Ek loop in die boekwinkel Anthony Feinstein se nuwe boek oor die grensoorlog raak. Dit heet: "Kopwond. Vergete Slagoffers van die Bosoorlog."
Ek lees dit toe graag om my verwysingsraamwerk vir my navorsing oor 'n Spiritualiteit van Vrede verder in te vul. Dit lees maklik en vinnig. Die vertaling in Afrikaans is ook besonder goed.
Feinstein was 'n psigiater tydens die grensoorlog. Hy beskryf sy ervaringe - eers in 'n groterige kamp, en daarna in 'n kleiner kamp van enkele mense wat in groot isolasie uiters gevaarlike werk gedoen het. Hy vertel van een lewensgevaarlike insident waarin hy betrokke was en 'n klomp mense gedood is.
Hy wil nie eintlik aan die oorlog deelneem nie, skryf hy herhaaldelik. Konsekwent laat hy blyk hoe sinloos dit is, watter onmenslikheid deur oorlog veroorsaak word en hoe dit selfs die mense wat in beheer is, vernietig. Hy wys op brutaliteit, op onverskilligheid, op die minagting van menselewens en 'n klomp ander uiters negatiewe aspekte van oorlog.
Die boek is aan die begin ontstellend. Hy noem gevalle op waar jongmense totaal vernietig word deur wat hulle op die grens ervaar het. Afstandelik beskryf hy hoe sy pasiente totaal deur die geweld tot niet gemaak word.
Sy inligting is goed gedokumenteer. Die beskrywing is effektief. 'n Mens kry 'n goeie insig in die omstandighede waarin mense se lewens so getraumatiseer word. 'n Mens leer ken hom as iemand met 'n wye kennis en met 'n sin vir waardes.
Maar algaande, terwyl ek die boek lees, bou daar by my 'n gevoel van teleurstelling op. Ek sit en wonder, toe ek die boek klaar gelees het, waarom ek onbehaaglik voel.
Miskien is dit omdat hy op 'n sekere selfbehepte manier skryf oor sy weersin en sy eie frustrasie met die oorlog en oor sy diepe weersin teen oorlog. Dalk is dit omdat hy so duidelik laat blyk hoe 'n weersin hy het in sy growwe bevelvoerders en die sinlose lewe van die soldate. 'n Mens kry die gevoel van 'n swart-wit prentjie. Boosheid is aan die een kant, goedheid aan die ander kant. Dikwels kry jy ook die gevoel van stereotipering. En dit is steeds die "ander" kant wat maar bitter sleg daarvan af kom.
Daar is min voorbeelde van menslikheid in die boek. Kan dit wees dat die grensoorlog absoluut altyd net hierdie growwe onmenslikheid tot gevolg gehad het? Was daar tog nie iewers 'n bietjie kameraderie in plaas van die growwe dronkneste wat hy vir 'n mens voorhou? Was daar nie iewers dienspligtes en soldate wat ook hul twyfels gehad het, hul verlangens gekoester het, hul geliefdes gemis het nie? Was almal dan werklik sulke seksbehepte, oppervlakkige, gevoellose dronkaards? Of is dit omdat Feinstein in sy werk net te doen gekry het met die ekstreme psigiatriese gevalle en in sy kamplewe met onsimpatieke omstanders vir wie hy nie van nader leer ken het nie?
Ek het onwillekeurig aan Luckhoff se dagboek oor die konsentrasiekamp in Bethulie tydens die Anglo-Boere oorlog gedink. Hy het soms twintig of meer begrafnisse in een dag gehou en baie mense sien sterf. Die kampomstandighede was totaal onmenslik. Rondom die kamp was die aarde verskroeid deur die besetters. Die hospitaal was vol sterwende kinders en die tente vol siek mense.
En tog kon Luckhoff aangrypende dinge oor die liefde skryf. Hy kon, ten spyte van al sy harde vrae, selfs aan God, oor die sin van die lewe, ook weer op 'n ander keer skryf watter voorreg dit was om in die donker tyd van oorlog by ander mense troostend teenwoordig te kon wees. Hy kon, ten spyte van sy harde woorde oor die ongevoelige dokters van die kamp wat op 'n stadium deur kampbewoners aangerand is, vir hulle net 'n klein plek in sy lewe toelaat. Sy woede oor die hensoppers en die verraaiers, en sy groot ergernis oor onreg en onmenslikheid kry hier en daar plek. Maar steeds weer laat hy net soveel plek daarvoor in sy lewe, en dan sluit hy dit verder uit.
Oorlog is seker op sy slegste as jy nie eers iewers 'n stukkie menslikheid - selfs in jou allergrootste ellende - kan raaksien nie. Laat my besef hoeveel meer waarde 'n mens moet toeken aan Jesus se laaste oomblikke: toe hy vir sy opponente kon bid en vir die moordenaar genadiglik in die paradys kon innooi.
Sunday, July 17, 2011
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2011
(338)
-
▼
July
(31)
- Niks is groters as die liefde nie? Dink weer.
- Vlymskerp flaters. 'n Ligte oomblik.
- Hoe om die pad van versoening te loop.
- Deur die Bybel word God 'n reisgenoot. Oor Thomas ...
- Die roos wat deur die beton gegroei het Oor 'n Gek...
- Die innerlike stilte.
- Wanneer 'n mens met absolute ywer ander doodmaak v...
- Heuning proe is iets anders.... Oor ervaring
- Die natuur in oorlogstyd. Vader Kestell
- 'n Moderne Christelike mistikus. Oor die bevryding...
- Wanneer ons toelaat dat iemand ons keer om hom erk...
- Wanneer die tyd van geestelike droogte toeslaan
- Verenig met die Liefde te midde van die geharwar e...
- 'n Nuwe boek oor die grensoorlog
- Jy het vir my klere gegee, water gegee, kos gegee....
- Wanneer iemand 'n mens verontreg. Oor die veilige ...
- Die verborge ontmoeting met God. Oor die joods-chr...
- Die oratiewe en kontemplatiewe. 'n Geestelike lees...
- Die spore lĂȘ diep.
- Twee misverstande oor die mistiek
- Om in God se plan te wees. Oor geluk
- Geloofsavontuur...
- Vry om aan te gaan met jou lewe.
- Die ewige gawe van helder, goddelike lig. Bybelstu...
- In vrede wagtend op die vrede. Oor die ikoon: Chri...
- Daar is nog plek.....
- Skoonheid en vreugde blom dikwels op ‘n mishoop. O...
- Oor skynheiligheid.
- Ek roep om ontferming. Gebed van Hieronymus
- Ontferming is wat saak maak
-
▼
July
(31)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.