Ek lees eergister ‘n dagboek uit die Anglo-Boeroorlog van ‘n vrou wat in ‘n konsentrasie-kamp vir ‘n jaar lank moes bly. Ek vergelyk haar dagboek met die dagboeke van Rensche van der Walt en A.D. Luckhoff, waaroor ek onlangs artikels geskryf het. (Dagboeke is ‘n belangrike bron vir die ondersoek van Spiritualiteit. Dit gee ‘n mens ‘n betroubare kyk in die manier waarop mense hul geloof beleef. En veral dagboeke in ‘n tyd van oorlog laat ‘n mens die innerlike geloofservaring van mense op ‘n unieke manier sien).
Ek is getref deur die manier waarop hierdie dagboek verskil van die ander wat ek tot dusver gelees het. Dit word gedryf deur ‘n obsessie met die vyand soos wat ‘n mens dit nie by Van der Walt en Luckhoff sal kry nie. Van bladsy tot bladsy is daar die een sarkastiese opmerking na die ander. Dit is duidelik dat die skrywer diepe onreg gely het. Sy is besonder sensitief vir die verskriklike kwaad wat haar en ander mense aangedoen is.
Dit is goed as ‘n mens ‘n gevoel vir geregtigheid het. Dit is ‘n wonderlike gawe wat ‘n mens tot liefde en omgee vir ander kan aanspoor en wat ‘n mens kan dryf om die stryd teen die kwaad aan te vat.
Maar soms is daar ‘n grens tussen ‘n gevoel van geregtigheid en ‘n obsessie met die kwaad.
Dit is duidelik dat die skrywer ‘n gevangene van haar negatiewe gevoelens geword het. Sy staan magteloos voor haar woede oor die kwaad wat haar aangedoen is.
Dit is ‘n dubbele magteloosheid wat ‘n mens in die dagboek opval: Sy is eerstens magteloos voor die mag van die vyand wat haar lewe beheer en so verniel het. Maar dan is sy duidelik ook magteloos om haar eie magteloosheid te bowe te kom.
Daarom kwets sy met ‘n onverdraagsaamheid en ‘n sarkasme gedurig haar vyand – anders as wat ek by Van der Walt en Luckhoff gelees het.
Nie dat Van der Walt en Luckhoff engele is nie. Van der Walt en Luckhoff kan baie opgewerk raak wanneer die vyand onregverdig en misdadig optree. Luckhoff vertel ‘n paar keer hoe hy amper onder die kamp-outoriteite wou inspring en ‘n paar klappe aan hulle wou uitdeel. Maar hulle is nooit hatig of obsessief nie. ‘n Mens kry nooit die indruk dat hulle magteloos is onder hulle magteloosheid nie.
Dit is ‘n algemene verskynsel dat mense vasval in hul bitterheid. Veral in die kerk. Lees maar Galasiers 5:15. ‘n Mens merk dikwels hoedat sommige vassteek in sterk gevoelens van opstand teenoor iemand wat hom/haar angstig maak. Dit hoef nie eers hulle vyand te wees nie. ‘n Mens kry dit soms dat iemand gedurig kwaad oor hulle lewensmaat praat. Of hulle kan nie hulle kollega’s by die werk “verdra” nie.
Luckhoff en Van der Walt het die vyande trompop en woedend gaan pak toe hulle gereken het dat onreg gepleeg word. Hulle het hul gevoelens gewys. Reguit, op die man af.
Hulle het dit uit hulle sisteem gekry. Toe was dit oor. Sonder dat hulle met die vyand geheul het, of voor hulle gekruip het, kon hulle daarna op een of ander manier tog met die vyand saamleef, al was dit net om hulle op ‘n distansie te hou. Hulle het juis nooit toegelaat dat die vyand mag oor hul innerlike lewe kry nie en dat al hul gedagtes deur bitterheid gevul word nie.
Vele mense kan dit nie regkry nie. Hulle is magteloos.
Nooit moet ‘n mens toelaat dat iemand anders ‘n mens so magteloos maak dat jy dag en nag in bitterheid gedompel word nie. Dan is hy of sy eers jou baas. Eerder as om dag en nag met broeiende gedagtes van woede rond te loop, kan ‘n mens jou lewe in vryheid vir jouself hou en die een wat jou kwaad aandoen nie ‘n ereplek in jou innerlike lewe gun nie.
Hoe word ‘n mens genees van jou innerlike verset teen ander wat jou kwaad aangedoen het?
Jy werk die kwaad uit jou sisteem uit. Dit kan gebeur deur die ander person te konfronteer en eerlik, selfs met woede te vertel hoe jy voel. Of jy kan aan daardie persoon ‘n plek toeken wat jou toelaat om met jou lewe aan te gaan en nie vasval in bitterheid nie.
Dan sorg ‘n mens dat die seerkry verby gaan. Dan sit jy jou lewensreis voort deur die persoon wat die onreg gedoen het, op sy of haar plek te hou – ‘n plek buite jou lewe waar jy nie elke dag opnuut weer die ou wonde sit en bekrap nie.
Dan gaan ‘n mens met jou lewe aan. As ‘n mens dit kan doen, is dit ‘n teken van volwassenheid. Dit beteken dat ‘n mens iets begin doen. Jy is nie ‘n slagoffer wat soos ‘n veronregte kind heeldag in sy/haar kamer sit en jou nors sit en verknies nie. Dan besef jy niemand is so belangrik dat hy of sy jou lewe van jou moet oorneem en wegneem nie.
Waar dit gebeur, kan ‘n mens selfs so ver kom om die ander te vergewe. As ‘n mens nie iemand kan vergewe nie, dan hou daardie persoon jou dubbel gevange: hy/sy laat jou verdrink in jou seergemaakte gevoelens. En daardie persoon maak dit vir jou onmoontlik om hom/haar te vergewe.
Dan begin die genesingsproses ‘n verder dimensie kry: ‘n mens kom agter dat die bitterheid wat ander mense jou aandoen, soms nie te veel afsteek by jou eie dade en jou eie onverskilligheid en ongevoeligheid nie. Langsamerhand besef ‘n mens dat selfs jou goeie dade soms veel bitterheid kan veroorsaak. Die onderwyser wat sy leerlinge “streng” wil opvoed en in die proses foute maak, die preek wat so versigtig uitgewerk word, maar iewers onbedoeld wonde slaan, die ondeurdagte woord teenoor ‘n pa of ‘n ma wat onnodig seer maak. Op baie maniere maak ‘n mens self foute wat soms slegte gevolge het. Daarom sien ‘n mens al hoe meer raak wat Jesus bedoel het toe hy gepraat het van die splinter wat ‘n mens raaksien en die balk wat ‘n mens miskyk.
Wanneer ‘n mens geleer het om ander mense hul foute te vergewe, selfs al het dit jou onreg aangedoen, word ‘n mens vry. Jy is vry van jou obsessies met die kwaad. En jy word ook vrygemaak deur die besef hoe feilbaar jyself is en hoe nodig dit is om maar altyd weer in die liefde te bly. Juis daarom is geloof so kosbaar: deur geloof ontdek ‘n mens steeds weer hoeveel vergifnis ‘n mens ontvang en hoe bevrydend dit is om vergifnis te kan skenk, selfs aan jou vyande.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.