Thursday, July 14, 2011

Die verborge ontmoeting met God. Oor die joods-christelike mistiek in Bybelse tye.


(Oor hierdie merkwaardige skildery oor Esegiel 37-38 wil ek later skryf).

Daniël en Openbaring is twee Bybelse “apokalipse” of “openbaringe.” Daniël is in die tweede eeu v.C. en Openbaring aan die einde van die eerste eeu n.C. geskryf.  In hierdie twee openbaringe/apokalipse word veral oor die toekomsgebeure gepraat, maar word ook God se wil vir die hede bekend gemaak.


Joodse en Christelike gelowiges in Bybelse tye het baie ander soortgelyke openbaringe gehad. Sommige, soos 4 Esra, is in die Apokriewe Boeke opgeneem. Maar daar is ook ander met name soos 2 Barug, die Apokalipse van Abraham, 1 en 2 Henog, Die Apokalips van Petrus en vele ander. Hierdie boeke was in sommige kerke en lande baie gewild. Ander weer het sedert die middeleeue verlore geraak en is eers weer in die vorige eeu herontdek en op groot skaal bestudeer.

As ‘n mens al hierdie boeke met mekaar vergelyk, sien ‘n mens dat hulle veral in twee tema’s belanggestel het. Sommige soos Daniël en Openbaring het God se (eind)plan vir die wêreld bekend gemaak. Maar ander het nog ‘n tweede element as inhoud gehad. Sommige geleerdes praat van “wetenskaplike spekulasies” waarin hulle belanggestel het. 

Die skrywers het naamlik allerhande kennis oor die skepping en oor God aan hulle lesers voorgehou. Die kennis gaan oor die kosmogonie (die aard van die wêreld) en oor die teosofie (oor God se wese).  Daarin word dan allerhande “geheime” oor die astronomie, die kosmologie, die geskiedenis en nog vele van die sogenaamde “heilige” wetenskappe opgeneem.

Daar is ‘n besondere band tussen hierdie apokalipse en die Bybel. Hierdie boeke het almal ontstaan na aanleiding van twee bekende en sentrale hoofstukke in die Bybel, naamlik Genesis 1 en Esegiël 1. Genesis 1 was ‘n hoofstuk wat die toegewyde en ernstige gelowiges in die tyd van die Bybel graag bestudeer het om meer van God se skepping uit te vind. En in Esegiël 1 is daar die beroemde troonvisioen van Esegiël waarin die profeet God op sy troon ervaar en waarin dit lyk asof daar verskeie insigte gebied word oor wie God is en hoe God lyk.

Van die vroegste tye het Joodse en Christelike Bybellesers graag hierdie tekste gelees en diep daaroor nagedink omdat hulle geglo het dat dit oor verborge dinge gaan. Sommige mense dink dat hierdie lesers so sterk deur die hoofstukke geraak is dat hulle self allerhande visioene beleef het wat hulle in hul boeke neergeskryf het. Hulle visioene het oor die “verborge” dinge gegaan, byvoorbeeld oor hoe die wêreld geskape is, hoe die hemel en die hel lyk en hoe God lyk.

Dit is nou egter opvallend hoe terughoudend geestelike leiers oor die visioene en oor die bestudering van die Genesis 1 en Esegiël 1 was. Die leiers het gewaarsku dat nie enige een hulle met hierdie verborge dinge moet besig hou  nie en het streng riglyne vir die studie daarvan neergelê. Hulle problem was dat sulke spekulasies en vrome visioene die Naam van God oneer kon aandoen en God se heiligheid kon aantas. 

Hierdie mistiek is “troon-mistiek” (merkebah mistiek) genoem omdat dit ervaringe van God op sy troon was. Vandag verskyn die een publikasie na die ander oor hierdie vorm van Joods-Christelike mistiek. Dit is ‘n nuwe veld van ondersoek wat groot belangstelling wek. Daar het byvoorbeeld in die afgelope tyd belangrike werke verskyn wat uitwys dat hierdie mistiek Johannes Evangelie beslissend beïnvloed het.

Sommige navorsers wys daarop dat hierdie visioene wat mense gehad het en in hulle boeke opgeskryf het, ‘n sterk Bybelse karakter het omdat dit duidelik verband hou met hoofstukke soos Esegiël 1, Genesis 1, Jesaja 6, Daniël 9 en ander bybelse.

Verder wys hulle daarop dat die skrywers geglo het dat die boeke van God afgekom het. God self het hierdie visioene aan hulle “geopenbaar.” Dit is merkwaardig dat hierdie skrywers, in ‘n tyd toe mense geglo het dat God die wêreld opgegee het, vas geglo het God praat nog met mense en maak aan hulle verborge waarhede bekend. Dit is dus, het hulle gedink, moontlik dat iemand direk en op ‘n mistieke manier God se stem met hulle kan hoor praat.

In hierdie geskrifte kry ‘n mens dus ‘n besondere Godsbeeld: God is hoog verhewe, in die hoogste hemel, waar God se troon ook gesetel is – soos ‘n mens ook in Esegiël 1 en Jesaja 6 lees. Tog het die mens ook toegang tot God en kan God van naby ervaar. Net enkele mense het die voorreg om God te ervaar – soos byvoorbeeld die skrywers wat in ‘n visioen opgevaar het na die hemel en toegang tot hemelse verborgenhede ontvang het (kyk bv. Open. 4:1). Maar dit neem nie weg dat dit tog moontlik is en dat alle mense van hulle ervarings in hul boeke kan lees nie.

Agter hierdie boeke skuil daar dus ‘n besonder vroomheid. Apokalipse is tekste wat ‘n diepe godsdienssin weerspieël. Die skrywers daarvan was mense wat geglo het ‘n mens kan baie naby aan God kom en dat God die verlange van die regverdige mens aansien en met so iemand die verborge wyshede deel. Hulle is oortuig dat hulle geloof ‘n resultaat was van ‘n ontmoeting met God.

Dit het ‘n groot invloed op hul geloofslewe. Juis omdat hulle in ‘n visioen so ‘n intense en intieme ontmoeting met God gehad het, het hulle meer as ooit geglo in die waarde van hul geestelike tradisies. Hulle besondere ervaringe en ontmoetinge met God het die egtheid van die Bybel vir hulle bevestig.

Dit is ook een van die redes waarom mense die boeke skryf. Die boeke ontstaan in ‘n tyd toe Jode oor die wêreld versprei is en diep vrae oor God gevra het. Die worsteling om hulle lyding in hul tyd en situasie van vervolging te verstaan, bring hulle tot antwoorde wat ‘n mens in apokalipse vind. God, skryf die outeurs, gee nog om vir mense. God reik uit en kommunikeer nog met hulle wat regverdig is en God se wil soek. God het ‘n plan met die wêreld en sal daardie plan ten alle koste tot uitvoering bring. In hierdie tekste gee die skrywers uitdrukking aan hulle gevoel dat ‘n mens in hulle tyd van ontwrigting en vervolging, tog nog God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier kan ervaar. Al lyk dit nie so terwyl ‘n mens kyk na die situasie waarin hulle was nie, is God wel op die troon en kan mense wat na God verlang, op ‘n besondere manier God se teenwoordigheid beleef.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ‘n mens boeke soos Openbaring en Daniël moet verstaan. Maar ook Jesus, Paulus, Lukas en ander Nuwe-Testamentiese boeke kan met vrug verstaan word in die lig van die Joods-Christelike apokalipse. Hieroor later meer.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive