Tuesday, July 26, 2011

Die innerlike stilte.

Godsdiens kan op allerhande sypaadjies beland. Dit kan ‘n mens jaag om op allerhande maniere druk op jouself te plaas om by God te presteer en om God te probeer beïndruk. Of dit kan ‘n morele stryd word om uit te stal hoe vroom ‘n mens is.

Maar dit is ‘n verdraaiing van die egte karakter van godsdiens. Die verlange na en diens van God is ‘n verlange na vrede. Dit beteken konkreet dat godsdiens ‘n mens innerlik bring tot egte lewensvervulling.

Hieroor is tradisionele godsdienstige taal baie duidelik wanneer dit die eerste en oudste toestand van die mens uitbeeld in terme van ‘n volkome vreedsame verhouding tussen God en mens.

In Bybelse literatuur word dit duidelik uitgedruk in sulke beroemde beelde soos die paradys, die wapens wat omgesmee word tot ploegskare, die leeu wat langs die lam lê, die engele wat Jesus na die versoeking bedien, die moordenaar wat saam met Jesus in die paradys geneem word en ook die laaste hoofstuk van Openbaring. Dit is voorbeelde en simbole van vrede wat aan mense geskenk word.

‘n Persoon wat innerlik vervuld is, is iemand wat die geheim van godsdiens ontdek het.

Om in vrede te woon, in harmonie met alles in en om jou, is om by God te wees, en is om innerlik vervuld te leef.

Dit is nie iets wat net aan voorbeeldige mense wat mooi presteer gegee word nie. Vrede is ‘n genade-gawe van God aan die mens. Die eerste mense het die paradys as woonplek gekry sonder dat hulle 'n vinger opgelig het. Hulle ontvang dit bloot net omdat dit vir God goed was. 

Maar een ding is wel belangrik. Hierdie vrede wat aan die mens gegee word, is ‘n baie intieme ervaring. Die Heilige Gees sal as Trooster in die mens inwoon: die asem van God, by wyse van spreke, word die asemhaling van die mens.

Vrede vind ‘n mens dan in ‘n mens self. Dit word so deel van ‘n mens self soos wat asemhaal deel is van ‘n mens se bestaan.

Dit bly een van die durendste gedagtes van iemand wat deur God aangeraak is, dat daar ‘n ruimte in jou is waarbinne geen ander mens kan ingaan nie. Dit is ‘n plek waar ‘n mens veilig is teen al die aansprake wat op jou gemaak word, waar ‘n mens rustig kan wees selfs al raas dit baie om jou en met jou. Want dit is die plek waar God in volkome harmonie met die mens leef.

Maar nie alle mense weet van hierdie plek nie.

Mense is heeltemal te besig met praat, dink en doen. Hulle bly aan die gang met planne vir die dag, vir môre, vir die toekoms. Al hierdie dinge word ‘n groot, digte, selfs ondeurdringbare heining waarby hulle nie kan verby kom nie. Hulle loop hulle vas daarin.  Hulle is so ineengestrengel in hierdie besige dinge dat hulle nie tyd kry vir hulle self nie.

Op die manier is daar nie tye dat ‘n mens tot rus kan kom nie. Daar is nie ‘n plek waarheen mense kan ontsnap nie.

In hierdie sin voer mense dan ‘n siellose, onrusige en dus onvervulde bestaan. Hoe meer dinge, hoe minder sin.

Daarom probeer mense uit hul lewensgeraas wegkom – hulle gaan hou vakansie, loop kyk ‘n film, lees ‘n boek in pogings om net weer ‘n slag ontslae te raak van al die druk op hulle.

En dikwels is dit dan slegs ‘n tydelike wegkom. Want spoedig weer is die geraas terug en is ‘n mens se lewe gevul met al die gepraat waarmee jy gekonfronteer word.

‘n Mens se lewe word heel anders wanneer ‘n mens bewus word van die inwoning van God. Hierdie innerlike aanwesigheid van God, die “teenwoordigheid van die Gees” is nie iets wat ‘n mens kan “bewerk” nie.

Dit is eerder iets waarop ‘n mens ingestel is: dit is iets wat tot ‘n mens kom wanneer ‘n mens verlangend daarop ingestel is. Hierdie verlange word in gebed uitgedruk. Daarmee word twee dinge uitgewys: “verlangend ingestel” en “biddend vra.” ‘n Mens maak jouself oop vir God se aanraking en reik uit na God in verlange.

Hierdie twee sake is albei ingestel op God se vredevolle teenwoordigheid in ‘n mens se innerlike bestaan.

En dan, in oomblikke van vervulling, sal ‘n mens bewus word dat iets spesiaals in die kern van die mens se bestaaan gebeur. Innerlik kom daar iets in ‘n mens los. Sommige beskryf dit as oomblikke waarin mense bewus raak van ‘n diepe stilte in hulle. Dit word ‘n tyd van vrede wat ‘n mens se bestaan vul. Dit is tye dat ‘n mens geen behoefte het aan alles wat gewoonlik so belangrik in ‘n mens se lewe is nie.

Dit is tye dat mense besef niemand het beheer oor hulle lewe nie.   

Dit is tye dat mense besef dat dit nie saak maak wat vantevore in hul lewens gebeur het nie.

Dit is oomblikke wanneer mense so tot rus kom dat alles wat almal altyd van hulle verwag en vra, nietig lyk.

Soms is die ervaring van die stilte en vrede in ‘n mens so spesiaal en so sterk dat mense sover kom om ander te vergeef vir kwaad wat hulle aangedoen is.

Want mense besef skielik in die spesiale stilte van innerlike vervulling dat wat saak maak is dat ‘n mens tot rus by God gekom het.

Dit is in hierdie oomblikke van innerlike vrede dat al die stryd en selfs nyd van die dag klein en onbelangrik begin lyk.

Wie die belangrikste van alle dinge ontdek het, kyk nie meer terug nie.

In die afgelope tyd het ‘n mens op ‘n sekulêre vlak iets hiervan sien gebeur: In Noorweë het mense as ‘n massa tot stilstand gekom. In hul skok, ongeloof en ontsetting, het mense na mekaar uitgereik. Saam het hulle mekaar opgesoek, gehuil, omhels, moed ingepraat, maar ook sulke eenvoudige dinge gedoen soos om blomme by die kerk in Oslo te gaan neersit.

Kollektief het die hele maatskappy stil geword. Alles wat altyd so belangrik is, selfs die moorddadige haat van die onverdraagsame enkeling, is opsygeskuif vir wat stilweg altyd die belangrikste van alles is: menslikheid. Om as mense God se beeld en bedoeling vir die lewe te gehoorsaam – om om te gee en liefdevol uit te reik. Mense was ingestel hierop en het verlang na die sekerheid van omgee en liefde. En dit het die pyn draagliker gemaak en die kwaad besweer.

Wat in die samelewing gebeur, verduidelik iets van die geheim van alle mense se lewens. Iewers moet ‘n mens in die sentrum van jou bestaan die stilte kan vind waar ‘n mens die belangrikste van alle dinge kan ontdek. Dit is dan dat ‘n mens die geraas kan aandurf en die lewe weer kan aanpak. In hierdie oomblikke van vrede ontdek ‘n mens wie jy werklik is: die ewebeeld van God en die een by wie God inwoon. Niks kan ‘n mens dit ontneem nie en alles lyk onbeduidend in die lig van hierdie helder blik op God se inwoning in ‘n mens se lewe.

Dit is dan dat 'n mens daardie vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive