Thursday, July 07, 2011

Die ewige gawe van helder, goddelike lig. Bybelstudie oor Openbaring (25).




Die ewige gawe van helder, goddelike lig. Bybelstudie oor Openbaring (25).

Openbaring 2:38. Aan die een wat oorwin, sal ek die môrester gee.

In Tiatira, het ons gesien, is die situasie moeilik. Aan die een kant is daar ‘n groep in die gemeente wat hul geloof op ‘n sinvolle manier ervaar en beleef. Hulle het baie liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding. Hulle vorder in die geloof en doen telkens weer meer as ooit tevore (Open.2:19). Hulle groei sterk in die geloof.

Maar aan die ander kant loop dinge in die gemeente verkeerd. Daar is ‘n groep mens wat hul verhouding met God skade aandoen. Hulle hou hulle besig met dinge wat hul geloof afbreek. Hulle is die volgelinge van Jesebel, die verleier, wat mense op afdwaalpaadjies laat beland.


Christus roep die getroue groep om te volhard in al die sinvolle dinge waarmee hulle besig is. As die toegewyde groep volhard, sal hulle mag en gesag oor die nasies ontvang (Open.2:26-27). En, daarby, volgens Openbaring 2:28, die Môrester.

Op die oog af klink dit vir ‘n moderne mens vreemd. ‘n Môrester as gawe ontvang?

Maar in Johannes se tyd, toe mense uit die Bybelse simbole geleef het, sou hulle kon dink aan ‘n belangrike simbool uit die Ou Testament. Gelowiges sal eendag soos sterre aan die hemel skitter. Jesus, dink sommige, beloof dus aan die mense die ewige lewe.

Maar dit is nie eintlik waarom dit gaan nie. Wat die belofte beteken, leer ‘n mens aan die einde van die boek. Daar stel Jesus hom voor aan die gehoor van Openbaring: “Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”

Die beeld van die Wortel kom uit Jesaja 11:1. In die tyd van Johannes is die gedeelte met die Messias se koms verbind: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.” Hier word die teks ‘n beeld vir Jesus as Messias uit die stam van Dawid. Jesus is dus die een uit die geslagslyn van Dawid. Hy is die afstammeling van Dawid (Open.5:5). Hy is die Dawidiese Messias – hy sal die groot, roemryke koninkryk van Dawid in die eindtyd weer vestig.

Maar Jesus is terselfdertyd ook meer as Dawid. Hy is volgens Openbaring 22:16 die Wortel waaruit Dawid voortkom. Dit het spesiale betekenis: Lank voor Dawid, was Jesus al daar. Van die begin af het hy bestaan. Dawid is eintlik die een wat van Hom gestam het.... Hy is immers die Een deur Wie God alles geskep het! (Open.3:14).  Johannes teken dus weer eens ‘n verhewe beeld van Christus as die Een wat van alle tye by God was.

Vir die skrywer van die Openbaring was Jesus die eintlike Magsfiguur.

Hierdie teks in Openbaring 22:16 is ook gekoppel aan Numeri 24:17: “Daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser uit Israel op.”

Die Môrester wat aan die getroue groep in Tiatira beloof word, is dus die Messias. Die koms van die Môrester wys op die Messiaanse tyd wat aan die deurbreek is.

Openbaring 22:16 verduidelik dus watter spesiale belofte in Openbaring 2:28 aan die gemeente van Tiatira gemaak word.

Hulle ontvang die Môrester. Maar hierdie naam is maar net die begin. Later sal die lesers van Openbaring hoor Hy is boonop die “helder” Môrester. Soos die Môrester vroeg oggend blink skyn voordat die dag kom, so skyn Christus van die begin af.

Maar in Openbaring is die uitspraak mistiek: Chistus sê duidelik: “Ek is” die Môrester. Hy stel hom voor as die Een wat die beloofde Messias se heerskappy bring.

Wie volhard, ontvang die Môrester. Christus self word aan hulle wat getrou bly, geskenk. Hulle kry veel meer as ‘n koninkryk. Hulle word deel van ‘n verhouding met die Messias-Koning.

Die is soos die sakrament van die brood en die wyn. Wie naby aan God leef, sal die vreugde van ‘n intieme verhouding met God deur Christus beleef.  Dit is ‘n waardevolle geskenk van God: die ewige Christus, wat van alle tye af daar was, word nou vir die mens as gawe gegee. Kosbaarder kan dit nie.

Daar is baie ironie in die gedeelte. Vir die Romeine was Venus die môrester. Romeinse keisers het graag vertel dat hulle van Venus afstam. Daarom het die Romeine tempels gehad waar Venus vereer is. Die Romeinse soldate het ook die teken vir Venus op hul vlag aangebring. Die lesers van Openbaring word dus herinner: wie aan Christus behoort, is vry van aardse mag en gesag. Hulle behoort aan die Messias en sy ryk.

In Openbaring 22:16  gebeur iets opvallends. Dit is die eerste keer sedert die begin van die boek dat die lesers direk aangespreek word. In Openbaring 1:4 en 9 is die lesers ook direk genoem. In 1:9 praat Johannes met hulle. Maar hier praat Christus met die lesers. Opnuut weer word gesê dat die boek vir “julle” gestuur is. En die boek is die woorde van Christus, die Môrester wat helder van die begin van alle tye af geskyn het as ‘n ligglans vir die nasies. Wie getrou bly aan Christus, sal in Sy teenwoordigheid ingaan en met Hom in ‘n intieme verhouding leef.

Die lesers kyk nie nuuskierig na ‘n klomp interessante gegewens oor Jesus nie. Hulle word ingetrek in ‘n verhouding met Christus. En wie in ‘n verhouding met Christus ingetrek word, kan nie dieselfde bly nie. Sy of haar lewe verander onherroeplik.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive