Skuldig, besef ek, by die luister van die lied, ek ken nie die kunstenaar nie. Skandelik, seker ook, hy is inderdaad heel bekend.
Vanoggend speel 'n Psalm-agtige lied van Joe Niemand oor die radio. Die man het 'n pragtige stem, maar dit is die woorde wat ook by my bly. Dit is op sy webwerf te luister. (Luister 'n uittreksel: http://www.niemand.co.za/ - snit 8).
Maar in my soeke na meer inligting oor hom, kom ek op die volgende song af. Dit is 'n meesleurende wonderlike lied oor die liefde. Maar die woorde bly by my, veral die laaste vers.
I will be Your lover
I will be Your friend
I'll forsake all others
Until this world will end
You have seen my darkness
But you have not forsaken me
You shine Your light tenderly
You have set me free
Halleluja (4)
You have heard my thirsty cries
Your skies have answered me with rain
I will love no other
Until my dying day
Halleluja (4)
When I enter heaven's door
Let me not be carrying
Words of love or acts undone
Or songs I didn't sing.
Hier is die lied:
http://youtu.be/qFrQeeTTzF4
Saturday, December 17, 2011
Friday, December 16, 2011
By die vurk in die pad maak die verlange werklik saak…
By die vurk in die pad. N.a.v. Thomas Merton se beroemde gebed:
Lig van die wêreld,
Leidsman tot die Lewe,
ek weet nie waarheen ek op pad is nie,
ek is soos een wat die weg byster geraak het.
Ek is verdwaald,
aan die voortstrompel op ‘n pad
wat in nimmereindigende rondtes sirkel.
Ek weet nie waar alles sal eindig nie.
Alwyse Skepper, ek ken dan nie eers werklik myself nie.
En dat ek dink
ek is besig om U wil te gehoorsaam
beteken nog lank nie dat ek dit regtig doen nie.
Tog glo ek
dat die verlange in my om U bly te maak
wel vir U bly maak.
En ek hoop
ek behou hierdie verlange,
dat dit in my bly woon
in alles wat ek doen.
Ek hoop dat ek nooit iets sal doen
buite om hierdie verlange om U bly te maak.
En ek weet dat as ek so bly leef
U my op die regte pad sal lei
al ken ek die pad glad nie.
Daarom wil ek U altyd vertrou
al voel ek soms verlore,
al dink ek party keer
ek woon in die skadu van die dood.
Ek sal nie vrees nie
want altyd bly U by my.
U sal nooit van my wegloop
en my alleen verder laat reis nie.
Thomas Merton, Pax Christi, Benet Press, Erie, PA.
Thursday, December 15, 2011
Verslaafd aan die verlede en toekoms. Om vry te kan wees tot die lewe.
(Mondigliani: gekweldheid).
Te min gebeur dit dat ‘n mens in totale oorgawe aan die hede leef.
En te veel kere is ons lewe onvervuld, gejaag, ‘n dolle geskarrel agter die onsekerhede van die toekoms en ‘n geworstel met die laste van die verlede.
Gedurig, elke oomblik, is daar iets of iemand wat oor ons skouer loer. Ons onthou ‘n gebeurtenis van vroeër of dink aan iemand wat nie by ons is nie. Ons ervaar wroeging oor dinge wat ons verkeerd gedoen het, of verlang na wat verby is. Ons voel pyn oor iets wat met ons gebeur het. Ons hou vas aan wat verby is. Ons gedagtes flits terug en bly steek in die verlede.
Intussen, in ons onrustigheid, in ons verknegting aan die verlede, gaan die hede by ons verby.
Ons kan ook so maklik betower of gekwel word deur die toekoms. Ons wonder oor nuwe ervarings wat op ons wag. Ons is gepla oor al die laste wat op ons gaan druk en wat ons moeilik gou sal kan verwerk. Ons sien ongeduldig uit na ‘n herontmoeting, na ‘n verhuising, na iets anders en iets nuuts.
Intussen, in ons onrustigheid, in ons ingesteldheid op wat nog moet kom, vergeet ons van die hede en gaan die oomblik van die nou en die hier verby.
Intussen is daar iemand naby aan ons wat ons lewe kan volmaak. As ons maar net in sy of haar geselskap en nabyheid kan bly en geniet aan die oomblik van saam-wees. Onderwyl is daar om ons 'n dag om te kan leef, 'n plek om te kan verken, 'n ervaring om te kan beleef. Intussen is daar ‘n heerlike vakansie, in die somer-son, by die uitspan-plek waar ons ons kan oorgee aan die oomblik van lewe, van omgee, van oorgee en sommer net van geniet wat God aan ons skenk.
Wat kan groter wees as die ooomblik waarin ons ons bevind?
Hoe kosbaar die tye wat aan ons gegee word en hoe onnadenkend die argeloosheid waarmee ons dit verspil.
Ons is die slagoffers van ons eie gekweldheid.
Carpe diem.
Jesus het ons in die oomblik, in die hede, in die nou en die hier ingelei: kwel julle nie oor die dag van môre nie.
Daar is ‘n ewigheid in die oomblik. Dit kom nooit weer na ons terug nie.
Wie nie vir die oomblik kan leef nie, moet nog groei in die geloof. Want die vrede en die rustigheid kom tot hulle wat by God ‘n tuiste gevind het. Dit is oor ons klein geloof dat ons lewens so gejaag, onrustig en onvervuld is.
Daar is iets mistieks aan die vermoë wat ‘n mens kry om al die knellende bande van die verlede en toekoms af te skud en om die genadige gawe voluit te kan geniet – om voluit hier en nou te leef. Om te doen wat jou hand vind om te doen.
Kerstyd is by uitstek die tyd van vrede wanneer ons tot rus kom – oorgegee aan die vreugde van die oomblik. 'n Tyd om na te dink oor ons onverskilligheid teenoor die hede. En om dieper in te groei in die besluit om die tyd uit te koop. Elke oomblik, asof dit 'n stukkie kosbare goud is.
Wednesday, December 14, 2011
Hoe maklik om die ander uit te skuif....
Dit is verleidelik, en maklik, om te verval in die ons-hulle sindroom.
Ons leef met ‘n agonistiese instelling: dit beteken ons sien onsself dikwels “teenoor” of “in stryd met” die ander een of die ander groep.
Die instelling reflekteer ‘n lewe na die vlees. ‘n Lewe volgens ons natuurlike instinkte. Want hierin verskil mense oor die aardbol nie van mekaar nie.
Dikwels is ons, die “regtes”, die “opregtes” en die “ware” Christene, in die “goeie” kamp en mense met wie ons nie saamstem nie of wat ons nie kan verdra nie of van wie ons verskil aan die “vyand” se kant.
Net so opvallend is hoedat ons selfs hulle wat naby aan ons is in kampe kan verdeel. Hierdie “natuurlike” lewensstyl kom in die mees intieme van groepe voor. In gesinne is ons ook so agonisties ingestel. Ons sien hoe ‘n pa of ‘n ma ‘n “oogappel” onder hul kinders het. Of ons praat van ‘n gesinslid wat as “swartskaap” uitgerangeer word.
Maar dit kan soms selfs baie subtieler word. In dieselfde gemeente, in dieselfde kerk, onder die nabye geloofsgenote kan ons “sommige”, die “ander”, tot stilswye dryf. “Hulle” word (vriendelik) geïgnoreer of op ‘n fyn manier as struikelblokke in die lewe van die kerk gekarakteriseer. “Hulle” besorgdheid is “selfsugtig”, “kortsigtig” en “onBybels”. Op die manier versamel ons gelykgesindes om ons en raak ons ontslae van geloofsgenote wat nie in ons groep "inpas" nie.
Dit is die natuurlike manier van leef.
Onder alle groepe kom hierdie agonistiese denkwyse voor.
Onder alle groepe kom hierdie agonistiese denkwyse voor.
Maar die dieper waarheid is dat die Evangelie in sy hart so ‘n instelling grondiglik bevraagteken.
Is daar in die Jesus-verhaal iets wat ons hieroor meer vertel?
Dit is nie moeilik om ‘n antwoord te kry nie. Dikwels onderskat ons een van die mees kenmerkende eienskappe van Jesus se bediening: hy sluit nie mense uit nie, maar in. Inklusiwiteit eerder as eksklusiwiteit is sy lewensinstelling. Dit staan teenoor sy opponente, die Fariseërs wat mense op grond van hul godsdienstige en kultiese reinheid vermy en wegwys.
Anders is dit by Jesus: Armes, vroue, kinders, prostitute, tollenaars, verraaiers en sondaar is welkom - in die binnekring, in die vreugdes van saam-wees en saam-vier.
Maar kyk net na Jesus se kring van dissipels self: in daardie groep is daar van alles en nog wat: die Petrusse, die sterkes en bakleiers, die rotse, maar ook die sagtes en die liefdevolles, die Johannesse. Die twyfelaars en sukkelaars, die Thomasse. Die verraaiers en booswigte, die Judasse. Alles en nog wat is versamel.
Anders is dit by Jesus: Armes, vroue, kinders, prostitute, tollenaars, verraaiers en sondaar is welkom - in die binnekring, in die vreugdes van saam-wees en saam-vier.
Maar kyk net na Jesus se kring van dissipels self: in daardie groep is daar van alles en nog wat: die Petrusse, die sterkes en bakleiers, die rotse, maar ook die sagtes en die liefdevolles, die Johannesse. Die twyfelaars en sukkelaars, die Thomasse. Die verraaiers en booswigte, die Judasse. Alles en nog wat is versamel.
Jesus neem gelowiges hierdeur weg van ‘n eksklusiwiteit na die groot ideaal van die mensdom as die familie van God, broers en susters. In Christus is daar nie meer man of vrou, slaaf of vryman, oud of jonk, Jood of Griek nie. Mense is almal een – skryf Paulus in Galasiërs 3:29.
Almal is een. Dit is wat God wil hê. Al die nasies van die wêreldstad stroom Jerusalem in (Open 21).
Dit is God se wil. So werk die Gees. Dit is die lewe na die Gees en dit staan diametraal teenoor wat ons wil.
Nou weet ons almal hoe moeilik dit is om ‘n mens se eie wil prys te gee. Dit is tog te duidelik uit die lewe van Jesus wat juis nie die lydenspad wou loop nie. Bloed het Hy gesweet om God se weg te moet kies.
Dit is nie maklik nie. Maar die moeilike weg bring die grootste verrassings. En dit bly merkwaardig hoedat mense van wie ons niks hou nie, radikaal mooi kan word as ons hulle bloot net toelaat om ons kring binne te kom. Telkemale het ek dit al ervaar: die donker vyandshart van die opponent kan warm begin klop as ‘n mens in liefde na hom of haar uitreik. Kyk net wat het met die einste Paulus gebeur toe die aanraking van God hom getransformeer het en hy vir vele Joodse gelowiges oor die aarde heen die rigtingwyser tot ‘n dieper geloof kon word.
Die lewe na die Gees vra inklusiwiteit, uitreiking, aanvaarding, openheid.
Tuesday, December 13, 2011
Kontemplasie, instelling en stilte
Kontemplasie is ‘n sleutelwoord in Spiritualiteit en ‘n kern-motief in die geestelike lewensreis. Van alles waarmee ‘n mens besig kan wees, is die kontemplatiewe die diepste en sinvolste.
Lectio Divina beweeg byvoorbeeld van die lees van ‘n teks (lectio) na die besinning oor hierdie teks (meditatio). Hierdie meditatio hang ten nouste saam met contemplatio – daardie Godgegewe, genadige oomblik wanneer die mens bewus word dat jy in die teenwoordigheid van God leef. Alles wat ‘n mens doen wanneer ‘n mens met God se woord besig is, kry uiteindelik sin in die manier waarop dit ‘n mens in ‘n verhouding met God bring en coram Deo laat staan.
Daar is in kontemplasie dus ‘n fokus op wat God aan die mens in rykdom gee en op die liefdevolle gemeenskap wat God met die mens aanknoop. Die besige dinge van die alledaagse lewe, maar ook die geestelike oefeninge van gebed, omgang met die Skrif, vas en afsondering word ingebed in die dieper, groter kontemplatiewe oomblik dat God op ‘n mistieke manier ‘n mens aanraak en ‘n mens se bestaan hartgrondiglik vul. Die aandag skuif van alles wat die mens doen, na dit wat vir die mens as ‘n verborgenheid gegee word en gedoen word.
Wanneer die ervaring van die mens skuif van alles wat met hom of haar gebeur en alles wat die mens begeer en voel na wat God gee, word dit in die menslike gemoed stil. Kontemplasie is in baie van die ou tradisies van Spiritualiteit ten nouste verbind met stilte. Maar voordat die stilte ‘n mens se lewe vul, is daar ook die soeke na die stilte. In baie van die ou tradisies het die toegewyde mens die stilte opgesoek deur byvoorbeeld in die woestyn te gaan bly of deur ‘n mens af te sonder of deur ‘n gemeenskapslewe saam met ander in stilte. Die kontemplatiewe kom tot die mens in ‘n konteks van stilte, maar maak die mens ook stil.
Daar is nie iets toevallig aan stilte nie. Stilte is nie iets wat ‘n mens sommer net oorval nie. ‘n Mens leef in stilte, “beoefen stilte, as te ware. Mens sou verskeie woorde vir die verhouding tot en beoefening van stilte kon gebruik: daar is by ‘n mens ‘n fokus op die diepere, ‘n aandagtige let op die verborge dinge. Daar is ‘n gevoeligheid om nie deur allerhande sekondêre dinge geokkupeer te word nie. Alles wat ‘n mens se aandag aftrek, word uitgewys en vermy. ‘n Mens is ingestel op, soek na en wil bly in die stilte, gereed vir God om in die stille nag van afwagting God se opwagting te maak.
Wanneer ‘n mens in die stilte leef, begin ‘n mens se innerlike tot sy reg kom. Dan begin ‘n mens luister na die taal van die hart en word al die besige dinge van die daaglikse bestaan herken vir die vlakheid wat dit werklik is. Die hart kry ‘n kans om gehoor te word.
Kontemplasie beteken dus om in die gewone, alledaagse lewe bewustelik ingestel te wees daarop om in stilte by God te wees sodat ‘n mens God se stem kan hoor spreek. Dit is verbind met ‘n gerigtheid op God en op God se stille werking in die mens se innerlike lewe. Die mens weet verlangend dat in die kontemplatiewe oomblik word die mens steeds weer aangeraak en getransformeer.
Dit bring ‘n mens by ‘n belangrike faset van kontemplasie. In kontemplasie gaan dit steeds weer om te luister na wat God vir ‘n mens se lewe wil hê. In die aandag vir God, in die stilte gaan dit nie om die mens se verhoogde bewussyn nie of om die mens wat in stilte rus nie. Steeds weer loop kontemplasie uit op ‘n gevoeligheid om in lyn te kom met God se hart. Wat ‘n mens begeer, is die lewe van goddelike wysheid te kan voer. Hiermee saam kom daar die passie om God se wil vir ‘n mens se lewe te onderskei.
Wat dan uiteindelik die meeste tel, is om een met God te wees. Wat die belangrikste is, is dat ‘n mens deel word van God se wêreld en wil. Stilte, meditasie en kontemplasie dien almal die groter doel om al die onnodige, onbelangrike dinge te stroop en oop te wees sodat die werklike lewe in 'n mens kan binnestroom.
En dit bring ‘n mens tot die punt waarom alles gaan: in die kontemplatiewe word die mens getransformeer. Spiritualiteit het steeds weer met omvorming te make. Wie in stilte vir God wag en stilweg ervaar wanneer God se aanraking kom, word soos met vuur heen gesuiwer. Weg word die aanbrandsels geskroei, nuut kom dan die skoonheid na vore en sag word die gloeiende ywer omgebuig om die goddelike beeld te toon.
Monday, December 12, 2011
Adventstyd - die wag op die mistieke volheid
Ek herlees Henri Nouwen se dagstukkie van 21 Desember in sy Drie Minute Stilte wat ek 'n dekade gelede vertaal het met verwondering.
As ek dink hoeveel ek intussen bloot gestel is aan spiritualiteitstekste, verklaar dit vir my waarom hierdie teks vir my op baie maniere nuut is.
Ek besef nou hoe sy opmerkings hieroor inpas in die belangrike tendens om mistieke ervarings nie esoteries te sien nie - asof slegs enkele mense die hoogsbesondere ervaring het om op 'n spesiale manier van God se teenwoordigheid bewus te raak en die eenheid met God te smaak.
Opvallend en die sleutel tot die gedeelte is sy opskrif: ’n Ervaring aangebied vir almal. Hy skryf:
Sommige mense sê, “Ek het nog nooit ‘n ervaring van die volheid van die tyd gehad nie … Ek is maar net ’n gewone mens, nie ’n mistieke of ’n besonder heilige mens nie.”
Hoewel sommige mense unieke ervaringe van God se teenwoordigheid het, en dus unieke sendingtake kan verrig om God se teenwoordigheid aan die wêreld te verkondig, kan ons almal – geleerd of onopgelei, ryk of arm, bekend of onbekend – die genade ontvang om God in die volheid van die tyd te sien.
Dié mistieke en geheime ervaring is nie beperk tot ’n paar besondere mense nie. God wil hierdie geskenk in die een of ander vorm aan al God se kinders aanbied. Maar ons moet daarna verlang en dit begeer. Ons moet oplettend en innerlik waaksaam wees.
Vir sommige mense kom die ervaring van die volheid van die tyd op ’n sensasionele manier, soos vir Paulus toe hy op pad na Damaskus op die grond neergeval het (Handelinge 9:3-4). Maar vir sommige van ons kom dit soos die fluistering in die windstilte of soos die sagte briesie teen ons rug (1 Konings 19:13).
As ek nou weer die stuk lees, staan vir my hierdie besondere sin uit: "Ons moet oplettend en innerlik waaksaam wees." Die eenwording met God vind plaas waar daar 'n omgeploegde, voorbereide, ryk akker is.
Sunday, December 11, 2011
Verlange na die nag
Johannes 3:2: “Nikodemus het in die nag na Jesus gekom” (n a v ‘n gedig van Henry Vaughan; met dank aan Dale Alison).
Die Nag
Was tog my luide, bose dae
eerder rustig en ongejaagd soos in U donker tent –
die vrede-plek waar selde selfs geruis van engel-vlerke of -stem
gehoor word;
dan sou ek in die Hemel die lange jaar
wou bly woon en nooit hier dwaal nie.
Maar waar ek in die son leef, met
alles ‘n gejaag, hier waar almal inmeng en uitmergel,
op hul eentjie, maar ook vir mekaar, deel ek, graag,
elke drassige geflodder.
En by die aarde se dwaal-lig
verdwaal ek meer as wat ek sou kon in die nag.
Daar is in God, sê sommige,
‘n diep, maar duiselingwekkende duisternis; mense hier
dink dit is laat en stowwerig, want hulle
sien nie al te helder nie.
O, vir daardie nag! Wanneer ek in Hom
sal woon, dof en onsigbaar.
Saturday, December 10, 2011
'n Blou Engel
In die Evangelies word die Jesus-verhaal heel sober vertel. Daar is byvoorbeeld nie baie engele nie.
Hier en daar verskyn daar 'n engel of twee, na die toetsing in die woestyn en by die oop graf.
Behalwe in die geboorte-verhale. Daar wemel dit van die engele.
Engele en kerstyd is onlosmaaklik verbind.
Engele verskyn in die geboorte-verhale omdat hulle die verhaal van Jesus omraam as 'n gebeurtenis waarby God betrokke is. Engele bring aan gelowiges helder verduidelikings van die betekenis van Christus se geboorte. Hulle vertel van 'n spesiale nuwe oomblik in die lewe van ons wêreld.
Marc Chagall het graag engele geskilder. As kind, deel van 'n hoogs gelowige familie, het hy 'n droom gehad van 'n engel wat in sagte blou lig aan hom verskyn.
Hy het na sy vrou se dood vir haar as 'n engel geskilder. 'n Blou engel.
Maar dit was nie heeltemal so uniek nie. Hy het dikwels blou engele geskilder.
Hoekom dan blou? Hoekom in daardie ryk, diep blou wat 'n mens dadelik aan Chagall herinner?
Iemand het daaroor geskryf en opgemerk dat blou vir Chagal die kleur van die gees was, die verborgene.
In hierdie bekende "Blou Engel" van Chagall, het die engel 'n ligte, swewende karakter.
Chagall teken nie kers-engele nie. Maar die engele wat hy wel teken, laat 'n mens opnuut besin oor die rol van engele in die kerstyd. Wanneer Chagall sy vrou as 'n blou engel teken, is dit sy manier om sy liefde vir haar uit te druk. Heel spesiaal, engelagtig, was sy vir hom. In die "Blou Engel" is sy langs 'n rangskikking van rooi en wit blomme uitgebeeld. Die toneel laat 'n mens dink aan 'n tuin van vrede, 'n paradys.
Daarmee wys Chagall watter spesiale gevoel engele by 'n mens wakker maak. Wanneer 'n mens oor engele droom, van engele praat of engele teken gaan dit om goeie tye, goeie dinge, spesiale oomblikke.
Inderdaad. Engele in die adventstyd herinner 'n mens aan die liefde wat aan ons geskenk is - in die enigste Geliefde van die Ewige - in die Seun. Dit is 'n spesiale, mistieke gedagte, want dit kom so onverwags, onverdiend.
Maar die engele herinner ons aan wie ons werklik is. Die engele vertel vir ons om te onthou dat ons eintlike tuiste die plek van vrede is. Wie in die vrede woon, leef in liefde.
Subscribe to:
Posts (Atom)