Thursday, July 28, 2011

Deur die Bybel word God 'n reisgenoot. Oor Thomas a Kempis, Die Navolging en Paulus.

Ek lees vanoggend weer die volgende aanhaling van Huls oor die Navolging van Christus:


“Thomas a Kempis presents us with a collection of thoughts capable of transforming us little by little into total comformity with Christ, the perfect image of God. His book does not present a roadmap for the spiritual journey, but starts by introducing us to mystagogic reading of Scripture so that God himself may become our spiritual accompanist” (Huls 2006:68).


Dit is hoe spiritualiteit oor Bybellees praat: 'n Mens lees die Bybel op so 'n manier dat jy bewus raak daarvan dat God daarin en daardeur vir jou op jou geestelike reis begelei. 


Dit beteken dat die Bybel nie bekyk word om te sien watter "waarhede" dit bevat sodat ons dit kan aanvaar nie. Of dat die Bybel 'n boek vol voorskrifte is oor hoe 'n mens se lewe nou moet lyk of nie moet lyk nie. 'n Mens doen ook nie "Bybelstudie" in die sin dat 'n mens bloot net die inhoud van die Bybel wil ontleed nie.


Die Bybel wil, trouens, nie die aandag op homself vestig nie. Vir Thomas het die Bybel veral waarde in soverre as wat dit vir ons na God toe wys en die mens laat besef dat hy/sy nie die geestelike pad alleen loop nie. 


Die Bybel wil God teenwoordig onder mense maak.


Thomas van Kempen het sy boek geskryf om mense hiervan bewus te maak. Die "Navolging van Christus" word sy boek genoem, waarmee hy aandui dat 'n mens in die voetspore van Christus die weg met die Vader bewandel.


Hoeveel mense sien die Navolging as wettiese en moralisties - as "nabootsing" van Christus. Hulle is krities oor die boek: hoe kan iemand ooit daaraan dink om Christus na te boots en hoe kan Thomas van mense verwag om soos Christus te wil wees. Daar sit vir hulle byna iets lasterliks aan die idee. Dikwels word Thomas daarom verwyt dat hy werkheiligheid" in die hand werk.


Maar Thomas kan nie op die manier gelees word nie. Hy wil juis deur 'n verbondenheid met Christus in die genade van God se teenwoordigheid kom. 


Dit besef 'n mens wanneer Thomas se boek met die Nuwe Testament vergelyk word. Paulus skryf in 1 Korinte 2:16: Gelowiges kan alle dinge beoordeel want hulle het die "sin" van Christus. 


Die opmerking oor die "sin" van Christus moet 'n mens in die konteks van die gedeelte verstaan. Dit gaan hier om die werking van die Heilige Gees in mense se lewens waardeur hulle "geestelike" mense word wat dinge "geestelik" verstaan. 


Op diep mistieke manier skryf Paulus in die vorige verse van die diepste geheimenisse van God (vers 10) wat die Gees bekend maak, van die "verborge" dinge van God wat die Gees ken. Hierdie Gees wat soveel van God weet, word nou aan gelowiges uit genade geskenk (vers 12). Gelowiges ervaar deur die Gees dus die mees intieme verborgenhede van God. 


Paulus sluit die deel af dat mense wat die Gees nie het nie, dink die dinge van die Gees is onsin (vers 14). Maar mense in Christus het die Gees van Christus en deel dus in "wysheid" van God. 


Paulus skryf duidelik oor hierdie wysheid wat mense ontvang en wat hy met sy evangelie verkondig (vers 7). Die wysheid is die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir gelowiges bestem het tot hul ewige heerlikheid. 


Deur die wysheid word mense "verheerlik." Die begrip heerlikheid is 'n hoogs mistieke begrip in die Nuwe Testament. Dit wys op die besondere teenwoordigheid van God (Eseg.1 bv) waaraan mense in geloof deel kry en wat hul bestaan totaal transformeer. 


Geloof bring dus 'n totale omvorming van mense. Mense word tot "heerlikheid" omvorm. Dit is nie menslike wysheid nie. Dit gaan om God se werking in mense se lewens waardeur hulle tot 'n besondere status verhef word: mense kan uit die intense nabyheid aan God leef. 


Paulus "verkondig" hierdie wysheid. En daarmee wys hy 'n sleutelbegrip uit. Die Bybel as Pauliniese verkondiging is gerig op die mens se transformasie in Goddelike heerlikheid. Die mens ervaar deur die evangelie God se diepste geheimenisse, die verborge dinge van God. Die Bybel is dus bedoel om vir mense in hul  geestelike reis tot 'n intieme verhouding met God te bring: in geloof is die mens op pad met God, nou al, maar uiteindelik in volle heerlikheid in God se teenwoordigheid Self. Dit is God wat deur die Bybel met die mens op pad is. God is die mens se begeleier, se reisgenoot. 


Eintlik gee Thomas se titel ook hierdie insig eer. Om Christus te kan volg, moet 'n mens gedurig in die Bybel bly - want dit is waar Christus geken word. 


Aldus moet 'n mens die Bybel lees: gedurig, elke keer weer, met die oopheid dat God daardeur in Christus sal spreek.


Dit is nie maklik nie. Die gemeente van Korinte wys dit duidelik uit. Hulle was 'n klomp bakleiers wat mekaar gedurig in die rug gesteek en belaster het. Intussen het hulle hoogheilig in tale gespreek en wonders nagejaag. 


En intussen was hulle leeg in die Liefde, was hulle onderling verdeel en het hul van die reis met God weggeswenk. 


Mense wat saam met God reis, staan elke dag verwonderd oor die diepste geheimenisse van die Liefde. Hulle volg Christus, hulle leef in die "sin" van Christus: in 'n intieme liefdesverhouding met God, maar dan in 'n gesindheid van diens en omgee vir ander - soos God omgee en lief het. 


Dit wil Thomas gedurig in die Navolging beklemtoon: Laat die Bybel jou gelykvormig maak aan Christus - soos Paulus dit wou gehad het. En kom dan steeds weer in verwondering voor God se teenwoordigheid in Christus te staan. 


Hoe totaal Thomas dit geglo het, kom 'n mens agter uit die laaste boek van die Navolging wat gelaai is met mistieke oomblikke van oorgawe aan God se teenwoordigheid. (Deel vier - wat in sommige uitgawes verkeerdelik met deel drie, wat oor die nagmaal gaan, verwar word). 


Thomas noem sy laaste boek: die boek van innerlike vertroosting. Want dit is wat met mense gebeur wat in die geselskap van God reis. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive