Ek kyk vanaand die fliek Of Gods and Men wat onlangs in teaters gedraai het en waarvan ek die DVD vir my bestel het. Dit was lank in Frankryk die gewildste film, het belangrike pryse gewen en het ook by ons uitstekende resensies gekry.
Hierdie film van die regisseur Xavier Beauvois gaan oor Trappiste monnikke wat tydens die Algeriese oorlog met die allerdiepste godsdienstige vrae uitgedaag word.
Hierdie film van die regisseur Xavier Beauvois gaan oor Trappiste monnikke wat tydens die Algeriese oorlog met die allerdiepste godsdienstige vrae uitgedaag word.
Dit is ‘n besonder waardevolle film om spiritualiteit beter te verstaan. Ek reken dit onder die top tien films wat ek gesien het.
In die film word verwys na Pascal se beroemde uitspraak in sy Pensees:
“Mense doen nooit die kwaad met soveel oorgawe en vreugde soos wanneer hulle dit uit godsdienstige oortuiging doen nie.”
Rondom hierdie uitspraak worstel die Trappiste met die vraag hoe hulle die moontlikheid dat hulle doodgemaak sal word, moet bedink. Moet hulle in die klooster aanbly om die bewind uit te daag en mens daarmee aanspoor om teen die owerheid in opstand te kom? Dan sou hulle sterf om 'n politieke punt te maak.
‘n Mens, redeneer die film egter, moet nie jou lewe opoffer om ‘n martelaar te wil wees nie. Dit sal vals en lasterlik wees. Op een van die diep momente in die film sê ‘n karakter juis dat ‘n mens bereid is om alles prys te gee, alleen maar vir die liefde se onthalwe.
Onmiddellik herken ek ‘n baie, baie ou tradisie wat teruggaan op die tweede eeu van die Christelike jaartelling: die kerk het steeds beklemtoon, en dit in ‘n baie moeilike tyd van vervolging, dat ‘n mens nooit martelaarskap soek nie. Die vroeë kerk was altyd agterdogtig teenoor martelare. Want, het hulle geredeneer, iemand kan bybedoelings hê. Hulle wil of die aandag op hulleself vestig, of hulle wil iets verkeerds bereik. Daarom het hulle ook onderskei tussen valse en egte martelaarskap.
Dit het my altyd geboei: hierdie agterdog teen martelaarskap in die vroegste tye. ‘n Mens moet juis nie soek om as ‘n martelaar sterf nie. ‘n Mens offer alles op, bloot omdat jy op die ou end geen keuse het as om getrou te bly aan God alleen en aan die liefde nie.
Dit kom in die film baie goed na vore. En, besef ek, indirek herinner dit my weer daaraan dat spiritualiteit nie 'n naeltjiekyk-bewondering is nie. In spiritualiteit gaan dit juis nie om die fokus op die self nie.
Maar ek wil nie hier oor die film skryf nie. Ek het Pascal se uitspraak wat in die film aangehaal word, sterk beleef in die lig van die tragedie wat in Noorweë afspeel. Dit is vir my ondenkbaar dat iemand koelbloedig mense kan doodskiet en dan in ‘n manifes van honderde bladsye aanspraak maak daarop dat dit gedoen word ter wille van ‘n Christelike kultuur.
Ek kan aan geen beter voorbeeld vir Pascal se uitspraak dink as die Noor wat in die naam van die Christendom kosbare menselewens, en dan nog van sulke brose jongmense, op so ‘n groot skaal verwoes nie. Dit is byna asof Pascal letterlik oor die man praat, veral as 'n mens hoor dat hy gestaan en lag het terwyl hy sy slagoffers doodgeskiet het.
Ek het met besondere meelewing die afgelope twee dae die gebeure in Noorweë meegemaak. Dit intense rou van die leiers en die mense het 'n mens diep geraak.
Dit roep baie vrae in ‘n mens se geestelike lewe op as soveel sinnelose geweld losbreek. Juis vandag het ek die kort voorwoord vir die boek oor geweld wat binnekort by Brill verskyn, klaar geredigeer. In die boek, waarin 16 artikels oor geweld in die Bybel opgeneem is en waaraan verskeie Suid-Afrikaanse en Nederlandse teoloë gewerk het, word gewys hoe geweld nog altyd in die Christendom verskuild aanwesig is. Terwyl ons aan die boek gewerk het, het een van die kollega’s wat ek uitgenooi het om ‘n bydrae te skryf, vir my laat weet: “Maar is daar genoeg materiaal in die Nuwe Testament oor geweld?” Die dag toe hy sy artikel vir my gee, merk hy op: "Ek het nooit besef dat daar soveel geweld in die Nuwe Testament is nie."
Die gebeure in Noorweë wys hoe reg Pascal was: Iemand wat om godsdienstige rede’s geweld pleeg, doen dit met ongeëwenaarde oorgawe en met vreugde.
Dit sny 'n mens diep - dat geloof wat kosbaar en lewevernuwend is, so destruktief misbruik word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.