Sunday, July 03, 2011

Oor skynheiligheid.

Ek lees hierdie artikel van Allan in vandag se Rapport met aandag. Dit is die moeite werd om bedink te word: 

 

Dié skynheiligheid roep ten hemele!

2011-07-02 16:56





Pieter Cilliers skryf verlede week in dié ruimte oor die feit dat gays gemarginaliseerde randfigure sal bly totdat heteroseksuele mans “vir gemarginaliseerdes begin intree”.


Wat my egter veral by my bly vassteek van sy betoog is die pyn wat steeds by Cilliers vassteek: Pyn oor die kerk en die manier waarop ons gays behandel en die ewe pynlike feit dat swart Christene net so blind-veroordelend en wreed is wanneer dit by gays kom.


Ek is deeglik bewus daarvan dat “gays” die aanduiding is vir mans wat nie heteroseksueel is nie en dat ons toenemend sensitief moet wees dat lesbiese vroue, biseksuele, transseksuele en interseksuele mense nie sommer net uit die gesprek uitgesluit kan word nie.


Bowendien verdien die kompleksiteit van die hele kwessie, en veral die kompleksiteit waarmee hulle worstel, ons volle erkenning, respek en aandag.


Vergewe my dus as ek “gay” gebruik om na al dié mense te verwys.

Net so as ek “swart” as generiese term gebruik om na bruin, “African” en Indiërmense te verwys.


Dis nie sonder rede dat Uganda uitgesonder word as een van die mees homofobiese lande in Afrika nie – ’n land waar onbeskaamd op gay mense jag gemaak word en waar die hardste gewerk word aan wetgewing om die lewe vir gays onmoontlik te maak.


Ek bedoel dit letterlik: Uganda se beoogde wetgewing sluit in die doodstraf vir “homoseksuele dade” en swaar strawwe vir diegene wat van gays weet en hulle nie verkla nie.


Die Rolling Stone-koerant in Kampala voer al langer as ’n jaar ’n veldtog om die wetgewing aanvaar te kry en skep ’n angswekkende anti-gay vigilantisme en ’n koelbloedige, moorddadige atmosfeer waar aan die haat vir gay mense geen grense meer is nie.


Die wetgewing is nog nie aanvaar nie, maar gays word “uitgewys” met die koerant se “Hang hulle!”-oproep. Net die ander dag is ’n persoon deur ’n woedende skare vasgekeer en doodgeslaan.
 
Die redakteur van die koerant meen “wat ook al met gays gebeur, is die gevolg van hul eie misdade”. Só word die skuld op die skouers van die slagoffers geplaas en word die misdadigers en die moordenaars vooraf al vrygespreek. Die misdaad is nie die diskriminasie, die beledigings, die intimidasie en die geweld nie. 

Die misdaad is om gay te wees. Die geweld word geregverdig deur die blote bestaan van die slagoffer.


Agter die beoogde wetgewing is die parlementslid en wedergebore Christen David Mahati, en agter hóm is die skatryk Amerikaanse verregse Christe­like groep The Family. Hul invloed op politici in Amerika is enorm en hulle werk hard om dié invloed wêreldwyd uit te brei.


Hulle reël ook die bekende jaarlikse “National Prayer Break­fast” in Washington DC en ’n uitnodiging daarheen is een wat geen Amerikaanse president sedert Eisenhower nog van die hand gewys het nie.


“Die Bybel sê dié wat in sonde leef, moet sterf,” sê Bahati, “die Koran wil dat hulle gehang word.”
 
Uganda staan nie alleen nie. In minstens 43 Afrika-lande is gay-wees ’n misdaad en drie volg naarstiglik die voorbeeld van Mahati en werk aan hul eie “anti-gay”-wetgewing.


Zimbabwe se pres. Robert Mugabe verwys na gay mense as “honde en varke wat mens­like oorweging nie waardig is nie” en Gambië se pres. Yahya Jammeh stel gay mense gelyk aan “dwelmhandelaars, diere en ander misdadigers” en sal “graag persoonlik hul koppe wil afkap”.


In Suid-Afrika het ons gelukkig ’n grondwet wat die menswaardigheid en regte van alle Suid-Afrikaners erken en verdedig. Hier mag gay mense trou en hul liefde binne die beskermende mure van die huwelik uitleef. Maar dit blyk geen waarborg te wees nie.


In die kerke heers verwoede debatte en word gay Christene met minagtende veroordeling uitgesluit. Die beskerming van gay regte in die Grondwet is ’n afgodsbeeld wat bestorm en afgebreek moet word.
 
In Kaapstad sloer die hofsaak oor die moord op ’n jong lesbiese vrou nou al jare, en intussen groei die geweldaanvalle elke dag. Nuut, maar afskuwelik populêr is sogenaamde “korrektiewe verkragting”, waar groepe mans lesbiese vroue aanval en verkrag om hulle te “genees”: As hulle eers eenmaal ervaar het wat “regte seks” met “regte mans” is, sal hulle verander en “normaal” word, glo dié groep. Die laaste slagoffer van hierdie heteroseksuele vieslikheid was maar 14 jaar oud.


Die gebeure in Rwanda in die middel 1990’s het ons geleer wat die verderflike invloed van woorde kan wees en hoe dit ’n klimaat van haat kan skep.


Tog gebruik ons in ons kerklike vergaderings die mees haatlike taal, vervloek die skepping van God en God se beeld in mense wat nie heteroseksueel is nie en staan dan soos Pilatus en wroeg oor die geweld waaroor ons kamtig geen beheer het nie.


Ek het al op kerklike vergaderings taal gehoor wat niks vir Mugabe hoef terug te staan nie, maar ons wil vir die openbare uitwerking van hierdie haat geen verantwoordelikheid neem nie.


Met ’n bietjie moeite kan ons weet wat sielkundiges en neurowetenskaplikes al lank probeer sê: dat seksuele oriëntasie nie ’n persoonlike wilskeuse is nie, maar eerder natuurlik, biologies bepaal word, nog meer by mans as by vroue. Studies wys verskille tussen gay en heteroseksuele mans aan van vingerafdrukpatrone tot die krul van die kroon in die hare tot die vermoë met geometriese figure. Dit kan nie omgekeer word deur wilskrag, terapie of “ex-gay-bedienings” nie. Maar ons weier hardkoppig om hierdie feite ernstig op te neem.


In die kerk veroordeel ons gay mense, maar tegelyk verwelkom ons, sonder ’n woord van teenspraak of murmurering, geweldenaars, wapenvervaardigers en wapenhandelaars; korporatiewe diewe, korrupte amptenare en uitbuiters van werkers, vroueslaners; vernietigers van die skepping en van die drome van kinders.


Ons hoor preke teen gays, maar g’n woord oor ons gemilitariseerde polisie met die opdrag om te skiet om dood te skiet nie. (En die polisie dóén dit: van kinders in babastoeltjies in die motor tot tieners by ’n partytjie. Van ’n senuweeagtige jong vrou wat per ongeluk teen ’n geparkeerde polisievoertuig stamp tot jong mense wat teen korrupsie en slegte dienslewering op straat protesteer.)


Dis tog ’n skynheiligheid wat ten hemele roep?


Soos Cilliers treur ek oor die onvermoë van swart Christene om die leed wat ons gays aandoen raak te sien, daarvoor boete te doen en vir geregtigheid vir gays op te staan.


Ek het gehoop dat ons, omdat ons self so swaar onder diskriminasie gely het, sal verstaan wat dit vir gays beteken om soos uitvaagsels behandel te word.


By begrafnisse in die ­struggle-era het ons altyd daardie meesleurende, pynvervulde lied “Senzenina” gesing: “Wat het ons gedoen…?”, bedoelende dat ons “sonde” ons velkleur was en dat ons dááraan niks kon doen nie.


Dit is hoe God ons gemaak het. Waarom kan ons nie sien dat dieselfde vir gays waar is nie? Ons ken tog die ou, diep beledigende argumente: “Dis onnatuurlik”; “dis teen die Bybel”; dit “lei tot bestialiteit”. Maar toe was dit argumente teen ras-gemengde huwelike! Ons weet tog hoe dit voel om in een asem met diere en allerlei perversiteite genoem te word? “Wette teen veelwywery,” sê regter Antonin Scalia van die Amerikaanse hooggeregshof in sy minderheidsuitspraak oor gay-huwelike in Amerika, “gay-huwelike, bloedskande, prostitusie, masturbasie, egbreuk, promiskuïteit, bestialiteit word ernstig bevraagteken deur vandag se beslissing.”


Meer gesofistikeerd as Mugabe miskien, maar met dieselfde veragtelike, onmenslike, dode­like logika: Gay-wees is ’n onvermydelike afglydende skaal na perversiteit en dierlikheid. En Jon Qwelane, gevierde struggle-joernalis, dink ook só en hom stuur die regering juis Uganda toe as ons ambassadeur! So gou het ons vergeet waarvoor ons gister en eergister tot God vir verlossing gebid het, en so gou het die mag ons siel verkanker en verduister.


When Victims Become Perpetrators is die veelseggende titel van ’n boek van die Ugandese geleerde Mahmood Mamdani as hy oor Rwanda se massamoord skrywe. Inderdaad.


In ’n goeie boekie oor Christene en gay-regte skryf David Myers, sosio-sielkundige van die Hope College in die VSA, iets wat Suid-Afrikaners, ondanks ons goeie Grondwet en ons Sondagse vroomheid, nog moet leer: “As ons verskeur is tussen veroordeling en deernis, fouteer dan liewer in deernis.


“As ons verskeur is tussen selfversekerde oortuiging en onsekere nederigheid, fouteer liewer in nederigheid.


“As ons verskeur is tussen veragting en liefde, fouteer liewer in liefde.”


* Lees ook Reg op repliek.


* Dr. Allan Boesak is ’n teoloog by die Internasionale Instituut vir Ras, Versoening en Geregtigheid aan die Vrystaatse Universiteit.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive