Monday, July 11, 2011

Twee misverstande oor die mistiek


Bellini: Johannes die Doper se prediking

Daar is twee dinge omtrent die mistiek wat dikwels misverstaan word. Mense dink foutiewelik mistiek het te doen met ‘n ongebalanseerde selfverloëning of met ‘n ongesonde wêreldmyding.

Die eerste misverstand het te doen met die effek van die mistieke ervaring. Wanneer ‘n mens liefdevol deur God aangeraak word, word ‘n mens in ‘n nuwe lewe ingevoer. Dan begin ‘n mens met jou geestelike reis en ‘n mens kom nooit weer daarvan los nie. Die Gees van God brand vir altyd in ‘n mens 'n verlange om by God te wees.

Hiermee kom ‘n mens by ‘n eerste opvallende punt uit: Die verlange na God bring ‘n nuwe siening oor jouself na vore. Onmiddellik kom Johannes die Doper se blye opmerking in Johannes 3:30 na vore: “Hy moet meer word en ek minder.” Dit is een van die mees mistieke opmerkings in die Nuwe Testament waarin Johannes wys hoe diep sy ontmoeting met Christus hom geraak het - tot op die punt dat hy verlang na Christus se steeds groterwordende teenwoordigheid in sy bestaan. 

Die mistikus is steeds weer bewus hoe daar in sy of haar binneste nie genoeg ruimte is vir die vlam van God se liefde nie. Die keersy hiervan is ‘n nietigingsproses wat plaasvind. Die aangeraakte mens weet hoe sy of haar eie dinge in die pad staan van die liefde.  

Jesus druk dit op ander maniere uit: iemand wat deel het aan God en God se ryk, verloor sy siel. Hy verlaat alles. Hy kan nie genoeg van hom/haarself en eie belange kwytraak nie om tog net die kosbare, groot skat van die Koninkryk te beërwe.  Alles wat menslike gesproke so hoog, so belangrik, so gesog is, is nietig in die lig van wat ‘n mens by God kan vind. 

Die mistikus reken niks as waardevol in vergelyking met God en God se gawes nie.

Dit is ‘n geestelike ingesteldheid wat vir sommige mense vreemd sal klink. Hulle sal dit as so bietjie oordrewe, miskien selfs as geesdrywery sien.

Maar dit is nou hier waar daar nie ‘n misverstand kan wees nie. In ou taal het ons gepraat van die prysgawe van die “eie ek.” Die “eie” is die geheim van hierdie uitdrukking. Die self-ingenomendheid, die pretensies van die “ek”, die self-sug selfs – dit is wat hier op die spel is.

Die mistikus is iemand wat hom of haar ten volle inspan vir God se ryk van die liefde. ‘n Mens kan die geestelike reis net met inspanning, toewyding, heiligmaking, ‘n lewe vol van die vrugte van die Gees aflê. Daar is by die geestelike mens ‘n verstaan van sy of haar roeping om die koninkryk te laat kom. In gehoorsaaamheid aan God gee ‘n mens vir God die beste en die deeglikste van jou lewe. 

Maar steeds weer is dit ‘n inspanning wat nie om ‘n mens self gaan nie, maar soek om die mooiste in God se wereld na vore te bring. Dit hang saam met ‘n grondbeginsel in die mistiek: in die eenwording met God gaan die mens nie op in God nie, maar word die mens in liefde met God verenig. God en mens is die twee pole in die liefdesverhouding en albei behou hul identiteit. Die geheim is juis dat die identiteit daarin bestaan dat die mens sy “ek-heid” eers sinvol ervaar in die lig van die verhouding met God. Op sy eie, op haar eentjie, kan die mens nie egte liefde beleef nie.    

Hiermee hang ‘n tweede misverstand saam. Iemand wat vir God lief het, leef nie wêreldvreemd nie. Trouens die egte mistikus is die een wat ‘n passie vir God se wêreld het. Die mistikus verwerp en bestry onreg. In ekologiese mistiek, byvoorbeeld, word gesoek om God se verborge wil vir hierdie wêreld en in die wêreld na te kom. In eerbied teenoor die skepping stry die gelowige mens teen alles wat God se skepping tot niet maak.


Die mistikus is dus juis nie wêreldvreemd nie. Dink maar aan hoe Merton himself ongewild gemaak het in sy stryd teen uitbuiting en oorlog. Of dink maar aan die manier waarop Andrew Murray in Wellington 'n hele sisteem van opheffingswerk aan die gang gesit het. 

Die mistikus neem God se wêreld terug en wil dit ‘n plek maak waar God se eer tot sy reg kom. Dit geld ook vir die mens se verhouding tot ander. Intiem en spesiaal en blywend kom die Goddelike liefde in ‘n mens se innerlike woon. Tog kan hierdie liefde nie in die mens se innerlike opgesluit word nie. Dit vloei deur na ander. 

Eintlik hang hierdie twee dinge saam: om jouself op te gee, beteken om jou beheptheid met jou eie dinge te los. In die plek daarvan kom ‘n liefde vir God, God se wêreld en God se skepsels. En wanneer ‘n mens weg van jouself leef, kom daar, helder en onmiskenbaar in jou geestelike reis ‘n passie vir geregtigheid na vore.

En die vreemde is dat hierdie gerigtheid op God vir ‘n mens innerlike vryheid en vrede bring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive