Saturday, February 18, 2012

Wanneer drome 'n mens help om jou lewe te verstaan...


Sandra, die filosofiese een wat so rustig oor haar lewe kan nadink, vertel my een oggend met so bietjie onbetrokkenheid dat haar ma haar nooit regtig baie drukkies gegee het nie. Dit was nie eintlik hulle familie se manier van doen nie. Hulle was nie mense wat hul gevoelens vir mekaar uitgestal het nie.

Tog was sy en haar ma naby aan mekaar. Hulle kon dikwels dik stukke gesels. Soms was hulle lekker laf. Soms het sy haar ma treurig gesien en so een of twee keer in haar lewe het sy met onsteltenis ervaar hoedat haar ma diep seergemaak is. Haar ma was allesbehalwe ‘n koue, kil mens. Hulle was eintlik spesiale vriende.

Toe haar ma dood is, het Sandra haar gemis en lank oor haar gerou. En soos die jare aangestap het, het sy al hoe meer verlang dat haar ma haar tog meer moes vasgehou het soos net ‘n ouer haar kind kan vashou en liefhê.

Dit het nie regtig gebeur nie, het sy in haar later jare getob. Die naaste wat sy ooit daaraan gekom het, het sy gedink, was as haar ma vir haar gegroet het en hulle vir mekaar ‘n afskeidsoen gegee het. Die hunkering na die omhelsing het al hoe sterker geword en vir ‘n lang tyd haar gedagtes besig gehou.

En toe het Sandra ‘n heel spesiale en helder droom van haar ma gehad. Sy het nooit veel van haar ma gedroom nie, al het sy dikwels en baie dae wel aan haar ma gedink en na haar verlang.

Sy droom sy is by haar ma en hulle praat soos van ouds ‘n hond uit ‘n bos. Sy onthou hoe lekker en spesiaal dit was om, soos in vroeër jare by haar ma te wees.

En toe skielik, terwyl hulle in die droom nog so met mekaar praat, trek haar ma haar nader. Styf, styf het haar ma haar omhels en teen haar vasgedruk. En toe, onthou sy spesifiek, het haar ma haar vir ‘n tweede keer vir haar liefdevol vasgehou. Dit was so ‘n intense ervaring dat sy daarvan wakker geword het.

Dit, vertel Sandra, het met haar in ‘n droom gebeur omtrent twintig jaar nadat haar ma dood is.

Daardie omhelsing van haar ma in haar droom het haar ‘n innerlike rus en oneindige troos gegee. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het sy met dankbaarheid iets anders van haar ma onthou en beleef. En haar gevoelens van rou is op ‘n manier omgeskakel in ‘n ervaring van troos.

En, voeg sy by, nadat sy lank daaroor gewonder het, het sy besef dat die droom op ‘n paar  maniere afronding in haar lewe gebring het.

Sy het besef dat ‘n mens nooit sonder die liefde is van daardie mense wat so ‘n belangrike deel van jou lewe uitgemaak het nie. Die dood kan die spesiale, hegte band van liefde nie losmaak nie. In werklikheid word daardie liefde selfs sterker. Om die waarheid te sê sy dink ‘n mens kan selfs nuwe vorme van liefde beleef.

Eintlik het die droom haar dus op ‘n nuwe manier oor die dood laat dink.

Maar, iets anders het met haar gebeur, sê Sandra, terwyl sy stil, nadenkend haar verhaal vertel. Sy het na die droom skielik dinge begin onthou wat sy skoon vergeet het.

Die liefdevolle omhelsing van haar ma in die droom het haar ver terug in die verlede geneem en haar laat terugdink aan dinge wat sy nooit voorheen bewustelik bedink of onthou het nie.

Sy het byvoorbeeld onthou hoe sy soms laataand vaagweg haar ma in haar kamer sien inkom het voordat haar ma self in die bed gaan klim het en hoe haar ma die kombers wat Sandra in haar slaap oopgeskop het, weer oor haar toegetrek het sodat sy warm sou slaap. Dan het haar ma Sandra se  haartjies uit haar gesig gevee en die kussing onder haar kop reggetrek. Sy kon haar ma se spesiale parfuumreuk skielik heel duidelik onthou en haar ma se sagte streel oor haar kop in herinnering roep.

 Sy onthou byvoorbeeld ook hoe haar ma, rasend van bekommernis, na haar gehardloop het toe sy haar weer gekry het nadat Sandra in die winkelsentrum verdwaal het. Sy het weer onthou, asof dit gister gebeur het, hoe haar ma haar handjie styf vasgegryp het asof sy dit vir altyd gaan vasklou.  

En, soos ander herinneringe deur haar droom later in haar losgemaak is, het sy begin besef dat haar ma, op haar manier, vir haar tog meer as wat sy ooit voorheen onthou het, daardie drukkies gegee het waarna sy so verlang het.

Soms, mymer Sandra, het ‘n mens ‘n droom nodig om meer van die werklike lewe te verstaan en om meer van die liefde in jou lewe raak te sien

Die vingerwysing van die Groot Ingeligtes.

Dana Snyman se skrywe oor Fanie die ateïs is 'n subtiele teks oor die onverdraagsame fundamentalisme van mense wat met soveel sekerheid besluit dat die Bybel 'n klomp outydse leuens is. In die proses is hulle blind, selfsugtig stokblind, vir die opofferende, ontfermende geloof van mense wat hulle nou, in hul verligtheid, as dom en oningelig beskou. Terwyl Fanie met soveel brawade vertel hoe slim hy geword het en meewarig sy ma se outydsheid minag, is sy ma die prototipe van die gesig van goedheid wat geloof dra.

Dana Snyman se verhaal is die moeite werd om weer gelees te word:


Sy ma weet hy is nou ’n ateïs, sê Fanie. Hy het dit vir haar gesê.

Hy het die oggend by haar in die ouetehuis gaan kuier en toe sit sy weer daar in haar stoel voor die venster, met haar breiwerk en haar blokraaisel en haar Bybel.

Ek ken tannie Kittie, sy ma. Sy en my oorlede ma was beste vriendinne. Saam met hulle die wêreld se pyn probeer wegbak en -brei. Hulle het tot die ACVV behoort. Hulle het in die kerkkoor gesing en Santa-seëls verkoop ten behoewe van teringlyers. Hulle het op kerkbasaars gewoel, en op ’n Saterdagoggend op die sypaadjie voor Spar by ’n môremarktafel pannekoek gebak om geld in te samel vir die Bettie Greeff Tehuis vir Ongehude Moeders.

Hulle het muntstukke in houtbussies gekollekteer vir sendingwerk in Malawi, in Japan en in Zoeloeland. Hulle het komberse en blikkieskos ingesamel vir vloedslagoffers. Hulle het vir die padkampkinders koekies gebak en net voor Kersfees geskenke vir die kinders in die kinderhuis gaan gee. En hulle kon bid, o, hulle kon bid: O, Heer, U is die pottebakker en ek is die klei, maak my en vorm my na U wil.

Hul kinders – ek en Fanie en die ander – was voorop in hul gebede en gedagtes en dade. Hulle het eerder daardie paar spykerskoene vir atletiek gekoop as die nuwe kerkrok. In ’n blikkie in ’n laai het hulle spaargeld gebêre wat later moes help betaal vir ’n skooltoer of ’n universiteitshandboek.

Hulle het ook gebid vir die straatveërs, die polisiemanne, die dokters en die president. Hulle het gebid vir die ellendige, siek kind in die onderdorp. Drie dae lank het hulle vir die kind gebid en glase vol mengsels van boegoe en Lennons se medisyne aangedra. Op die vierde dag breek daardie kind se koors. ’n Week later speel die kind weer saam met sy maatjies in die son.

Ook vir die kankerkrom oom in die siersteenhuis op die hoek het hulle gebid. Daagliks het hulle hom in hul gebede aan die Here opgedra. Toe sterf die oom een middag agter ’n toegetrekte Venesiese blinding in daardie huis. En toe bid hulle vir die weduwee en dié wat agtergebly het, en hulle begin maak frikkadelletjies en reënboogbroodjies vir die begrafnis.

Dit is gedoen omdat hulle hul lewe volgens die Bybel probeer rig het: Bid sonder ophou. Hê jou naaste lief soos jouself. In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien. Nou ken jy slegs ten dele, eendag sal jy ten volle ken.

Hy weet nie of sy ma nog tot die ACVV behoort nie, sê Fanie. Hy vermoed so. Sy gaan wel nog elke Sondag kerk toe, weet hy. Sy lees ook steeds Bybel en onderstreep teksverse. Dit lê pal daar op die tafeltjie langs haar stoel.

Siestog, sê Fanie. Eintlik kry hy die ou vrou jammer. Sy weet nie die Bybel is ’n klomp leuens en versinsels nie.

Hy het dit vir haar probeer verduidelik, sê hy, maar hy het later maar opgehou, want hy kan dit nie vat as iemand oor niks huil nie.

Thursday, February 16, 2012

Die gevaar van mag



Yuri Kozyrev het hierdie foto van Libiese rebelle geneem. 

Bonhoeffer het in die tweede wêreld-oorlog aan sy eie lyf ervaar hoedat die Nazi’s hulle aan hul magsposisies vergryp het. Hy is tereggestel weens sy verset teen hulle magsvergrype.

Die absolute mag van Hitler en sy Nazi-meelopers het die geskiedenis van die mensdom onherroeplik verander: miljoene mense is wreed en sinloos om die lewe gebring. Hulle was weerloos teen die oorweldigende mag van die Duitse Nazi’s. Die konsentrasiekampe was moordmasjiene wat gebruik is om kinders, vrouens, bejaardes en ander mense op die rand van die samelewing weens hul ras, of selfs hul gebreke, uit te roei.

Mag, absolute mag, soos wat die Nazi’s gehad het, het nog nooit tevore op so ‘n verkriklike omvang mense uitgemoor nie.

Nou skryf Bonhoeffer die volgende:

As ‘n mens dieper daaroor nadink word dit duidelik dat elke magsontplooing, elke keer wat mense hul mag gebruik, ‘n groot deel van die mensdom met domheid slaan.

En, voeg hy by, dit geld nie net van die politiek nie, dit geld ook van godsdiens.

Mense wat mag jaag word slagoffers van domheid.

Dus: Mag maak mense dwaas.

Dit boei my dat Bonhoeffer skryf: “elke magsontplooing”.  ‘n Mens kan nie genoeg skepties staan teenoor mag nie. Per slot van sake, dom mense kan gevaarlike dinge doen.

In ‘n gelowige konteks bly die model steeds hoe Christus mag prysgegee het. 

Wednesday, February 15, 2012

Wat 'n mens lewendig laat dood gaan....

So skryf Hammerskjold in sy Markings (Merkstene):

God does not die on the day when we cease to believe in a personal deity, but we die on the day when our lives cease to be illuminated by the steady radiance, renewed daily, of a wonder, the source of which is beyond all reason. 

Ons sterf op die dag dat ons lewens nie meer verlig word deur 'n konstante uitstraling - 'n uitstraling wat elke dag hernuwe word en ons elke dag met nuwe lewe vul. 

Dit is boonop 'n uitstraling wat daagliks hernuwe word. 

En dit is 'n uitstraling van 'n wonder - 'n wonder wat alle verstand te bowe gaan.


Soveel lewende lyke op ons aarde. En dit terwyl ons net 'n herkenning ver is van 'n lewe gevul met verwondering en met die warmte van die Vuur.

Tuesday, February 14, 2012

Vry in Christus, maar 'n slaaf van die liefde


In Galasiërs 5:13 skryf Paulus: “Julle is geroep tot vryheid; maar gebruik nie julle vryheid as ‘n geleentheid vir die vlees nie, maar deur liefde moet julle mekaar dien.” 

Só vertaal die meeste Bybels die vers.

Tog is dit nie heeltemal reg nie. Om mekaar te dien is ‘n bietjie van ‘n vaal vertaling as ‘n mens dit vergelyk met wat werklik in die oorspronklike Grieks staan. Eintlik is Paulus se woorde sterker: hy vra dat gelowiges deur liefde slawe van mekaar sal wees.   

Paulus gebruik juis nie die werkwoord om “te dien” nie, maar eerder die woord “om as slaaf te dien”.

Dit is ‘n bietjie van ‘n skok dat Paulus gelowige mense as slawe kan beskryf: Galasiërs is die boek van vryheid. Gedurig beklemtoon Paulus dat  gelowiges ‘n spesiale status het. Hy skryf in 4:7 juis dat ‘n gelowige nie ‘n slaaf is nie, maar ‘n kind van God. Slegs in die ou bedeling voor Christus, was mense slawe wat aan die magte gebind was (4:1-3).

Maar as dit by die liefde kom, is die gelowige mens van vooraf 'n slaaf!

Vir Paulus is die vryheid van gelowiges dus ingeperk en onderworpe aan die mag van die liefde. Ten opsigte van die liefde is niemand vry nie.

Dit word so bietjie meer van ‘n paradoks as ‘n mens kyk hoe Paulus die liefde verstaan. Hier is die liefde duidelik wedersyds: om mekaar lief te hê is ‘n teken dat mense aan Christus gebonde is en soos Christus liefhet (Galasiërs 2:20).  Eintlik dus, is ‘n mens onder die mag van die ander. As iemand wat die liefde ken, onthou jy nie die liefde van ander nie.Jy moet liefde kan gee. Die ander is daarop geregtig.

Eintlik skryf Paulus hier: maak dit ‘n lewenswyse om deur liefde slawe vir mekaar te wees. Dit is ‘n hele proses om lief te hê.  Hy druk daarom sy opdrag uit in die teenwoordige tyd. Elke dag van ‘n mens se bestaan is ‘n mens die ander een se slaaf deur die liefde. Vir Paulus hou dit nie op nie: ‘n mens maak daarvan ‘n gewoonte! 

Elke dag, gedurig, sonder ophou word die mens 'n slaaf.

Monday, February 13, 2012

Wanneer 'n mens so oor jouself praat dat dit ander transformeer


Een van die belangrikste maniere om oor Spiritualiteit na te dink is om te kyk na wat mense oor hulleself skryf. Sommige mense skryf hulle lewensverhaal waarin hulle dan nadink oor hoe God in hulle lewens teenwoordig was en gewerk het. ‘n Mens praat hier van ‘n geestelike outobiografie. 

Een van die beste voorbeelde hiervan is Augustinus se Belydenisse. Augustinus kyk in hierdie werk terug op sy lewe. Hy beskryf daarin hoe God aan die werk was in alles wat met hom gebeur het.

Augustinus skryf hieroor ‘n hele lange verhaal. Dit is ‘n storie oor sy lewe waarin al die gebeurtenisse ineengevleg word en vanuit ‘n bepaalde hoek as ‘n eenheid aangebied word. Maar eintlik gaan die verhaal nie net om homself nie.

Dit is ‘n geestelike verhaal waarin hy vertel hoe sy verhouding met God gegroei het. Sy lewensverhaal het ‘n dieper betekenis. Dit is meer as net feite wat hy wil neerskryf oor alles wat met hom in sy lewe gebeur het. Hy kyk as te ware met die oë van God na sy eie lewe.

Augustinus skryf met ‘n passie oor sy geestelike lewensreis. Want vir hom is alle dinge wat in sy lewe gebeur het meer as net gebeurtenisse. Dit is gebeurtenisse wat almal wys hoe hy sy geloof beleef het. Met diepe betrokkenheid wil hy uitwys hoe God sy lewe gestuur het.

Augustinus het God ontmoet en dit het sy lewe radikaal omvorm. Alles wat tussen hom en God gebeur het, het sy lewe op sy kop gekeer. Al sy ervaringe wys dus heen op sy geestelike omvorming.

Waaijman stel dit ook anders: Augustinus het in sy Belydenisse nagedink oor sy lewe en al die dinge wat met hom gebeur het. Maar dit was vir hom nie net bloot alledaagse gebeure nie. Vir hom was daardie gebeurtenisse ‘n soektog na God.

Maar terwyl hy nagedink het oor sy soektog na God, het hy begin besef dat sy lewe eintlik God se soektog na hom was.

Wat Augustinus gedoen het, het vele ander skrywers ook gedoen. Een so ‘n besonder voorbeeld is Thomas Merton se outobiografie, Seven Storeyed mountain. Dit was een van die mees gelese boeke in die 20e eeu omdat mense besef het dat Merton in  hierdie verhaal nie oor himself wil praat nie, maar eel eerder onthul watter pad God met hom geloop het. Die boek was vir lesers ‘n soektog na die waarheid. Merton het daarin nagedink oor sy geestelike reis. Hy het  dit op so ‘n manier gedoen dat die boek vir mense gehelp het om hul eie geestelike reis beter te begryp en om na te dink oor hoe God in hulle lewens teenwoordig was.

Waar mense met waarheid en integriteit praat oor God se ingrype in hul lewe, raak hulle vertelling ander se lewens aan en werk God op nuwe maniere. Dit is hoe 'n mens oor jouself praat sodat ander daardeur getransformeer word.

Sunday, February 12, 2012

'n Gebroke kruis.


Die leë kruis in die kapel van Dharmaran Kollege in Bangalore waaroor ek verlede week geblog het, het my herinner aan 'n ander unieke voorstelling van die kruis. 

Die besondere kruis hang in die herinneringskapel van die beroemde Domkerk in Utrecht. 

Hier is die kruis:




Dit is in 1965 gemaak deur Carel Kneulman. Dit sou in 'n kapel in die berugte Dachau Konsentrasiekamp in München geplaas word. Juis omdat dit vir so 'n konteks gemaak is, kry die kruis spesiale betekenis. Dit bring die mens tot stilstand voor die mees ekstreme vorm van lyding, want in Dachau het die Jode-slagting en die vervolging van Christene wat teen die Nazi's gerebelleer het, verskriklike vorme aangeneem. 


In Dachau is Victor Frankl en Martin Niemoller aangehou. Titus Brandsma het daar gesterf. Ek onthou goed hoe ek in 1970 in die middel van die winter die barre toestande daar beleef het en vir die eerste keer gesien het hoe dodelik rassisme kan wees: 







Die kruis van Kneulman is toe nooit in Dachau se kapel geplaas nie. Uiteindelik het dit deur die toedoen van die Ryksmuseum in die Domkerk beland.


Dit is 'n stukkende, verwronge kruis. Dit wys op totale gebrokenheid - in 'n dubbele sin van die woord. Nie net is dit 'n kruis, 'n plek van lyding nie, maar dit is ook gebroke. Daardeur word dit beide 'n klag en 'n aanklag, lui die byskrif by die kruis. Die verskrikking van lyding wat alles uitmekaar laat val word daardeur uitgebeeld.


Ek onthou hoe ek, toe ek die kruis vir die eerste keer gesien het, daardeur tot stilstand gebring is. 


Die kruis eindig egter nie by die aakligheid van lyding nie, vertel die byskrif. Die kruis het ook 'n ander boodskap: 



  • Dit roep op tot besinning: bedink dit wat alles lyding meebring en wat so totaal destruktief kan wees. 
  • Dit roep tot herstel: moenie dat gebrokenheid die laaste woord spreek nie. Wat stukkend is, moet heel word. 
  • En uiteindelik vertel die kruis van hoop: wie voor lyding kan staan, dit bedink en dit afwys, sit sy of haar voet op 'n nuwe pad. In die woorde van Fransiskus word die mens deur lyding gebring om 'n instrument van heling te word. 



Dit is, immers so: die kruis het nie die laaste woord gespreek nie. Die opstanding het. 

God se plek.

'n Mens kan in verre lande allermooiste ruimtes besoek, om dan elke keer weer terug te kom na jou eie plek en opnuut weer verwonderd te staan voor die onoortreflikheid van groter skoonheid wat sommer hier by jou, in jou voorkamer, op jou voorstoep, in jou agterplaas, om die hoek te vinde is. 

Dit is te vinde in die bos blomme in 'n pot wat iemand sommer losweg gerangskik het - niks formeels, niks berekend nie. Bloot net blomme in die huis. Maar mooi bekyk word dit 'n pers partytjie met sy geel vrolikheidjies op 'n tapyt van groen weligheid. En die wegraak in hierdie oomblik neem jou terug, in 'n flits, as jy dit sien, na ouer, goeie tye: jy onthou hoe lief was sy vir haar blomme, hoe haar tuin altyd gebaai het in die kleure en geure van die natuur se mooiste gawes. En die skoonheid van die skepping paar in jou innerlike met die skoonheid van die liefde en van die naby-wees van hulle vir wie jy lief was. 




Of jy sien dit raak in die stilheid van 'n swewer teen die helderblou van Afrika se hemel. Eindeloos, oop, strek dit boontoe, in 'n helderheid wat nooit wil ophou nie. Hoe klein, hierdie spikkel, teen die infiniteit. En, as jy dit sien, vat dit jou, in 'n flits, weg na ou gedagtes: Jy onthou hoe die vrou in Antwerpen vertel het van die skoonheid van ons son en, vertel sy, verlangend, van daardie blou lug van ons wat, toe dit eers een keer in haar ingesak het, haar nooit weer losgelaat het nie.




Of, rustig op die pad huis toe na die naweek, sien jy hom sit. Daar op die kranse by Wemmershoek, sommer op jou drumpel, naby jou huis, in die wydheid en wydsheid van die oorrompelende omgewing. Jy hou gretig stil, want jy verstaan hoe hierdie oomblik jou gaan bybly en hoe jy sal wil sien om weer te kan ervaar. 


En foto na foto kom al nader aan die kolletje op die rotspunt van die krans; nader aan die ou wat daar op sy rots sit - die brandwag, die dophouer. Die ou kees. Die hoeder van sy kudde. Die ou bespieder. 


Daar sit hy tevrede met die lewe en met wat hy aan oorvloed het. Asof hy maar te goed weet hy is in die paradys: By die goddelike tonele van water, groen woude, kranse wat antwoord gee. In die wonderskone natuur. God se plek. 








Friday, February 10, 2012

Geseënd is hy wat in die liefde woon....



So pas is die wenners van die World Press se jaarlike kompetisie aangekondig. Samuel Aranda van Spanje het die wenfoto geneem in 'n moskee wat ingerig is as 'n veldhospitaal in Jemen. 

Op die oog af is dit 'n eenvoudig onderwerp: 'n vrou wat 'n gewonde man vashou. Met die eerste oogopslag sny dit, selfs in al sy eenvoud, reeds 'n mens se hart stukkend. 

Die foto brand in op jou oë, laat sy Kaïnsmerk op jou geheue en sak in jou onderbewussyn weg as 'n simbool van dieper dinge.

'n Mens hoef nie eintlik te weet dat die man gewond is in die opstande teen President Ali Abdulaah Saleh wat maande lank aangehou het en vele lewens geeïs het. Die foto is genoeg om te vertel van lyding en mense se reaksie daarop. 

En tog sou die konteks van die foto die impak daarvan sterker maak: Die foto is 'n verhaal oor die hoë tol wat die dapper opstande teen ondemokratiese bewinde in die Arabiese wêreld geeïs het: 

'n Mens onthou die hoogs dramatiese tonele van mensemassa's wat deur die strate van lande se groot stede trek met plakkate; rumoerig, uitdagend, met gebalde vuiste, met klippe wat deur die lug vlieg en met polisie of soldate wat met geweld toeslaan. 

Hulle, die dapper skare's van vele lande, herinner ons vir weke van die mens van alle tye en alle plekke se dieper verlange na vryheid. 

Dag na dag, meedoënloos word hulle getreiter en gedood, maar dag na dag hou hulle met moed die stryd vol.

Die foto het niks daarvan nie. Die onderwerp daarvan is heel eenvoudig 'n vrou en 'n man wat stil bymekaar is. Geen bomme, geen bewegings en aanvalle nie.  Maar juis omdat niks van al die opstand is nie, is daar soveel daarvan teenwoordig... Hier praat opstand, verwonding, lyding, verset.

Die beoordelaars bekroon die foto met die eerste prys omdat dit volgens hulle op 'n baie persoonlike en intieme vlak die verhaal van die opstande vertel. Hier sien 'n mens die ander kant van opstand, die stryd, onderdrukking, dapperheid en verset. 

Hier sien jy hoe die gewone mens, op sy of haar eie, deur die felheid van die stryd verniel word. 

Maar nou met die verskil: Weg is die skares, stil is die massa's, uitgedoof is die geweerskote, verstomd is die krete. Hier word die prys betaal. Hier sien 'n mens die gevolge van die heersers van die wêreld wat groot wil wees, by die tafels wil sit en bedien wil word, wat die geringes minag en die swakkes uitbuit (Lukas 22). 

Teenoor die heersers en hul korrupte minagting van ander staan hierdie liefdevolle nabyheid van die lydendes in sterk simboliek uit: Die foto vertel die verhaal van intieme liefde wat in die uur van ellende soek om te dien (Lukas 22: 27): Die vrou hou die man beskermend teen haar vas met haar regterhand om sy nek, haar duim lig, lig op sy linkerwang terwyl haar regterwang teer sy voorkop streel.  Haar regterhandse handskoen, vuil met die bloed en die gemors, hou sy linkerhand vas asof sy hom nie naby genoeg teen haar kan hou nie. Hier is omgee in 'n plek waar daar andersins net uitbuiting is. 

Dit is 'n hoogs intieme toneel van twee mense wat in 'n oomblik van lyding bymekaar wil wees. En in die intimiteit sien ons die mooiste gesig van die liefde. 

Dit is ook die moeite werd om die vorm van die foto te bekyk, want dit vertel ook al weer 'n belangrike deel van die verhaal. Daar is die driehoek-lyn in die foto van die vrou se elmboog na die man se kop na haar kop as die een been van die driehoek, met die lyn wat van haar kop afloop na haar skouer as die ander been: dit is 'n driehoek waarin die twee gesigte in een, stil ruimte bymekaar kom en die hart van die foto uitmaak.

Onder hierdie driehoek is daar 'n boeiende spel van lig en donker: die man se skouers, naak in hul verwondheid, die vrou se swart jurk waarteen sy moeë skouers rus. Hulle vorm die basis waarop die driehoek van gesigte rus. Hulle vertel van die ondergrond waaruit die intimiteit opkom. 

Alles in hierdie fokuspunt is so verborge, so subtiel en gelyk so oop, so eksplisiet: Jy sien nie die vrou se gesig nie. Ook nie man nie. 

Maar die foto kan nie duideliker wees oor die spesiale band tussen hulle nie en oor die ontferming waarmee sy hom naby aan haar hou nie. Hul lyftaal, daardie gesig op ons innerlikste gevoelens, vertel die volle verhaal - sonder dat 'n mens hulle gesigte sien.  

Die res van die foto, ook so eenvoudig, omraam en interpreteer die verhaal van die twee mense net so dramaties. Die donker skaduwees teen die muur smelt saam met haar donker burka en sy swart hare. Die dood hang swart in die lug, tree donker nader, wil die lyding verder insmeer. En tog is daar ook weer die lichtheid aan die bokant van die muur: so asof alles na bo neig, na die lig, na die uitkoms.

Die mater dolorosa, die pieta, die tydlose verhaal van nabyheid, selfs wanneer die dood swaar in die lug hang. Geseënd om in die liefde te kan skuil, daardie dag wanneer 'n mens die donker vallei binnetree...








Blog Archive