Saturday, July 09, 2011

Geloofsavontuur...





Sien:   http://www.surfermag.com/photos

Hier is twee kommentare op die foto!

How can anyone said, there is No Living God, after seeing these awesome waves, that man is riding the force of the water. 
God didn’t give me a whole lot of smarts but He gave me enough to not do that HA!

Die fotograaf is:  http://www.andychiz.com


Ek was nog altyd aangetrokke deur hierdie dagstukkie uit Nouwen se Dagboek. Dit vertel vir my wat geloof is.


Daar is niks “megalomanies” of “triomfanteliks” omtrent geloof nie. Spiritualiteit beklemtoon daarom ook dat geloof ‘n reis is wat elke dag voortgesit word en deur nuwe plekke en nuwe omgewings afgelê word. Op die gewone manier... Deur eenvoudig die volgende stap te neem. 


‘n Mens is deel van ‘n groot proses. Gedurigdeur moet ‘n mens opnuut weer soek om jou daaglikse stappe op die geloofsreis te neem. ‘n Mens kan uiteindelik net die volgende tree neem. Daar is geen manier om sommer oor alles heen na die einddoel te gryp nie. Dit kan nie. En as ‘n mens eenvoudig die volgende stap neem, en die volgende, en die volgende, is dit dikwels ‘n verrassing om te sien hoe ryk en vinnig die reis verloop.


Die stukkie het my bewus gemaak van die “moegheid” wat na vore kom in mense wat ongeduldig is oor hul lewenspad en wat na die “groot” dinge verlang. Ek dink veral daaraan hoe ‘n mens dikwels van die “geloofstryd” praat.


Dit is waar: daar is terugslae en teenspoed op die geloofsreis wat ‘n mens moet aanvat. Dit is naief om te dink dat alles net altyd voorspoedig moet loop.


Dit is net so ‘n neerslagtige proses van verarming wat by mens kan indring as ‘n mens te veel geloof met ‘n stryd verbind.


Daar is ‘n ander kant van die geloofsreis wat ‘n mens se lewe heel anders kan laat lyk. En dit is die avontuur van geloof. ‘n Avontuur het sy gevaarlik oomblikke. Maar dit is ook ‘n tyd van opwinding. ‘n Mens pak dit aan met geesdrif. Jy sien uit na ‘n avontuur. ‘n Mens sien dit raak in Paulus se aansporing aan sy gemeentes om altyd deur bly te wees. En wat hy herhaal sodat dit by hulle sal registreer.


Daarom is daar iets benouends as ‘n mens die reis as ‘n straf beskou, as ‘n bitter stryd wat alleen nodig is om eendag by die wonderlike einddoel uit te kom.


‘n Mens moet eintlik verder gaan – radikaal verder: Die doel is die reis. Om met God te reis is die lewe.


Maar om die reis as ‘n avontuur te beleef, moet ‘n mens jou in God se hande toevertrou. Van die begin af, weet ‘n mens gedurig, is God daar en lei God ‘n mens van die liefde tot die liefde. Die avontuur is om agter al die harde werk van die avontuur hierdie goddelike liefde te kan raaksien en ervaar.


Dit bring verder avontuur. Daarom neem ‘n mens elke tree in afwagting en met die gedurige vraag: hoe kan ‘n mens God vind in alles wat oor jou pad kom? Waar sien ek God se hand in die lewensreis raak?


Dit is immers waaroor ons stiltetye en ons gebedstye gaan: daardie tye, alleen by God, in die laat aandure of in die vroeg oggendtye wanneer ons by God is en vra om in wysheid ons lewenspad in God se lig te mag wandel.


Dit beteken dat ‘n mens selfs in die tye van teleurstelling iets verdiepends kan ontdek wat jou stroop van jou eie dinge en jou uitbring by God se sake. Meer nog. Dit beteken ook dat ‘n mens by die mooiste dinge uiteindelik innerlik kan weet: hier is alles die moeite werd, omdat ek God daarin raaksien. Op die manier word die goeie tye en die slegte tye en die gewone tye bekyk en die verborge teenwoordigheid van God daarin raakgesien.


Trouens, dit is ‘n belangrike geestelike oefening: om in die stilte van die tyd jou hart in te stel op die vraag: hoe vind ek God in my lewe vandag?


Hier is Nouwen se stukkie oor die treë wat ‘n mens moet neem, een vir een.


8 Januarie


Genoeg lig vir die volgende tree


Ons wens dikwels ons kan in die toekoms sien. Ons sê: “Hoe sal dit volgende jaar met my gaan? Waar sal ek oor vyf of tien jaar wees?”  


Daar is geen antwoorde op hierdie vrae nie. Dikwels het ons net genoeg lig vir ons volgende tree: wat ons in die komende uur of die volgende dag moet doen.


Dis ’n lewenskuns om te geniet wat ons kan sien en om nie te kla oor wat in duisternis gehul is nie.  As ons leer om elke volgende tree te neem in die vertroue dat ons genoeg lig sal hê vir die tree wat daarná volg, kan ons met vreugde deur die lewe reis en sal ons verbaas ontdek hoe ver ons kan vorder.


Laat ons bly wees oor die klein bietjie lig wat ons het en nie vra vir die groot spreiligte wat al die skaduwees wegneem nie.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive