Thursday, January 19, 2012

'n Akademiese tuinparadys

Ons is op besoek in Bangalore, een van die bekendste stede in Indie. Die stad staan egter nie 'n tree agter vir Delhi nie. Die verkeer is net so erg. En die armoede is ook duidelik te sien.


Maar met die besoek aan die Universiteit kom ek agter waarom Indie tans een van die vinnig groeiendste lande op aarde is. Hierdie private universiteit, Christ University, in die hande van die Karmeliete, is 'n lewende bewys van hoe ryk hulle in menslike kapitaal is en hoe indrukwekkend hul akademiese opleiding is. 

Hier is 'n paar foto's:

Die indrukwekkende ingangsportaal van die hoofgebou van Christ University met sy reuse kunswerke:




Die binneplein van een van die gewone geboue het 'n groot kunswerk:




Die luukse ouditorium van die Universiteit waarin vanoggend se belangrike voorlesing deur 'n Amerikaanse spreker aangebied is, kan 2 200 mense huisves. Dit is glo een van die bes toegeruste ouditoriums in Bangalore.





Die kampus is op 'n reuse stuk grond, hektare groot, omring deur twee strate waar hondsdol voertuie die blou hel uit jou jaag. Maar in die afgeslote, groot tuin-kampus kom jy niks daarvan agter nie. Hier is 'n kykie op die tuin-atmosfeer, naby die hoofgebou:






Orals is daar klein kunswerke. Die akademie het hier 'n duidelike estetiese karakter. Hier is 'n voorbeeld daarvan: dit is 'n Christus-figuur, in 'n meditatiewe sit-posisie, saam met sukkulente-plante uit Indie se woestyn-gebiede:




 Hier is 'n ander, weer eens met n sterk inheemse karakter, met 'n moderne universiteitsgebou in die agtergrond:




Die volgende blog skryf ek meer oor die universiteit.

Wednesday, January 18, 2012

Skoonheid en liefde

Miskien is die Taj Mahal des te meer mooier omdat 'n mens deur sulke haglike toestande moet sukkel om daarby uit te kom. Die pad na een van die bekendste monumente ooit, loop immers deur die aller-armste plekke en dorpe.

Maar die Taj Mahal is werklik mooi. En, sou dit in 'n allerskoonste land gebou wees, sou dit darem seker nog betower het.


Eintlik is die plek onvoorstelbaar: 'n reuse monument, met dimensies wat mense-figure oordonder, vir 'n geliefde vrou gebou. 

Ondenkbaar: In die koepel-kamer kom 'n mens op die twee kiste van die koning en sy geliefde af. Piepklein.

Ons is daar op 'n helder dag. Die gids vertel dat hulle die vorige dag nie die gebou kon sien nie omdat daar soveel mis in die lug was - iets wat nogal dikwels in die winter gebeur. Die blou, blou lug laat die marmer-wit helderder as ooit uitstaan.

Die skoonheid van die marmer-gebou, met die allerfynste inlegwerk, is onoortreflik.


In Bangalore vandag, terwyl ons verwelkom word by ons ontmoeting met kollegas vir 'n lang byeenkoms oor ons gemeenskaplike werk aan spiritualiteit, word genoem dat ek spesiaal gereis het om die Taj Mahal te sien. Besoekers word dopgehou. Hulle prioriteite nagegaan... Erkentlikheid vir hul kunsskatte bring genoegdoening en waardering, besef ek.

Indie is trots op hierdie uitsonderlike monument. Dit is hulle pronkstuk - die agste wonder van die wereld, word ek 'n paar keer vertel.


Ek loop verwonderd rond tussen die gemaal van die duisende toeriste wat die plek besoek. Selfs die besige gewoel kan 'n mens se innerlike verwondering nie demp nie.


Ek verwonder my aan die mens se kompetensie om skoonheid te kan skep. Die koning, al rouende oor die dood van 'n geliefde vrou, bring as teken van sy liefde 'n monument tot stand wat die hele aardbol nou al vir eeue lank betower.


Die liefde is 'n oorweldigende bron van inspirasie.
 








Tuesday, January 17, 2012

Armoede in die negende rykste land ter aarde.







Hoe langer, hoe meer probeer ek wegbly van stereotipering. Dit is waarom ek my tydjie in Indië versigtig bedink – ‘n mens kan maklik baie skeef na die situasie kyk.

Indië kan gou as ‘n agterlike, korrupte derde wêreldland beskou word. Die waarheid is dat dit tans die negende sterkste ekonomie in die wêreld is en dit sal in die volgende vier dekades, volgens mediaberigte die week, na die derde plek opskuif. Onvoorstelbaar: een van die sterkste lande op die aardbol.

‘n Mens sien tekens van die groeiende en groot ekonomie oral raak: die groot firma’s en maatskappye is almal hier en besit groot, moderne geboue. Onder die vier ander mense in ons groep op die dagtoer na Agra, was twee konsultante wat uit Europa oorgekom het om plaaslike werkers in hoogs tegnologiese vaardighede op te lei. Indië koop groot in op modernisering.

In Delhi en in Bangalore is daar baie nuwe motors op die pad – al jaag hulle die blou hel uit ‘n mens uit.

Daar is ‘n ordentlike grondwet in plek en verligte wetgewing word gepromulgeer.

Dit is die bo- en die blinkkant van die groot staat wat die grootste bevolking het: 1.2 biljoen mense. Hulle lag as ek vertel ons het al 48 miljoen mense in Suid-Afrika.

Die realiteit is egter anders as die blink puntjies en sterretjies van die kersboom: dit is ‘n land, ervaar ek met diepe skok, wat oortrek is van endemiese, uiterste armoede. Op pad van die lughawe in Delhi tref dit mens ook soos ‘n onverwagte hartaanval: orals is arm, vuil, verslete mense. Hoewel almal aan die werfskaf is en op een of ander manier aan die gang is met ‘n ekonomiese take – hulle sit voor winkels, beman klein besighede, ry vragte aan – is dit duidelik dat hulle in die armste van omstandighede oorleef.

Hulle bly op dakke, hoeke, oop ruimtes van vervalle geboue. Op my laaste dag in Delhi neem ek foto’s van ‘n groot, hele gesin wat op die hoek van ‘n straat onder ‘n boom rondom ‘n vuurtjie sit. Hulle toestand is onbeskryfbaar. Hulle sit net, saamgehoek in ‘n groepie met geen skuiling en geen dak oor hulle kop (sien boonste foto).

Langs die strate sal jy nou en dan iemand op ‘n plek (wat nie eers ‘n sypaadjie genoem kan word nie) sien lê – nie eers onder ‘n kombers nie, bloot net met ‘n doek oor die kop. Jy het geen idee of dit ‘n lyk is of iemand wat net daar in die oopte langs toeterende, verbysnellende motors lê en slaap nie.

Hier en daar bedel kinders deur aan ‘n venster te tik en na hul mond te wys – al vraende na geld.

My taxi-bestuurder van die lughawe in Bangalore vertel vir my dat hy ‘n duisend rand per maand verdien vir ses dae se werk. Hy is vir 24 uur aan diens, is 24 uur af en vat dan sy volgende skof van 24 uur aan. Ek weet nie of hy die waarheid praat nie, maar toe ons by my blyplek aanland en ek hom ‘n tip van R30 gee, gryp hy my hand en soen dit.

Op die manier kan ‘n mens nog eindelose voorbeelde opnoem. Ek is verslae onder die aanslag van die armoede. Ek wil weet hoe dit moontlik is in ‘n land wat die negende sterkste ekonomie in die wêreld het.

My kollega’s het uiteenlopende reaksies: hulle praat sinies oor korrupte politici wat wette maak maar nie ‘n vinger oplig om dit af te dwing nie. Hulle praat van magsgroepe wat armes doelbewus arm wil hou om goedkoop arbeid te behou en hul rykdom te stut en uit te bou. Een van hulle – hou jou asem op – sê vir my dat Indië die mees korrupte land is wat hy ken (hy is tans ‘n biskop van ‘n welvarende bisdom in Amerika en het in vele Westerse lande gestudeer en gewerk).

Ek kan dink dit is waar: daar is te veel hofsake van grootskaalse skelmgeid en korrupsie waarvan ‘n mens in die media lees dat sy opmerkings geïgnoreer kan word.

Maar in my gesels hieroor kom ook die ander kant van die saak na vore: op die voorblad van die koerant van Sondag word berig dat 230 miljoen (sowaar!) Indiërs daagliks honger ly. 44% van kinders onder 5 jaar is ondervoed. 21 miljoen kinders sterf voordat hulle vyf jaar oud is.

Een uit elke vyf Indiërs het dus nie ‘n menswaardige bestaan nie.

Ek vra uit hieroor. Een van die antwoorde is dat in die platteland ouers hul kinders as ‘n bron van inkomste sien. Kinder-arbeid in Indië is nou onwettig. Daar is skoolplig van 10 jaar. Maar ouers steur hulle nie hieraan nie. Hulle ignoreer doodeenvoudig die wette. Ouers, word vertel, sny soms die kinders se tonge uit sodat hulle kan bedel en simpatie kan kry.

En dit alles in die negende rykste land ter wêreld.

Tereg skryf die koerantberig wat die syfers oor armoede berig: die syfers kan nie sommer geïgnoreer word nie. Hulle waarsku van sluimerende spanning wat, sou dit tot uitbarsting kom, die toekoms van die land kan ruineer.

Tye om diep oor die evangelie na te dink: meer nog. Tye om aan te por en profeties op te roep tot ‘n meer humane en spirituele samelewing.

Monday, January 16, 2012

Wanneer jy die sooi onder jou voetsole wil soen.

Vars in Delhi, bagasie gepak, reg om te gaan:



Min, min het ek geweet wat op my wag. Maar na die eerste wegtrek het ek besef: Hier word jou blaas deeglik getoets, terwyl ek klou aan die sitplek van die taxi wat my Vrydag van die lughawe in Delhi na my hotel neem.

Ek neem ‘n “amptelike” taxi van die moderne, nuwe lughawe vir die tog van 40 kilometer. Maar daar is niks ampteliks aan die rit nie. Die bestuurder is boonop jonk. Hy het nog energie genoeg om die lewe en die paaie teen ‘n spoed te vat. Hy lê op sy toeter, swaai wye draaie om die ander voortsnellende fietse, tuk-tuk’s, motorfietse, motors en vragmotors voor hom, sny in in die kleinste moontlike spasies en jaag bloots oor al wat ‘n gat en ‘n homp in die pad is.


'n Tuk-tuk: daar is miljoene van hulle:


Die probleem is nie eenvoudig nie: duisende ander gevaartes op die verfoeste paaie van Delhi ding ywerig met hom mee om hom die loef af te steek.

Dit is ‘n oewerlose free for all. En, om alles te kroon, lyk niemand vir ‘n oomblik gekweld nie..

Ek bereik my bestemming genadiglik veilig en klim, geestelik ontwrigd en lewenslank vermink, by die hotel af.

Delhi se verkeer is ‘n verskrikking, ‘n absolute verskrikking uit die binnekamers van die hel, dink ek.

Die volgende oggend is ek op pad Agra toe – om die Taj Mahal te bekyk. Dis ‘n vier uur reis daarheen en vier uur terug. Besoekersgetalle is gemiddeld 23000 per dag. Mense praat daarvan as die agste wonder van die wêreld. Dus is daar geen manier waarop ek aan die tog gaan opgee nie.

Die bussie wat ons vyf vervoer, sien ek met blydskap die oggend om 5h30, is ‘n nuwer uitgawe as my taxi van die lughawe na my hotel. Alles lyk eers goed: Die bestuurder is ‘n rapsie besadiger. Helaas is dit gou ‘n ander storie:  die verkeer is slegter as Delhi’ s’n. Agra lê in die platteland en ons reis deur skrikwekkende tonele van armoede en chaos. Boonop is daar stringe en stringe vragmotors en enige ander vorm van vervoer op wiele op die pad. 

Met die rit na Agra begin ek agterkom hoe werk die storie met die gejagery en besef ek die method in die madness: ook hier in Indië ry die mense links, maar anders as by ons hou die groot vragmotors regs en wie wil verbykom moet aan die linkerkant verby hou. 

Moedig soek ek troos in my dieper insigte.

Die probleempie is net dat die bestuurder natuurlik nie mooi kan sien wat links van die vragmotors voor hom aangaan nie. Hy moet dus half uitswenk om te kyk of hy wel aan die regterkant verby kan gaan.

Aan die linkerkant van die pad ry al die fietse, tuk-tuks en loop verbygangers - al jou naastes in Indië, plus hulle osse en hul esels en alles wat in hulle poorte is. As die bestuurder dus uiteindeik ‘n gat sien wat hy kan vat om verby te kom, sak hy toe op sy toeter om hierdie klomp obstruksies in sy pad te waarsku dat hy aan die verbykom is.










En soms kom daar uit die bloute verkeer van vooraf aan die kant van die pad gejaag van motors of busse wat kort pad vat. Ek en die Spanjool wat langs my sit (hy werk nou in London en weet dus van verkeer) het twee keer lam van skone skok moes aanskou hoe gevaartes uit die bloute van voor op jou baan op jou afgepeil kom. Ons het albei gelyk van skone verbouereerdheid aan die lag gegaan.

Dit alles gebeur sonder ‘n teken van woede, skellery of gepaste lelike, onwelvoeglike gebare. Ons het die heel tyd ook net een enkele ongeluk gesien, en dit was nie eers ‘n botsing tussen motors nie.

Wat die toetery beteken, besef ek eers toe ek agter op elke vragmotor wat voor ons op die pad is, die boodskap, in groot letters geverf, sien: HORN PLEASE. Of in boeretaal: toet my. (Hier onder is 'n minder gelukkige spelling van so 'n kennisgewing. Regs sit die man wat, soos vele ander mans, sy vrou op 'n motorfiets vervoer).


Die toetery is dus om die mense agter ander bestuurswiele te laat weet jy is in die omgewing, jy is besig om hulle verby te steek en hulle moet kyk wat hulle doen en nie in jou vasry nie.

Mense wil dus betoet word. En die oorverdowende getoetery werk.

Op die tog ontdek ek dat die toet-kultuur vervolmaak word: sommige van die vragmotors het toeters wat deuntjies toet. Oorverdowend sketter toeters soos trompette ‘n deuntjie uit wat jy tot onder in Sri Lanka kan hoor. 

Ek oorleef die trippie Agara toe net oor die onvergeetlike gesig op die Taj Mahal. 

Gister, aangekom in Bangalore, die tuinprovinsie van Delhi, klim ek in ‘n spinternuwe taxi. Die plaaslike regering administreer die taxi’s en jy kry as taxi voorrang in die verkeer. My bestuurder, 23 jaar oud, is kranig agter die wiel. Maar ook hy betoet al wat ‘n kar is. En as die spul voor hom gaan staan, jaag hy oor die sypaadjie na die aangrensende baan, wat, mirabile dictum, oop. Hy jaag oop en toe om vir my na die uurlange rit by my blyplek te bring. Blymoedig klim ek uit die motor met die aangename wete dat jy jou voete, in krampe saamgetrek, op moeder aarde neersit. Jy wil, soos ‘n terugkerende uit die verre vreemde, terstond neerval en die sooi onder jou voetsole soen.

My kennismaking met die land was ‘n totale kultuurskok. 

En tog, besef ek met die verloop van die dae, om te dink dat in al die ure op die pad ek nêrens ‘n ongeluk of niemand gesien skel het nie…  Dit is asof daar te midde van al die rumoer op die pad, 'n gelate roetiene bestaan wat buite alle reels en orde om, 'n struktuur van sy eie, 'n unieke maaksel geskep het.

Friday, January 13, 2012

Seuntjie in die see

Seuntjie, vir die Kerstyd op besoek uit die verre land, nou in 'n wintergreep, by ons geliefde strandplekkie, is uitgelate oor die see, die son, die strand en sakke vol seëninge.


Hy verloor homself in die woelige seewater.





Daar is by hom 'n grenslose uitbundigheid. Woes, met 'n wilde swaailyf, bespring hy die branders. 


Daar is 'n onmiddellikheid in sy konneksie met die woelige see-waters. 


Kees, pratende oor sokker, het van hierdie onmiddellikheid as mistiek gepraat, onthou ek as ek na sy foto's kyk. Ek sien die onmiddellikheid in 'n seuntjie se belewing ook. Dit is belewing.




Roekeloos waag hy dit bietjie diep in. Net die kop steek uit, want daar is 'n dieperige sloot op die plek waar die stroom hom neem. 


Hy is darem op pad terug strand toe.


Op die strand is daar ook 'n wakende oog of twee wat kyk dat dinge reg loop. 


Hy steur hom nietemin nie daaraan nie. Dit is net seuntjie en sy see-tyd - roekeloos, maar ook bedag. Hy geniet van alles. Bietjie waag en bietjie wen. 







Dit is nie verniet dat God as Vader gesien word nie. Die wêreld word immers deur vele levenslustige seuntjies en meisietjies bewoon. Hulle weet, soms roekeloos, uitbundig, waagsaam, die lewe is mooi.


Maar gelukkig is daar ook 'n wakende Oog. 

Thursday, January 12, 2012

Oor 'n merkwaardige argitek en wonderskone kerke.



Ons ry soms deur Ladismith net om na Carl Otto Hager se kerk te gaan kyk. Ek neem hiertoe foto in November 2011. Die spel van blou, helder, helderblou lig met die blou jakarandas wat die wit, haelwit wolke en die wit kerk met sy wit muur omring gee vir mens so 'n gevoel van die geestelike ervaring wat 'n besoek aan die kerk by 'n mens opwek.

Binne-in die kerk is die preekstoel verwyder. Net die houtlys bly oor. Hager was ook bekend vir die wondermooie preekstoele in sy kerke. Sy ander beroemde kerk is die N.G. Moederkerk op Stellenbosch. Maar hiertoe Ladismith kerk is vir my mooier. Hager moes die vergroting van die moederkerk in 1860 beplan en het iets pragtigs daarvan gemaak.  Hier, in Ladismith, kon hy egter sonder beperkings, vanuit niks, die kerk ontwerp. Die neo-Gotiese styl is oorrompelend mooi en verklaar waarom hy so 'n reputatie gekry het.

Natuurlik sy pragstuk, seker een van die mooiste geboue in ons land, is die Ou Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch. Elke keer as ek verby die Ou Hoofgebou loop, kyk ek met dankbaarheid en verwondering daarna. Skeppende talent van 'n kunstenaar kan so spesiaal wees dat 'n mens dit maar net as Godgegewe kan beskou. En, nog lekkerder, is die gedagtes wat ek koester as ek die Ou Hoofgebou sien: hier het ek Hebreeus by die unieke Prof Fensham gedoen, Grieks by die vertalingsmeester, Prof. JPJ van Rensburg, en Latyn by die bewaringsbewuste Prof. Frans Smuts en ook die wyse Prof. Andre Hugo, aan wie ek later my Jabes roep tot God opgedra het. Lekker dat die skoonheid van die gebou saamsmelt met die skoonheid van 'n spesiale opleiding.

Die ander pragstuk op Stellenbosch was Hager se herontwerp van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch tot 'n sierlike dubbelverdieping-gebou. Min woorde kan reg laat geskied aan hierdie spesiale gebou en sy boeiende voorkoms. Ek het hier my teologiese opleiding gehad, onder leermeesters oor wie se politiekery en kerkelike magspeletjies ek lank gelede reeds skaam gekry het. Juis daarom hou 'n mens maar sterker vas aan die gebou self as aan hulle wat vir soveel jare daardie gebou beset het en 'n hele apartheidsera gevoed het.

Hager was op 'n tyd so arm dat hy skaars aan die lewe kon bly. Later het hy roem verwerf. Maar sy eenvoudige, neo-Gotiese en neo-klassieke boustyl het vir ons as 'n kosbare nalatenskap agtergelaat. Ons kan hom nie genoeg eer daarvoor nie.

Des te meer is dit hartverskeurend om te hoor by die vlytige toesighouer by die Hager-kerk op Ladismith hoe hulle sukkel om die onderhoud van die kerk, wat op 'n stadium as 'n bergplek gebruik is en toe 'n aaklige sementvloer gekry het, te finansier. Een van die groot argitektoniese skatte in ons land, 'n gebou wat 'n besoek aan Ladismith alleen die moeite werd maak, word op die wyse skromelik bedreig.

Wanneer gaan ons in ons land al die miljoene wat in borgskappe vir rugby, krieket en sport ingaan, ook kanaliseer om die wonderskone skatte van ons land en van ons begaafde argitekte te bewaar. Wat sê dit van ons dat 'n kerk met soveel prag die lot ervaar?

Hier is 'n berig uit Die Burger oor Hager:


Kerk-argitek Carl Otto Hager,verryker van ons kultuur

DIE veelsydige Carl Otto Hager was ongetwyfeld een van Suid- Afrika se knapste, maar tot dusver sekerlik onbekendste, negentiende-eeuse argitekte. Hager het hom veral toegespits op die Neo-Gotiese kerkboukuns, maar het ook as skilder en fotograaf naam gemaak.

Die feit dat agt van Hager se argitektoniese skeppings al tot nasionale gedenkwaardighede verklaar is, is bevestiging van sy besonderse talente.

Otto Hager is in 1813 in Dresden gebore en het in 1838 na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het in Duitsland opleiding in argitektuur en die skilderkuns ontvang en het aanvanklik in Kaapstad as 'n skilder 'n bestaan probeer maak. Hager was in hierdie tyd mede- verantwoordelik vir die ontwerp van die planne vir die St. Mary-katedraal in Roelandstraat. Dit was die jong argitek se eerste werk in die Neo-Gotiese boustyl.

Ná skaars twee jaar in Kaapstad het Carl Otto Hager hom op Stellenbosch gaan vestig. Volgens sy memoires, wat 'n interessante mengsel van Nederlands en Duits is, het dié dorp hom herinner aan sy ``. . . vaterland en een gevoel van voorspelling zegde my dat dit een plaats van rust op de aarde voor my wezen zou''. Hy sou dan ook tot sy dood hier woon.

Kort nadat hy hom op Stellenbosch gevestig het, is Otto met Cornelia Janssen, 'n musiekonderwyseres, getroud. Minstens twintig jaar van hul getroude lewe moes hulle 'n sukkelbestaan voer waarin Hager soms portretskilder, dan weer snuifmaker, dan kersemaker en uiteindelik fotograaf was.

Nog voor sy troue het hy portrette op Worcester geskilder en daarna op Swellendam en Fort Beaufort. Later moes hy te perd reis na plekke soos die Paarl, Malmesbury en Riebeek-Kasteel, waar hy selfs landskappe teen die mure van private huise geskilder het. Hy was ook lief daarvoor om te skets en heelwat van sy sketse het gelukkig behoue gebly.

In hierdie tydperk het Otto Hager as lid van die Evangelies-Lutherse Kerk op Stellenbosch 'n plan vir 'n nuwe kerkgebou in Dorpstraat opgetrek. Hiervoor het hy 'n bedrag van ú5 ontvang. Hy was tóé ook verantwoordelik vir die ontwerp van die bekende dorpsplan van Stellenbosch (1859) en vir opmeetwerk aan die Meulsloot.

Toe sy geldelike nood feitlik op sy hoogste was, het die keerpunt in Carl Otto Hager se lewe gekom. Dit was in 1863, toe hy gevra is om die vergroting en verbouing van die 1814-kerk op Stellenbosch te onderneem. Hierdie opdrag om die bestaande kerk om te bou tot wat vandag as die Stellenbosse Moederkerk bekend staan, was 'n groot uitdaging.

Hager het geen moeite ontsien om aan die hoë verwagtinge te voldoen nie en het selfs 'n model vir dié doel gebou. Die 1863-kerk het nie net ten opsigte van grootte van die oue verskil nie. Die plank-plafonne is onder meer verwyder en die sierlike boë en rysige pilare het eenvormigheid van styl en 'n stille waardigheid verseker. Sinodegangers wat uit Kaapstad die inwydingsplegtigheid van die Hager-kerk bygewoon het, het gesorg dat dié argitek buite die grense van Stellenbosch bekend raak.

Hy het ook uit ander oorde groot lof vir hierdie moeilike projek ontvang en bestellings vir die ontwerp en oprigting van ander kerke het daarna ingestroom. Nadat Otto in 1863 gehelp het met die oprigting van 'n Neo-Gotiese kerkgebou op Clanwilliam (eintlik 'n ``korrespondensie''-gebou), het hy in die sestigerjare ook die kerk op Fraserburg ontwerp.

Hierbenewens het hy die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch in dié fase in 'n ``doepelde verdieping'' omgeskep. In die sewentigerjare, die vrugbaarste dekade van Otto Hager se lewe, het hy soveel opdragte ontvang dat 'n mens wonder hoe hy alles behartig het.

Hy het kerkgeboue op Heidelberg en Caledon ontwerp en gebou, die bestaande kerk op Somerset-Oos vergroot, die Neo-Gotiese kerke op Ceres, Tulbagh en Calitzdorp ontwerp en die Oudtshoornse klipkerk voltooi. Met die laasgenoemde projek in die Klein-Karoo het Hager al sy argitektoniese kennis en bedrewenheid nodig gehad. Om 'n ander argitek se half voltooide gebou, wat sowat agtien jaar tevore begin is, klaar te bou, was 'n groot uitdaging. Al was die ornamentele traseerwerk van die fyn Oudtshoornse klip reeds klaar, moes Otto Hager afsonderlike tekeninge vir die verskillende vensters maak. Die preekstoel, wat herinner aan dié van die Stellenbosse Moederkerk, het hy uit klip laat kap. (Sy ander preekstoele was almal van hout, met pragtige houtsnywerk in die Neo- Gotiese styl.) Rondom die Oudtshoornse preekstoel het Hager vyf engelbeelde gerangskik om as 't ware 'n kroon op sy veeleisende werk te plaas. Hy het 'n Oudtshoornse meisietjie as model gebruik en die tekeninge wat hy van haar gemaak het, na Engeland gestuur waar die vyf beelde uit klip gekap is.

In die tagtigerjare, toe hy sewentig was, wou Carl Otto Hager nie meer ver weg van Stellenbosch werk nie. Al groot kerk wat hy toe ontwerp het, was die een op Piketberg. Sy grootste triomf van dié jare, en miskien van sy hele argitekloopbaan, was die gebou wat vandag bekend staan as die Ou Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch. Met dié ontwerp het hy sy veelsydigheid bewys. Die gebou met sy indrukwekkende fasade is een van die waardigste voorbeelde van die Neo-Klassieke styl in Suid- Afrika.

Ander Neo-Gotiese kerke wat Hager in sy lang loopbaan as argitek ontwerp het, was die Nederduits Gereformeerde kerkgeboue op Ladismith, Piketberg, Vanrhynsdorp en Kroonstad. Hy meld in sy memoires dat hy verlof vergun is om verskeie ander Vrystaatse kerke te ontwerp. Ongelukkig noem Otto nie dié kerke by name nie. Omdat kerklike dokumente tydens die Tweede Vryheidsoorlog ook grotendeels vernietig is, bestaan daar geen getuienis oor watter geboue in die gedrang was nie. Daar word verneem dat Hager ook die vroeëre NG kerke op Porterville, Willowmore en Hopefield ontwerp het. Dit is ook bekend dat hy die planne vir die pastorie op Willowmore opgestel het en vir veranderings aan die dak van die gerestoureerde pastorie op Fraserburg verantwoordelik was.

Baie jare het verloop sedert Carl Otto Hager as argitek, skilder en fotograaf in Suid-Afrika werksaam was. Hoewel redelik baie oor sy argitektoniese werk bekend is, is daar min gegewens oor hom as skilder en fotograaf. Soos so baie van sy skildertydgenote het hy nie sy werk geteken of gedateer nie.

Wednesday, January 11, 2012

Raadop...



Die verkoue is erg...


Sommer nog 'n lawwe prentjie.  Ek kyk daarna, en besef weer hoe lekker werk sommige mense met humor - dink net watter voorbereiding het in hiertoe foto ingegaan. 

Tuesday, January 10, 2012

Voos, maar bemind...




Die lawwe foto, vrot van humor, het my laat lag, maar ook ‘n klomp los gedagtes in my losgeskrop.

Lieflingsokkies, vrot gedra, waarvan ‘n mens nie afskeid wil neem nie.

Ek het ook al sulkes gehad. Hulle was naderhand voos. Maar hulle is deel van jou lewe. En hoe voser hulle raak, hoe groter deel het hulle aan jou lewe.

Jy weet hulle moes al lankal gesmyt geraak het. Maar hulle is soos jou ou hond in jou huis. Hoe ouer, hoe liewer.

Dan kom daar ‘n dag dat jy weet dit is nou die tyd. Dit kan nie anders nie. Hulle moet gaan.

Maar voor jy hulle laat gaan, neem jy eers jou foto.

Want jy het byna ‘n leeftyd met hulle deurgebring. Hulle het diep spore saam met jou in jou lewe getrap.

Jou foto is ‘n afskeid. Jy weet die einde is daar. Dit is amper soos 'n grafsteen....

Jou foto is ‘n blyk van waardering. Ek kan julle nie laat gaan sonder om julle te wil onthou nie.

Jou foto is vol verwondering: hoe naby kom 'n paar loopgoed aan jou hart en hoe bly jy tog vasgebind aan die bekende. 

Dus, ‘n mens kyk met gemengde liefdesgevoelens na dinge waarvoor ander mense sal gril omdat dit so naby aan jou is.

Die huismense juig. Die skande is vort. Hulle hoef nie meer te vrees as pa, na 'n hartaanval, dalk in die hospitaal beland en die verpleegsters moet daardie tekkies uittrek nie. 

Maar jy gaan daardie twee liewe lappe mis.

Ek het ook ander gedagtes: soms in ‘n mens se lewe voel jy ook so voos.

Daar is tye dat jy weggegooi voel. Vol gate deur die lewe getrap.

Maar ons het die wonderlike wete: die Een wat die pad met ons gestap het, kyk met veel liefde na ons – met ander oë as hulle wat vir die voosgeid gril.

En die Een weet dat wanneer ons so voel, dit tyd is om rus te skenk. Soms vind ons die rus hier en nou. Maar op ‘n keer sal daardie Een kom en vir ons die ewige rus skenk.

Altyd weer wys die Beminde hoe groot die liefde is, hoe ver verby alle voosheid, dit strek.

O, om vir ewig in daardie Liefde wat so onverdiend, ook aan die vertraptes gegee word, in te woon…

Monday, January 09, 2012

God begeer dat ‘n mens die Liefdesanker in sy/haar binneste herken. Oor die lewe in die liefde (4)





Die vorige blog het gefokus op die belangrike uitspraak in Lukas 17:21 dat die Koninkryk van God binne-in mense te vinde is. Lukas wou daarmee ‘n uiterlikheid, ‘n formele, siellose godsdiens wat God op die verkeerde plek soek, afwys.

Maar wat beteken dit dat Lukas so sterk die innerlikheid beklemtoon?

God, onderstreep hy, bestaan en leef in die hart van die mens. Lank voordat godsdiens in ons doen en late na vore kom, is God teenwoordig in die mees intieme deel van ons bestaan.

God is in die sentrum van die mens se siel.

In ons woon God in sy liefde. God "regeer" oor en is die koning van harte. 

Augustinus het daarom die welbekende uitspraak gemaak: U is nader aan my as wat ek aan myself is. Hiermee wou hy die groot verborgenheid beklemtoon dat die liefde die kern van ons bestaan uitmaak - en dat dit so intiem is dat ons dit nie kan peil nie.

Lukas 17:21 onderstreep dit, in ander woorde, ook.

In ons woon daar dus ‘n goddelike liefdesmag – en dit is wat wag om herken en toegeëien te word. 

Hier kan 'n mens van 'n stuk ironie praat: Terwyl ons ons lewe lei met die gedagte dat ons onsself so goed ken, bestaan ons in vele opsigte eintlik salig onbewus van die inwoning van God daar waar dit gaan om die hart van alle dinge. 

Om te word wat ons werklik is, om in aanraking te kom met die Goddelike liefde, is dit nodig dat ons onsself sien soos God ons sien.

Vandaar dat Jesus in Lukas 17:21 die godsdienstige leiers van sy tyd, die Fariseërs, die dieper weg, die intiemer dele van hul hart onthul. Jesus bring hulle tot by die punt dat hulle hulself moet sien, soos God hulle sien. 

Onbewus van hul werklike aard, van hoe God na hulle kyk, het hulle, ironies genoeg, allerhande godsdienstighede vasgehou asof dit vir hulle die belangrikste was.

Dat ‘n mens, anders as die Fariseërs, jou ware natuur moet ontdek en moet insien dat God in die hart van jou bestaan inwoon, het weer op sy beurt verrassende implikasies: een van Jesus se groot uitsprake was dat ‘n mens nie maklik oor ander moet oordeel nie. God sien in die hart van die mens, wat mense nie van mekaar kan sê nie. God ken die mens soos niemand anders nie.

In ‘n mens se eie hart weet ‘n mens wie jy is. Niemand ken jouself so goed soos jy nie. Wat ander dink, kom van buite af en is 'n oordeel op losse skroewe.

As jy jouself goed ken, soos niemand anders nie, geld dit ook van God wat die mens intiem ken, soos niemand anders nie. God, wat in ‘n mens se hart inwoon, ken ‘n mens dus van binne-uit omdat God in die mens se diepste bestaan inwoon. 

Jesus bring die dieper verstaan wat die mens uit die slaap van sy eie miskenning wakker maak. Hy is die Een wat oor God se inwoning praat: God, vertel hy, ken die mens van binne-uit as die een in wie die Liefde woon: die onbegrensde Liefde van God word in mense uitgestort.

God wil dus dat ons onsself moet herken soos God na ons kyk: God sien ons as mense wat in die liefde geanker is. Die geestelike weg, die weg wat Jesus in Lukas 17:21 uitwys is dat mense dit van hulself moet ontdek. En om hul te vergesel in hierdie ontdekkingstog, het hulle Jesus as reisgenoot en intieme kind van God.

Waar dit gebeur dat mense hulself begin herken as geankerd in die Liefde, word uiterlike dinge en formaliteite, oppervlakkighede en tradisies onbelangrik. Wat dan tel is om in die liefde wat in ‘n mens is, te woon, te bly en te leef. Die liefde lei, inspireer, dryf, verenig, veredel en verryk die mens se hele bestaan. Meer as dit het ‘n mens nie nodig nie.

Meer nog: die herkenning hiervan laat 'n mens besef dat God nie ver weg, alleen maar in die hemel bestaan nie. God is Immanuel - soos Matteus dit herhaaldelijk beklemtoon. Die God met ons, en, in Lukas se woorde, die God wat as heer van ons hart in ons woon.

Hiermee staan ‘n mens aan die begin van nog meer spesiale insigte in die liefde. Meer hieroor volg. 

God woon nie in uiterlikhede nie. Oor ons lewe in die liefde (3)


In Lukas 17:21 sê Jesus vir die Fariseërs op hulle vraag na voortekens vir die koms van God se koninkryk dat niemand die koms sal kan bereken nie. Die rede is dat die koninkryk van God “binne-in julle is”.

In die Nuwe Vertaling word die frase vertaal met : “Die Koninkryk van God is by julle.”

In ‘n fyn beredeneerde artikel (Journal of Syriac Studies van 2009) het die knap Italiaanse deskundige, Ilaria Ramelli, vele argumente aangevoer waarom die vertaling “by julle” onmoontlik is. Sy beklemtoon dat die frase beteken dat die Koninkryk van God "binne-in julle is." Die Ou Vertaling was dus meer korrek.

Sy toon aan dat Lukas hier, en ook elders in sy evangelie, eintlik praat van ‘n spanning tussen die Koninkryk van God en hierdie wêreld. Die Koninkryk van God is deel van die geestelike lewe van die mens. Die Koninkryk word gevind in die armes, die wat honger ly, wat vervolg word en in die geestelike kinders (Lk.4:6). Dit word nie in “hierdie wêreld” gevind nie – daarom moet dissipels ook nie die dinge van hierdie wêreld jaag of Mammon, die god van rykdom, dien nie (Lk.5:13; 6:20). In daardie dingen van die dag sal God nie teenwoordig wees nie. 

Eendag, lees ‘n mens verder in Lukas 13:28, sal die Koninkryk dan ook ten volle ‘n werklikheid word – maar weer eens nie in die huidige wêreld nie. As ‘n mens ooit die Koninkryk van God nou reeds wil vind, skryf Lukas, sal ‘n mens dit in die mens se geestelike bestaan kry.  

Vir Lukas is die ruimte van die mens se huidige bestaanswêreld eerder korrup, sonder God en ‘n verleiding. Soek ‘n mens God, moet ‘n mens eerder binne-in jouself kyk. 

God woon in die hart van die mens. Intiemer kan dit nie. 

Dit is gedagtes wat 'n mens elders in die Nuwe Testament ook kry. In Matteus 23:26 vermaan Jesus die Fariseërs daarom om eers die innerlike skoon te maak. Dit is die binnekant van die beker wat rein moet wees.

Jesus het dus enige gedagte van uiterlikheid, van afwyserigheid, van oppervlakkigheid, afgewys. Mens soek nie na God in die pleeg van formaliteite nie. Die begeerte van die siel is nie na menslike erkenning en glorie nie. God is op 'n heel ander plek te vind - in innerlikheid, geestelikheid, in armoede aan aardse dinge: 

In jou binneste, daar soek die mens om by God te wees. Dit is dus, anders as wat die hartjie hierbo uitdruk, nie net dat God die mens lief het nie, maar meer nog: dat die Liefde in die mens woon en deel van die menselike bestaanskern is. 

Maar wat beteken hierdie kernvers in Lukas se Evangelie vir spiritualiteit? Hieroor volgende keer meer.






Blog Archive