Saturday, July 16, 2011

Jy het vir my klere gegee, water gegee, kos gegee. Oor ontferming en stakings.



Veelseggende foto van 'n staking elders in die buiteland....


Ek bekyk vanaand die nuus oor die huidige staking en hoor dat een van ons grootste maatskappye vir sy top-mense massiewe verhogings gegee het. Bonusse van oor die vyftig persent en salarisverhogings van oor die twintig persent. En dan wil hulle nie vir hulle werkers 'n fraksie daarvan as salarisverhogings gee nie. 


Ek gesels die afgelope paar dae met vriende en kollega's hieroor. Dit val my op watter diepe, wye en intense ongemak en onvrede in mense se gemoedere leef oor wat in sulke maatskappy aangaan. Laat niemand 'n vinger wys na die regerende party en sy korrupsie nie, merk hulle op. In sommige maatskappy gaan dit maar net so erg. My gespreksgenote gebruik harde woorde. Ek hoor sommige praat selfs van gierigheid en onmenslikheid. 


Ek weet dat kerkmense te maklik en te gou oor ekonomiese sake praat. Dikwels ervaar predikante dat ongekwalifiseerde mense vir hulle kom vertel wat hul teologies moet dink en glo. Predikante skud dan maar net hulle kop hieroor. Dus moet 'n mens maar ook hand aan eie boesem slaan: nie te gou praat oor ekonomiese dinge waarvan 'n mens nie baie weet nie of waarvan 'n mens nie die kompleksiteit begryp nie. Ek weet dat die vakbondwese ook sy skadukante het. En ek is ook bewus daarvan dat die arbeidswetgewing groot druk op maatskappy plaas. En almal besef dat die huidige ekonomiese klimaat uiters moeilik is. 


Daarom moet 'n mens nie te gou oordeel nie. En ook nog minder te vroegtydig veroordeel.


Maar dit opgemerk, bly die situasie 'n mens kwel. Iemand skryf die week in die media dat besigheidsleiers voorheen by geleentheid pertinent by hul werkers aan huis gekom het om op hoogte te bly van hoe hulle werkers buite die werk leef.. Deesdae gebeur dit blykbaar al hoe minder. En dit, skryf die persoon, vergroot die gramskap tussen werknemers en werkgewers. 


Kyk, argumenteer hulle: As daardie besigheidsleiers in die huis van een van hulle werknemers instap waar daar skaars elektrisiteit of lopende water is, waar 'n uitgebreide gesin van talle deur een salaris aan die gang gehou word, waar kinders dikwels eerder as soms honger gaan slaap, waar mediese skema's nie bestaan nie, waar pensioen 'n vreemde woord is, waar kinders se skoolgeld betaal moet word, waar daar nie genoeg komberse is om die koue van die nag buite te hou nie, waar 'n reusedeel van die salaris bestee word aan petrolgeld om by die werk te kom, waar winterreens krothuisies oorstroom - sal die land van ons dalk anders begin lyk.


Nou die dag kom die sekuriteitswag hier oorkant ons plekkie na my gestap. Sy kind het skielik baie siek geword. Hy moet dadelik dokter toe. Maar hulle het nie R50 om vir die dokter te betaal nie. Die gewoonlik vriendelike, gelowige en uiters pligsgetroue man is duidelik angstig. 


Hy het 'n goeie werk. Hy is nie een dag siek nie. Hy werk soms skofte deur die nag. Hy dien op die plaaslike polisieforum. Hy hou die dwelmsmouse in ons dorp dop en rapporteer hulle bewegings aan die polisie. 


Maar hy het nie R50 om sy kind na die hospitaal toe te neem nie? Hy oorleef van dag tot dag?


'n Mens hoef nie 'n handewringende pienk liberalis met sentimentele houdinkies te wees om te weet dat iets is hier nie reg nie. 


Ek moet dus bely. Ek het my teensin teen stakings, waarmee ek groot geword het en wat so vreemd aan my kultuur is, oorkom. My simpatie is met die stakers, moet ek eerlik erken. 


Daarom was ek meer as trots toe die leier van 'n bekende Afrikaanse vakbond vanaand oor die televisie in sy moedertaal, Afrikaans, en as 'n mens met integriteit, met goeie, helder argumente gewys het hoe onvermydelik en belangrik die staking is. Dit is nie 'n kwessie van ras nie. Dit is ook nie 'n kwessie van Afrikaans teen ander nie. Dit is 'n kwessie van reg en verkeerd. 


In Spiritualiteit was daar beroemde mistici soos Dorothy Day wat vreesloos die saak van die werkers verteenwoordig het. Sy was uitgeskel vir 'n kommunis en is deur die magtige besigheidskringe erg bygekom. Maar haar passie vir die werkers het niks met politiek te doen gehad nie. Dit is gebore uit 'n sin vir menslikheid, uit 'n gevoel van ontferming. En ontferming, of barmhartigheid, weet ons, is 'n sleutelwoord in Spiritualiteit. Salig is hulle wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word, het Jesus immers duidelik vertel. En daarmee het Jesus nie bedoel dat 'n mens 'n rand of wat in 'n bedelbakkie sal gooi nie. Daarmee het Jesus bedoel dat 'n mens aan ander gun wat jy vir jouself vra. Wie jy as mens is, is wat jou naaste ook moet wees.  


Dit val my ook op dat besigheidsmense in ons land goeie mense is. Hulle is selfs geestelike mense. Wat is dan fout met ons land dat ons een van die grootste gapings tussen ryk en arm oor die aardbol heen het? Moet dit nie die tema bo-aan die agenda van besigheidskringe wees nie? Dit is immers 'n saak van lewe en dood. Jesus het ontferming deurslaggewend gemaak: Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink. Ek was honger, en julle het My iets te ete gegee. Ek was  'n vreemdeling en julle het My gehuisves. Ek was sonder klere en julle het vir My klere gegee, siek en julle het My verpleeg. Ontferming is 'n sleutelwoord in spiritualiteit. Soms, as ek die Bybel lees, dink ek dit is die sleutelwoord in spiritualiteit. 


Daarom is dit nou 'n tyd dat besigheidsmense oor ontferming moet praat. Nie in netjiese teoriee nie. Maar soos Jesus in keiharde, konkrete terme. 


En wanneer laas het 'n mens die kerk hieroor gehoor? En 'n preek hieroor gehoor? Matteus 25 is in hierdie tyd 'n sleutelteks vir die prediking. Laat niemand Jesus se vermaning in daardie hoofstuk mislees nie. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive