‘n Ikoon was oorspronklik bedoel om die een wat uitgebeeld word te verteenwoordig. Kyk ‘n mens na die uitgebeelde person op die ikoon, dan beleef ‘n mens daardie een se teenwoordigheid.
In die antieke wêreld toe mense nog grotendeels ongeletterd was, het ikone die rol van boeke gespeel. Deur ikone het mense God leer ken, soos mense vandag die Bybel lees om God te ontmoet.
Ons is weer in die tye dat ons, afgestomp deur woorde, meer nodig het om die dieper dinge te begryp.
Maar daar was met ikone veel meer op die spel as blote kennis van God. Iemand noem ‘n ikoon ‘n venster in die hemel. Dit gaan dus nie net bloot om iets omtrent God te wete te kom nie.
Die ikoon wil die mens in sy/haar begeerte na die kontemplatiewe bystaan. ‘n Ikoon wil die mens se begeerte instel op die innige vereniging en belewing van God. Dit wil aanspoor om gereed te wees met ‘n innerlike verlange vir die oomblik wanneer God ‘n mens in onnaspeurlike liefde aanraak.
Daarom staan ‘n mens voor ‘n ikoon al biddende tot God – op die manier waarop ‘n mens die Bybel biddend sou lees, mediterende, in afwagting op die oomblik van omvorming, op die onbegryplike gawe van God se besoek.
In die Sint Katarina-klooster in die Sinai-woestyn is daar al lank ‘n ikoon met die naam van Christus Pantokrator.
Dit teken Christus as die Heerser van die wêreld – vandaar die naam Pantokrator (geneem uit Openbaring). Baie ikone met hierdie tema is in kerke in die Oosters-Ortodokse wêreld gemaak en ‘n mens loop baie van hulle in boeke raak. Maar as ‘n mens deur hulle blaai, is dit meestal interessant. Hierdie ikoon staan sterk bo hulle almal uit, want dit skok ‘n mens tot ‘n besondere ervaring. Dit word, in werklikheid, deur sommige as een van die drie bekendste ikone ooit beskou.
Toe ek deur al die voorbeelde van die ikone met hierdie tema blaai, vang die ikoon dadelik my oog en bly hang in my gemoed. Uit my nalees-werk, om hierdie indruk op te volg, wag die een verrasssing na die ander oor die ikoon op my.
Tot 1962 het dit in die Sint Katarina-klooster gehang en almal het geweet dit is ‘n ou ikoon. Maar niemand het besef hoe mooi dit is totdat dit in daardie jaar gerestoreer is deurdat latere verflae (uit die dertiende eeu!) verwyder is. Toe dit uiteindelik in al sy glorie onthul is, is besef dat dit waarskynlik uit die sesde eeu voor Christus afkomstig is en een van die oudste ikone in hierdie tradisie en met hierdie tema is.
Die ikoon het ‘n boeiende betekenis. Christus met ‘n donkerpers mantelkleed hou die Nuwe Testament vas. Dit is eintlik die vier evangelies (kyk die voorblad se vier hoeke). Hulle is van goud, lig versier met juwele en met die kruis, en Hy hou dit in ‘n ligte greep in sy linkerhand, teen sy bors, asof hy dit naby aan sy hart wil hê.
Om sy kop is daar ‘n stralekrans van goud, waarin die kruis ook voorkom (kyk die drie bane). Die stralekrans omraam en steek af teen sy donker hare. Die ronde stralekrans vorm ‘n sirkel om sy gesig. Tussen die stralekrans en sy gelaatstrekke is Christus se donker hare wat, saam met sy baard ook ‘n sirkel vorm. Die ryk-goue stralekrans, dan die donkerbruin hare, laat sy gesig helderwit uitstaan – al is sy gesig eintlik ‘n sagte liggeel kleur. Dit vang ‘n mens se oog – dit is asof ‘n helder gloed van lig uit sy gesig straal en van diep in sy innerlike na buite gloei. Dit is so suiwer, hierdie gelaatstrekke, so suiwer dat ‘n mens nie kan ophou kyk nie.
Die een wat voor die ikoon staan, kyk Christus vol in die oë. Die gesig van Christus, met rustige gelaatstrekke, gevul met stilte en volledige vrede, het ‘n verborge voorkoms.
Dit is asof hierdie Christus bo alle aardse storms en beperkthede uitgelig, verwelkomend na die kyker kyk – asof Christus die kyker innooi om die bo-aardse vrede met Hom te deel. Hier, nooi Christus, uit, hier – is hemel.
Dit gebeur inderdaad ook werklik in die ikoon dat Christus vir die kyker beduie: Met sy regterhand seën Hy die kyker – twee van sy vingers is in ‘n duidelike groet-gebaar van vriendelikheid en toegeneentheid opgetel. Dit is ‘n gebaar wat die kyker vrede skenk, wat die kyker oorrompel laat voel van genade wat uit ‘n hele ander sfeer kom.
Die wonderlike ligspel tussen die goud van die stralekrans, die donker kleed en die goud van die Bybel, maak die ikoon ryk aan kleure. ‘n Mens word na die lig aangetrek. Christus se gesig ikoon straal heiligheid uit. Dit is hier, in Sy teenwoordigheid, voor die ikoon, waar ‘n mens alles wat jou altyd besig hou, agterlaat, net so. En agter Christus aangaan na die groen weivelde.
Die ikoon is bekend omdat sommige dink die twee kante van Christus se gesig verskillend geteken is. Ek het lank gekyk. En hoe meer ‘n mens kyk, hoe duideliker word dit. Die gesig is duidelik asimmetries. Kyk byvoorbeeld hoe verskil die linkerwang van Christus van die regterwang. Die hare van Christus is presies in die middel verdeel. Kyk byvoorbeeld hoe die wenkbroue verskil. Die linker wenkbrou is, asof vraende, bietjie hoër. Christus se regterkant beeld die menslikheid van Christus uit en die ander kant die goddelikheid. Die hare aan Christus se regterkant is netjies, duidelik, plat geteken. Die hare aan Christus se linkerkant is wasig, vloei na sy skouer, asof ‘n mens byna deur ‘n mistigheid daarna kyk. Dit is asof ‘n mens in die verborgene, die goddelike, die onuitbeeldbare, kyk. Daarom verskil die twee oë ook, sê sommige. Die linkeroog nooi uit, bied genade aan. Die regteroog vra – moenie die kans laat verbygaan nie. Moenie die goddelike genade verspil nie. Neem dit. Dit is joune – dringend joune.
Imitatio Christi. Om Christus te volg – op die geestelike reis. Op weg in die volmaaktheid van die Goddelike teenwoordigheid.
Ek kyk weer vir oulaas die oë van Christus voordat ek die pos oplaai. Die oë, ervaar ek, saam met die uitnodigende hande, in ‘n gebaar van liefde, byna huiwerend, opgetel, maak al die verlange in ‘n mens wakker na die volmaakte. Dit is hier. Dit nooi uit. En dan die mistieke ervaring: dit is nog net ‘n verlange. Dit is, helaas, nog nie hier nie.
Die nabyheid is daar. Maar terselfdertyd ook die afstandelikheid. Dit is duidelik. Maar dit is ook verborge.
Die mistiek leer nou: juis ons verlange is ‘n reaksie. Op die mistieke, verborge teenwoordigheid van God. En so sal dit wees terwyl ‘n mens die geestelike weg bereis – totdat, eendag, die volmaakte sal kom. En ‘n mens nie meer in ‘n spiel, ‘n ikoon, kyk nie, in die raaisel nie. Maar van aangesig tot aangesig.
Daarom bid die kerk van alle eeue altyd: Maranatha. Dit is immers die slotgebed van die Pantokrator se boek (Open.21:20).
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.