiding om in ‘n huis in te trek, met die maak van begrotings vir hul inkomste en uitgawes, met besluite en inligting oor hul liggame, met gesprekke oor die verwoesting wat afhanklikheid van middele veroorsaak, om te verduidelik hoe werk dit om ‘n huis te besit en watter verpligtinge dit gaan meebring. 

Lank voor mense ‘n dak oor hulle kop kon kry en lank daarna was hulle ‘n groep wat met sulke dakloses saamgeleef het.

Nie dat alles net bloot prakties ingestel was nie. Die geestelike kant van mense se lewens is op 'n stil, meditatiewe manier in die proses aangespreek. Groepe mense in hul nuwe omgewings het gereeld bymekaar gekom  waar hulle hul lewensverhale met mekaar kon deel en so ook geestelik sterker kon word. 

Jean Quinn, soos die vrou met die passie vir dakloses heet, vertel sy het veral ‘n behoefte gehad het aan ‘n plek van wysheid in elkeen van die komplekse wat hulle vir die huisvesting van dakloses sou kry en bou. Dit was ‘n plek waar mense as ‘n groep bymekaar kon kom en stil, nadenkend en meditatief oop was vir terapie. Dit moes ‘n plek van rus wees, maar ook ‘n plek waar mense voorberei kon word vir al die eise van ‘n gewone huislewe.

Ook dit het nie sommer net gebeur nie. Daar was baie besoeke, gesprekke, sessies en maniere van ondersteuning. Hulle het hierdie persone uitgeneem, onder andere na museums waar hulle na kuns kon kyk en ook daardeur meer geïntegreerde mense kon word. 

Die gevolge hiervan kon soms verrassend wees. Onder een so 'n groep was daar 'n vrou wat nooit iets wou sê terwyl die groep met hul gesprekke oor hul eie lewens gepraat het nie. Nadat hulle by ‘n museum was, het die vrou skielik begin praat. Sy het haar verhaal begin deur te sê dat sy in die museum iets gesien het wat haar laat onthou het wat met haar gebeur het. En deur daardie ontmoeting is sy in staat gestel om vir die eerste keer ook haar verhaal met die ander te deel en tot groter heling in haar lewe te kom.

Benefiel vertel dat die indrukwekkende projek wat nou reeds vir jare vir daklose mense in daardie groot stad help, nie sommer net as ‘n blink idee begin het nie. Een van die vroue in die orde van Jean Quinn het die projek as ‘n spesiale gebedsprojek begin. Jaar na jaar in ‘n geestelike proses van worsteling het sy daaroor en daarvoor bly bid.

Op ‘n dag het Jean Quinn by die vrou wat soveel voorbidding gedoen en gereël het, opgedaag met die boodskap: luister, jy moet nou bietjie stadiger.  Die geboue begin nou omtrent van alle kante inkom en ons bly net-net voor. 

Soveel mense het van die projek gehoor en die nuus versprei dat skenkings begin inkom het van mense wat daadwerklik ‘n verskil wou maak. Die projek het sterk van die grond gekom en al hoe meer mense kon gehelp word.

En toe gebeur ook iets anders: In die godsdienstige orde van Quinn, wat ook al wou begin uitsterf het, het nuwe lewe begin posvat. 

In die omgee vir ander, op so ‘n praktiese, omvattende manier, het daar vir hulleself ook inspirasie gekom. Wie sy lewe verloor...

Spiritualiteit van die werkplek, noem hulle dit. Besieling aan die werk. (Soul at Work, heet die boek se titel). En in die werkplek, is dit noodsaaklik dat hulle wat leiding geen en ‘n passie vir 'n saak het, een moet wees met hulle wat in nood is. Saam moet hulle soek na die beste maniere om vir mense geestelik en liggaamlik ‘n menslike bestaan moontlik te kan maak. 

Dit, skryf Benefiel, het te doen met korporatiewe onderskeiding, om saam die wil van God vir mense se lewens te soek. 

Meer nog dit is spiritualiteit. 

Om vanuit gebed op ‘n geestelike manier om te gee en strome van seën te ontvang.

Tuesday, August 06, 2013

Nader aan jouself: oor spiritualiteit en kuns




Nouwen het sy bekende boek oor die verlore seun geskryf nadat hy heel onverwags op 'n dag die skildery gesien het wat Rembrandt oor die gelykenis van Lukas 15 gemaak het. 

Hy skryf hoe spesiaal die ervaring was. Hy het die skildery die eerste keer in die kantoor van 'n vriendin gesien: "Onverwags" val sy oog daarop. Hy kon sy "oë nie daarvan afhou nie" en was "betower" deur wat hy gesien.

Die skildery, skryf hy spesifiek, het hom iewers in sy hart geraak waar hy nog nooit voorheen geraak het nie.  

Hy het nooit kon dink, begin hy hierdie bekende boek, watter uitgebreide geestelike avontuur die skildery in sy lewe aan die gang sou sit nie.

En deur hom en veral deur sy boek het vele mense oor die wêreld sy avontuur met hom gedeel en selfs bewus geword van wat spiritualiteit is.

Spiritualiteit gaan oor innerlike aanraking, ervaring en omvorming.  Dit kan kom deur lees van die Bybel, luister na 'n preek, ervaring van 'n lied of 'n spesiale ritueel.

Of dit kan gebeur wanneer 'n mens na 'n skildery kyk, 'n boek lees of iets moois sien.

In 'n onlangse Speling word 'n hele volume van die tydskrif bestee aan hoe beeldende kuns 'n mens kan "besiel." 

Terwyl 'n skildery soos Rembrandt s'n oor die verlore seun 'n hele geestelike avontuur aan die gang kan sit, hoef dit nie altyd net uitdruklike godsdienstige kuns te wees wat 'n mens aanraak en verander nie.

Deesdae is dit juis die meer verborge vorme van kuns wat mense aangryp, skryf die redakteure van Speling. Dit is waar dat party kunsstukke vir 'n kyker vertel van geestelike ervaringe van die kunstenaar wat boeiend en selfs aangrypend kan wees. Maar daar is ook gevalle waar die godsdienstige boodskap nie so vanselfsprekend is nie, maar wat tog 'n mens geestelik aanraak. In so 'n geval gee 'n mens selfs meer aandag om die dieper insigte te kan ervaar.

Soms, skryf hulle, kan dit selfs gebeur dat 'n mens 'n stuk kuns sien wat die skrywer nie noodwendig as godsdienstig kuns gemaak het nie. Maar mense kan daarna kyk met groot aandag omdat dit hulle aanraak en verander. 'n Kunstuk is immers nie net wat die maker daarvan maak nie, maar ook wat die kyker daaroor beleef. Deur die aanraking dink die kyker na, word sy/haar belangstelling verder geprikkel en word daar in sy of haar verbeelding verskillende insigte gevorm - heel anders as wat 'n skrywer ooit kon droom.

Maar die wonderlike van hierdie proses is dat die kyker in die ervaring gebring word tot 'n dieper ervaring van hom/haarself. 'n Mens ontdek iets van jouself wat jy vroeër nie van jouself herken of geweet of beleef het nie. Jy kom "nader aan jouself", skryf die redakteure. Dit maak iets in 'n mens los: jy word geprikkel om dieper na te dink, jy word geskok, jy word nuuskierig, onrustig of dalk selfs stil. Jy word dalk ook kwaad, maar dit kan ook gebeur dat jy glimlag - of innerlike vrede ervaar, of opgewonde raak omdat jy besef dat jy 'n ervaring het wat jou lewe in 'n nuwe rigting stuur.

Kuns kan 'n mens se lewe aanraak en 'n geestelike ervaring word.

Monday, August 05, 2013

Oor die doodsvonnis. Die spiritualiteit van 'n suster.

In Amerika is daar nou 'n debat aan die gang omdat die staat Florida Maandag 'n paranoïese skisofreen wat agt mense verskriklik wreed vermoor het, gaan teregstel nadat hy 34 jaar lank in die dodesel aangehou is. 

Die teenstanders van die teregstelling wys daarop dat die staat blatant die grondwet van Amerika met die teregstelling skend.

Dit is 'n heftige debat, soos dit altyd gaan wanneer die doodstraf ter sprake is.

Ek was verras omdat selfs in Amerika met sy diepe eerbied vir die grondwet, mense dit in sommige gevalle net van die tafel kan afvee. Wat my egter veral opval in die debat was een kort opmerking van 'n teenstander van die doodstraf. Sy wys daarop dat vele mense redeneer dat die man aaklige misdade gepleeg het. En dit is waar: mense wat in Amerika in die dodesel sit, is meestal skuldig aan die slegste van wrede moorde. 

Die vrou, Suster Helen Prejean, sê egter: 

Die vraag is nie of die man verdien om doodgemaak te word nie. Die vraag is of ons verdien om iemand dood te maak. 

Een kort opmerking wat in 'n neutedop 'n diep spiritualiteit raakvat. Nie net bevraagteken dit die mens se reg om oor lewe en dood te besluit nie. Dit reflekteer ook 'n raaiselagtige, maar heel konkrete oortuiging wat reeds tweeduisend jaar gelede mense geboei het: dat selfs moordenaars, skuldig aan die allerwreedste van moorde, op 'n keer kan verstaan wat genade is - soos die Bybelskrywers dit versigtig aangeteken het. 

Dit is daardie "suster" wat dus eintlik boei.

 

Sunday, August 04, 2013

Weerstandigheid


Die gesprek gaan oor bekommernisse in die lig van die bybelse teks dat 'n mens jou nie sorge moet maak nie.

Sekerlik, beklemtoon die spreker, is een van die rede's waarom 'n mens bekommerd raak dat 'n mens nie rekening hou met die voorsienigheid en sorg van God nie.

Wanneer 'n mens jou deel gedoen het, jou verantwoordelikheid nagekom het, sal God nie onbetrokke in jou lewe bly nie.  Dit is waaroor die bybelteks gaan. En bybelse geloof beteken ook dat 'n mens kan vertrou daarop dat God betroubaar is.

Maar daar is meer: hoe doen jy jou deel?

Een manier waarop 'n mens jou deel doen is om te vra op watter manier 'n mens in Christus se wil gebly het.

Die opmerking bly vanselfsprekend. En tog: hoe bly 'n mens in die wil van Christus, wonder ek nadat die gesprek op die noot eindig?  

Heel prakties antwoord die geestelike oefening van self-ondersoek dat 'n mens in Christus se wil bly wanneer 'n mens gereeld in tye van stilte nadink oor die verloop van die dag. 'n Mens bedink die gebeure met, daarna, die vraag op watter manier 'n mens God se teenwoordigheid daarin herken het en op watter manier 'n mens ingestem op God se werking in jou lewe gebly het.

So werk die praktyk van geestelike self-ondersoek.

Of: 'n mens moet ook kan probeer insien op watter manier jy weerstandig teen die teenwoordigheid van God in 'n mens se lewe was.

Met ander woorde:  steeds weer moet 'n mens oor die diepere sin kan nadink. Ongestoord en onnadenkend kan 'n mens eenvoudig voortstoom met alles waarmee jy besig bly en nooit agterkom waarom en waartoe nie.

Tog is die dieper insink in Christus se wil  meer as net nadink.

Of oor soek.

Soms, leer die praktiese examen,  weet 'n mens te goed van die teenwoordigheid van God en van skoonheid wat in 'n mens se lewe teenwoordig is.  Maar 'n mens is weerstandig.

En deur en na die weerstandigheid, kom die groter verwyt, die dieper, knaende bekommernis: dat 'n mens dit daar gelaat het.

Die geestelike self-ondersoek weet van baie woorde en gepraat waarin 'n mens kan vasval. Sonder om te besef Wie die woorde praat en dat die woorde 'n uitnodiging tot 'n verhouding is. En hoe weerstandig mense teen die verhouding kan wees. Die sorgvryheid is te vind in die intrede en bly in hierdie verhouding. Dit is 'n geestelike oefening.


Saturday, August 03, 2013

Om met die hart te dink.

Oral sien ons om ons hoe lewens gered word deur nuwe ontwikkelinge.  Ingenieurs, bioloë, medici en natuurwetenskaplikes vervaardig produkte wat die lewe makliker en interessanter as ooit maak.

Elke keer is daar weer die bewondering vir die menslike vernuf.

Wanneer ‘n mens te doen kry met iets onbekends of ongewoon, sit jy af na die naaste kundige of span jy die beste soekenjin in om uit te vind hoe jy daaroor moet dink of hoe jy kan reageer daarop.

En steeds weer sien ‘n mens hoedat selfs in die kleinste dorpie en selfs die kleinste kind mense verlig en ingelig word oor die ongekende moontlikhede van ons beskawing met sy wetenskappe.

Niks word aan hierdie speurvernuf en kreatiewe vermoë van die mens onttrek nie. Die brein is koning.
                             
Ek wonder dikwels in onlangse tye waarom mense soos die mistici wat op 'n nuwe en intieme manier 'n ervaring van God gehad en met ander gedeel het, deur die eeue heen so heftig vervolg is.  Die voorbeelde is veel – en dit begin al by Jesus vir wie mense nie verstaan het as Hy vir hulle vertel het oor die intieme band wat ‘n mens met God kan hê nie. Sy spreke oor ‘n nabye, liefdevolle God wat soos ‘n verterende vuur mense liefhet en nadertrek, het verby al hulle gevestigde opvattings gestrek en hulle van hul sekerhede ontneem. Hy het God beleef soos niemand voor hom nie. En, aangevuur deur hierdie ontmoeting met God en eenheid met die Vader, met mense sy ervaring gedeel.

Toe kruisig hulle hom. Want hulle wou nie verstaan nie.

Hy was nie die eerste een en sal ook lank nie die laaste een wees nie.  ‘n Mens waag veel as jy buite die magstrukture en die vaste opvattings oor godsdiens praat.

Dink maar aan die gloed van die Pinkstergebeure wat die eerste dissipels oorweldig het en waaruit gloednuwe gemeenskappe ontstaan het.  Met verloop van tyd het hulle groter geword, het die oorspronklike vuur sagter begin brand en toe kouer begin raak. Deur die geskiedenis sien ons wat gebeur: dikke boeke word geskryf, lang vergaderings word gehou, teologiese dispute gevoer, besluite geneem, belydenissskrifte opgestel en allerhande voorskrifte ingestel.

Daar is op sigselwers nie iets daarmee verkeerd nie. Maar te dikwels het dit gebeur dat wanneer die vuur deur sommige skielik opnuut beleef word, die gloed weer iewers in iemand se lewe op ‘n nuwe manier uitstraal en nie deur al hierdie verskynsels verklaar word nie, die reaksies fel word. Dit was maar altyd ‘n probleem vir godsdienstige mense om God se nuwe werking te herken, en boonop, te eerbiedig.

Van die groot mistici was nie altyd gewild by godsdienstige mense nie. Jan van die Kruis se mede-priesters was so opgewerk oor sy hervormingsveldtog dat hulle hom lank in ‘n sel gaan toesluit het. Meister Eckhart is as ‘n ketter verklaar, totdat, onlangs, sy eie kerk toegegee het dat hy nie altyd reg verstaan is nie.

Waar mistici deur God aangeraak word om opnuut weer die gloed van die Goddelike lewe deur te gee, lê dit verby en anderkant die normale begripsvermoë van gelowiges. Hulle reageer heftig.

Vandag is daar enorm veel mense wat Jan van die Kruis en Meister Eckhart lees, verstaan en uitlê. Wat hulle oor God ervaar het, behou sy gloed. Dit het die eerste verwerping oorleef en getoon hoe hulle gedagtes God se nuwe manier van omgaan met gelowiges weergee.

Dit is asof daar nooit ‘n Gamaliël was wie se Joodse woorde Lukas, die volgeling van Jesus versigtig en presies aangeteken het. Die vies Joodse Raad wou die gloed van die eerste volgelinge met mag en geweld blus. Slim en met vele argumente wil hulle die vuur van die beweging stopsit.

Gamaliël het, wyslik, aangeraai: wag eerder. Moenie probeer keer wat God aan die doen is nie. Kyk eers. Weeg eers. Luister mooi. Oorweeg. Toets. Kyk na die vrug. Nie te seker weet nie. Nie te gou dink jou brein het alles mooi netjies uitgeklaar nie. Jy weet en verstaan nou seker.

Wat nodis is, ook wanneer ‘n mens met die mistiek te doen het, is die Gamaliël-toets. Dit is ‘n keuse tussen klip-gooi en harde teenstand of ‘n openheid vir wat God self aan die doen mag wees.

Want een ding is seker: nuwe geestelike ervarings is daar ook in ons tyd. En van God kom altyd weer mense wat op nuwe manier die werking van die goddelike gaan ervaar en deurgee.

Met die hart en, liefdevol, luister. Want die brein, die kennis, al die wysheid, peil nooit God se werking nie. En sal dit ook nie kan keer nie.

Dit is waarom godsdiens oor geloof gaan – oor vertroue op wat God doen – soms teen alles wat ons so goed weet om te vertel. 

Godsdiens is lank nie om te verstaan nie. Oksimoronies sou 'n mens kon sê: godsdiens is om met die hart te dink. 

Friday, August 02, 2013

Wanneer afwesigheid meer tel as alle vreugdes.



Vir die boeiende kunswerk (uit sy), met die titel: "Die verlange" sien:   http://vyala.files.wordpress.com/2009/04/longing6.jpg



‘n Mens voel dikwels, te dikwels, die afwesigheid van God in ‘n mens se lewe akuut aan. Vir vele is dit ‘n wrede tyd. Jan van die Kruis het in die verband van die donker nag van die siel en die donker nag van die gees gepraat. 

Donker tye.

Dit is tye van verlange, van begeerte na die teenwoordigheid van God, van uitsien dat ‘n mens weer die nabyheid van God kan beleef. 

Oor alles staan geskryf: God is afwesig en is nie daar nie. 

Ja, sê die mistici, tog kan die donker tye juis die tye wees wanneer God naby aan ‘n mens is. 

Want, voeg hulle by, as ‘n mens so na God verlang is dit die ander kant van God se teenwoordigheid.

In ons verlange is God immers aanwesig.

Daarom praat die mistici juis van die mistieke antifrase: die woord impliseer sy teendeel. Wie praat van afwesigheid, moet weet – dit gaan ook om aanwesigheid.

God sien immers ‘n mens se verlange raak. Lank, lank voor ‘n mens aan hierdie verlange uiting gee en dit in woorde uitdruk, is God na ons op pad. 

Maar selfs voordat God haastig op pad is na die mens, is God eintlik al teenwoordig.

Vandag lees ek ‘n merkwaardige gedig van Opperman waarin hierdie gedagtes na vore kom: Die geliefde is nie daar nie, sê die gedig. Die digter is “sonder jou”, skryf hy vir haar – net soos ‘n bidder tot God bid en roep van pyn onder God se afwesigheid. 

En tog, al is hulle geskei, is hulle eintlik bymekaar. “Bo alle skeiding heen” voer siel en siel ‘n “woordelose tweegesprek.” Afwesig, maar aanwesig. Hulle is nie bymekaar nie, maar siel en siel praat met mekaar!

Dan kom die mistieke deel: die digter se vriende is bymekaar, praat baie, hul samekomste is luid en leeg. Hy beleef hulle samesyn as niks. Daarom word die digter van hulle vervreem. 

Hy is so ingestel op die beminde, dat die beminde se afwesigheid hom bring om “in dieptes”van homself te beweeg.”

Ons sien dit in die gedig: dit is pyn wat in elke woord resoneer. Maar die gedig is die merkwaardige stelling dat in elke woord van pyn die geliefde tog aanwesig is. 

En dan die klimaktiese mistieke antifrase:  in sy innerlike dieptes is die afwesigheid vir hom meer “as al die vreugdes wat ek elders kry.” 

Die vorm van die gedig bevestig dit: drie stelle van vier reëls vorm 'n netjies patroon. Maar dan, onverwags, breek die laaste twee reëls oor die meer-waarde van afwesigheid deur die patroon en meld hulle aan as dit waaroor die gedig werklik gaan. 

Dit is die raaiselagtige: afwesigheid kan meer werd wees as alle ander vreugdes. 

Om by die Geliefde te wees, al is dit maar net in jou gedagtes, in jou innerlike, sonder die geliefde, is veel meer werd as enige iets anders. In die afwesigheid is die geliefde aanwesig – en dit maak die liefde die moeite werd.

‘n Gedig wat die moeite werd is om te bedink om ook te verstaan waaroor godsdiens gaan. Langsaam is die dae sonder God. Alles lyk doelloos. Ure kan ‘n mens in gebed hiermee worstel. Maar in ‘n mens se innerlike gebeur iets onwerkliks:  daar, alleen, in afsondering, in alleenheid, is ‘n Teenwoordigheid wat groter is as alles wat ‘n mens elders ervaar.

Gebed, verlange, begeerte spreek van liefde, van daar-wees, van nabyheid, van intimiteit.

Verlange. Hoe raar: vervulling.  Die hande wat in die donker in verlange oopgesprei is. Maar steeds weer boontoe beur - na die lig. Jy kan sien hulle is oopgesprei, jy kan die verlange herken, omdat daar die stralende lig is en die lig op pad is om ook voluit op die hande te skyn.

Hier is die gedig van Opperman met die titel:

Verlange

Hoe langsaam is die aande sonder jou
as alles in die stiltes doelloos lyk
en ek uiteindelik ‘n boek oopvou
maar ure na dieselfde woorde kyk,

totdat ek weet wanneer ek so alleen
verskei beelde uit myself opwek,
voer siel en siel bo alle skeiding heen
tog soms ‘n woordelose tweegesprek.

Van al my vriende in die stad verskuil
en hulle samekomste luid en leeg,
word ek ‘n eensaam afgeslote kuil
wat net in dieptes van myself beweeg,

want jou afwesigheid is meer vir my
as al die vreugdes wat ek elders kry.

Thursday, August 01, 2013

Wit bruid



Groen in Europa dra sy naam waardig.

Die woude, heinings en grasperk is oorlopens, oordadig groen.

En, in Leoploldlei, Brasschaat, is hierdie boom wat jy nie miskyk nie.

Nuwe Jerusalem, dink ek. Die bruid.

Min woorde: die visioen is genoeg. Mistiek, want dit neem jou op in verwondering oor waar dit vandaan kom. 

En van nader: die helder wit, helderwit bondel lig, is daar ritse, ritse van blomme. Elkeen met 'n swart ogie, wat jy net van naby kan herken. Net genoeg om die wit helderder te laat uitstaan. En, goed, tereg, is die oordaad van groen hier maar net die ondertoon, die onder-tapyt. Teen die groen, ook, staan die wit nog sagter, skrynender uit.

Wit, die kleur van die bruid - egte liefde.


Wednesday, July 31, 2013

In elke blaar en in die goddelike Mond.

Patrick White wat die Nobelprys vir Literatuur gewen het, skryf in sy mistieke boek Riders in the Chariot, hoe die hoofkarakter, Mary, na buite, in die natuur in vlug uit die huis waar sy grootgeword het omdat sy met die nuwe werkster 'n misrabele ervaring en dag gehad het wat haar benoud en bedreigd laat voel het.

Wat dit presies beteken, weet die leser nog nie. Die skrywer weet om sy lesers langsaam saam te vat in die donker ontwikkeling van die verhaallyn. 

Die blootstelling aan buite-wees met al die andersheid en verborgenheid transformeer haar. 

Na haar besoek en haar ervaring in die oopheid van die skepping, is sy "hernuwe." 

Sy gaan dan, hernu, met 'n ander roete huis toe en langs die pad ervaar sy hoe die misrabele dag radikaal omslaan. 

Sy is oor haar gevoelens van bedreiging. 

Haar angstigheid vir 'n donker teenwoordigheid is weg. 

Maar sy is meer as net bevry van. 

Sy ervaar Meer as net wegkom van die donker. 

Sy is op pad terug, vol nuutheid en vol aandag: "She would recognize the Hand in every veined leaf, and would bundle with the bee into the divine Mouth."

Watter poging, in nuwe taal, om die Vereniging te probeer beskryf wat mense bemagtig as alles vasgeloop lyk.

Maar nog boeiender is hoe sy in die vorige paragraaf weghardloop in die woud. Langs die pad sien sy, vlugtende: "Each pool would reveal its relevant mystery, of which she herself was never the least." 

Daardie prys was goed toegeken. 


Blog Archive