Sunday, July 10, 2011

Om in God se plan te wees. Oor geluk




‘n Mens beplan groot dinge. Versigtig bedink ons waar ons graag eendag wil wees.

En so bly ons besig met onsself. Al ons ideale, begeertes, drome en berekeninge is ingestel op onsself.

Skryf Bonhoeffer.

En dan: wanneer die planne ‘n werklikheid word, ontdek ons alleen maar onsself.  

As die konsert verby is, is die toneel vol opgefrommelde rommel. Terug in die harde werklikheid. As die applous oor is en die ligte gaan aan, begin alles maar weer gewoon lyk. Terug na die harde werklikheid. Opnuut weer van vooraf planne beraam en sukses jaag. As die kollega's kom gelukwens het met die bevordering, of die kiesers met die verkiesing, is dit ook weer verby. 

Hoe anders dan? Ons planne is mensgemaak en op onsself ingestel.

Kinders van die wind?

Daar is ‘n alternatief:  ons begeerte kan op iets heel anders gerig wees: ‘n Mens kan jou instel op God se planne met jou lewe. Soekend, verlangend, vol begeerte kan ‘n mens elke dag in afhanklikheid vra wat God van ‘n mens wil hê.

Dit beteken dat ‘n mens steeds weer, elke oomblik, die verborge dinge sal soek en sal verlang na dit wat werklik saak maak. En heel dikwels sal dit alles nogal anders lyk as wat "mense" vir ons sê. 

Wanneer ‘n mens so in God se plan leef, ontdek ‘n mens dat ‘n mens by God is. Elke dag weer is daar hierdie innerlike vrede dat ‘n mens in God rus gevind het. En hierdie plek van rus is waar God wil hê ‘n mens moet wees.

Hoeveel kere hoor ‘n mens dit nie? Oor en oor: as die wêreld se beroemdes moet sê wat vir hulle werklik saak maak, twyfel hulle nie. Dit is nie die roem en die sukses en die applous nie.

Dit is om die kantoor agter jou toe te trek, om by die konsertsaal uit te stap, huis toe. Na liefde, omgee, geborgenheid, rus. Dit is om na die bevordering die nuwe kans te gebruik om dinge menslik te maak, om mense heel te laat word, om om te gee. Dit is om as suksesvolle kunstenaar te bly skep aan wat geestelike vervulling bring. 

In enige sukses wat om jouself gaan, is die einde leeg - hoe lekker en mooi en opwindend die oomblikke van applous ook al is. Belangriker is dit om waar ook al, ook in die roem, te gaan vra waar is God in al hierdie dinge?

Wat saak maak, regtig saak maak, volgens Bonhoeffer, is dat ons daar moet wees waar God is. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive