Tuesday, July 31, 2007

By die dood van 'n Suid-Koreaanse jong Christen

Dankie-sê gebed?

Ek dank U vir goeie nuus wat ek vandag ontvang het. Die kort brief met die maklike woorde en die blye uitkoms. Die baie voordele wat dit vir my sal meebring. Gemak, gerief, goed voel. Maar ook harde werk wat afgerond word.

Dit is alles mense-dinge. Wat ek gedoen het, wat ander bekyk het en wat iewers in die toekoms nog dalk deur ander bedink sal word. Dit is nou vir my lekker om te weet my harde werk word beloon.

*

Maar waar is U in dit alles? In die ure wat ek so hard gewerk het? In die dinge wat ek in daardie ure so uitgebreid bedink het? As ek vanaand my kop neerlê ná die goed-voel van vandag, hoe, Here, het dit werklik ‘n verskil gemaak?

Aan ander, aan u wêreld en aan U?

Vanaand het ek in die nuusbulletin die lyk gesien van die jong Suid-Koreaanse Christen wat op die ouderdom van 29 jaar deur die Taliban vermoor is omdat hulle hul gevangenes vrygelaat wil hê. Hy het op sy sy gelê waar hulle hom gelos het nadat hulle hom vol koeëls gepomp het. Sy jeugdige, gladde jongmens gesig was halfpad toe onder die ryk rooi van jeugdige bloed. Ek het sy moeder se rou krete gehoor en gekyk na sy vader wat vol eindelose verdriet vertel het van sy seun wat altyd vir ander omgegee het en onder die armes wou werk. En dit gebeur dan met hom.

Hoe kan ek dankbaar wees, vanaand, in ‘n wêreld wat deurdrenk is van geweld?

Toe daardie jongman gaan haal is om doodgeskiet te word, het hy, die een wat vir die armes lief was, die een wat vir U getuienis uitgedra het, het hy aan U gedink? Kon hy, toe hy die gewere hoor klik en die skote afgaan, kon hy voel hy is by U? Het hy geweet U is by hom, kon hy sing oor die ewige lewe? Op 29 jaar? Vol drome, vol afwagting vir die lewe en die liefde?

*

Ek dank U dat U my laat nadink omdat ek vanoggend oor die brokkie goeie nuus so goed gevoel het.

Miskien, toe daardie salige gevoel my oorval het, miskien het juis op daardie oomblik sarsies geweerskote die jong Christen se lewe beëindig.

Ek dank U dat ek dink U roep my om dieper te kyk en dieper te soek na wat egte geluk bring. Help my om te ontdek waar ek werklik ‘n verskil kan maak – nie aan my eie lewe nie, maar vir ander en vir U. As U my só roep, lei My dan waarheen U my wil neem.

Sny my as ‘n loot en ent my in die wingerdstok van U teenwoordigheid. Sny my dan seer en stukkend as dit moet. As dit my maar tog net dieper in U sal laat groei, sodat selfs die geweerskote my nie sal verskrik nie en my lewe sal beëindig nie. Gee vir my die ewige lewe, om in U teenwoordigheid te kan bly. Om met die diepste van alle dinge besig te wees.

U is sag. U gee liefde. U bring vrede. Selfs al word ek gedood en gehaat. Selfs al woed oorlog om my. Vanaand, aan die einde van hierdie goeie dag, na hierdie verskriklike dag, dank ek U vir wie U is. Woon by my, bly by my, wees my Leidsman, laat my in U helder lig woon, vul my met U goddelike teenwoordigheid. Veral tot aan die einde van my lewe.

Sunday, July 29, 2007

Oor getuiens en martelare. Spiritualiteit en valse, gewelddadige godsdiens

Godsdiens kan vernietigend wees waar dit sy egte karakter kwyt raak. Die geskiedenis bewys dit oor en oor. Dit is 'n moordwapen in die hand van mense.

In Openbaring word mense mislei deur die Bose om hul godsdiens op die Satan te rig in plaas van op God. Jezebel, die vals profeet, sit in die hart van die kerk en mislei mense om 'n valse godsdiens te beoefen. Daaruit word onverdraagsaamheid en vervolging gebore.

Valse godsdiens verniel mense. Dit bring verdeling in gesinne. Die skerpste haat is godsdienstige haat - daar waar mense mekaar aanval omdat hulle dit in die naam van God doen.

Wat dit alles so erg maak, is dat ons dikwels so hard baklei omdat ons meen dat ons deur ander vervolg word ter wille van ons geloof. Dan het ons 'n martelaar-sindroom ontwikkel. En dit is 'n gevaarlike siekte. 'n Martelaar is die meeste van die tyd nie te onderskei van 'n fanatikus nie.

Die dag as ek myself as 'n martelaar beskou wat vir God se onthalwe die waarheid moet uitbaklei, is al die rooi ligte aan. God vra nie van ons om martelare te wees nie, maar getuies. En getuies wys altyd, altyd na God se liefdevolle genade. Getuies wat God se rol as regter wil oorneem, het fanatici geword.

Wanneer 'n mens op die voorpunt is van 'n stryd teen ander gelowiges, word dit tyd om stil te raak en na te dink. Jesus wou dit gehad het. Gaan klaar eers die dinge met ander uit, voordat jy vir God opsoek. En moenie dink dat jy, as jy jou mede-gelowige haat, God kan liefhe nie, leer Johannes ons.

Ons wil altyd ons argumente wen, ons vyande verslaan, die wat van ons verskil, op hul plek sit.

Daar is 'n uitnemender weg. Die weg van die liefde, van die minste wees en van bemin.

Jesus wou dit verstaan: as iemand jou op die wang slaan, draai jou ander wang eerder as om terug te slaan.

Hoe kry ek dit reg? Deur my in te leef in die ander. As ek verstaan waarom iemand iets doen wat nie vir my pas nie, kan ek dit relativeer. Dan weet ek - die mens doen en dink sulke dinge in omstandighede wat anders as myne was. Miskien, miskien sou ek dit ook gedoen het as ek in daardie situasie geleef het.

Dit pas ons eerder om baie beskeie te wees oor die vraag of ons die waarheid in pag het. Die hand moet maar gedurig in eie boesem wees. Ek moet leer dat ander ook soek na die waarheid en dat dit die eerste teken van valsheid is as ek voorgee dat ek alleen die waarheid in pag het.

Of dalk net moet ek leer om te onthou dat die ander een redes het vir dinge doen en dink wat ek nie kan peil nie. Daarom pas dit my om liewer nie te oordeel nie. Om liewer stil te bly as om die argument te wen.

Wanneer ek so met ander mense omgaan, is dit juis 'n teken dat ek hulle liefhet, dat ek hulle hoogste belang soek.

Die liefde doen die ander geen kwaad nie.

Veral nie die liefde wat uit God gebore is nie.

Volgende keer meer oor pretensie en intensie - wat hiermee saamhang.

Die teenwoordigheid van God: die hart van spiritualiteit

Naby aan God, die Alpha (A) en die Omega (ω)

A - Ω

Hoe bly ek naby aan God? Hoe woon ek in God se teenwoordigheid?

Deur te bid, deur meer oor God te lees in die getuienis van hulle wat God liefgehad het.

Maar daar is ‘n ruimte wat ek moet binnegaan anderkant my woorde en die woorde van God se getuienisse. Ek moet voor God staan. In die ruimte waar God woon.

Ek moet op ‘n plek staan waar my hart onophoudelik net lof wil uitroep. Ek moet daar wees waar alles in my volkome tot rus kom. Waar ek niks meer nodig het nie. Waar ek ontdek wat saak maak.

Ek moet daar uitkom waar God alles is. Waar dit selfs nie meer saak maak wie ek is nie. Om te wees by Iemand wat soveel saak maak, dat dit vir my genoeg is om in daardie Teenwoordigheid te wees. Daar waar my verlangende hart, my koue binneste, my kille gemoed, kan baai in die Warmte van die Volkome. Waar ek nie eers sal weet dat ek nie meer koud kry nie. En dit nie eers sal saak maak dat ek dit nie weet nie. Want ek bly in die volkome liefde en my moeë hoof is neergelê in die koesterende omarming van die Alpha en die Omega. Want ek verlang nie meer nie, ek mis nie meer nie. Ek is by God.

Saturday, July 28, 2007

God, laat ek U gedenk! Vergifnis, die onvermoë om te vergewe en spiritualiteit
















Om God te gedenk, om in God se teenwoordigheid te wees en in God se goedheid te woon - hoe gebeur dit as ek vasgeval is in 'n tyd waarin ek keer op keer herinner word aan die seer wat my aangedoen is? Hoe kan God by my woon as ek fikseer op die onreg wat ander aan my hart vasgeketting het?

Een van die woestynvaders, Abba Marcarius, het gesê: As ons die kwaad wat mense ons aandoen, bly onthou, vernietig ons ons vermoë om God te gedenk. Maar as ons die slegte dade van die Bose onthou, is ons onoorwinlik. (The Sayings of the Desert Fathers, transl. by Benedicta Ward, p.136.)

Hy sê hiermee: Onthou nie die onreg wat mense jou aandoen nie. Maar moet nooit vergeet wat die Bose alles regkry nie.

Dit is die Bose wat my laat fikseer op die onreg wat mense my aandoen, wetende dat ek daarmee nie vir God kan gedenk nie.

Om God te gedenk! Hoe kan ek aan onreg wat my aangedoen is so 'n sentrale plek in my lewe toeken? Wat van die onreg wat ek self doen? God wat die onreg oorsien wat ek bly vertroetel, die onreg wat ek self en selfs najaag om te doen.

Om tog maar eerder te kyk na dit wat regtig saak maak: God wat my liefhet, ten spyte van my swakheid, my selfvergoeiliking en my dwaasheid.

O God, as ek maar net meer aan U kan dink in U skoonheid en heiligheid. Hoekom sou ek in die modderpoele van my verbittering rondploeter, as ek eerder by die suiwer, skoon water van U lewende fonteine kan drink? As ek maar net meer van U kan beleef, in U teenwoordigheid woon, aan U my lof bring – hoe klein en nietig en veragtelik selfs, word my vasgekeerdheid in my eie verontregting dan.

My verbittering oor my gelede onreg is ‘n teken van hoe ver ek van U verwyder is.

Ek wil by U wees, in U Liefde woon.


(c) pgdevilliers.

Wednesday, July 25, 2007

Liefde en gehoorsaamheid. Oor spiritualiteit en liefde.

Johannes 14:13-16 sê: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.”

Thomas Merton skryf in sy No Man is an Island (p.181) dat Johannes 14:16 vir ons help hoe om ons liefde te laat groei. Liefde beteken dat ‘n mens die wil doen van die een wat jy liefhet en wat jou liefhet. Deur die Heilige Gees te gehoorsaam word liefde al hoe sterker in ons harte gekweek. Deur lief te hê, deel ons aan die goddelike lewe en word ons kinders van God. Hoe meer ons aan die Gees gehoorsaam is, hoe meer word ons aangeraak en lewe ons as kinders van God. Dan word ons ook al hoe meer in staat gestel om te verstaan wat die Gees van ons vra en word ons deur die begeertes van die Gees sterker gemaak.

Dit is dus deur gehoorsaamheid dat ons groei in die liefde – en, dan nie gehoorsaamheid aan ons innerlike behoeftes en wil nie. Ons is gehoorsaam aan die groter, reiner en opheffende wil van die Gees.

Dit is ‘n inspanning, hierdie gehoorsaamheid aan die Gees. En daarom kan ons dit so maklik as raaiselagtig of outyds afmaak. Ons soek redes om te kan onstnap aan die een groot eis – egte groei in die liefde kom wanneer ek ingroei in wat God se Gees van my vra.

Maar dit word ‘n uitdaging wanneer ons kyk na iets anders: terwyl ons sukkel om die onkruid van ons eie wil uit te roei, begeer ons diep iewers in ons om tog soos God te wees. So liefdevol en vol vergifnis. Dit is vir ons aantreklik dat ons altyd maar kan terugval op God se oneindige, eindelose liefde. Dit gee ons ‘n vastigheid wat ons lewens draaglik en dan ook mooi maak.

En ons streef ook werklik daarna. Ons probeer liefde gee en ons smag na ‘n lewe wat versier word deur liefde. Wat verhinder ons dan om so liefdevol soos God te word? Dit kan nie ons eie wil wees nie, want die algemene en die besonder openbaring vertel ons die groot geheim van die Liefde wat buite om ons oral bestaan en wat die voorwerp is van ons diepste verlange. Wat tussen ons en die Liefde kom, is ons sondige wil. Want in ons skuil ook kragte van self-vernietiging wat teen die Liefde inwerk.

Paulus skryf hieroor duidelik – in Romeine 7:15. Wat ek wil doen, dit doen ek nie, skryf hy, en wat ek haat, dit doen ek! Daardie onverstaanbare proses van jouself kwaad aandoen, is deel van ons bestaan.

Die antwoord gee Paulus ook in Romeine 6:14. Ons moet besluit wie ons baas is. Die sonde? Of kies ons vir die Liefde, vir die Gees, vir vernuwing, vir groei? Dit is egter méér as ‘n keuse téén sonde. Dit is ook ‘n keuse vír God, vir die lewe en vir die liefde. Daarom beloof Johannes die Trooster: die een wat ons troos, wat altyd by ons bly en steeds vir ons aan die arm vashou en op reis neem om soos God te word – vol liefde.

Monday, July 23, 2007

Worstel voor God se wil: ‘n Spiritualiteitskyk op God se wil

Daeraad na duisend nagte

‘n Spiritualiteitskyk op God se wil

‘n Mens praat dikwels oor iets wat aan jou bly knaag. Die woord “knaag” roep by my altyd die beeld op van Asjas wat in die agtertuin ‘n week lank na die Sondagete bly kou aan die oorgeblewe, kaalgestroopte en reeds afgevrete boudbeen. Kan nie los nie. Die been bly net daar. Dit vra om tande en proe na die laaste smakie. Elke dag is daar genoeg ander kos, maar jy moet terug na die been.

‘n Geknaag kan jare lank aanhou. In jou binneste weet jy as die eerste tekens daarvan tot jou bewussyn begin deurdring. Dit word so ‘n diep ervaring, so vinning, dat jy begin aanvoel daar is iets Groters aan jou ervaring. Hier kom iets los in jou lewe wat lastig is. Dit los jou nie. Jy wil dit nie regtig hoor nie. Jy verstaan dit nie. Jou agenda is bepaal. Plek is daar nie eintlik vir die geknaag nie. En tog, skep jy die ruimte daarvoor. En jy verdring dit. Dit is aantreklik, maar dit kan soms ook eerder maar ophou.

Soms moet jy daaraan dink. Die geknaag is oor iets wat vra vir ‘n eenvoudige beslissing. Kies om iets te doen, te reageer en ‘n saak af te handel. Soms gaan dit oor iets wat baie kompleks is. Werk aan ‘n moeilike saak. ‘n Lewensveranderende rigting inslaan. Dan neem jou lewe, jou belangstelling, jou sport of jou loopbaan ‘n loop waarvoor jy ruimte skep, maar wat jy weet jou neem na plekke wat jy nie wil wees nie.

‘n Geknaag ontstaan buite die normale gang van sake. Daar is geen geknaag daarin om te besluit om jou huiswerk te doen of ‘n boek te kies om te lees nie. ‘n Geknaag het te doen met die onvervulde, die verkeerde, die doen van iets wat jy uitstel of nie wil doen nie. En die harde geknaag kom wanneer ‘n kanker in jou siel uitgeroei moet word of wanneer jy ‘n fundamentele nuwe lewenskoers moet inslaan.

Dan word dit ‘n stryd, want ons gee nie graag die bekende en die roetine prys nie.

Ek voel dit nou al die afgelope paar jaar – sedert 2000. Sewe jaar se geknaag. Waarheen lei dit, vra ek myself nou al hoe meer af. Op die weegskaal van my lewe is daar in die twee bakke die bekende, wat ek tot dusver gehad het, vol en ryp en groot en gevestig aan die een kant, met die onbekende, die nuwe, ook mooi en uitdagend aan die ander kant. Saam daarmee, egter, is dit duidelik. Hier gaan groot skoongemaak word. En baie opgeoffer word as die geknaag my daartoe bring om ‘n daadwerkliike besluit te neem. Ek worstel wat ek sal doen as die weegskaal omslaan en uitwys dat ‘n nuwe tyd vir my aangebreek het. Dis nie maklik nie. Dit is vir my ‘n donker nag, ‘n reis in ‘n bloedige son met geen skadu om onder te gaan skuil nie.

Ek weet hierdie gekaag wys op iets Groters wat met my aan die gebeur is. Ek glo dit nie eintlik nie, maar my hart sê vir my ‘n Reisgenoot het my aan die hand en lei my na die groen velde. Iemand Groters worstel met my by die Jabboksdrif om my na waters van rus te lei. Dit is net dat ek nog nie werklik weet watter rus dit sal wees en of ek reg is vir die rus nie.... En, ek het nog so baie ander dinge om te doen - ek wil nog die bruilof bywoon, die vrolikheid geniet, die plesier belewe.

Dit is donker, ‘n dal van doodskaduwee wat ek beleef. Dit knaag aan my. Iets wil my nie laat los nie.

Dit is God, dink ek, wat met my in die donker nag bly worstel.

Tuesday, July 17, 2007

Vastigheid en geborgenheid. Oor ‘n kano en spiritualiteit.

Die mag van water















Ek klim vir die eerste keer in my lewe in ‘n kano op die roeiklub se dam anderkant Stellenbosch. Die middagse winterson gee so bietjie hitte en alles is weer feëverhale hier op God se goeie aarde. Na weke se goor weer in Nederland is ek uitgehonger vir son, vars lug, water en veral fisieke oefening. Ek word ‘n platboomkano gegee, synde ‘n beginner wat nederig moet reken met omdop en inval. Nee, word ek vertel deur die bedrewe kano-genoot, ‘n rondeboomkano is nie ‘n tuig om mee te begin nie. Jy kan te maklik ontmoedig word as jou kano ook nog teen jou is.

En die water is koud. Winterkoud. Maar gelukkig sit ek in die kano en ek sorg maar dat ek nie onnodig beplas word nie.

T-hemp uit, swembroek aan, sit ek in die kano en ry so bietjie dobber-dobber dam in – nie te ver nie, met die wal binne bereik. Ek moet gewoond raak aan balans hou, reg roei, pedale stuur en sommer koers hou ook. Net iemand wat al kano geroei het sal weet dat koers hou ook al ‘n kwessie is. ;-)

Dit gaan goed – nie verniet so drie jaar terug my paddleski op Gourits darem goed gebruik nie dink ek bietjie self-ingenome. Ek gly stil-stil en rustig oor die dam. My kano-genoot roep my patroniserend allerhande komplimente toe en laat waai dam in om sy eie genot te soek. My oë volg hom onder ‘n swaar hoop van bewondering en benyding. Maar sy woorde tref die goeie kol: Gekomplimenteerd en tevrede, veral na die eerste rondte (‘n kilometer lank), wil ek arrogant en parmantig raak. Ek begin diep hale trek met die roeispaan. Spoed, spoed, soek ek. En adrenalien en nog meer trots. Al die oersondes wat mense altyd onvermydelik tot val gebring het, slaan soos die masels rooi massas op my uit. So af en toe swenk ek dus bietjie swierig dieper dam in, weg van die wal af. Ek doen nou al ‘n klomp dinge outomaties: roei en stuur en orent bly en rondkyk en berge bewonder en vrae uitroep. Daar was geen skoner toneel nog ooit voorheen op aarde nie.

Uiteindelik kom dan die onvermydelike val. Ek voel nie eers die koue nie, so skrik ek toe ek in die water beland. Ek voel ook nie grond onder my voete nie. Maar, herinner ek myself aanmoedigend, swem was mos nog nooit ‘n probleem nie, ‘n mens moet net nie in water paniekerig word nie. En die kano loop vol water. Dit trek my onder die water in, want dit is swaar en ek wil dit pligsgetrou nie verloor nie. Ek moet ook terselfdertyd vashou aan die roeispaan sodat dit nie sink nie. Wie sal my aangesig met eerbied aanskou as ek ooit hierdie storie van ‘n verlore roeispaan en ‘n gesonke kano moet oorvertel? Ek hoor helder hoon-gegiggel van meer as een genadelose familielid en vrind. En ek besef intussen dat ek vinnig moet wal toe, die water is te koud vir lank oorleef. In die winter is die oorlewingstyd immers logies korter. My kano-vriend kom aangery, maar kan nie eintlik iets doen nie. Hy sirkel om my, maar ek kan sien hy weet nie veel raad nie.

Uiteindelik kan hy die roeispaan oorneem. Ek bly klou aan die kano, swem duim vir duim en sukkelend wal se kant toe. Die las word al hoe swaarder. En die water is bruin – hier kry ‘n mens nie maklik ‘n lyk nie, miskien nog wel die kano...
My lewe het nie voor my oë verbygeflits nie, so paniekerig was ek nog nie. Maar my asem het begin kort raak en die benoudheid slaan darem al toe. Iewers registreer ek dat ons net drie kano’s op daardie dam is en dat ek hier nogal taamlik aan eie genade oorgelewer is.

Na ewigheidsoomblikke en naby groter paniek, skop ek skielik en onverwags grond raak. Dit is dan die groot oomblik. Nie die omslaan van die kano nie.
Vastigheid, dink ek, volgepomp met aderenalien, later. Ons soek vastigheid in die lewe. Toe ek eers die grond voel, ontspan ek heeltemal. Ek kry beheer. Ek bedink alles haarfyn. Gaan staan, draai die kano om en laat die water uitloop. Klim weer in en roei flink voort. Voel glad nie die koue nie. Eintlik gloei my liggaam van inspanning en opwinding.

Maar ek bly die keer naby die wal. Baie naby. Vir die vastigheid.
My gedagtes loop vir ‘n paar dae oor van hierdie middag. Ek dink aan baie dinge. Die mag van water en koue. Die voorreg om gesond te wees en om nuwe dinge te doen. Lekker mense wat jou lewe ryk maak met nuwe avonture. Ek onthou ook my pa se woorde, dikwels as hy mense sien infoeter see toe met klein vissersbootjies: ‘n mens sukkel nie met water nie. En ek beplan al ‘n tweede keer op die dam.

En iewers dink ek ook aan die bekende woord, holrug al in baie opsigte maar ewe skielik gevul met heeltemal nuwe betekenis na my kano-middag op die dam: Die Man wat die storm op ‘n keer stil gemaak het en water goed geken het, die Man wat ook lewenstorme getrotseer het – wat vertel het dat dit maar die beste is om jou huis op rots te bou. Vastigheid bring egte avontuur. As jou voet grond kan vat, is die stryd al halfpad gewonne.

Ek is terug op Stellenbosch. Ou gesigte, egte blydskap. Vreugdevolle groetery. Ons plekkie voel meer as ooit na tuiste. My eie bed, my eie motor, my boeke, my eie stoel, my muurskilderye. Tuiste, my trots, vastigheid.

Maar ek bedink die dieper dinge: die groot Vastigheid wat na my kom in soveel vorme van die ou, ou tyding. ‘n Woord, Gebed, Simbool, Herinnering, Stil oomblik. Die lewe is ‘n mosaïek van klein steentjies wat almal saam vir jou vertel van vastigheid. En dit weer, gee jou die geborgenheid.

Monday, June 11, 2007

Herinneringe kan ons laat sterf. Oor meditasie en heling

Die Nederlandse televisie het 'n onderhoud met 'n joernalis wat op 'n stadium ontvoer is in Palestina en vir 26 uur gevange gehou is (n.a.v. die huidige aanhouding van die Britse joernalis wat tans reeds 3 maande aangehou word). Hy vertel hoedat 'n swart sak oor sy kop gehang is, hy in 'n stoel vasgebind is en voor 'n kamera vrae gevra is. Hy weet van die video's waar die gyselaars se koppe afgesny is. En hy het nie gedink dat dit in sy geval anders sal wees nie.

26 uur het hom gebreek. Jy moet, as jy toilet toe wil gaan, verlof vra van jou oppaser, sê hy verontwaardig.

Jy verloor jou vryheid, en, saam daarmee, jou waardigheid en menslikheid, hoor ek hom eintlik sê.

Dit is die eerste keer dat hy van sy gevangeneskap in die openbaar vertel. Hy kon nie aangaan my sy joernalistieke werk nie. Hy het net in 'n verskriklike depressie verval.

Terwyl hy praat, hierdie harde joernalis, en duidelik iemand wat weier om sy emosies uit te stal, raak hy so oorweldig deur die herinneringe dat hy lank stilbly. Die kamera bly meedoenloos op sy gesig gefokus, maar hy bly stil sodat hy nie in trane uitbars nie. Lank sit hy daar. Uiteindelik, in beheer, hervat hy die onderhoud, maar sy oë is vogtig. En toe sê hy as eerste woorde: iets van my het agtergebly in daardie stoel waarop ek onder 'n swart doek vasgebind was.

Herinneringe aan dit wat ons getraumatiseer het, is elke keer weer 'n stuk trauma. Ons kan dit nie oor en oor beleef sonder om te herbeleef wat ons ervaar het nie.

Daarom is dit so nodig dat ons kan mediteer, nadink in stilte, oor die groter Liefde - die Een wat ons altyd in ons menslikheid en ons waardigheid herbevestig. As ons dit kan doen, in die Groter Teenwoordigheid kan lewe, kan ons pyn geheilig word. Het die Seun dan nie ook hierdie traumatiese weg bewandel nie? En sy verhaal is die verhaal van liefdevolle herstel.

Ek bid vanaand vir daardie kriminele wat hul mag deur 'n geweer afdwing en ander afbreek. Hulle weet nie wat hulle doen nie. Mag God hulle vergewe.

Saturday, June 09, 2007

Die Kunswerk van R600 000 000 en Die Plek van Kalmte. Die spiritualiteit van omgee in plaas van woede en haat.

Die koerant het 'n prominente berig oor Damien Hirst, omstrede Britse kunstenaar wat nou al jare lank opslae in die kunswêreld maak. Hy het onlangs 'n kunswerk gemaak met die titel, "For the Love of God". Dit is 'n lewensgrote skedel van platinum met met 8601 diamante bedek is en wat 50 miljoen pond werd sou wees (R600,000,000). Hirst is nou een van die bes betaalde lewende kunstenaars in die wêreld.

'n Herhalende tema in sy werk is sy ontnugtering met godsdiens. Godsdiens faal nou in meer as een opsig, volgens hom. Maar dit beteken nie dat 'n mens die kerk moet afbreek nie. 'n Mens moet 'n alternatief aanbied (vir hom die wetenskap - daarom beeld hy mediese temas uit). Dan vertel die koerant meer oor sy werk, oor sy vrese soos die jare toeneem, vir die dood en sy toenemende waardering vir die kosbaarheid van die lewe.

Indrukwekkend. Roem. Rykdom. Nadenke oor die dieper dinge.

Op die volgende bladsy, weggesteek tussen die ander berigte is die verhaal van Mary Blewitt. Sy is volgens die artikel 'n stil vrou met 'n goedige gesig en gevlegte hare. Haar ouers het uit Rwanda gevlug om die slagting in 1959 te ontkom. Later is hulle terug daarheen. Mary was in Kenya toe die nuwe slagting in 1994 gebeur het. Sy kon eers nie terug nie, want die grens was toe. Uiteindelik het sy weer by haar oupa se dorpie uitgekom. Vyftig van haar familie is opgekap in stukke en in 'n groot gat gegooi wat toe met grond bedek is. Die reën het die gat oopgespoel en sy kon selfs van die ledemate, arms, hande en klere herken.

Vir 5 maande het sy dooies begrawe en oorlewendes getroos. 200 000 wesies het oorleef. Sy was woedend, hatig, gefrustreerd. Maar haar ouers het haar geleer om nie ander te blameer nie omdat dit self-vernietigend is. Sy het 'n Oorlewingsfonds begin om haar energie te kanaliseer. Die fonds samel vir die wesies skoolgeld in vir hul onderwysopleiding. Hulle bou ook 'n skuiling (Rustige oord / Humura, the "Calm Centre") vir getraumatiseerde oorlewendes. Hulle befonds klein boerderye en beroepsopleiding. Hulle help 29 000 weduwees, 11 000 wesies en 40 000 afhanklikes in Rwanda.

Hirst en Blewitt in die Financial Times van 26/27 Mei 2007 op bladsy 1 en 2 van die bylaag oor Life & Arts. Humura Sentrum. Plek van Kalmte. Bladsy 1 wys 'n funky Hirst foto met rooi sokkies en leerbaadjie met jeans. Blewitt se foto is van 'n besoek aan 'n dorpie in Rwanda. Sy is eenvoudig aangetrek, glimlaggend aan die gesels met twee inwoners.

Terwyl Blewitt praat, vertel sy: "Pyn gaan nie weg nie. Rou gaan nie weg nie. Maar ons mag nie ophou werk nie en ons moet nie ons geliefdes vergeet nie. Ek het gedink ek is gelukkig dat ek kon ontkom. Nou weet ek nie so seker meer nie. Ek moes dalk by hulle gebly en die lewe met hulle gedeel het. Want ek het nie geweet nie..." Sy hou op met praat om tot haarself te kan kom.

Die berig oor Hirs eindig met 'n vraag of hy ooit meer direk kommentaar op die wêreld gelewer het. Die vraagsteller wil graag meer van sy lewensfilosofie weet, veral omdat dit so weggesteek is. Hirs haal Sylvia Plath aan vir 'n antwoord. Sy het opgemerk dat sy niks voel as sy na die ontploffing van 'n atoombom kyk nie. Sy stel veel eerder belang in die gedagtes van 'n moeë dokter wat nagdiens doen of in 'n baba wat gevorm word, vinger vir vinger, in die donkerte. Dit is wat kuns behels. As dit 'n atoombom begin skilder, verloor dit sy krag.

Lees Hirs dalk op 28/29 Mei van Blewitt as hy die onderhoud met hom klaar bekyk het?

Daardie dogterjie in Rwanda wat oornag haar ma kwyt is nadat sy deur 'n Vigs geinfekteerde soldaat verkrag en in stukke gekap is, wat iewers in 'n dorpie in Rwanda die kans kry om skool toe te gaan... Wat iewers 'n Oasis, 'n Rusoord, 'n Kalm Plek het om in te skuil omdat iemand weet dat dit nie help om te haat nie.

En dan die ryk, beroemde Hirs met sy R600,000,000 se kunswerk. En sy soeke na 'n alternatief.

Wanneer kom hierdie wêrelde bymekaar uit?

Thursday, June 07, 2007

Siekte en spiritualiteit

Siek-wees kom tot 'n einde, dikwels, wanneer 'n mens se koors breek. In die nag, iewers, word ek sopnat gesweet wakker. En ek besef onmiddellik my koors het gebreek. Die sweet is 'n teken van die kwaad wat uit jou sisteem verdwyn het, dat dit fisiek, konkreet verwerp is. In die plek, weet jy dan, kom heling.

Watter vreugde tog is die oomblik as dit dan gebeur. Jy het die deur toegemaak op 'n ellendige paar dae. Die mislikheid en hulpeloosheid is agter die rug.

Ek wonder daaroor, wat dit alles behels. Gedagtes stroom oor my: ek moet gesonder lewe. Die lewe is kosbaar. Hoe sterk 'n mens moet wees as jy terminaal siek is en weet daar kom nie regtig 'n koorsbreek nie.

Dit laat my dink aan die beriggie in die koerant wat ek gisteraand lees. Die vrou wat uiters siek is, maar bly praat oor hoe gesond sy is. Die dokters wil haar voorberei daarop dat sy nog enkele dae het om te lewe. Sy weier om in te gee. Langs haar bed het sy 'n beeld van die beskermheer van siekes - die een wat gesond maak. Uiteindelik, toe hulle weer by haar uitkom, is die beeld vervang. In die plek daarvan is daar 'n beeld van die beskermheer van siele: die een wat sterwendes se siele kom haal en liggies, liggies, hemel toe dra.

Thursday, May 24, 2007

God en God se tuin. Oor groen spiritualiteit

Die eerste maal is ons in Nederland in die lentetyd wanneer Keukenhof besoekbaar is. Ons drie val vroeg-oggend in die pad, stasie toe. Met die trein tot in Schiphol en vandaar per bus tot by die voorhek van Keukenhof - met nog skaars iemand in die omgewing.

Dit is vir ons, plein boere uit die land van die son, sommer net winterkoud, maar as 'n mens leer om die halfvol-glas houding in te neem, is dit 'n Hollandse lente-oggend. Koel, sonder byt in die lug, maar jy moet 'n trui aanhou.

Eintlik is ons 'n week te laat. Van die April-dae hier in 2007 was die warmste ooit in heugenis. Almal praat globale verwarming, en al is ek 'n grasgroene, is ek maar dankbaar want my lyf wil nie met koue saamboer nie.

Ek vermoed die tulpe het hul hoogtepunt gehad, want hier en daar is 'n bedding haasbek met Hollandse werkers wat begin uitsny aan dooie kolle. Maar dit is nogtans verruklik mooi. Dit is nie verniet dat die eerste plek waar mense gewoon het en dan nog in God se teenwoordigheid, 'n tuin was nie.

Die kleure van die tulpe is tegno. Die tekstuur van die blomme smeek jou om jou vinger daaroor te streel. Die kelke is eenvoudig, gekrul, gesplit, dubbel, driedubbel. Die tyd dat 'n tulp 'n tulp was is verby. Nou is dit 'n tulpebasaar, 'n mengelmoes van die gewone tot by die eksotiese: Daar is kleines en grotes, langes en kortes, staankoppe en hangkoppe, in kleure wat 'n mens nie met blomme verbind nie. Pure skoonheid . Dit is 'n simfonie van kleure en vorme.















Langsamerhand kom daar warmte in die lug, soos die tyd aanstap. Ons dwaal deur die tuin, neem foto's, soek tulpe uit, verwonder ons, vergaap ons, word stil, weet nie waar om oral te kyk nie, draai terug, doen weer 'n rondte, praat oor vorige tulpe en ons dag word voller en voller, ryker en opwindender.

En na die oop, stil oggend, daag die hordes, hordes mense nou op. Toeristebusse wors hulle uit en in strome vloei hulle oor die paadjies. Jy moet jou loop begin ken. Die tuin word 'n toring van Babel. Jy vergaap jou nie meer aan die tulpe nie, maar aan die toeriste - die meeste uit die Ooste.

Teen een uur is ons op die bus op pad huis toe. Die toerbusse kom in strome aangery.

Maar ek trek my terug in 'n stil gemoed. Ons is net 'n paar in die gemaklike, netjies, stil Hollandse bus.

Ek dink terug aan my ma wat na hul toer in Nederland by die huis aangekom het en heel eerste oor Keukenhof begin vertel het in die deel van haar wedervaringe.

Die tuin wat 'n mens se gemoed vul, wat jou herinneringe ryk maak, wat beelde by jou laat voortleef.

Jesus was 'n tuinmens. Soos God in Genesis se begin, neem hy ons na die berg en vra ons in daardie stilte om na die lelies kyk. Selfs Salomo, die ryk, uithangerige koning kan hul skoonheid nie ewenaar nie. En die lelies werk nie, hulle spin nie, hulle bodder nie met depressies en angste nie. Hulle is net daar as iets wat mooi is. Wie by God is, is soos iemand wat by 'n tulp staan - jou hart is vol van skoonheid, en, ook, van dankbaarheid. En jy loop vertel by die huis dat van al jou reise oor die aardbol, die eenvoudige oomblikke in God se tuin die mooiste tye was.

'n Tuin? Tulpe? Wat van Madonna in 'n reuse-stadion in Rome waar die rumoer kilometers ver trek, jou in jou kampbedjie in die park langs Rome laat wonder of jy nie na so bietjie opwinding in jou lewe saam met 'n jillende skare sal gaan soek nie. Wat van die sokkerbeker-eindstryd waar 'n enkele doel duisende mense in een oomblik die lug in laat spring? Wat van Disneyworld met sy koeelsnelle karretjies wat jou maag teen jou tone laat vasslaan as hulle wegtrek? Soek dit, man.

Tulpe in 'n tuin op 'n lentedag. Maar ook dit kan bo-langs bly. Want, besef ek, die tuin van God herinner ons aan hoe God die skepping wou gehad het, wat God met die aarde bedoel het: 'n plek wat in liefde gemaak is deur 'n liefderyke Skepper sodat die groot familie van mense onbesorgd daarin kan woon. Nie die familie is tog die eintlike saak nie, maar die Skepper van die familie. Wie, dan, is hierdie Maker, hierdie Een met die groen vingers, die Bergprediker wat ons naby en styf vashou sodat ons tot die diepste rus kan kom? Hoe bly ek steeds in hierdie mistieke teenwoordigheid? Hoe tog, kom ek weer tot verwondering oor dit wat werklik saak maak?

Die hart van 'n Vader wat soveel skoonheid skep, is soos 'n tulp - Self pure skoonheid.

















Kopiereg: pieter g r de villiers. Kontak: pgdevilliers@mweb.co.za

Sunday, January 14, 2007

Om vergifnis te verdring

Vergifnis kan op sekere maniere as ‘n plig beleef word. Dan sal mense, omdat hulle “gehoorsaam” aan die Bybelse tekste oor vergifnis wil wees, vertel dat hulle ander mense nie die onreg wat hulle aangedoen is, toereken nie. Sulke mense se vergifnis volg daarom as uiterlike gehoorsaamheid aan ‘n “opdrag.”

Dit is seker nie ‘n fout om in gehoorsaamheid ‘n positiewe daad te doen nie. Ons doen dikwels dinge omdat ons dit “moet” doen.

Maar hoe eg is iets wat nie uit jou binneste opkom en van daauit groei nie? Word dit nie ‘n manier waarop ‘n mens “voorgee” dat jy vergewe, terwyl jy nie eintlik regtig vir jou daardie daad van vergifnis toeëien nie. Jy moet werklik kan vergewe met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

Doen jy dit nie, verdring ‘n mens die kwaad eerder as wat jy dit agterlaat. Die kwaad sink dan diep weg in jou onderste psige en bly daar skuil as ‘n donker mag. Op een of ander manier gaan daardie donkerte op ‘n ander plek en tyd uit- en terugslaan. Die kwaad wat jou aangedoen is, is nie heeltemal uit jou sisteem nie.

Dit alles beteken dat ek nie maar net "moet" vergewe nie. Ek moet dit wil doen. Ek moet daaroor ‘n besluit neem. Ek moet bewustelik weet dat ek veronreg is. Ek moet die onreg kan uitken en beskryf. Ek moet ook besluit dat ek hierdie onreg nie aan die persoon wat dit veroorsaak het, wil toereken nie en ek wil uiteindelik met hierdie besluit van my vrede maak. En wanneer dit nodig word en die onreg weer by my wil spook, moet ek by my besluit kan bly. Ek moet myself dus in die gesig kan kyk dat ek tot die drastiese stap van vergifnis kon oorgaan. Ek moet by herhaling daarmee kan saamleef.

As ek dit gedoen het, is vergifnis méér as net iets wat ek "moes" gedoen het. Dan het ek my plig gedoen omdat ek dit wou gedoen het – nie omdat dit lekker was nie, maar omdat ek dit beskou as die belangrikste reaksie op kwaad wat my aangedoen is. Dit is dan 'n daad waartoe ek kom nadat ek al die ander opsies oorweeg het.

Juis daarom is vergifnis 'n gebedsaak!

Hoe vinnig sou ‘n mens kon vergewe? Onmiddellike vergifnis?

Sommige mense kan in ‘n oogwink vergewe. Hulle leef eenvoudig maklik en vinnig verby kwaad wat hulle aangedoen is. Dit is asof hulle nie die kwaad ‘n vatplek in hulle lewe wil gee nie. Vanuit diep uit hulle hart leef hulle vorentoe, verby enige iets wat hulle aan donker kolle van die verlede vasbind. Om die waarheid te sê, soms kry jy met mense te doen wat byna nie die woord onreg in hul woordeskat hanteer nie.

Ek sit vanaand met so ‘n persoon en gesels. Hy en sy vrou is besig om te skei. Hy wil nie skei nie, want hy het haar lief. Intussen het sy ‘n verhouding met ‘n ander man aangegaan. Ons praat oor die nuwe man in haar lewe en hy laat byvoorbaat weet: hy kan niks negatiefs oor die man sê nie. Die een persoon wat sy huwelik potensieel permanent tot niet kan maak, is iemand van wie hy eintlik nie kwaad wil praat nie. Hy praat andersins van die goor oomblikke in sy lewe, van die regtig slegte tye wat oor sy pad kom. Maar dit is asof hy van oomblik tot oomblik ingestel is – nie op die slegtheid daarvan nie, maar daarop om met sy lewe aan te gaan.

‘n Mens beny sulke mense omdat jy jou kwel dat jy so sukkel met vergifinis. Gewoonlik kom geestelike leiers ons hierin tegemoet en sê vir ons dat ‘n mens nie moet dink vergifnis is maklik nie en dat ‘n mens eers deeglik en oor tyd heen aan jou woede uiting moet gee voordat jy probeer om te vergewe.

Dit is waar. ‘n Té maklik vergifnis kan dalk ‘n teken wees daarvoor dat ‘n mens oppervlakkig is of dat jy dan die dader van die onreg te maklik laat wegkom.
En tóg hoef dit ook nie waar te wees nie. Daar is werklik mense wat weet hoe erg hulle veronreg is, maar eenvoudig daarmee saamleef en verby dit leef. Hulle kan dit vergewe, en hulle kan dit onmiddellik doen.

Hoe word ‘n mens só? Dit is tog ‘n sterk uitdaging aan die kwaad – om dit in die gesig te kyk en dit onmiddellik uit jou lewe te weer.

Jy kan dit doen deur vir jou te sê: ek sien weer hoe erg mense kan wees en ek leer hieruit om nie so te wees nie – en ek wil dit sterk en dadelik doen.

Jy kan dit doen deur vir jou te sê: as ek toelaat dat dit my gaan vernietig, laat ek die kosbare oomblikke wat ek het om te lewe, verlore gaan aan eksterne magte. En ek wil nie een sekonde daardeur verloor nie.

Maar die meeste kan jy tot vergifnis haas as jy by God gaan skuil. Om by God te bly, om in vrede te woon, om te weet dat God groter as die onreg is, om aan God te behoort, dít is wat saak maak. (Ps.49:16). Met ander woorde, om in tye van onreg oor te stap in die teenwoordigheid van God help jou om te vergewe. Want as ‘n mens by God is en die vrede van God ervaar, dan wéét jy jy kan nie vaskyk in onreg nie. Want onreg is die dade van mense wat nie vir God ken nie. As ‘n mens werklik elke dag naby aan God leef, ingeoefen is in die wag op God, kan vergifnis verstommend gouer oor jou pad kom as wat ‘n mens ooit sou dink. Bloot net omdat jy niemand wil voorrang gee bo of laat inmeng op jou by-God-wees nie.

My vriend met wie ek vanaand oor die trauma van sy huwelik gesels, glad nie ‘n uitstallerige mens nie, het my onlangs heel terloops vertel hoedat hy elke dag genoeg tyd inruim om te mediteer. Dit is sy tyd waarin hy by God wil wees.... Wat my laat besef - vergifnis is nie 'n daad nie. Dit is 'n lewensstyl van mense wat by God lewe.

Thursday, January 11, 2007

Vryheid en vergifnis

Die onmag om te vergewe kan ‘n mens dikwels terugvoer na ‘n mens se verbintenis aan jou pyn. ‘n Mens is om een of ander rede amper verknog aan die seerkry wat jou aangedoen word. Jy kan baie ander dinge ontken en verdryf, maar as iemand jou te na kom, omhels ‘n mens dit met ‘n amper merkwaardige masochisme. Ons broei op die kwaad asof dit die belangrikste ding is wat met ons kan gebeur.

Onreg verlam ‘n mens dus. Dit is asof jou gedagtes jou toespin in ‘n kokon van passiwiteit.

As ons só opgaan in die onreg teenoor, doen ons dus nie regtig eintlik iets nie. Dit wat ander ons aangedoen het, dring ons bestaan binne. Dit word nou ‘n teenwoordigheid in ons lewens wat ons verdra en plek gee in ons innerlike. Ons speel gasheer vir ‘n hoogs ongewensde gas.

Vergifnis is moeiliker. Dit vra van ons om weg te stap van die onreg. Ons moet daadwerkliks iets daaraan doen. Ons moet ons inspan om nie ‘n gevangene daarvan te word nie.

Uiteindelik gaan dit om passiewe onderwerping of aktiewe verwerking aan die negatiewe. Die een bring groeiende bitterheid en gevangeneskap. Die ander een, vergifnis, bring heling.

God het ons as mense geskep met ‘n vryheid: ons het die vermoë om toe te gee of om vir die paradys te kies. Om nie te vergewe nie, beteken dat jy jou vryheid prysgee.

© 2007 pgr de villiers
Reageer hierop met jou kommentaar.

Wednesday, January 10, 2007

Vergifnis vir ondankbaarheid

'n Mens gaan uit jou pad om liefde te gee. Jy werk hard en stort jou hart daarin uit. Jou liefde word aanvaar, soms selfs met ‘n woordjie of twee. Jou harde werk word iewers miskien wel raakgesien. Maar die dankies bly uit en die waardering is maar yl.

'n Mens voel dit is net nie goed genoeg nie. Jy raak krapperig daaroor. Jy begin dophou hoe mense reageer op jou goeie dade. Jy is al hoe meer sensitief van hoe hard mense eenvoudig geword het en nie meer ‘n gevoel van dankbaarheid het nie.

Maar gaan dit in ‘n mens se lewe om bedank te word? Iewers moet ‘n mens juis daardie behoefte om bedank te word, afsterwe. Waar ‘n mens jou hieroor opwerk is dit ‘n seker teken van ‘n lewe wat nie meer deur die Gees gelei word nie. Want die Heilige Gees dring ‘n mens om tot eer van God te leef en nie om bedank te word nie.

‘n Mens het nie lief om bedank te word nie. ‘n Mens bemin en dien ander omdat dit is hoe God is. 'n Mens leef dus vanuit jou nuwe menswees in die Here. Jy is dus as te ware "van nature" 'n weldoener.

En as daar uit tien mense net een was wat besef het dat God in Jesus aan die werk was, hoe kan ons iets anders verwag? Uit Jesus se vertelling in Lukas 17:11-19 leer ons nie om ander voor te sê hoe om dankbaar te wees nie. Ons lees daarin alleen maar die groot wysheid dat ons in alles alleen die eer van God moet soek. Jesus rep, opvallend genoeg, niks van dankie-sê nie. Hy wil dieper vra dat mense op God ingestel moet wees.

En bloot reeds wanneer ons ondankbaarheid kan oorsien en vergewe, het ons rede om dankbaar te wees en God te eer! Wat tel is dat ons soos God kan wees. En as 'n mens so afgesterwe raak van erkenning en dankbetonings, soek ons sterker om ons gedurig te verantwoord aan die een vraag - hoe eer ek God in my lewe?

Friday, January 05, 2007

Vergifnis en geluk

Ons kan nie onreg hanteer nie omdat dit ons lewe versuur. Ons worstel daarmee dat iemand ons seermaak omdat dit ons geluk aantas. Ons verloor ons lewensvreugde deur ons op te wen oor die kwaad wat ons aangedoen word.

Maar lewensvreugde het niks te doen met die feit dat net goeie dinge met my gebeur nie. Trouens, ek kan vreugde vind in die kwaad deurdat ek besef dit my konfronteer met die groot toets oor hoe ek gaan reageer daarop. Gaan ek toelaat dat die kwaad my lewe bepaal of gaan ek vreugde vind in die manier waarop ek die kwaad ontkrag. Deur te kies dat ek die kwaad oorwin, nie terugslaan nie, probeer verstaan en vergewe, kan ek ongelooflike vreugde ervaar.


We cannot handle injustice because it makes us unhappy. We struggle with the hurt done to us because it takes away our joy. We lose our happiness because we are being treated badly.

But happiness has little to do with a life that consists only of positive experiences. I can find true happiness when I realise that injustice and hurt confronts me with the opportunity to respond in a certain manner. I can allow evil to determine my life or I can find joy in the way in which I disempower evil. By choosing to conquer evil, not to hit back, to try and understand and forgive, I can discover deep, inner joy.

Wednesday, January 03, 2007

Gestures of love

“Satisfy us in the morning with your unfailing love that we may sing for joy and be glad all our days.” Psalm 90:14

A mature, healthy person is someone who is filled with love. If we have only one person close to us who loves us, holds us and cares for us, it changes the character of our existence completely. We then experience intimacy, fulfillment, and, in turn, we become caring, loving and responsible beings.

Ofter our anger, our prodigality, our frustrations and our negative emotions are signs that we are in need of care and love. Our immaturity and our sickness are detected in the ways in which we express these negative forms of behaviour. They are superficial and unsuccessful attempts from our side to chase that happiness that we know lies in waiting for us somewhere.

Love expresses itself in many ways. Someone speaks a gentle, caring word that raises us up. We are given a gift that lightens up our day. We are greeted in a such a friendly, quiet way that we experience a different, positive mood. Or, most of all, the physical embrace, the kind touch, the supportive handshake, the pat on the arm or back, the eye that winks, the farewell kiss – all these physical gestures are to us the most certain way of knowing that someone loves us, cares for us and wants us to be fulfilled.

And all of this comes at no price. It is a love that is free, that cannot be bought. Realising how precious these gestures are, it becomes easy for us to hand them out and give them away. Then we need not wait for someone to love us, but we love so that others may be joyful. And this also means avoiding the negative and the harmful, in order not to injure the other. We understand how important it is to break through the vicious circle of hate and retribution.

And in doing so, we represent God among humanity. Each time someone is uplifted because of a concrete sign of love, God is present among us and the power of the Holy Spirit is at work.

So, God gives us the prime example of true happiness: begin to love, so that this world can be truly happy. Do not wait to be loved. In waiting and in holding back, the grip of darkness on our sad world is allowed to become stronger.

Monday, January 01, 2007

Hoe ontdek ons die wil van God? Oor ons innerlike geestelike begeertes

Ons dink dikwels dat God ‘n vasgelegde, eeu-oue en noodlottige “plan” vir ons lewe het. God “wil” dat ons daarby inval – of ons nou hou daarvan of nie. Onverbiddellik moet ons dan aanvaar dat God sekere besluite vir ons lewe geneem het en dat ons dit eenvoudig moet aanvaar en ons daarby neerlê. Ons taak is om uit te vind wat hierdie vaste en wettiese “plan” is en wat soos ‘n onverbiddellike lot oor ons lewe hang. Ons moet hierdie plan passief aanvaar en uitvoer. Van enige vryheid wat ons het, is daar nie sprake nie.

Nog erger, redeneer ons verder, is dat ons ons eie begeertes en hartstogte moet prysgee ter wille van wat God vir ons lewens besluit het. Ons lewe word dan ‘n self-martelende opoffering.

Tog skryf Paulus heeltemal anders hieroor. Hy skryf oor sy eie werk dat hy ‘n “medewerker” van God is en praat van die ander mense in sy span ook as medewerkers (1 Kor.3:9). Hulle leef en werk uit die genade, maar hulle werk entoesiasties en aktief aan die opbou van God se koninkryk. Mense werk vanuit God se genade (1 Kor.3:10) en bou op die fondament van Jesus Christus. Maar hulle is baie aktief en met groot vryheid besig om ‘n gebou op te rig wat uiteindelik as hul “werk” “getoets” gaan word (1 Kor.3:14).

Soos Merton skryf in sy werk, Spiritual Direction and Meditation (30-31), het ons as kinders van God iewers ook ‘n vryheid wat help dat God vir ons tot beelddraers van God kan vorm. As medewerkers is ons nie maar net bloot passief nie. Op ‘n aktiewe manier is ons medewerkers in liefde en vryheid. God se wil is juis dat ons aktiewe moet meewerk aan die koms van die Koninkryk van God.

Wat nou opval is hoedat God Paulus se passie tot getuienis en sy gawes gebruik in die bouwerk waarmee hy besig is. En dit is dan die bevrydende: God forseer nie ‘n plan op ons af nie, maar neem ons heilige en geestelike begeertes in diens. Ons kan dit as ‘n gawe aan God bring. Dikwels is daar diep in ons behoeftes en begeertes wat ons op ‘n nederige manier aan God as ‘n gawe kan gee.

Dus: dikwels jaag ons na daardie “spesiale plan” van God en kyk dan die innerlike begeertes en behoeftes wat ons in diens van God kan stel, mis. En ons innerlike begeertes en behoeftes is dikwels presies dit wat God wil gebruik!

Sunday, December 17, 2006

Vrede en spiritualiteit

Henri Nouwen skryf in sy dagstukkie van 12 Desember oor die verlange na vrede as volg:

Visioene inspireer

Is die groot visioene van uiteindelike vrede onder alle mense en die uiteindelike harmonie van die hele skepping blote fantastiese feëverhale?

Nee, hulle is nie. Hulle is in ooreenstemming met die diepste begeertes van die menslike hart en wys na dié waarheid wat buite alle leuens en bedrog om, geopenbaar gaan word.

Hierdie visioene voed ons siel en versterk ons hart. Hulle bied ons hoop wanneer ons naby aan wanhoop is; moed wanneer ons in die versoeking kom om die lewe prys te gee; en vertroue wanneer agterdog na die logiese houding lyk.

Sonder hierdie visioene verdof ons diepste ideale wat ons die energie en krag gee om die groot hindernisse op ons pad, die pynlike terugslae van die lewe te oorkom. Ja, sonder hulle verloor ons lewe sy sprankel, word dit vervelig en uiteindelik vernietigend.

Ons visioene stel ons in staat om die lewe voluit te leef.

Vrede is dus iets waarna ons strewe: dit is duidelik nie ‘n gegewe in ons wêreld nie. Veral tydens die kerstyd moet ons hieraan herinner word. Die kerskind is ‘n teken van vrede wat God aan die wêreld gee. Vrede is, soos die kerskind, iets wat weerloos is. Dit is die eerste slagoffer van ons sondigheid. Maar verby die sonde, is vrede eintlik ons diepste begeerte. Ons begeer vrede omdat ons diep in ons hart weet hoe vervullend dit is. Maar wat ons hart begeer en wat ons in ons lewens jaag, is dikwels twee baie verskillende dinge. Die kerstyd herinner ons daaraan dat ons na niks beters kan strewe as vrede nie. Dit moet die belangrikste inhoud van ons lewensvisioen wees: wat sien ons as ons toekoms? Vrede. Waarop stel ons ons in die eerste plek in? Vrede. Wat is vir ons die belangrikste ideaal waarna ons kan streef? Vrede. Doen ons dit, is ons in ooreenstemming met God se wil. Want God se groot geskenk in die kerstyd aan ‘n verskeurde wêreld is die kind van vrede. Hy is die vredevors, die prins van vrede.

Friday, December 15, 2006

Henri Nouwen skryf in sy dagstukkie van 4 Desember die volgende:

Die ewige lewe in ons voed

Die wonderlike wete dat Jesus gekom het om ons sterflike liggame met onsterflikheid te beklee, behoort ons aan te spoor om ’n innerlike begeerte te ontwikkel om gebore te word in ’n nuwe, ewige lewe saam met Hom. Dit behoort ons ook aan te moedig om maniere te soek om ons daarop voor te berei.

Daarom is dit belangrik dat ons gedurig die lewe van die Gees van Jesus – dit is die ewige lewe – wat reeds in ons is, moed voed en vertroetel. Die doop bevestig hierdie lewe, die nagmaal versterk dit, en geestelike oefeninge soos gebed, nadenke en Christelike meditasie, en om op ‘n geestelike manier te lees en te leer, kan dit verder verdiep en verstewig.

Omgang met die Woord van God en ons versterk-word deur die sakramente maak ons geleidelik gereed om ons sterflike liggame agter te laat om die kleed van onsterflikheid te ontvang.

Daarom is die dood nie die vyand wat ’n einde aan alles maak nie, maar ’n vriend wat ons by die hand neem om ons in die koninkryk van ewige liefde in te lei.


Hier is 'n lys van praktiese dinge waaraan 'n mens vashou: gedurig hou jy jou doop in gedagte. Jy gebruik die nagmaal in verbintenis met Jesus se lewe. Jy bid. Jy lees oor die dinge van God, maar jy doen dit op so 'n manier dat jy gedurig vra na hoe dit jou geloof sal versterk.

Al hierdie dinge word gekwalifiseer deur 'n intense drang, naamlik om by God te wees. Op allerhande praktiese maniere is ons dag na dag op soek na wat ons dieper sal wortel in ons verhouding met God. En niks, nie eers die dood nie, sal ons van die liefdesverhouding kan beroof nie. Daarom is ons dood 'n oorgang. Eintlik is dit die laaste hekkie wat ons moet oor om vir altyd in God se vredevolle liefde te kan rus. Hoe sal ons dan die dood vrees? Saam met Nouwen sien 'n mens die dood selfs as vriend, want dit maak, soos 'n egte vriend, vir my die pad oop om by God te kan wees.

Blog Archive