Lewis Boman se voorstelling van die verheerliking (onder) en Carl Bloch (bo).
‘n Mens kan met groot geleerdheid oor die mistiek skryf. Dit is iets wat baie kante het. Dit is ook ‘n verskynsel wat vele navorsers besig gehou het. En daar is soveel mistici wie se werke en lewe ‘n mens lank en intens kan bestudeer.
Maar die mistiek hoef nie ‘n duistere saak te wees nie. Trouens, daar is sekere basiese woorde wat ‘n mens help om die mistiek te verstaan en makliker daaroor te praat. Twee sulke sleutelwoorde is die oratiewe en die kontemplatiewe dimensies van die mistieke ervaring.
‘n Mens kan hierdie twee sake aan die hand van die Bybel illustreer. Deur bepaalde Bybeldele vanuit hierdie perspektiewe te lees, kan hulle vir ‘n mens Bybeltekste op ‘n nuwe, verfrissende manier oopmaak. Dan spreek nuwe dele van die Teks ‘n mens aan.
Hierdie twee belangrike begrippe kan ‘n mens as volg aan die boeiende verhaal van
Jesus se verheerliking op die berg verduidelik (Lukas 9:28-34). Die verheerliking is ‘n besondere belangrike gebeurtenis in Jesus se bediening. Dit is ‘n verhaal wat volg nadat Petrus vir Jesus bely as die Christus, die Messias, van God. Petrus kon nouliks iets belangrikers van Jesus gesê het. Die Messiasverwagting was diep in sekere Joodse groepe se toekomsverlange ingebed. Die Messias sou vir hulle die vrederyk inlei en uiteindelik weer die paradys herstel – daardie toestand wanneer God se mense weer volledig in God se teenwoordigheid sal wees en alle kwaad verwyder sou word.
Maar kyk na Jesus se reaksie op Petrus se belydenis: hy aanvaar Petrus se belydenis, maar wil ook vir Petrus laat weet dat Hy ‘n uitsonderlike, anderse Messias is. Hy gaan as Messias ‘n lydenweg loop en gedood word. Die vryheid wat Hy bring, is nie dit wat mense normaalweg onder vryheid verstaan nie. Hy is die lydende, dienende Messias wat sy lewe vir ander opoffer en wat ‘n ruimte skep waarin alle mense vry sal wees om mekaar te dien en vir mekaar om te gee.
Hierdie episode word deur die meeste eksegete beskou as die belangrike draaipunt in Jesus se bediening. Dit is die oomblik waarop Jesus se lydensweg openlik bely word en wat die beginpunt van sy pad na die kruis is. Daarom staan daar in Lukas 9:51 dat Jesus die reis na Jerusalem begin het omdat die tyd van sy opneming vervul word. Hy gaan om te sterf. Dit is die weg wat tot sy heerlikheid as Messias lei. Aan die begin van hierdie reis na die heerlikheid, staan, vreemd genoeg, Jesus se verheerliking. Of: anders gestel: die weg na die ewige nabyheid van God begin by die oomblik van intense nabyheid by God.
Dit is op hierdie punt dat ‘n mens die verhaal vanuit die oratiewe dimensie kan lees. Die verhaal oor Petrus se belydenis word vanuit ‘n duidelike gebedsperspektief vertel. Aan die begin staan daar in Lukas 9:18 dat Jesus op ‘n keer alleen was om te bid. Daarna begin die gesprek met Petrus en volg Petrus se belydenis.
Op ‘n beslissende oomblik van Jesus se lewe wil Jesus met sy Vader in verbinding bly. Voordat Hy met sy dissipels in gesprek tree oor die geloofsreis wat op Hom wag, is Hy op sy knieë. Op die oomblik dat sy bediening ‘n keerpunt beleef en dat ‘n nuwe wending in sy werk aanbreek, is Hy by God in gebed. Dit is die oratiewe oomblik – die moment van verlange na God, om by God in gebed te wees. Hy wil niks begin nie - hy wil nie eers begin om met sy dissipels oor sy weg te praat, sonder dat Hy nie sy verlange na God uitgebid het nie.
En sy dissipels sien dit. So leer ken hulle Jesus. Dit is die oratiewe kant van sy lewe wat hy vir hulle wys. En so het hulle dit onthou. En so het hulle dit later aan alle ander oorvertel. Jesus die bidder wat in verlange by God is voordat Hy die pad van lyding op hom neem. Die geloofsreis word immer weer stap vir stap geneem, maar altyd weer in gesprek, maar veral in afhanklikheid van God. Later sou Jesus, in Getsemane se tuin, die aand voor sy kruisiging, weer biddend by God bly. Dit was die aard van sy geloofsreis.
Teenoor hierdie verhaal oor die onthulling van Jesus se lydensweg aan sy dissipels in Lukas 9:18-27, staan nou die verheerliking op die berg wat direk daarna volg (Lukas 9:28-36). Dit is ‘n boeiende verhaal omdat dit so ‘n helder verhaal is. Die hele vertelling loop oor van heerlikheid, lig, witheid en blink klere. Nie net Moses en Elia is daar in helder heerlikheid nie, maar Jesus self word gehul in heerlikheid. Jesus het sy lydensweg bekend gemaak, in biddende afhanklikheid van God. En God antwoord met die verheerliking.
Al hierdie motiewe is aanduidings van God se teenwoordigheid. Dit is die kontemplatiewe tyd. Nader aan God kan dit nouliks. Trouens, dit is so naby aan God, dat die dissipels vir God hoor praat. En kyk wat vertel God: “Dit is my Seun wat ek uitverkies het.” God bevestig aan Jesus die noue intieme verhouding tussen hulle – uniek soos met niemand anders nie. Jesus wat kies om die pad van self-opoffering te loop, word deur God die hoogste van alle gawes geskenk – die heerlike teenwoordigheid van God. Die pad van prysgawe van die self is die pad van heerlikheid.
Terwyl Jesus so pas verlangende gewys het dat Hy die weg met God wil loop, getuig God nou van Jesus se nabyheid aan God. Oor en weer, in ‘n besonder noue liefdesverhouding, is God en Seun saamgebind, is hulle aan mekaar verbind en verseker hulle mekaar van hul omgee en verbondenheid. In innige verbondenheid kontempleer God en Seun mekaar se teenwoordigheid.
En God deel hierdie heerlikheid ook met die dissipels. Aan hulle wil God ook die rigting van die geestelike reis uitwys. Hulle moet ook die pad loop, al biddende. En terwyl hulle dit doen, het hulle ‘n gids: “Let op Hom, die Seun wat God uitverkies het”! (Lukas 9:35).
Die heerlikheid van hierdie verhaal transformeer die dissipels totaal. Hulle wat ‘n ruk tevore nog aan die slaap was (Lk. 9:32), sê vir Jesus: “Here, dit is goed vir ons om hier te wees.” God se teenwoordigheid is genoeg. Die heerlikheid van God bring mense tot rus. Dit is goed. Daarom wil hulle tent opslaan en nooit weer huis toe gaan nie. Dit is die kontemplatiewe oomblik – om in God se heerlike teenwoordigheid te wees. Om die lig te ervaar. ‘n Mens kan nie genoeg daarvan kry nie.
Die kontemplatiewe lewe is daardie merkwaardige oomblikke in ‘n mens se lewe dat die teenwoordigheid van God en die helderheid van God se spesiale en intieme nabyheid ‘n mens se bestaan deurgrondelik aanraak en deurdring.
Maar die mistieke lewe is nie altyd so maklik nie. Gedurig is die mens bewus van watter voorreg dit is om God se heerlike nabyheid te beleef. Langs die een oomblik van verheerliking is daar in Jesus se bediening baie dae van lyding, oorgawe en selfs die dood. Daar is dus ook die tye van afstand, die tye dat die mens se blik op God verduister word, die tye van Godverlatenheid.
As die dissipels nog soveel vreugde oor die besondere tyd het, wil hulle sommer kortpad vat om by God te bly. En dan word hulle tot die besef gebring hoe anders God is. Jesus, Moses en Elia, word in die verhaal vertel, verdwyn in ‘n wolk. En “hulle het gevrees”, vertel Lukas 9:35. Dit is goed om by God te wees, maar altyd weer word ‘n mens bewus dat ‘n mens nie God is nie. Die mens kan nie die vaste staanplekke van die lewe uitwys nie. Immer, altyd weer is die besoek van God ‘n gawe. Niemand kan die kontemplatiewe lewe beheer en in vaste plekke domestiseer nie. Dit bly altyd weer ‘n geskenk.
Wat is dan die rol van die mens in die geestelike reis? Soos Jesus het die mens steeds weer die oratiewe instelling. Om God te volg, is om te bly bid.
Dit word veral duidelik in die verhaal van die verheerliking. Hier bo is daarop gewys dat Jesus voor die belydenis van Petrus gebid het om voor die oomblik van wending in sy geestelike reis vir God op te soek. Maar dieselfde gebeur aan die begin van die volgende verhaal oor die verheerliking. Want Jesus bid nie net voordat Petrus met sy belydenis kom nie. Hy bid ook voordat God Hom as die Geliefde Seun bely. In Lukas 9:28 staan daar dat Jesus 8 dae na Petrus se belydenis weer sy dissipels geneem het en op die berg gaan bid het. Dit is ‘n sterk simboliese handeling Daar is ‘n duidelike intertekstuele verband met die beroemde verhaal in Exodus 34:29-35 toe Moses op die berg die twee klippe ontvang het en met ‘n blink gesig teruggekeer het. Deur hierdie intertekstuele verband word die verlange van Jesus intenser geteken: Hy verlang om God te ervaar soos Moses dit op die berg ervaar het toe hy God se wil in die twee kliptafels ontvang het en die heerlikheid van God Moses tot in die lyf toe deurdring het.
Dit word selfs intenser. In die volgende vers, in Lukas 9:29 word die gebedsmotief herhaal. Dit is dus vir Lukas belangrik om die oratiewe aspek van die verheerliking op die berg te beklemtoon deur ten minste twee keer te vertel hoedat Jesus sy verlange na God uitspreek. En dan gee Lukas ‘n wonderlike insig in die verhouding tussen die oratiewe en die kontemplatiewe: Terwyl Jesus bid, het sy gesig verander en sy klere helder soos ‘n weerligstraal geword. Hier val gebed en teenwoordigheid van God saam. Oratiwiteit en die kontemplatiewe is een. Terwyl Jesus bid, word Hy vervul met die heerlike teenwoordigheid van God. God gee vir Jesus wat God vir Moses op die berg gegee het. God, die getroue, deel die heerlikheid met hulle wat daarna verlang.
Tog is daar selfs hier steeds weer die mineur-toon. Dit is alles so heerlik. Jesus se gebed, se verlange na God en God se teenwoordigheid by Jesus. En God skenk aan Jesus nog meer: die ondersteunende, selfs troostende teenwoordigheid van Moses en Elia.
Maar in hul heerlikheid dink hulle nie aan tente oprig nie. Hulle, hierdie geloofshelde, weet: dit is in die tye van heerlikheid ook tyd om te praat oor Jesus se “eksodus” (soos die Grieks lui; Lk. 9:31) – oor die moeilike tye, die woestyntye wat op gelowiges wag. Hulle moet praat oor sy lydensweg wat op Hom wag in Jerusalem.
Om na God te verlang is om bereid te wees om ook die lied met die mineurklank te kan sing. Die oratiewe vertel dat geen pad te steil en te swaar is om in die goddelike liefde te kan woon nie. Swaarder as die lyding weeg die onvergelyklike ervaring om by God te kan wees. Juis daarom gee die mens alle op ter wille van die nabyheid van God (Lk. 9:23-27). Biddend is die gelowige mens op sy of haar knieë om God se wil vir die lewe te ontdek en te volg, waar ook al dit ‘n mens mag lei.
Om oor lyding te praat in die tye van heerlikheid is nie ‘n bedreigende ervaring nie. Die gelowige weet immers dat God se teenwoordigheid genadiglik tot die mens kom en dat dit stand hou selfs al gaan ‘n mens deur die dal van doodskaduwee. Die kruis wat op ‘n Mens wag, word ‘n sagte las vanuit die wete van die goddelike heerlikheid.
En dit maak ‘n mens vry om eenvoudig net in God se liefde in te woon. Dit is genoeg om te hoor hoe God op al ons verlange en smekinge tot ons kom met uitsoekwoorde: Jy is Myne, ek het jou gekies. Dit gee genoeg krag vir die reis, hoe gevaarlik dit ook al mag word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.