Friday, July 22, 2011

Die natuur in oorlogstyd. Vader Kestell




Een van die merkwaardigste figure in Afrikaanse geledere was J.D. Kestell, of Vader Kestell, soos hy bekend was. Sy bekende vertelling van die Boere-Oorlog het ‘n klassieke teks geword en was lank uit druk. Dit is in 1999 weer in Afrikaans vertaal (Protea uitgewers; Lees die Engelse weergawe gratis by Open books: http://openlibrary.org/books/OL24181356M/Through_shot_and_flame)

Kestell was redakteur van die Kerkbode, moderator van die Vrystaatse Sinode, later ‘n voltydse Bybelvertaler nadat hy as rektor van die U.V. (1920-1927) uitgetree het en het waardevolle werk in die Reddingsdaadbond en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gedoen. Hy het drie eredoktersgrade ontvang. Hy is begrawe by die Vrouemonument in Bloemfontein.

Vader Kestell was die enigste Vrystaatse predikant wat die hele oorlog op die slagveld deurgebring het. Sy persoonlike herinneringe is dus egte vertelling. Dit dra duidelik die stempel van ‘n ooggetuie. So beïndruk was President Steyn met hom dat hy hom die pos van veggeneraal aangebied het. Maar Ds. Kestell was predikant, het hy geredeneer en het verkies om as geestelike leier by die troepe te bly. Wat baie sê oor sy siening van invloed en mag.

‘n Mens merk ook in die boek baie gou hoe belangrik geestelike werk vir hom was. Nie net is hy getrou om mene te help nie, maar hy hou ook ‘n oog oor die oorlogvoering self. Hy is byvoorbeeld baie kwaai oor medeburgers wat hul mede-soldate “skandelik en misdadig in die steek laat” (50).

Ek het so pas sy boek begin lees nadat ek ‘n artikel oor A.D. Luckhoff klaar geskryf het. Ek wil baie graag meer weet hoe mense die oorlog vanuit hul geloof beleef het. En ek het gereken dit is spesiaal om van een van die bekendste figure uit die tyd self verder te hoor van sy geloofservaringe in die moeilike tyd.

Ek begryp na die eerste paar bladsye waarom hy so ‘n legendariese figuur in ons land was. Hier wil ek een van die gedeeltes aanhaal wat my getref het. Dit het my geraak, nie om die beskrywing self nie. Maar dit kom voor in die boek nadat hy, bladsy vir bladsy, vertel van harde voorvalle op die slagveld. Mens kan sien hy is ooggetuie van die oorlog. Hierdie kapelaan, is nie met sy kop in die wolke nie. Hy ken byna elke klipkoppie, weet van al die soorte kannone, kan die opmarse van die Engelse en die strategie van die Boere haarfyn weergee. Hy is ongelukkig as die manne onordelik in die nag loop en praat en rook terwyl hulle daarmee hul teenwoordigheid aan die vyand verraai. Hy is ook ongelukkig as die boere huise plunder. Maar sy hart is by sy mense. Hy is deur en deur ‘n patriot.

En toe, skielik, na ek al hierdie kompleksiteite in sy boek lees, kom daar op bladsy 48-49 die volgende slotparagraaf van ‘n hoofstuk voor. Ek is verras dat hierdie keiharde ondersteuner van sy mense, so onverwags met soveel sagtheid begin skryf – ‘n mens voel soms dat dit selfs sentimenteel is. Totdat ‘n mens, as jy begin dink daaroor, agterkom dat sy taal eintlik mistieke taal is. Hier is die stuk:

Die gevoelens van die hart het voordurend gewissel soos gebeurtenisse opgeduik het. Dit was nie net die oorlog wat die gemoedere besig gehou het nie. Nee, ook die blou gewelf daarbo en die vaste aarde hier benede. En dit wou voorkom – noudat ‘n mens daarbuite leef – asof ‘n mens nader aan die hart van die natuur gekom het en asof ‘n mens groter genot daaruit geput het.

En saans – hoeveel weelde was daar saans! Hoe strelend het die aand se kalmte en stilte oor alles gespoel na ‘n lang woelige somerdag! Hoe het die luggie uit die ooste wat, o, so sag die warm wang kus, die onstuimige hartstogte tot bedaring gebring!

Dikwels het ek onder die kameeldoringboom gesit waaronder Kommandant De Villiers sy tent opgeslaan het en saans in die verte gestaar. Daar lê Spioenkop voor my – vir die laaste keer op hierdie dag deur die son rooi geverf. Ver daaragte verrys die ontsagwekkende Drakensberg, met sy duiselingwekkend diepgegroefde rostwande wat reeds in die sluiers van die nag ge hul is. Watter trillings het deur my hart gegaan as ek in die duister opgekyk en die skitterende goud aansjou het wat die wegsinkende son op die rande van die wolke gestrooi het of as ek, nadat die son weggesink het, my omgedraai het en in die ooste die wonderlike skakerings van kleure in die lug aan skou het – en spsifiek die sagter roosrooi versmelt met die byna swart pruper. En dit alles in die lug daarbo asof dit ondersteuning nodig gehad het en op die donkerblou rotsfondament van die aarde gerus het.

In sulke oomblikke het ek vergeet dat dit oorlog was. Ek het nie die angswekkende geluide van die oorlog ge hoor nie – ontploffende bomme en fluitende koeëls. Dit was die stem van God wat ek in die suising van die sagte stilte gehoor het.

Kon ek die aande vergeet? Ek sien hulle nog. Ek tuur nog in die verre weste en sien God steeds in die wonderlike gesig; God, die Onnaspeurlike, die Ondeurgrondelike. Ek sien hoe Hy elke aand ‘n nuwe skildery op die berge en die wolke verf; hoe hy dit nou nog doen en altyd sal doen. Dan is die gedagte vir my oorweldigend hoe God hom in die wondere van die geheel openbaar, hoe dit – in die woorde van Jesaja – maar net die some van sy kleed is wat ons op die berge en in die wolke sien – slegs die some… en dit vul, ja vul, die tempel. 
Kyk net na die maniere van praat oor God: Die onnaspeurlike, na die ondeurgrondelike. En die bewussyn van die teenwoordigheid van God. 

Thursday, July 21, 2011

'n Moderne Christelike mistikus. Oor die bevryding van nietiging.





Die mistieke self-prysgawe.

Wanneer ‘n mens die volgende uittreksel lees uit Hammerskjöld se Merkstene lyk dit op die oog af ‘n baie mistieke, selfs moeilike stuk. 

Maar dit word glashelder wanneer ‘n mens die tweede stuk lees, wat ek in Engels aan die einde byvoeg. Dit is die moeite werd om albei stukke te lees en om dan weer na hierdie eerste stuk terug te kom.

Jou “persoonlike” lewe kan nie ‘n durende, innerlike betekenis hê nie. Dit kan een of ander toevallige betekenis hê, maar net deurdat dit inpas by en onderwerp is aan iets wat “durend” is en wat betekenis het. Kan hierdie “iets” dit wees wat ons probeer omskrywe as “Lewe”? Kan jou lewe betekenis hê as ‘n klein deeltjie van lewe?

Bestaan Lewe? Soek en jy sal vind: ervaar Lewe as ‘n werklikheid. Het Lewe betekenis? Ervaar Lewe as ‘n werklikheid en die vraag word sinloos.

Soek-? Soek deur die sprong te waag tot onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Waag dit wanneer jy uitgedaag word, want alleen as jy uitgedaag word sal jy opmerk dat die pad 'n vurk maak. Dan sal jy, ten volle bewus van jou keuse tot gehoorsaamheid, jou rug op jou persoonlike lewe draai sonder enige reg om ooit terug te kyk.

Jy sal ontdek dat jy, “in hierdie patroon”, bevry word van die behoefte om saam met die groep te leef.

Jy sal ontdek dat deur jou onderwerping jou lewe sy volle betekenis van die Lewe sal ontvang, ongeag enige voorwaardes wat aan jou gestel word vir die verwerkliking daarvan.

Jy sal ontdek dat die vryheid van voortdurende afskeid, van die self-prysgawe van uur tot uur, aan jou ervaring van die werklikheid ‘n suiwerheid en duidelikheid sal gee wat vir jou self-verwerkliking sal beteken.

Jy sal ontdek dat gehoorsaamheid ‘n wilshandeling vra wat gedurig weer bevestig moet word. Jy sal ontdek dat jy misluk as enige iets in jou persoonlike lewe terug in die sentrum beland.

Hierdie kriptiese, mistieke taal van Hammerskjöld word duidelik wanneer hy baie eenvoudig sy eie lewe en oortuigings beskryf. Hy doen dit as volg:

"The world in which I grew up was dominated by principles and ideals of a time far from ours and as it may seem, far removed from the problems facing a man in the middle of the twentieth century. However, my way has not meant a departure from those ideals. On the contrary. I have been led to an understanding of their validity also for our world today. Thus, a never abandoned effort, frankly and squarely to build up a personal belief in the light of experience and honest thinking has led me in a circle; I now recognize and endorse, unreservedly, those very beliefs which once were handed down to me.

From generations of soldiers and government officials on my father's side, I inherited a belief that no life was more satisfactory, than one of selfless service to your country or humanity. This service required a sacrifice of all personal interests, but likewise, the courage to stand up unflinchingly for your convictions.

From scholars and clergymen on my mother's side, I inherited a belief that, in the very radical sense of the Gospels, all men were equals as children of God, and should be met and treated by us as our masters in God.

Faith is a state of the mind and the soul. In this sense we can understand the words of the Spanish mystic, St. John of the Cross: 'Faith is the union of God with the soul'. The language of religion is a set of formulas which register a basic spiritual experience. It must not be regarded as describing in terms to be defined by philosophy, the reality which is accessible to our senses and which we can analyze with the tools of logic. I was late in understanding what this meant. When I finally reached that point, the beliefs in which I was brought up and which, in fact, had given my life direction, even while my intellect still challenged their validity, were recognized by me, as mine in their own right and by my free choice. I feel that I can endorse those convictions without any compromise, with the demands of that intellectual honesty, which is very key to the maturity of mind.

The two ideals which dominated my childhood world, met me, fully harmonized and adjusted to the demands of our world of today, in the ethics of Albert Schweitzer, where the ideal of service is supported by and supports the basic attitude to man set forth in the Gospels. In his work I also found a key for modern man, to the world of Gospels.

But the explanation of how a man should live a life of active social service in full harmony with himself as a member of the community of the spirit, I found in the writings of those great medieval mystics for whom "self surrender" had been the way to self realization, and who, in 'singleness of mind' and 'inwardness' had found the strength to say 'yes' to every demand, which the needs of their neighbors made them face, and to say 'yes' also, to every fate that life had in store for them, when they followed the call of duty, as they understood it. 'Love" that much misused and misinterpreted word, for them, meant simply an overflowing of strength with which they felt themselves filled when living in true self-oblivion. And this love found natural expressions in an unhesitant fulfillment of duty and in an unreserved acceptance of life, whatever it brought them personally of toil and suffering-or of happiness.

I know their discoveries about the laws of inner life and of action have not lost their significance.
Dag Hammarskjöld

Dit is ‘n lang pad wat God ons laat loop om by hierdie mistieke insig uit te kom. Wat die gelowige Hammerskjöld doen is om te vertel hoe Jesus se woorde in sy lewensgeskiedenis waar word: Wie sy lewe verloor… En om te laat gebeur wat Johannes die Doper gebid het: Hy moet meer word….

Wednesday, July 20, 2011

Wanneer ons toelaat dat iemand ons keer om hom erkenning te gee…. Die ironie van ons oordeelsvermoë.


Hammerskjöld skryf in sy beroemde Merkstene die volgende merkwaardige verhaal met ‘n diepsinnige lewensles:

Hy was onmoontlik. Dit was nie dat hy nie sy werk gedoen het nie. Inteendeel. Hy was pynlik pligsgetrou. Maar sy manier van doen het hom met almal laat bots. En uiteindelik het dit ‘n negatiewe uitwerking gehad op alles waarby hy betrokke was.

Toe die krisis ontstaan het en die hele waarheid uitgekom het, het hy ons verwyt. Sy eie optrede was onkreukbaar. Hy was so vol self-vertroue oor sy eie onskuld dat ‘n mens eintlik skuldig gevoel het om stap vir stap vir hom uit te wys hoe hy homself weerspreek het totdat hy uiteindelik weerloos voor ons gestaan het. Maar dit was net regverdig dat ons dit moes doen.

Toe die laaste leuen uitgewys is en daar eintlik niks meer oor was om te sê nie, het die trane begin vloei.

“Maar waarom het julle my nooit gehelp nie? Waarom het julle nie vir my gesê wat om te doen nie? Ek het altyd die gevoel gehad dat julle teen my was. Vrees en innerlike onsekerheid het my al hoe verder in die rigting gedryf waarvoor julle my nou verwyt. Dit was alles so moeilik. Een keer, onthou ek, was ek so sielsgelukkig toe een van julle my geprys het oor iets goeds wat ek sou gedoen het …”

Dus, uiteindelik, was ons skuldig. Ons het nooit ‘n woord van kritiek teen hom gewaag nie. Ons het hom toegelaat om ons te keer om aan hom erkenning te gee. En daardeur het ons hom verhinder om te verbeter.

Want dit is altyd die sterker een wat die skuld dra. Ons het te min lewensgeduld gehad. Instinktief probeer ons ‘n mens van ons verantwoordelikheid wegskuif wanneer ons dink dat daardie persoon ‘n mislukking maak van ‘n bepaalde eksperiment deur die Lewe. Maar die Lewe jaag sy eksperimente ver anderkant ons powere oordeelsvermoë na. Dit is dan ook die rede waarom dit by tye soveel moeiliker lyk om te lewe as om te sterf.

Wat ‘n merkwaardige slotparagraaf: die eksperiment van die Lewe (met ‘n hoofletter!).

Tuesday, July 19, 2011

Wanneer die tyd van geestelike droogte toeslaan

John Wesley vertel dat hy op 'n sekere Sondag gevoel het dat geloof hom ontbreek het. In hom was daar 'n innerlike kwelling dat hy mank gaan aan geloofsekerheid wat hy op daardie stadium nie kon aanvoel nie.


Hy het dadelik gedink dat hy liewers dan nie daardie dag moet preek nie. Hoe, het hy gedink, kan hy oor geloof preek vir ander mense as hy self nie geloof gehad het nie?


Hy het met 'n kollega gaan praat wat vir hom dadelik vertel het om nie eers daaraan te dink om nie te preek nie. 


Toe hy vir sy kollega vra waaroor hy dan moet preek, kry hy die antwoord: "Preek geloof totdat jy glo. En dan, omdat jy glo, sal jy geloof kan preek ."


Die anekdote laat my dink aan die wisselvalligheid van emosies en die verwarring by sommige mense dat spiritualiteit met gevoelens te doen het.


Spiritualiteit het eerder met ervaring te doen en dit is iets wat soms juis teenoor emosies staan. Deur alles wat 'n mens oor die jare deurgemaak het, uit al die ervaring, weet 'n mens soms: dit gaan nie om wat jy voel nie, maar om wat jy uit ervaring weet. Soms laat 'n mens se gevoelens jou in die steek. Dan val 'n mens op ervaring terug. En ervaring leer 'n mens oor jare heen hoe getrou God is. Selfs wanneer geloof nie daar is nie, bly God getrou.


Dink maar aan Thomas.


Spiritualiteit leer voorts ook dat geloof 'n gawe is. Dit word van God aan die mens geskenk. Daarom wag 'n mens daarop. God sal 'n mens nie leeg-hand wegstuur nie. 

Monday, July 18, 2011

Verenig met die Liefde te midde van die geharwar en verstrooing


Dit was ‘n lang reis, gelaai met opwinding: die splinternuwe, groot, luukse vliegtuig vol tegnologiese wonders. Die bederf van die goeie bediening aan boord met die lekker ete’s, die interessante reisgenote, die nuwe flieks, die moderne lughawe. En toe die eerste wêreld land met sy groot, groot en vinnige, vinnige lewe. In een van die grootste stede in die wêreld is daar die opwindende museums, die luukse winkels, die restaurants met geurige ete’s, fabriekies wat die allerlekkerste snuisterye en snoepies produseer. Boeiende gesprekke, nuwe uitdagings, goeie idee’s en besielende kontak-gesprekke. Die bus-uitstappie na die mooi plek met ‘n gids wat soveel as moontlik indruk wil maak met soveel as moontlik ongewone stories.

Dit is ‘n uitdagende ervaring, vol opwinding. ‘n Mens se aandag is oomblik na oomblik geprikkel. Duisende gedagtes en indrukke ding mee om jou aandag. Dit is ‘n visuele fees. Emosies van baie soorte kom in jou binneste op.

Glitz en oordaad, sou Soelle dit noem, wanneer sy begin verduidelik wat Buber se “kommosie” beteken. Duisende indrukke wat vanuit ons alledaagse lewe en van ons omgewing op ons inspeel. Die groot geharwar, gedruis, kommosie waarin ons elke dag ingedompel word.

En tussen al hierdie duisende dinge, mis my hart die geliefde. Die opwinding van die reis word ‘n gedruis. Ek is uitgelewer aan ‘n wêreld wat so aan die gang is, dat dit my verloor het. Ek sou al hierdie opwinding gewilliglik prysgee om eerder daar te kon wees, in die liefde.

Buber praat van die hand wat na hierdie besige, bewegende wêreld in al sy kommosie en gedruis uitsteek “in ‘n leë ruimte in.” Probeer vat daaraan, probeer vat kry daarop, en jou hand is in ‘n leë ruimte verlore.

Is daar iets anders wat byderhand is? ‘n Ander aanbod wat tot my beskikking is? Iets wat nie soek om my te beheer nie? Om my te manipuleer nie? Kan ek wegstap van die kommosie, die geharwar, na ‘n ruimte waar ek vry is en vry gemaak word? Waar ek nie gebruik word of wil gebruik nie? Waar ek nie as bloot net nuttig bekyk word nie?

Is daar ‘n plek waar ek net kan wees wat ek is, vry, vervul met die lewe en die liefde? Is daar iemand by wie ek in liefde kan bly, een met mekaar, sodat ‘n mens total vervuld en in vrede woon? Hoe leeg is die innerlike tog, te midde van die kommosie en die gedruis om ‘n mens, skry Buber.

Vir oulaas praat ons met mekaar. Duisende kilometers van mekaar geskei. En, as ‘n laaste afskeid, is daar die trooswoorde, die liefdesbetuigings, die ingeslukte, ingehoude trane, die sagte woorde van toegeneentheid, die oproep van soveel ryk herinneringe, die bitter van totsiens-sê, besef ‘n mens voortydig, vir altyd.

Weg van die kommosie, die geharwar, die duisende, onbeheerbare indrukke, is daar hierdie stil tyd. Afgesluit van alles wat gedagtes verstrooi en emosies opjaag, is daar hierdie oomblikke van uitreik en toevertrou. Dit is die veilige ruimte, die oomblik van naby wees, die plek van vrede. Selfs die finale, seerkry-woorde maak die vereniging, die eenheid, die wees-by-mekaar alleen maar sterker.

Dit besef ek, is wat God wil hê: dit is die sin van ons bestaan en die diepste betekenis van die lewe. Dit is die seker wete wat verby alle kennis strek. Dit roep uit: Alles wat in die dae oor my pad gekom het, het op niks uitgeloop nie – in die lig van die mistieke ervaring van die liefde.  Hier, wanneer ek innerlik by die volmaakte is, is my hart verkoop. Op die plek van die Liefde wil ek woon, al die dae van my lewe. Dit is die eenheid en die vereniging wat my hart tot rus bring: die verhouding met die Liefde. Dit groei, word sterker, dit groei bo al die geharwar en die gedruis om my uit. In hierdie Liefde wat in my ingeplant word, wil ek my verloor. Dit is my sielsgenoot.

Dan gebeur die mistieke: as die oomblikke van vervulling oor ‘n mens kom, neem dit ‘n mens op reis. Want daar is die besef dat die Geliefde ook maar net ‘n roete-aanwyser is na die Grotere. Dit is ‘n byna gewelddadige proses, skryf Soelle. ‘n Mens word verby die aardse liefde geneem. Want dit is, per slot van sake, ook tydelik. Die siel wil sy rus in die diepste nie-tydelike vind. Verby alle tyd, verby alle verganklikheid, is daar die genade. Uiteindelik moet ‘n mens dus selfs van alle menslike vorme, kosbaar ja, maar tog menslik, gegrond kan word in die grootste van alles – die goddelike Liefde. Want dit is die liefde wat nooit vergaan nie. En dit is ook die groot wete: daardie oomblikke van afskeid, die seer tye van ‘n laaste totsiens, is maar net voorlopig. Die groot wete is: saam met die ander, is ons geborge in die onverganklike Liefde. Dit is wat nimmer vergaan nie.


Verby alle opwinding, verby alle menslike liefde, is hierdie innerlike ervaring van die onverganklike Liefde die eindpunt van die geestelike reis.  

Sunday, July 17, 2011

'n Nuwe boek oor die grensoorlog

Ek loop in die boekwinkel Anthony Feinstein se nuwe boek oor die grensoorlog raak. Dit heet: "Kopwond. Vergete Slagoffers van die Bosoorlog."

Ek lees dit toe graag om my verwysingsraamwerk vir my navorsing oor 'n Spiritualiteit van Vrede verder in te vul. Dit lees maklik en vinnig. Die vertaling in Afrikaans is ook besonder goed.

Feinstein was 'n psigiater tydens die grensoorlog. Hy beskryf sy ervaringe - eers in 'n groterige kamp, en daarna in 'n kleiner kamp van enkele mense wat in groot isolasie uiters gevaarlike werk gedoen het. Hy vertel van een lewensgevaarlike insident waarin hy betrokke was en 'n klomp mense gedood is.

Hy wil nie eintlik aan die oorlog deelneem nie, skryf hy herhaaldelik. Konsekwent laat hy blyk hoe sinloos dit is, watter onmenslikheid deur oorlog veroorsaak word en hoe dit selfs die mense wat in beheer is, vernietig. Hy wys op brutaliteit, op onverskilligheid, op die minagting van menselewens en 'n klomp ander uiters negatiewe aspekte van oorlog.

Die boek is aan die begin ontstellend. Hy noem gevalle op waar jongmense totaal vernietig word deur wat hulle op die grens ervaar het. Afstandelik beskryf hy hoe sy pasiente totaal deur die geweld tot niet gemaak word.

Sy inligting is goed gedokumenteer. Die beskrywing is effektief. 'n Mens kry 'n goeie insig in die omstandighede waarin mense se lewens so getraumatiseer word. 'n Mens leer ken hom as iemand met 'n wye kennis en met 'n sin vir waardes.

Maar algaande, terwyl ek die boek lees, bou daar by my 'n gevoel van teleurstelling op. Ek sit en wonder, toe ek die boek klaar gelees het, waarom ek onbehaaglik voel.

Miskien is dit omdat hy op 'n sekere selfbehepte manier skryf oor sy weersin en sy eie frustrasie met die oorlog en oor sy diepe weersin teen oorlog. Dalk is dit omdat hy so duidelik laat blyk hoe 'n weersin hy het in sy growwe bevelvoerders en die sinlose lewe van die soldate. 'n Mens kry die gevoel van 'n swart-wit prentjie. Boosheid is aan die een kant, goedheid aan die ander kant. Dikwels kry jy ook die gevoel van stereotipering. En dit is steeds die "ander" kant wat maar bitter sleg daarvan af kom.

Daar is min voorbeelde van menslikheid in die boek. Kan dit wees dat die grensoorlog absoluut altyd net hierdie growwe onmenslikheid tot gevolg gehad het? Was daar tog nie iewers 'n bietjie kameraderie in plaas van die growwe dronkneste wat hy vir 'n mens voorhou? Was daar nie iewers dienspligtes en soldate wat ook hul twyfels gehad het, hul verlangens gekoester het, hul geliefdes gemis het nie? Was almal dan werklik sulke seksbehepte, oppervlakkige, gevoellose dronkaards? Of is dit omdat Feinstein in sy werk net te doen gekry het met die ekstreme psigiatriese gevalle en in sy kamplewe met onsimpatieke omstanders vir wie hy nie van nader leer ken het nie?

Ek het onwillekeurig aan Luckhoff se dagboek oor die konsentrasiekamp in Bethulie tydens die Anglo-Boere oorlog gedink. Hy het soms twintig of meer begrafnisse in een dag gehou en baie mense sien sterf. Die kampomstandighede was totaal onmenslik. Rondom die kamp was die aarde verskroeid deur die besetters. Die hospitaal was vol sterwende kinders en die tente vol siek mense.

En tog kon Luckhoff aangrypende dinge oor die liefde skryf. Hy kon, ten spyte van al sy harde vrae, selfs aan God, oor die sin van die lewe, ook weer op 'n ander keer skryf watter voorreg dit was om in die donker tyd van oorlog by ander mense troostend teenwoordig te kon wees. Hy kon, ten spyte van sy harde woorde oor die ongevoelige dokters van die kamp wat op 'n stadium deur kampbewoners aangerand is, vir hulle net 'n klein plek in sy lewe toelaat. Sy woede oor die hensoppers en die verraaiers, en sy groot ergernis oor onreg en onmenslikheid kry hier en daar plek. Maar steeds weer laat hy net soveel plek daarvoor in sy lewe, en dan sluit hy dit verder uit. 

Oorlog is seker op sy slegste as jy nie eers iewers 'n stukkie menslikheid - selfs in jou allergrootste ellende - kan raaksien nie. Laat my besef hoeveel meer waarde 'n mens moet toeken aan Jesus se laaste oomblikke: toe hy vir sy opponente kon bid en vir die moordenaar genadiglik in die paradys kon innooi.

Saturday, July 16, 2011

Jy het vir my klere gegee, water gegee, kos gegee. Oor ontferming en stakings.



Veelseggende foto van 'n staking elders in die buiteland....


Ek bekyk vanaand die nuus oor die huidige staking en hoor dat een van ons grootste maatskappye vir sy top-mense massiewe verhogings gegee het. Bonusse van oor die vyftig persent en salarisverhogings van oor die twintig persent. En dan wil hulle nie vir hulle werkers 'n fraksie daarvan as salarisverhogings gee nie. 


Ek gesels die afgelope paar dae met vriende en kollega's hieroor. Dit val my op watter diepe, wye en intense ongemak en onvrede in mense se gemoedere leef oor wat in sulke maatskappy aangaan. Laat niemand 'n vinger wys na die regerende party en sy korrupsie nie, merk hulle op. In sommige maatskappy gaan dit maar net so erg. My gespreksgenote gebruik harde woorde. Ek hoor sommige praat selfs van gierigheid en onmenslikheid. 


Ek weet dat kerkmense te maklik en te gou oor ekonomiese sake praat. Dikwels ervaar predikante dat ongekwalifiseerde mense vir hulle kom vertel wat hul teologies moet dink en glo. Predikante skud dan maar net hulle kop hieroor. Dus moet 'n mens maar ook hand aan eie boesem slaan: nie te gou praat oor ekonomiese dinge waarvan 'n mens nie baie weet nie of waarvan 'n mens nie die kompleksiteit begryp nie. Ek weet dat die vakbondwese ook sy skadukante het. En ek is ook bewus daarvan dat die arbeidswetgewing groot druk op maatskappy plaas. En almal besef dat die huidige ekonomiese klimaat uiters moeilik is. 


Daarom moet 'n mens nie te gou oordeel nie. En ook nog minder te vroegtydig veroordeel.


Maar dit opgemerk, bly die situasie 'n mens kwel. Iemand skryf die week in die media dat besigheidsleiers voorheen by geleentheid pertinent by hul werkers aan huis gekom het om op hoogte te bly van hoe hulle werkers buite die werk leef.. Deesdae gebeur dit blykbaar al hoe minder. En dit, skryf die persoon, vergroot die gramskap tussen werknemers en werkgewers. 


Kyk, argumenteer hulle: As daardie besigheidsleiers in die huis van een van hulle werknemers instap waar daar skaars elektrisiteit of lopende water is, waar 'n uitgebreide gesin van talle deur een salaris aan die gang gehou word, waar kinders dikwels eerder as soms honger gaan slaap, waar mediese skema's nie bestaan nie, waar pensioen 'n vreemde woord is, waar kinders se skoolgeld betaal moet word, waar daar nie genoeg komberse is om die koue van die nag buite te hou nie, waar 'n reusedeel van die salaris bestee word aan petrolgeld om by die werk te kom, waar winterreens krothuisies oorstroom - sal die land van ons dalk anders begin lyk.


Nou die dag kom die sekuriteitswag hier oorkant ons plekkie na my gestap. Sy kind het skielik baie siek geword. Hy moet dadelik dokter toe. Maar hulle het nie R50 om vir die dokter te betaal nie. Die gewoonlik vriendelike, gelowige en uiters pligsgetroue man is duidelik angstig. 


Hy het 'n goeie werk. Hy is nie een dag siek nie. Hy werk soms skofte deur die nag. Hy dien op die plaaslike polisieforum. Hy hou die dwelmsmouse in ons dorp dop en rapporteer hulle bewegings aan die polisie. 


Maar hy het nie R50 om sy kind na die hospitaal toe te neem nie? Hy oorleef van dag tot dag?


'n Mens hoef nie 'n handewringende pienk liberalis met sentimentele houdinkies te wees om te weet dat iets is hier nie reg nie. 


Ek moet dus bely. Ek het my teensin teen stakings, waarmee ek groot geword het en wat so vreemd aan my kultuur is, oorkom. My simpatie is met die stakers, moet ek eerlik erken. 


Daarom was ek meer as trots toe die leier van 'n bekende Afrikaanse vakbond vanaand oor die televisie in sy moedertaal, Afrikaans, en as 'n mens met integriteit, met goeie, helder argumente gewys het hoe onvermydelik en belangrik die staking is. Dit is nie 'n kwessie van ras nie. Dit is ook nie 'n kwessie van Afrikaans teen ander nie. Dit is 'n kwessie van reg en verkeerd. 


In Spiritualiteit was daar beroemde mistici soos Dorothy Day wat vreesloos die saak van die werkers verteenwoordig het. Sy was uitgeskel vir 'n kommunis en is deur die magtige besigheidskringe erg bygekom. Maar haar passie vir die werkers het niks met politiek te doen gehad nie. Dit is gebore uit 'n sin vir menslikheid, uit 'n gevoel van ontferming. En ontferming, of barmhartigheid, weet ons, is 'n sleutelwoord in Spiritualiteit. Salig is hulle wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word, het Jesus immers duidelik vertel. En daarmee het Jesus nie bedoel dat 'n mens 'n rand of wat in 'n bedelbakkie sal gooi nie. Daarmee het Jesus bedoel dat 'n mens aan ander gun wat jy vir jouself vra. Wie jy as mens is, is wat jou naaste ook moet wees.  


Dit val my ook op dat besigheidsmense in ons land goeie mense is. Hulle is selfs geestelike mense. Wat is dan fout met ons land dat ons een van die grootste gapings tussen ryk en arm oor die aardbol heen het? Moet dit nie die tema bo-aan die agenda van besigheidskringe wees nie? Dit is immers 'n saak van lewe en dood. Jesus het ontferming deurslaggewend gemaak: Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink. Ek was honger, en julle het My iets te ete gegee. Ek was  'n vreemdeling en julle het My gehuisves. Ek was sonder klere en julle het vir My klere gegee, siek en julle het My verpleeg. Ontferming is 'n sleutelwoord in spiritualiteit. Soms, as ek die Bybel lees, dink ek dit is die sleutelwoord in spiritualiteit. 


Daarom is dit nou 'n tyd dat besigheidsmense oor ontferming moet praat. Nie in netjiese teoriee nie. Maar soos Jesus in keiharde, konkrete terme. 


En wanneer laas het 'n mens die kerk hieroor gehoor? En 'n preek hieroor gehoor? Matteus 25 is in hierdie tyd 'n sleutelteks vir die prediking. Laat niemand Jesus se vermaning in daardie hoofstuk mislees nie. 

Friday, July 15, 2011

Wanneer iemand 'n mens verontreg. Oor die veilige ruimte.


Net Chagall (Biddende Job) kan groen, simbool van heiligheid, so skilder.


Dit skryf Nouwen in sy Dagboek:

25 Julie

 

Delf in ons geestelike reserwes


Wanneer iemand ons seermaak, beledig, ignoreer, of verwerp, ontstaan daar ’n diepe innerlike protes in ons.

Dit kan die vorm aanneem van woede of depressie, ‘n begeerte om weerwraak te neem, of selfs die drang om onsself skade aan te doen. Ons kan ’n diepe drif voel om hulle wat ons seergemaak het, terug te kry of om onsself aan die wêreld of mense te onttrek in ’n selfmoordbui van selfverwerping.

Hoewel hierdie ekstreme reaksies abnormaal lyk, is hulle nooit ver weg van ons harte nie. Deur die lang nagte ontdek ons dikwels hoe ons broei op woorde en dade wat ons kon gebruik het in reaksie op wat ander vir ons gesê of aan ons gedoen het.

Dit is presies hier dat ons diep in ons geestelike reserwes moet delf en die sentrum van ons bestaan moet vind. Hierdie sentrum lê anderkant die behoefte om ander of onsself kwaad aan te doen. Dit is die sentrum waar ons vry is om te vergewe en lief te hê.


Nouwen wys hiermee uit hoedat ons reaksie op wat ander mense doen, ons lewe kan oorheers – hoewel dit eintlik nie werklik met die hart van ons lewe te doen het nie.

Om weerwraak te koester is oppervlakkig, bedoel hy. Dit neem ‘n mens weg van jou egte bestemming.

Die mens se bestemming is op ‘n heel ander plek: In die diepste binnekant van ons lewe is daar ‘n ruimte waarin mense volledig vry is. Dit is ‘n ruimte waar ander mense nie kan inmeng nie.

Dit is die ruimte wat werklik saak maak. Dit is ‘n vaste burg van vrede.  

Wat is dan die probleem? Waarom laat ‘n mens toe dat ander mense ‘n mens se lewe tot niet maak of dat eie behepthede en gedane onreg jou lewe op sleeptou neem?

Die antwoord lê in die “delf” van Nouwen se laaste paragraaf. Verby die oppervlakkige dinge, moet ‘n mens grawe om by die dieper vlakke van ons bestaan uit te kom. En dit gebeur nie. Ons leef nie asof daar ‘n goudaar in ons lewe is wat maar net oopgegrawe moet word nie.

Hoe doen ‘n mens dit? Daar is baie, baie voorstelle wat mense maak om mede-gelowiges prakties te help vergeet van die kwaad wat hulle aangedoen is. Asemhalingstegnieke, ontladingstegnieke, verdringingstegnieke, vervangingstegnieke.

Hierdie tegnieke wil almal vir ‘n mens help om jou reaksie op die kwaad ernstig op te neem en doelbewus van jouself te vra om jou emosies daaroor in ‘n regte rigting te stuur sodat dit nie ‘n obsessie word nie.

Dit is nuttige raad en seker die moeite werd om in gedagte te hou.

Daar is nog ‘n moontlikheid wat 'n egte geestelike oefening kan word: wanneer ‘n mens op soek is na die diepste deel van jou lewe waar jy werklik vry is, ook van jou wraak- en haatgedagtes, is dit eintlik ‘n soeke na ‘n plek waar God woon. God woon in die volmaakte en in vrede. ‘n Mens word vry van weerwraaksgevoelens en van obsessiewe gedagtes omdat ‘n mens iets veel belangrikers ontdek en begin nastreef – die liefde van God en die intieme verhouding wat God met mense aanknoop.

Dink maar aan die Onse Vader, die volmaakte gebed. Wanneer dit meditatief gebid word, met die hele hart, hele siel en die hele verstand, vind daar ‘n verskuiwing van ‘n mens se belewing plaas. Die verlange beweeg weg van ‘n obsessie met ‘n mens se diepe verontwaardiging, van jou seergemaakte binneste, na die heiliging van God se naam. Die gebed bring ons in ‘n veilige ruimte in waar die bede is om die koms van God se koninkryk, die begeerte is dat God se wil sal geskied. Dit is die vra om die paradys. Hier, in die modelgebed, is daar nie ‘n gebed dat my aardse koninkryk veilig sal wees en dat my wil om weerwraak suksesvol sal wees nie. Dan volg die kort versoek dat ‘n mens die broodnodig as gawe sal ontvang (geniet die dag se voedsel). Dit is genoeg. Wie dit het, het die lewe. En uiteindelik is al die aandag weer gerig op God: Want aan God behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid.

‘n Mens leef in die ruimte waarop jou hart biddend gerig is. Deur die modelgebed van die Here Jesus  word die bidder se innerlike ingestem op die Vader, word hy/sy omvorm om in die teenwoordigheid van die Ewige te leef. Wat dan saak maak is dat n mens nooit hierdie ruimte sal kwyt wees nie – vandaar die gebed om vergewe te word van alles wat ‘n mens se verblyf in die ruimte tot niet maak. Hieruit volg die gebed aan God om sondervergifnis en daarna die mistieke, kort opmerking: soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Deur die Onse Vader te bid, delf ‘n mens diep in jou reserwes in. Dit is die manier om tuis te kom by die woning waar al ons behepthede, maar selfs die onreg wat ‘n mens aangedoen word, nietig lyk.

Nie dat dit maklik is nie. Spirtualiteit is ‘n proses van groei. Die kerk het nie verniet nog atlyd beklemtoon dat ‘n mens die Onse Vader nie genoeg kan bid nie. Elke dag, dikwels ‘n paar keer ‘n dag, veral in woelige krisistye. Bietjie vir bietjie met die bid van elke dag sak die wortels dieper en dieper af na die vrugbare grond waaruit die sterk boom van die lewe groei.

Thursday, July 14, 2011

Die verborge ontmoeting met God. Oor die joods-christelike mistiek in Bybelse tye.


(Oor hierdie merkwaardige skildery oor Esegiel 37-38 wil ek later skryf).

Daniël en Openbaring is twee Bybelse “apokalipse” of “openbaringe.” Daniël is in die tweede eeu v.C. en Openbaring aan die einde van die eerste eeu n.C. geskryf.  In hierdie twee openbaringe/apokalipse word veral oor die toekomsgebeure gepraat, maar word ook God se wil vir die hede bekend gemaak.


Joodse en Christelike gelowiges in Bybelse tye het baie ander soortgelyke openbaringe gehad. Sommige, soos 4 Esra, is in die Apokriewe Boeke opgeneem. Maar daar is ook ander met name soos 2 Barug, die Apokalipse van Abraham, 1 en 2 Henog, Die Apokalips van Petrus en vele ander. Hierdie boeke was in sommige kerke en lande baie gewild. Ander weer het sedert die middeleeue verlore geraak en is eers weer in die vorige eeu herontdek en op groot skaal bestudeer.

As ‘n mens al hierdie boeke met mekaar vergelyk, sien ‘n mens dat hulle veral in twee tema’s belanggestel het. Sommige soos Daniël en Openbaring het God se (eind)plan vir die wêreld bekend gemaak. Maar ander het nog ‘n tweede element as inhoud gehad. Sommige geleerdes praat van “wetenskaplike spekulasies” waarin hulle belanggestel het. 

Die skrywers het naamlik allerhande kennis oor die skepping en oor God aan hulle lesers voorgehou. Die kennis gaan oor die kosmogonie (die aard van die wêreld) en oor die teosofie (oor God se wese).  Daarin word dan allerhande “geheime” oor die astronomie, die kosmologie, die geskiedenis en nog vele van die sogenaamde “heilige” wetenskappe opgeneem.

Daar is ‘n besondere band tussen hierdie apokalipse en die Bybel. Hierdie boeke het almal ontstaan na aanleiding van twee bekende en sentrale hoofstukke in die Bybel, naamlik Genesis 1 en Esegiël 1. Genesis 1 was ‘n hoofstuk wat die toegewyde en ernstige gelowiges in die tyd van die Bybel graag bestudeer het om meer van God se skepping uit te vind. En in Esegiël 1 is daar die beroemde troonvisioen van Esegiël waarin die profeet God op sy troon ervaar en waarin dit lyk asof daar verskeie insigte gebied word oor wie God is en hoe God lyk.

Van die vroegste tye het Joodse en Christelike Bybellesers graag hierdie tekste gelees en diep daaroor nagedink omdat hulle geglo het dat dit oor verborge dinge gaan. Sommige mense dink dat hierdie lesers so sterk deur die hoofstukke geraak is dat hulle self allerhande visioene beleef het wat hulle in hul boeke neergeskryf het. Hulle visioene het oor die “verborge” dinge gegaan, byvoorbeeld oor hoe die wêreld geskape is, hoe die hemel en die hel lyk en hoe God lyk.

Dit is nou egter opvallend hoe terughoudend geestelike leiers oor die visioene en oor die bestudering van die Genesis 1 en Esegiël 1 was. Die leiers het gewaarsku dat nie enige een hulle met hierdie verborge dinge moet besig hou  nie en het streng riglyne vir die studie daarvan neergelê. Hulle problem was dat sulke spekulasies en vrome visioene die Naam van God oneer kon aandoen en God se heiligheid kon aantas. 

Hierdie mistiek is “troon-mistiek” (merkebah mistiek) genoem omdat dit ervaringe van God op sy troon was. Vandag verskyn die een publikasie na die ander oor hierdie vorm van Joods-Christelike mistiek. Dit is ‘n nuwe veld van ondersoek wat groot belangstelling wek. Daar het byvoorbeeld in die afgelope tyd belangrike werke verskyn wat uitwys dat hierdie mistiek Johannes Evangelie beslissend beïnvloed het.

Sommige navorsers wys daarop dat hierdie visioene wat mense gehad het en in hulle boeke opgeskryf het, ‘n sterk Bybelse karakter het omdat dit duidelik verband hou met hoofstukke soos Esegiël 1, Genesis 1, Jesaja 6, Daniël 9 en ander bybelse.

Verder wys hulle daarop dat die skrywers geglo het dat die boeke van God afgekom het. God self het hierdie visioene aan hulle “geopenbaar.” Dit is merkwaardig dat hierdie skrywers, in ‘n tyd toe mense geglo het dat God die wêreld opgegee het, vas geglo het God praat nog met mense en maak aan hulle verborge waarhede bekend. Dit is dus, het hulle gedink, moontlik dat iemand direk en op ‘n mistieke manier God se stem met hulle kan hoor praat.

In hierdie geskrifte kry ‘n mens dus ‘n besondere Godsbeeld: God is hoog verhewe, in die hoogste hemel, waar God se troon ook gesetel is – soos ‘n mens ook in Esegiël 1 en Jesaja 6 lees. Tog het die mens ook toegang tot God en kan God van naby ervaar. Net enkele mense het die voorreg om God te ervaar – soos byvoorbeeld die skrywers wat in ‘n visioen opgevaar het na die hemel en toegang tot hemelse verborgenhede ontvang het (kyk bv. Open. 4:1). Maar dit neem nie weg dat dit tog moontlik is en dat alle mense van hulle ervarings in hul boeke kan lees nie.

Agter hierdie boeke skuil daar dus ‘n besonder vroomheid. Apokalipse is tekste wat ‘n diepe godsdienssin weerspieël. Die skrywers daarvan was mense wat geglo het ‘n mens kan baie naby aan God kom en dat God die verlange van die regverdige mens aansien en met so iemand die verborge wyshede deel. Hulle is oortuig dat hulle geloof ‘n resultaat was van ‘n ontmoeting met God.

Dit het ‘n groot invloed op hul geloofslewe. Juis omdat hulle in ‘n visioen so ‘n intense en intieme ontmoeting met God gehad het, het hulle meer as ooit geglo in die waarde van hul geestelike tradisies. Hulle besondere ervaringe en ontmoetinge met God het die egtheid van die Bybel vir hulle bevestig.

Dit is ook een van die redes waarom mense die boeke skryf. Die boeke ontstaan in ‘n tyd toe Jode oor die wêreld versprei is en diep vrae oor God gevra het. Die worsteling om hulle lyding in hul tyd en situasie van vervolging te verstaan, bring hulle tot antwoorde wat ‘n mens in apokalipse vind. God, skryf die outeurs, gee nog om vir mense. God reik uit en kommunikeer nog met hulle wat regverdig is en God se wil soek. God het ‘n plan met die wêreld en sal daardie plan ten alle koste tot uitvoering bring. In hierdie tekste gee die skrywers uitdrukking aan hulle gevoel dat ‘n mens in hulle tyd van ontwrigting en vervolging, tog nog God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier kan ervaar. Al lyk dit nie so terwyl ‘n mens kyk na die situasie waarin hulle was nie, is God wel op die troon en kan mense wat na God verlang, op ‘n besondere manier God se teenwoordigheid beleef.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ‘n mens boeke soos Openbaring en Daniël moet verstaan. Maar ook Jesus, Paulus, Lukas en ander Nuwe-Testamentiese boeke kan met vrug verstaan word in die lig van die Joods-Christelike apokalipse. Hieroor later meer.


Wednesday, July 13, 2011

Die oratiewe en kontemplatiewe. 'n Geestelike lees van Lukas 9





 Lewis Boman se voorstelling van die verheerliking  (onder) en Carl Bloch (bo).






 
‘n Mens kan met groot geleerdheid oor die mistiek skryf. Dit is iets wat baie kante het. Dit is ook ‘n verskynsel wat vele navorsers besig gehou het. En daar is soveel mistici wie se werke en lewe ‘n mens lank en intens kan bestudeer.

Maar die mistiek hoef nie ‘n duistere saak te wees nie. Trouens, daar is sekere basiese woorde wat ‘n mens help om die mistiek te verstaan en makliker daaroor te praat. Twee sulke sleutelwoorde is die oratiewe en die kontemplatiewe dimensies van die mistieke ervaring.

‘n Mens kan hierdie twee sake aan die hand van die Bybel illustreer. Deur bepaalde Bybeldele vanuit hierdie perspektiewe te lees, kan hulle vir ‘n mens Bybeltekste op ‘n nuwe, verfrissende manier oopmaak. Dan spreek nuwe dele van die Teks ‘n mens aan.

Hierdie twee belangrike begrippe kan ‘n mens as volg aan die boeiende verhaal van
Jesus se verheerliking op die berg verduidelik (Lukas 9:28-34). Die verheerliking is ‘n besondere belangrike gebeurtenis in Jesus se bediening. Dit is ‘n verhaal wat volg nadat Petrus vir Jesus bely as die Christus, die Messias, van God. Petrus kon nouliks iets belangrikers van Jesus gesê het. Die Messiasverwagting was diep in sekere Joodse groepe se toekomsverlange ingebed. Die Messias sou vir hulle die vrederyk inlei en uiteindelik weer die paradys herstel – daardie toestand wanneer God se mense weer volledig in God se teenwoordigheid sal wees en alle kwaad verwyder sou word.

Maar kyk na Jesus se reaksie op Petrus se belydenis: hy aanvaar Petrus se belydenis, maar wil ook vir Petrus laat weet dat Hy ‘n uitsonderlike, anderse Messias is. Hy gaan as Messias ‘n lydenweg loop en gedood word. Die vryheid wat Hy bring, is nie dit wat mense normaalweg onder vryheid verstaan nie. Hy is die lydende, dienende Messias wat sy lewe vir ander opoffer en wat ‘n ruimte skep waarin alle mense vry sal wees om mekaar te dien en vir mekaar om te gee.   

Hierdie episode word deur die meeste eksegete beskou as die belangrike draaipunt in Jesus se bediening. Dit is die oomblik waarop Jesus se lydensweg openlik bely word en wat die beginpunt van sy pad na die kruis is. Daarom staan daar in Lukas 9:51 dat Jesus die reis na Jerusalem begin het omdat die tyd van sy opneming vervul word. Hy gaan om te sterf. Dit is die weg wat tot sy heerlikheid as Messias lei. Aan die begin van hierdie reis na die heerlikheid, staan, vreemd genoeg, Jesus se verheerliking. Of: anders gestel: die weg na die ewige nabyheid van God begin by die oomblik van intense nabyheid by God.

Dit is op hierdie punt dat ‘n mens die verhaal vanuit die oratiewe dimensie kan lees. Die verhaal oor Petrus se belydenis word vanuit ‘n duidelike gebedsperspektief vertel. Aan die begin staan daar in Lukas 9:18 dat Jesus op ‘n keer alleen was om te bid. Daarna begin die gesprek met Petrus en volg Petrus se belydenis.

Op ‘n beslissende oomblik van Jesus se lewe wil Jesus met sy Vader in verbinding bly. Voordat Hy met sy dissipels in gesprek tree oor die geloofsreis wat op Hom wag, is Hy op sy knieë. Op die oomblik dat sy bediening ‘n keerpunt beleef en dat ‘n nuwe wending in sy werk aanbreek, is Hy by God in gebed. Dit is die oratiewe oomblik – die moment van verlange na God, om by God in gebed te wees. Hy wil niks begin nie  - hy wil nie eers begin om met sy dissipels oor sy weg te praat, sonder dat Hy nie sy verlange na God uitgebid het nie.

En sy dissipels sien dit. So leer ken hulle Jesus. Dit is die oratiewe kant van sy lewe wat hy vir hulle wys.  En so het hulle dit onthou. En so het hulle dit later aan alle ander oorvertel. Jesus die bidder wat in verlange by God is voordat Hy die pad van lyding op hom neem. Die geloofsreis word immer weer stap vir stap geneem, maar altyd weer in gesprek, maar veral in afhanklikheid van God. Later sou Jesus, in Getsemane se tuin, die aand voor sy kruisiging, weer biddend by God bly. Dit was die aard van sy geloofsreis.

Teenoor hierdie verhaal oor die onthulling van Jesus se lydensweg aan sy dissipels in Lukas 9:18-27, staan nou die verheerliking op die berg wat direk daarna volg (Lukas 9:28-36). Dit is ‘n boeiende verhaal omdat dit so ‘n helder verhaal is. Die hele vertelling loop oor van heerlikheid, lig, witheid en blink klere. Nie net Moses en Elia is daar in helder heerlikheid nie, maar Jesus self word gehul in heerlikheid. Jesus het sy lydensweg bekend gemaak, in biddende afhanklikheid van God. En God antwoord met die verheerliking.

Al hierdie motiewe is aanduidings van God se teenwoordigheid. Dit is die kontemplatiewe tyd. Nader aan God kan dit nouliks. Trouens, dit is so naby aan God, dat die dissipels vir God hoor praat. En kyk wat vertel God: “Dit is my Seun wat ek uitverkies het.” God bevestig aan Jesus die noue intieme verhouding tussen hulle – uniek soos met niemand anders nie. Jesus wat kies om die pad van self-opoffering te loop, word deur God die hoogste van alle gawes geskenk – die heerlike teenwoordigheid van God. Die pad van prysgawe van die self is die pad van heerlikheid.

Terwyl Jesus so pas verlangende gewys het dat Hy die weg met God wil loop, getuig God nou van Jesus se nabyheid aan God. Oor en weer, in ‘n besonder noue liefdesverhouding, is God en Seun saamgebind, is hulle aan mekaar verbind en verseker hulle mekaar van hul omgee en verbondenheid. In innige verbondenheid kontempleer God en Seun mekaar se teenwoordigheid.

En God deel hierdie heerlikheid ook met die dissipels.  Aan hulle wil God ook die rigting van die geestelike reis uitwys. Hulle moet ook die pad loop, al biddende. En terwyl hulle dit doen, het hulle ‘n gids: “Let op Hom, die Seun wat God uitverkies het”! (Lukas 9:35).

Die heerlikheid van hierdie verhaal transformeer die dissipels totaal. Hulle wat ‘n ruk tevore nog aan die slaap was (Lk. 9:32), sê vir Jesus: “Here, dit is goed vir ons om hier te wees.” God se teenwoordigheid is genoeg. Die heerlikheid van God bring mense tot rus. Dit is goed. Daarom wil hulle tent opslaan en nooit weer huis toe gaan nie. Dit is die kontemplatiewe oomblik – om in God se heerlike teenwoordigheid te wees. Om die lig te ervaar. ‘n Mens kan nie genoeg daarvan kry nie.

Die kontemplatiewe lewe is daardie merkwaardige oomblikke in ‘n mens se lewe dat die teenwoordigheid van God en die helderheid van God se spesiale en intieme nabyheid ‘n mens se bestaan deurgrondelik aanraak en deurdring.

Maar die mistieke lewe is nie altyd so maklik nie. Gedurig is die mens bewus van watter voorreg dit is om God se heerlike nabyheid te beleef. Langs die een oomblik van verheerliking is daar in Jesus se bediening baie dae van lyding, oorgawe en selfs die dood. Daar is dus ook  die tye van afstand, die tye dat die mens se blik op God verduister word, die tye van Godverlatenheid.

As die dissipels nog soveel vreugde oor die besondere tyd het, wil hulle sommer kortpad vat om by God te bly. En dan word hulle tot die besef gebring hoe anders God is. Jesus, Moses en Elia, word in die verhaal vertel, verdwyn in ‘n wolk. En “hulle het gevrees”, vertel Lukas 9:35. Dit is goed om by God te wees, maar altyd weer word ‘n mens bewus dat ‘n mens nie God is nie. Die mens kan nie die vaste staanplekke van die lewe uitwys nie. Immer, altyd weer is die besoek van God ‘n gawe. Niemand kan die kontemplatiewe lewe beheer en in vaste plekke domestiseer nie. Dit bly altyd weer ‘n geskenk.

Wat is dan die rol van die mens in die geestelike reis? Soos Jesus het die mens steeds weer die oratiewe instelling. Om God te volg, is om te bly bid.

Dit word veral duidelik in die verhaal van die verheerliking. Hier bo is daarop gewys dat Jesus voor die belydenis van Petrus gebid het om voor die oomblik van wending in sy geestelike reis vir God op te soek. Maar dieselfde gebeur aan die begin van die volgende verhaal oor die verheerliking. Want Jesus bid nie net voordat Petrus met sy belydenis kom nie. Hy bid ook voordat God Hom as die Geliefde Seun bely. In Lukas 9:28 staan daar dat Jesus 8 dae na Petrus se belydenis weer sy dissipels geneem het en op die berg gaan bid het. Dit is ‘n sterk simboliese handeling Daar is ‘n duidelike intertekstuele verband met die beroemde verhaal in Exodus 34:29-35 toe Moses op die berg die twee klippe ontvang het en met ‘n blink gesig teruggekeer het. Deur hierdie intertekstuele verband word die verlange van Jesus intenser geteken: Hy verlang om God te ervaar soos Moses dit op die berg ervaar het toe hy God se wil in die twee kliptafels ontvang het en die heerlikheid van God Moses tot in die lyf toe deurdring het.

Dit word selfs intenser. In die volgende vers, in Lukas 9:29 word die gebedsmotief herhaal. Dit is dus vir Lukas belangrik om die oratiewe aspek van die verheerliking op die berg te beklemtoon deur ten minste twee keer te vertel hoedat Jesus sy verlange na God uitspreek. En dan gee Lukas ‘n wonderlike insig in die verhouding tussen die oratiewe en die kontemplatiewe: Terwyl Jesus bid, het sy gesig verander en sy klere helder soos ‘n weerligstraal geword. Hier val gebed en teenwoordigheid van God saam. Oratiwiteit en die kontemplatiewe is een. Terwyl Jesus bid, word Hy vervul met die heerlike teenwoordigheid van God. God gee vir Jesus wat God vir Moses op die berg gegee het. God, die getroue, deel die heerlikheid met hulle wat daarna verlang.

Tog is daar selfs hier steeds weer die mineur-toon. Dit is alles so heerlik. Jesus se gebed, se verlange na God en God se teenwoordigheid by Jesus. En God skenk aan Jesus nog  meer: die ondersteunende, selfs troostende teenwoordigheid van Moses en Elia.

Maar in hul heerlikheid dink hulle nie aan tente oprig nie. Hulle, hierdie geloofshelde, weet: dit is in die tye van heerlikheid ook tyd om te praat oor Jesus se “eksodus” (soos die Grieks lui; Lk. 9:31) – oor die moeilike tye, die woestyntye wat op gelowiges wag. Hulle moet praat oor sy lydensweg wat op Hom wag in Jerusalem.

Om na God te verlang is om bereid te wees om ook die lied met die mineurklank te kan sing. Die oratiewe vertel dat geen pad te steil en te swaar is om in die goddelike liefde te kan woon nie. Swaarder as die lyding weeg die onvergelyklike ervaring om by God te kan wees. Juis daarom gee die mens alle op ter wille van die nabyheid van God (Lk. 9:23-27). Biddend is die gelowige mens op sy of haar knieë om God se wil vir die lewe te ontdek en te volg, waar ook al dit ‘n mens mag lei.

Om oor lyding te praat in die tye van heerlikheid is nie ‘n bedreigende ervaring nie. Die gelowige weet immers dat God se teenwoordigheid genadiglik tot die mens kom en dat dit stand hou selfs al gaan ‘n mens deur die dal van doodskaduwee.  Die kruis wat op ‘n Mens wag, word ‘n sagte las vanuit die wete van die goddelike heerlikheid.

En dit maak ‘n mens vry om eenvoudig net in God se liefde in te woon. Dit is genoeg om te hoor hoe God op al ons verlange en smekinge tot ons kom met uitsoekwoorde: Jy is Myne, ek het jou gekies. Dit gee genoeg krag vir die reis, hoe gevaarlik dit ook al mag word.


Tuesday, July 12, 2011

Die spore lê diep.




Hierdie berge moes hulle oor! Die foto by: http://www.pbase.com/arnomeintjes/image/95407262


Ek lees tans my tweede boek oor Piet Retief wat deur Gustav S. Preller in 1920 geskryf is en waarvan my kopie uit 1930 deel is van die tiende verbeterde en vermeerderde druk (vyftiende duisend). Ek is verras oor wat ek lees – dit noop my om weer ‘n keer oor Retief te skrywe (sien ‘n vorige blog).

Ons word dikwels beïnvloed om bietjie neer te sien op die Voortrekkers as wilderige, moeilike mense wat hulle min gesteur het aan die owerhede en net wou wegtrek om hul eie ding in hul eie land te gaan doen. Iewers in my agterkop spook iets hiervan in my eie argwaan om die boek wat 81 jaar oud is, te lees.

Retief was jare in diens van die Britse owerhede in die Kaap. Hy het die een na die ander hooggeplaaste amptenaar goed geken. Baie van sy briewe aan hulle en ook aan ‘n koerant soos die Grahamstown Journal is nog bewaar.

In sy eie handskrif, dikwels in Engels, maar ook in Nederlands, skryf hy oor die Boere se lotgevalle. Dit val my op hoe ordentlik hy die owerhede aanspreek. Iets van die Afrikaner se eerbied vir gesag kom dikwels in sy briewe na vore. Selfs as hy die aller-ongeskikste en onbeskofte briewe van die onder-goewerneur Stockenstrom terugkry, bly Retief ordentlik, beskaaf en eerbiedig in sy skryfstyl en aanspreekvorms. Die man se ordentlikheid maak ‘n mens eintlik skaam vir Stockenstrom se boelie-briewe.

Ek lees Preller dubbel versigtig: ek weet hy skryf uit ‘n simpatieke hoek. En vanuit ‘n hermeneutiek van suspisie wil ek sy uitsprake ook met ‘n knippie sout bylees. Daarom is die baie aanhalings uit Retief se briewe vir my so waardevol. Hier, na 174 jaar, lees ek nog sy eie woorde, uitgebreid aangehaal deur Preller. Nader kan dit nie. Dit is asof Retief by my sit en gesels. 

Dit is duidelik, besef ek as ek my oergrootjie-oom se briewe versigtig lees, dat Retief en die Voortrekkers tot die einde eindelose geduld aan die dag gelê het. Ek is ook weer verbaas oor die provokasie waaraan hulle uitgelewer is - al het ons dit van kleintyd af gehoor. Dit is opvallend, besef ek, met hoeveel minagting hulle soms behandel is. Vir jare en jare het hulle vasgebyt en die een vernedering en skade na die ander gely.

Totdat hulle nie meer kon nie. Maar eers het hulle vir oulaas die een versoek na die ander tot die owerhede gerig om hulle klagtes aan te hoor en die enorme probleme van plaasboere aan te spreek.

Toe dit op dowe ore val, het hulle uiteindelik die pad gevat.

Maar ook hier lees ek iets raak wat ek nie voorheen geweet het nie. Die Voortrekkers het heel aan die begin van hulle trek na hul nuwe woongebiede, ‘n groot byeenkoms van 2000 mense gehou het waarin hulle ‘n grondwet aanvaar het, die oppergesag van die reg en ‘n regstaat bevestig het en verskeie belangrike ampte ingestel het. Hulle het onderneem om hul leiers te eerbiedig en te gehoorsaam, asook om hulle te hou aan die Romeins-Hollandse reg in alle gevalle wat nie deur hulle Volksraadsbesluite gedek word nie.

In een van die besprekings word selfs na die grondwet van die Verenigde State verwys. Hier, aan die suidpunt van Afrika, in die woeste binneland, het mense geweet van die Amerikaners se verset teen die koloniale owerheid en die grondwet wat hulle gekryf het as die grondslag van hul nuwe land.

Dit is dus duidelik dat die Voortrekkers ‘n hoë premie op die gedagte van ‘n regstaat geplaas het. Hulle wou seker maak dat almal bewus is van wette wat gehoorsaam moes word en van gedrag wat aanvaarbaar sou wees. Ook wou hulle dadelik mense kies wat vir die uitvoering hiervan verantwoordelikheid sou neem.

‘n Mens merk hierdie gesindheid ook gou-gou in die praktyk. As die Voortrekkers op ‘n strafekspedisie uitgaan, gee Retief opdrag aan sy veldkommandante om “sorg te dra dat daar geen onskuldige bloed vergiet word nie, dat geen bediendes van watter klas of kleur ook al mishandel word nie en dat geen kinders van die inheemse bevolking ontvoer sal word nie.”

Retief, wat tot president/goewerneur gekies is en die verkiesing taamlik onwillig aanvaar het omdat hy gereken het daar is meer begaafde leiers as hy, het reeds in sy manifes van Januarie 1837 verklaar dat die trekkers “behoorlike wette” sal opstel en orals die beginsels van “ware vryheid” hoog sal hou. Later in daardie jaar skryf Retief en Maritz aan Goewerneur D’Urban ‘n brief waarin hulle hom versoek om toe te laat dat die trekkers hulle nuwe lewe ongesteurd kan voortsit en dat die Britte nie die inheemse bevolking teen die trekkers vyandig moet stem nie. Selfs in hul nuwe land wil hul die samewerking van hulle vorige koloniale meesters behou. Hulle wil dinge met samewerking aanpak en oplos. Daar is nie sprake van ‘n ordelose, eiewillige woeste weste tipe rowerstaat nie.

Ek lees met verwondering hoe Retief met gesag en met ordentlikheid skryf:  Ons gee te kenne “dat ons deur ons handel en gedrag die wêreld sal oortuig dat dit nimmer ons bedoeling was om enige nasie of volk onwettiglik te molesteer nie, maar dat ons inteendeel die hoogste waarde heg aan algemene rus en vrede jeens alle mense” (Preller 1930:133).

Dit is nie die enigste keer dat hierdie merkwaardige woorde uit Retief se pen vloei nie. In ‘n ander brief, hierdie keer aan ‘n Griekwa-kaptein skryf hy: “Geen nasie of stam van welke klas of kleur ook, sal deur my of my medeburgers gemolesteer word nie” (Preller 1930:115).

En dan praat ek nog nie oor die godsdienssin van die Voortrekkers nie. In hul grondwet word ook gesorg dat die geestelike versorging van die nuwe land sy behoorlike plek sal kry. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer. Vir my is die spiritualiteit van hierdie tyd ook te vind in die sensitiwiteit vir ander mense wat so duidelik in die Voortrekkers se grondwetlike besinning na vore kom. Vryheid vir hulle self is nie ten koste van vryheid van ander nie. Geweld is uit. Rus en vrede is die hoogste doel. So direk uit 1 Timoteus 2:1-2!

En daarmee hou ‘n mens iets kosbaars oor: In die bloed van die afstammelinge van die Voortrekkers sit ‘n diepe verset teen onreg. In die are vloei gevoelens van verdraagsaamheid, vertroue, maar ook ‘n diepe begeerte na vryheid wat rus en stilte sal inhou. Dit maak die geskiedenis wat in die volgende eeu sou volg, soveel meer traumaties.

Miskien nie eers so lank nie. Die trauma het gou gekom. Want kort nadat hierdie grondwet aanvaar is, het Potgieter en Maritz, gedryf deur hul eie menings en vooroordele, hul eie paadjie geloop. En dan, ‘n ruk daarna, as Retief die manifes van die Voortrekkers konkreet uitleef en vertroue wil kweek, boet hy met sy eie lewe.

Lank daarna sal mense egter nog verknog bly aan die verhaal van hierdie uitsonderlike man wat ‘n pad van integriteit geloop het en onwillig die swaar kroon van ‘n leier gedra het. Soveel so dat duisende eksemplare van ‘n boek oor hom in enkele jare verkoop word – en dit in moeilike depressie-jare.  Mense het die vermoë om verby die moord en verraad wat hom aangedoen is, te kyk. Maar meestal dink ek, veral as ek sien hoe die 2 000 Voortrekkers eintlik gewag het totdat Retief opgedaag het sodat hulle hom as president kan kies, is daar altyd iets onvergeetliks aan ‘n leier wat integriteit en waardes het. 

Blog Archive