Monday, July 25, 2011






Gisteroggend word ek wakker terwyl 'n enorme wind om ons losgebreek het. Dit lawaai teen 'n verskriklike pas.

Op 'n stadium, terwyl ek op pad is na my studeerkamer, hier teen 8h30, sien ek 'n groot stuk dak deur die lug trek.

Dit is toe die kweekskooldak wat afgeruk is (sien die laaste foto). Totaal. Die wind het dit soos 'n stukkie papier amper 50 meter ver, oor al die bome, standbeelde en heinings tot in Dorpstraat gesmyt. Die drie/vier plate van omtrent 2 na 3 meter lank, plus hulle balke, het in die middel van die straat geval waar twee mans dit moes gaan wegsleep. 'n Ander groot stuk het in die tuine van die kweekskool geval en nog plate het in die tuine beland.

Die krag van die natuur kan enorm wees.

Dit tref my, later, dat as daardie dak 'n halfuur later afgewaai is, dit baie skade en selfs lewensverlies kon veroorsaak. Sondagoggend parkeer mense vir kerk orals waar hulle 'n gaatjie kan kry. Sommige staan selfs oor die meulsloot geparkeer. As 'n mens kerk toe gaan, dink hulle seker, het 'n mens die reg om te parkeer waar jy wil - en verkieslik so naby as moontlik aan die kerk sodat jy nie te ver hoef te stap nie. Maar behalwe vir al die motors, is daar baie voetgangers en baie verkeer.

Ek gaan neem foto's. Dit is altyd lekker om te sien hoe 'n mens se kamera dinge interpreteer en orden.

In Die Laan sien ek 'n sementpaal omgewaai. Ek kan nie glo wat ek sien nie.

Later besluit ek om die foto's vir die koerant deur te stuur. En kort daarna lui my foon. Die joernalis vra dat ek vir hom 'n groter, duideliker kopie moet stuur.

Vanoggend is my foto toe op die voorblad van die Burger.

Ek oorweeg dit nou om 'n professionele fotograaf te word.....

Grappies opsy. Wat my boei en my nogal besig hou, is dat ek vir die joernalis vier foto's gestuur het. Hy, 'n hooffotograaf by die koerant, het een uitgekies en toe op die voorblad geplaas.

En, tot my verbasing, is dit die foto wat ek laaste van die vier sou geplaas het.

Wat my nou besig hou en aan die wonder het, is wat hom laat besluit het om juis hierdie foto onder die vier uit te kies.

Wat my weer laat besef: ons lees 'n situasie so absoluut verskillend. Wat vir die een opval, is vir die ander een vervelig. Wat vir een mooi is, let 'n ander een nie op nie.

Wat my weer laat dink aan die Bybel en daardie immergroen verskynsel van vier evangelies wat elkeen op so 'n wonderlik unieke manier oor Jesus skryf. Matteus, die rabbi-Jesus met sy lang geselse, Markus, die mistieke Jesus, Lukas, die Jesus van die randfigure en Johannes, die Jesus van liefde en naby aan God. Deur die geskiedenis het gelowiges ook ten opsigte van die evangelies hul voorkeure gehad.

So werk God. Ryk,vol diep kante, is die Evangelie.

Maar, ek moet byvoeg, dit was 'n uitkoms dat daardie dak nie 'n halfuur later afgewaai het nie. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive