Saturday, July 23, 2011

Heuning proe is iets anders.... Oor ervaring

Schortinghuis 1700-1750

Die Nadere Reformasie in Nederland het groot invloed uitgeoefen op vorige geslagte van Afrikaners. Dit was 'n beweging in die sewentiende en agtiende eeu wat baie klem op persoonlike belewing van geloof geplaas het. Sekere begrippe soos wedergeboorte, bekering, ervaring, vroomheid en heiligmaking was vir hulle belangrik. 

Die beweging was die gevolg van 'n verstarring in die kerk. In reaksie teen 'n dorre dogmatisme het dit gesoek na 'n herlewing in die sin van egte geloofservaring. Hulle geskrifte is nie altyd goed ontvang nie. Soms moes hulle kwaai onder hul teenstanders deurloop.

By sommige persone binne die Nadere Reformasie is daar 'n sterk mistieke inslag. Jesus word as persoonlike Saligmaker ervaar. Hy knoop 'n innige en baie intieme liefdesverhouding met die mens aan. Begrippe soos "liewe" Jesus en "dierbare Heiland" is kenmerkend van hierdie godsdienstige tradisie. 

'n Boek soos Hooglied was baie gewild by hulle. Jesus is veral as Bruidegom geteken. Deur 'n innige belewing van Jesus in kontemplasie kan die mens alle aardse behoeftes afsterf en onbelangrik vind. Die liefde van Jesus neem volledig besit van die mens sodat die mens hom- of haarself heeltemal kan vergeet. Kontemplasie, die intense ervaring van God se teenwoordigheid, is vir hulle die kern van geloof.

Bernard van Clairvaux, die Engelse/Skotse puriteine en die Duitse pietisme het hulle sterk beinvloed.  Dit merk 'n mens duidelik aan die groot plek van die liefde in hulle werke.

In Suid-Afrika is boeke van name soos a Brakel, Schortinghuis, Smytegelt, Voetius en Hellenbroek in baie huise gevind en graag gelees. 

Dit net ter agtergrond vir die aanhaling van Schortinghuis wat ek vanaand lees en wat my bybly: 

Hy skryf dat 'n gelowige iemand is wat nie net van Christus weet nie, maar wat Christus beleef. 

Hy verduidelik dit dan: "Geen mens weet hoe heuning smaak voordat hy of sy dit nie geproe het nie."

Die gereformeerde spiritualiteit in Suid-Afrika is beslissend deur hierdie tradisie beinvloed. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive