Wednesday, July 27, 2011

Die roos wat deur die beton gegroei het Oor 'n Gekwelde mens se roep om ontferming.

Die Amerikaanse Tupac Shakur, bekend as 2 Pac, het as een van die beroemdste rappers van ons tyd meer as 70 miljoen plate verkoop. Sommige plaas hom onder die top 100 hiphop sangers van alle tye.


2 Pac het in Haarlem, die groot, berugte woonbuurt in Manhattan in groot armoede grootgeword as deel van ‘n gesin waarvan sommige gesinslede dikwels in die tronk beland het. Sy stiefpa was selfs vir vier jaar lank op die lys van die 10 mees gesoekte kriminele in Amerika.


Later, nadat hulle verhuis het, het hy as skoolseun in ‘n kunsskool beland waar hy musiek en toneel gedoen het. Hy was baie gewild by sy skoolmaats, veral omdat hy ‘n grapjas was, baie goed met almal klaar gekom het en ook omdat hy van jongs af so goed kon rap. Dit was goeie tye, want hier het hy ook boesemvriende geword met Jada Pinkett en ‘n vriendskap met haar opgebou het wat hy later beskryf het as iets wat net een keer oor ‘n mens se lewenspad kom.


Sy kletsliedjies was donker, deurtrek met die die atmosfeer van krottoestande van die mense aan die rand van die samelewing. In sy liedjies het hy gedurig oor hierdie ellendige toestand in die arm woonbuurte van mense in Amerika gerap, oor die groot stad met al sy misdaad, armoede, diskriminasie, geweld en swaarkry.


In een van sy bekendste rapliedjies (Changes) praat hy van homself wat uit die gutter gekom het. Dit is hoe hy oor sy omgewing gedink het.


2Pac se lewe was self in baie opsigte vasgeval in ‘n moeras van kriminaliteit, dwelms, geweld, armoede en aanvalle op mense. Op ‘n stadium is groot opspraak veroorsaak toe ‘n tiener ‘n polisieman se dood veroorsaak het terwyl hy na ‘n liedjie van 2Pac geluister het waarin oor die moord op polisie gesing is. Woedende politieke leiers het geëis dat sy musiek aan die mark onttrek word en hom die skuim van die land genoem. Hy het self ook dikwels met die polisie gebots. Op een stadium het hy twee polisiemense geskiet, maar die saak teen hom is later teruggetrek. Op ‘n ander keer het hy in die tronk beland oor die aanranding van ‘n vrou. In 1994 is hy vyf keer in ‘n hotel in Manhattan deur twee gewapende mans geskiet. Hy was in 1996 net 25 jaar oud toe hy in Las Vegas doodgeskiet is. Hy het vroeër die aand iemand in ‘n hotel bygedam en aangerand. Enkele ure later het ‘n motor met vier mans langs syne gery en hom met verkeie skote gewond en platgeskiet. Hy is later in die hospitaal dood.


Tog kon2 Pac ook sing oor hoop, oor humor en oor die ligtheid van die lewe. Sy laaste album het ‘n nuwe fase in sy lewe begin. Dit is “All Eyez on Me” genoem. Daarin wou hy hy die kosbaarheid van die lewe besing en vir mense ‘n positiewe lewensgevoel voorhou.


Dat dit nie sommer net stories was nie, blyk uit al die boeke waarmee hy hom besig gehou het. Hy was ‘n ywerige lewer van skrywers vanaf Shakespeare tot Khalil Gibrain!


Maar die diep kant van 2Pac sien ‘n mens in ‘n allermerkwaardige gedig wat hy gerap het. Die woorde daarvan lui:


Did you hear about the rose that grew from a crack in the concrete? 
Proving nature’s law is wrong it learned to walk without having feet. 
Funny it seems, but by keeping its dreams, it learned to breathe fresh air. 
Long live the rose that grew from concrete when no one else even cared.
Hier praat 2Pac oor die gedig:






In hierdie lied gaan dit om egte spiritualiteit: God kan die barre beton, hard, doodsmorend van enige lewe, oopbreek – dikwels net met ‘n dun krakie. En, ondenkbaar, uit daardie kraak, uit die nes van ondankbaarheid waarin mense wil verdrink, kan ‘n roos groei en kan verwondering opgeroep word. 


In die onderstaande video verduidelik 2Pac dat hy daarmee wou sing van die mens se uitkomkans uit die donker, lewe-vernietigende ghetto van armoede. Hy praat oor die jeug wat in totale armoede sonder enige ontferming groot word. Hy praat oor mense wat in hul harde omgewing deur die hardheid van ander verder vernietig word. 


Maar somtyds kan dit verander. As ‘n mens iemand sien wat uit sulke omstandighede kom, iemand wat nooit enige meelewing en ontferming beleef het nie, maar wat tog bo dit uitgestyg het, iemand wat jou laat lag en laat huil en jou boei, dan oorweldig dit jou. Jy praat nie oor die lelike, die donkerte nie, maar jy reik vol ontferming uit na so ‘n persoon. 


Met hierdie woorde sien ‘n mens iets van die diepe verlange van ‘n jongman na die beter lewe, na ‘n lewe vol sin, wat in omgee gedeel kan word met ander.


Nog aangrypender is dan hierdie kort snit waarin 2Pac oor God sing: 


Dink 'n mens aan sy lewensverhaal, kan 'n mens nouliks iets meer rou ervaar. Hier is die video (kliek op die link na YouTube in die prentjie se middel):




Ek val terug op baie woorde van Jesus terwyl ek hierdie geskiedenis van die beroemde, en tog gekwelde man lees. Die gelykenisse van die tollenaar en die verlore seun kom by my op. Die moordenaar aan die kruis...  Jesus se solidariteit met die tollenaars, die prostitute, die sondaars waarvoor ander so woedend vir Hom was, kom by my na vore. 

Die geestelike reis, dit het die mistici van alle tye vir ons geleer, is 'n reis in die duister waartydens 'n mens gedurig teen die demone in en om jou aan die stry is. Soms sien 'n mens God raak in sulke reisigers se lewe - al is dit net vir 'n oomblik wanneer hulle die verborge dinge aanvoel en op 'n aangrypende manier verwoord.  Mistiek is nie altyd romanties en mooi nie. Dit is dikwels soos daardie roos wat slegs in die klein krakie van die groot stukke beton kan deurbreek. 

Praat van moderne mistiek.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive