Monday, July 18, 2011

Verenig met die Liefde te midde van die geharwar en verstrooing


Dit was ‘n lang reis, gelaai met opwinding: die splinternuwe, groot, luukse vliegtuig vol tegnologiese wonders. Die bederf van die goeie bediening aan boord met die lekker ete’s, die interessante reisgenote, die nuwe flieks, die moderne lughawe. En toe die eerste wêreld land met sy groot, groot en vinnige, vinnige lewe. In een van die grootste stede in die wêreld is daar die opwindende museums, die luukse winkels, die restaurants met geurige ete’s, fabriekies wat die allerlekkerste snuisterye en snoepies produseer. Boeiende gesprekke, nuwe uitdagings, goeie idee’s en besielende kontak-gesprekke. Die bus-uitstappie na die mooi plek met ‘n gids wat soveel as moontlik indruk wil maak met soveel as moontlik ongewone stories.

Dit is ‘n uitdagende ervaring, vol opwinding. ‘n Mens se aandag is oomblik na oomblik geprikkel. Duisende gedagtes en indrukke ding mee om jou aandag. Dit is ‘n visuele fees. Emosies van baie soorte kom in jou binneste op.

Glitz en oordaad, sou Soelle dit noem, wanneer sy begin verduidelik wat Buber se “kommosie” beteken. Duisende indrukke wat vanuit ons alledaagse lewe en van ons omgewing op ons inspeel. Die groot geharwar, gedruis, kommosie waarin ons elke dag ingedompel word.

En tussen al hierdie duisende dinge, mis my hart die geliefde. Die opwinding van die reis word ‘n gedruis. Ek is uitgelewer aan ‘n wêreld wat so aan die gang is, dat dit my verloor het. Ek sou al hierdie opwinding gewilliglik prysgee om eerder daar te kon wees, in die liefde.

Buber praat van die hand wat na hierdie besige, bewegende wêreld in al sy kommosie en gedruis uitsteek “in ‘n leë ruimte in.” Probeer vat daaraan, probeer vat kry daarop, en jou hand is in ‘n leë ruimte verlore.

Is daar iets anders wat byderhand is? ‘n Ander aanbod wat tot my beskikking is? Iets wat nie soek om my te beheer nie? Om my te manipuleer nie? Kan ek wegstap van die kommosie, die geharwar, na ‘n ruimte waar ek vry is en vry gemaak word? Waar ek nie gebruik word of wil gebruik nie? Waar ek nie as bloot net nuttig bekyk word nie?

Is daar ‘n plek waar ek net kan wees wat ek is, vry, vervul met die lewe en die liefde? Is daar iemand by wie ek in liefde kan bly, een met mekaar, sodat ‘n mens total vervuld en in vrede woon? Hoe leeg is die innerlike tog, te midde van die kommosie en die gedruis om ‘n mens, skry Buber.

Vir oulaas praat ons met mekaar. Duisende kilometers van mekaar geskei. En, as ‘n laaste afskeid, is daar die trooswoorde, die liefdesbetuigings, die ingeslukte, ingehoude trane, die sagte woorde van toegeneentheid, die oproep van soveel ryk herinneringe, die bitter van totsiens-sê, besef ‘n mens voortydig, vir altyd.

Weg van die kommosie, die geharwar, die duisende, onbeheerbare indrukke, is daar hierdie stil tyd. Afgesluit van alles wat gedagtes verstrooi en emosies opjaag, is daar hierdie oomblikke van uitreik en toevertrou. Dit is die veilige ruimte, die oomblik van naby wees, die plek van vrede. Selfs die finale, seerkry-woorde maak die vereniging, die eenheid, die wees-by-mekaar alleen maar sterker.

Dit besef ek, is wat God wil hê: dit is die sin van ons bestaan en die diepste betekenis van die lewe. Dit is die seker wete wat verby alle kennis strek. Dit roep uit: Alles wat in die dae oor my pad gekom het, het op niks uitgeloop nie – in die lig van die mistieke ervaring van die liefde.  Hier, wanneer ek innerlik by die volmaakte is, is my hart verkoop. Op die plek van die Liefde wil ek woon, al die dae van my lewe. Dit is die eenheid en die vereniging wat my hart tot rus bring: die verhouding met die Liefde. Dit groei, word sterker, dit groei bo al die geharwar en die gedruis om my uit. In hierdie Liefde wat in my ingeplant word, wil ek my verloor. Dit is my sielsgenoot.

Dan gebeur die mistieke: as die oomblikke van vervulling oor ‘n mens kom, neem dit ‘n mens op reis. Want daar is die besef dat die Geliefde ook maar net ‘n roete-aanwyser is na die Grotere. Dit is ‘n byna gewelddadige proses, skryf Soelle. ‘n Mens word verby die aardse liefde geneem. Want dit is, per slot van sake, ook tydelik. Die siel wil sy rus in die diepste nie-tydelike vind. Verby alle tyd, verby alle verganklikheid, is daar die genade. Uiteindelik moet ‘n mens dus selfs van alle menslike vorme, kosbaar ja, maar tog menslik, gegrond kan word in die grootste van alles – die goddelike Liefde. Want dit is die liefde wat nooit vergaan nie. En dit is ook die groot wete: daardie oomblikke van afskeid, die seer tye van ‘n laaste totsiens, is maar net voorlopig. Die groot wete is: saam met die ander, is ons geborge in die onverganklike Liefde. Dit is wat nimmer vergaan nie.


Verby alle opwinding, verby alle menslike liefde, is hierdie innerlike ervaring van die onverganklike Liefde die eindpunt van die geestelike reis.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive